Читать книгу Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo - Страница 12
Оглавление9
“Proe!” nooi Melt.
Cecilia tel die erde-koffiebeker op, amper soos ’n outydse sopkommetjie met ’n oor, en neem ’n sluk van haar eerste Mlala-cappuccino. Dis alles wat hy belowe het, beter as Rome en die Hotel Fiori s’n. Haar oë kry ’n dromerige uitdrukking. “Hemels!”
Toe Melt lag, vergeet sy haar bedenkinge en voorbehoud. Niemand met so ’n mooi mond en sulke blink oë kan ’n ontroue mens wees nie. Sy was bevooroordeeld. Die ontbytuitnodiging was om haar welkom te heet en te laat tuis voel.
Sy neem nog ’n sluk en bieg dan: “Ek het gejok.”
“Ek weet, ja.” Hy lig ’n wenkbrou. “Waaroor?”
Sy bloos. “Dit klink asof ek ’n gewoonte daarvan maak om leuens te vertel.”
“Nee, want anders sou jy dit beter kon doen. Waaroor? Oom Lotz?” raai hy.
“Ja. Maar dit was nie omdat ek bang was jy krap aan my kar nie.”
“Dis te hope!”
“Dis omdat ek nie wou hê jy moes sien die enjin lyk soos ’n olie-toffie nie, omdat ek skaam was, want ek wou ’n goeie indruk maak.”
“Jy het reeds, met die heel eerste kyk. Dis hoekom ek jou aangestel het en jou vir ontbyt genooi het.”
Netnou se speelsheid is weg en sy oë wat hare gevange hou, is ernstig.
Cecilia byt op haar onderlip. Sy soek na die teelepel en roer haar cappuccino energiek om en om.
Sy hand vou om hare. “Jy mors in die piering en roer al die skuim weg.”
Die uitwerking wat sy aanraking op haar het, is hewiger as gister toe hy haar ’n handdruk gegee het. Hoeveel volt kan deur ’n mens skok sonder dat jy doodgaan? wonder sy. Haar hart gaan tekere soos ’n tromspeler in ’n poporkes.
“Moet ons nie die . . . e . . .” Sy kan met die beste wil nie die woord “omelet” onthou nie. “. . . geklitste eiers by die toonbank gaan haal nie? Ons het al ’n halfuur gelede bestel en dis seker al koud.”
Toe sy mik om op te staan, hou hy haar teë. “Vyf minute gelede. Die kelner sal dit bring wanneer dit reg is. Cecilia . . .”
Hy aarsel ’n paar oomblikke. “Ek weet dis gou en ons ken mekaar skaars – vanaf die dag in die foyer is hierdie maar ons vyfde ontmoeting . . . Ek is nie ’n halsoorkopmens nie en ek het daarteen gestry. Dit ontleed en probeer keer . . . Maar jy kan dit tog sekerlik ook aanvoel?”
Sy kán, van die heel eerste oomblik af, en sy kan ook intuïtief aanvoel wat hy wil sê. Sy is skielik bang en gee hom nie kans nie. “Dis ’n buffetontbyt – selfbediening . . . Die kelner sal nie na ons tafel toe kom nie.”
“Ek weet wat die woord ‘buffet’ beteken. Hou op ander dinge praat. Sit rustig, kyk my in die oë en luister na wat ek probeer sê.”
“Nee.” Sy skuif agteruit op haar stoel. “Asseblief, moenie. Ek is nie gereed vir so iets nie.”
Hy sit ’n servet in haar piering sodat die skuim nie moet drup nie. “Hoekom nie?” wil hy weet. “Wat makeer?”
“Ek werk vir jou; jy is my baas.”
Hy frons onbegrypend. “Wat het dit daarmee te doen? Ek het jou nie onregverdig bevoordeel nie; jy het die werk op eie meriete gekry. Die komitee het eenparig besluit dat jy die beste kandidaat was – dis nie dat ek my posisie misbruik het nie. Ek erken eerlik en openlik dat ek tot jou aangetrokke is, van die begin af. Ek het gedink jy kan die tekens lees en gehoop êrens in jou voel jy miskien ook ’n . . . ’n soort toegeneentheid teenoor my.”
Cecilia kan hoor hy het sy woorde versigtig gekies, maar hare kom agterstevoor uit.
“Ek het ’n verlede. Daar was . . . iemand. Dis nie nou ter sake nie, en dit beteken nie ek gaan my werk afskeep nie, maar die feit is dat ek mans afgesweer het. Ek hou nie van julle nie, ek wil nie vir julle lief wees nie en ek sal nooit met een van julle trou nie. Al hoekom ek hier sit, is omdat ek nie geweet het wat om in Tibet te doen nie. Ek kan nie bergklim nie en is nie die soort meisie wat in ’n klooster sal aard nie.”
Sy het verwag Melt gaan vra of al haar varkies op hok is. Maar hy sit gemaklik agteroor en vra nie waar Tibet of die klooster inpas nie. Toe sy dit waag om ongemerk na hom te loer, is sy verstom om te sien dat hy breed grinnik.
“Moenie vir my lag nie!” roep sy kwaad uit.
Hy lyk verbaas. “Ek lag nie vir jou nie. Ek geniet jou: die twee rooi kolle op jou wange en jou oë wat grasgroen word as jy kwaad is.”
Haar neus trek op ’n plooi. “Ek klink soos ’n appel.”
“ ’n Baie mooi appel,” beaam hy. “Een wat ek lus kry om aan te proe en te knibbel.”
“Daar doen jy dit weer!” beskuldig sy hom. “Ek weet nooit wat jy dink as jy jou so vroom hou en dit lyk asof jy jou eie privaat grap geniet nie!”
Melt is versigtig om geen uitdrukking op sy gesig te hê wat as ’n sweem van ’n glimlag beskou kan word nie. Al was haar woordkeuse snaaks toe sy netnou teen mans uitgevaar het, was daar dieselfde soort weerloosheid wat hom voorheen geprikkel het. Hy wil sy hand om hare vou, haar vashou en beskerm.
Cecilia is bly toe die kelner opdaag met die omelette, gevul met garnale, fetakaas en songedroogde tamaties. Hy laai roosterbrood, croissants, botter en ’n silwermandjie met ’n verskeidenheid konfytsoorte af.
“Kan ek nog twee cappuccino’s bring, meneer Meiring?” bied hy aan.
“Asseblief, Theunis. Dit lyk keurig, soos altyd. Alles reg met julle mense daar in die kombuis?”
“Aan die wiel, meneer.”
“En die nuwe stoof? Werk hy goed?”
“Aan die kook, meneer.”
“Gaaf. Ek merk julle is vol en die manne van die Gholf-uitdaagbeker begin inkom. Jy hoef jou nie verder oor my en juffrou Louw te bekommer nie, ons sal roep as ons iets nodig het.”
“Dankie, meneer. Smaaklike ete vir u!”
Melt herrangskik die tafel en skuif Cecilia se bord netjies reg voor haar. “Daarso . . . jou yskoue geklitste eiers!”
Sy gee hom ’n kyk en tel haar mes op.
Hy hou sy hande verontskuldigend op. “Ek lag nie. Ek is serieus en gewigtig, gevul met diepe erns.”
“Overgeset synde: ’n nors ou suurknol?”
“Knorrig,” beaam hy. “Lelik en gemelik.”
Cecilia is seker hy rym sommer en daar is nie so ’n woord nie, maar sy stry nie, tevrede dat hy ’n ronde kan wen. Al trek sy gewoonlik aan die kort kant, geniet sy Melt Meiring se sin vir humor. Sy en Steve was altyd te intens, vol stormagtige emosies en kragmetings. Sy het soms die indruk gekry hy baklei net om agterna ’n verskoning te hê om op te maak. Met Melt is dit anders. Hy is rustig en ontspanne, prettig en op haar golflengte ingestel. Sy kan nie glo sy het hom gister nog “meneer” genoem nie.
“Ek was ook lelik en gemelik,” erken sy.
“Maak nie saak nie. Wees wat jy wil, ek hou van jou soos jy is.”
Haar hande is skielik lomp met haar mes en vurk. Sy neem ’n hap eier en kou sonder om te proe wat sy eet.
“Toe ek daardie eerste dag gesê het jy is ’n buffel, onredelik en arrogant,” verduidelik sy. “Dis wat een van die ander kandidate ná haar onderhoud gesê het. Een van dié wat jy afgekeur het. Dit was katterigheid en suur druiwe. Of dalk wou sy my bevooroordeeld maak.”
“Dalk was sy reg, dalk ís ek hiperkrities en vitterig.”
“Nee, jy is nie. Geensins. Jy was gaaf en simpatiek, wat ’n mens op jou gemak gestel het.”
Sy smeer botter op ’n stuk roosterbrood en kou ’n rukkie in stilte. Al bly hy haar baas, voel sy hulle is ook vriende, en haar nuuskierigheid kry die oorhand. “Ek het tien dae lank daaroor gewonder . . . Wat het jy in ’n stadium tydens die onderhoud onderaan my aansoekvorm geskryf?”
“Twee letters.”
Sy verstaan nie. “Watse twee letters?”
“ ’n Ja,” antwoord hy sonder skroom. “JA!!! Hoofletters en drie uitroeptekens.”
“Het jy toe al besluit ek is ’n geskikte kandidaat?”
“Nee, vroeër in die hysbak al, of eintlik in die foyer toe ek jou die eerste keer gesien het.”
“Ek dag jy het geskryf die kandidaat is neuroties en voorbarig, sy kan nie spel nie en het ’n lelike handskrif.”
Hy neem haar kleinbordjie, smeer die botter egalig oor die roosterbrood en sny dit in vier netjiese kwarte. Dan kyk hy ondersoekend op. “Het jy gehoor wat ek netnou gesê het, Cecilia?”
Sy knik. “En jy? Het jy gehoor wat ék gesê het?”
“Van jou verlede? Dat jy mans afgesweer het en nooit van een van ons sal hou of mee wil trou nie? Ja, ek het gehoor.”
Komend van iemand anders klink haar woorde verspot.
“Dié man wat gisteraand gebel het, met wie jy nie wou praat nie, nie oor honderd jaar nie . . . Is hy die ‘iemand’ in jou verlede?” Hy gee vir haar die tamatiesous aan, en toe daar steeds geen antwoord is nie, vra hy rustig: “Vertel my van hom?”
“Ek is seker jy wil nie my vervelige storie hoor nie . . .”
“Ek wil graag. Ek is ’n goeie luisteraar en my skouers is breed, as jy wil uitpak.”
Sy wil nie. Sy wil liewer uitstel. “Dis al laat. Moet jy nie op kantoor kom nie?”
Hy kyk op sy horlosie. “Ek moet Nelspruit toe gaan vir sake. Maar daar is nog genoeg tyd voor ek moet ry. Is hy by Lugdiens?”
Sy knik teësinnig.
“En is hy die rede waarom jy bedank het?”
“Een van die redes . . .”
Sy vertel hom so min as moontlik – net dat sy verloof was, dat onvoorsiene omstandighede voorgeval het, dat sy as gevolg daarvan die verhouding beëindig het en ’n nuwe lewe begin het.
Toe sy klaar is, lyk hy ingedagte. “Ek is jammer oor die persoonlike vrae tydens die onderhoud.”
“Jy hoef nie te wees nie. Dit was in ’n professionele hoedanigheid.”
“Net gedeeltelik,” erken hy. “Ek het vir geen van die ander kandidate gevra of hulle in ’n vaste verhouding is of trouplanne in die nabye toekoms het nie. Ek het my posisie misbruik om my neus in jou persoonlike sake te steek en ek vra om verskoning.”
“Dit maak nie saak nie. Ek is oor die ding met Steve.”
Hy kyk stip na haar. “Is jy?”
“Ja,” bevestig sy met meer oortuiging as wat sy voel. Natuurlik is sy seker, herhaal sy teenoor haarself. Dis te begrype dat sy hartseer is en kort-kort aan Steve dink. Selfs dat sy hom soms mis. Hulle was lank saam, en sy het gewoond geraak aan hom. Hulle verhouding, al het dit gedurig wipplank gery, het haar tóg gelukkig gemaak, veral aan die begin. Anders sou sy nie ingestem het om met hom te trou nie.
“En hy?” vra Melt. “Dit klink nie asof hy bereid is om jou besluit te aanvaar nie.”
“By hom is dit meer ’n geval van ’n gekneusde ego. Hy is gekrenk omdat sy bruid hom op pad kansel toe in die steek gelaat het. As daar af te sê was, wou hy die een wees wat dit gedoen het.”
“Wat gaan jy maak as hy aanhou bel?”
“Dis ’n probleem. Ek kan nie nou meer my foon afskakel nie.”
“Ons sal jou ’n ander foon gee – ek sal met Wessie reël. En as hy uit die bloute hier opdaag?”
“Hy sal nie, nie nadat ek dit in ’n brief duidelik gemaak het dat ons verhouding finaal verby is nie.”
Melt lyk afgetrokke. “Die lewe loop maar sy draaie met almal. Min van ons kom ongeskaad daardeur, en sonder die gepaardgaande bagasie.” Hy kyk weer op sy horlosie. “Ek sou graag langer wou gesels het, maar ek sal ongelukkig moet ry. Daar is duisend en een dinge wat moet aandag kry op hierdie Maandag.”
’n Jong ou stap in: in denims, ’n modieuse leerbaadjie en ’n poniestert. Hy kyk soekend rond en pyl dan op Melt af.
“Meneer M, die hele wêreld soek jou! Die katte het kleintjies gekry, die bok het gelam en die vlakvark het die kaviaar opgeëet!”
“Ek het so iets verwag.” Melt stoot sy stoel terug en staan op. “Moenie skrik nie, Cecilia, dis jou assistent. Garth van Schalkwyk, en minder skadelik as wat hy lyk. Hy sal jou rondwys. Sorg julle vir die katte en die kaviaar; ek moet ry. Garth, moenie van die asmalyer vergeet wat ’n suurstofmasjien gevra het nie. Onthou om die kombi lughawe toe te stuur vir die mediese kongresgangers, en hou die gholfspelers gelukkig. En vir Cecilia.”
“Dit sal net ’n plesier wees, meneer M!”
Op pad deur toe kyk Melt oor sy skouer. “Moenie haar kop dronk klets nie, en koop vir haar middagete by die Impala.”
“Reg so, meneer!”
“Goed, sien julle later.”
Cecilia staar die breë rug en skouers agterna. Toe Melt deur die glasdeure verdwyn, is dit asof die restaurant skielik leeg is.
“Hy’s nice,” merk Garth op, “met topstandaarde. Sal vir jou die maan en sterre op ’n skinkbord gee, maar drop hom, en jy kan ’n huis bou.” Toe Cecilia nie verstaan nie, verduidelik hy: “Met al die bakstene wat op jou kop gaan neerkom. Soos jou voorganger . . . Sy koop nou nog kruiwaens om al die bakstene weg te ry. Daardie flossie was manmal. Al wat sy by Mlala gesoek het, was ’n ryk sucker. Eers al die broeke vol vet beursies geïdentifiseer, en toe die eienaars se ander . . . e . . . bates uitgetoets. As jy snap wat ek bedoel?”
’n Tweede Nadine . . . “Wat het van haar geword?”
“Sy’s glo nou in Dubai, op soek na oliesjeiks. Sy het selfs by die baas aangelê, maar die Yspaleis het haar draadjie gou geknip. Sy’s goed daarmee.”
“Die Yspaleis?”
“Wessie se bynaam vir daardie witkopsekretaresse van Melt. ’n Regte feeks. As jy my vra, het sy self ’n oog op meneer M, dié dat sy g’n kompetisie naby hom toelaat nie. Loop maar lig vir daardie biets, sy sal jou vir brekfis opkou en die stukkies in die swembad spoeg.”
Garth onthou blykbaar Melt se vermaning en hou sy hand voor sy mond. “Haai, ek skinder! Kom, ek gaan wys jou al die vyfster-attraksies.”
Hy gaan wys vir haar die casino, die swembaddens en die Lapa. Hy neem haar na die gimnasium en boetiek, na die wittebrood- en presidensiële suite, die Indaba en Induna, en laastens hul gesamentlike kantoor reg langsaan. Dis ruim, met twee lessenaars, telefone en rekenaars, ’n koffiemasjien en ’n kuierhoekie met gemakstoele en stapels reistydskrifte. Die hele een muur bestaan uit rakke vol brosjures, roetekaarte, valuta-tabelle, doeaneregulasies en vlugskedules.
“Meneer M sê jy hoef nie al die inligting in jou kop rond te dra nie, solank jy net weet waar om dit na te slaan,” vertel Garth.
“Meneer M is slim,” skerts Cecilia.
“Hy is. Kundig ook oor motors, gholf, die aandelemark, cordon bleu-kookkuns en als onder die son. Hy het hotelwese oorsee geswot.”
Motors? Cecilia is opnuut dankbaar dis Joe wat die Golf se enjinkap oopgemaak het.
“Hoe lank is hy al by Mlala?”
“Vyf jaar.”
“Woon hy in die hotel?”
“Bo in die penthouse. Hoekom vra jy? Wil jy die man verlei?”
Cecilia ruk haar op. “Moenie verspot wees nie! Waar kom jy daaraan?”
Hy haal sy skouers op terwyl hy by haar rekenaar werskaf. “Al die meisies probeer.”
“Ek is nie al die meisies nie,” lig sy hom koelweg in. Sy gaan staan by die venster om na die veraf uitsig van ’n paar bergspitse te kyk. Leeukop en die wildtuin . . .
Sy wik en weeg en vra dan kamma terloops: “Maar meneer Meiring is tog seker getroud, of hoe?”
Sy kom agter sy wag gespanne op Garth se antwoord. Melt dra nie ’n trouring nie, maar dit bewys niks. Baie mans verkies om nie te adverteer dat hulle onbeskikbaar is nie. Sy het heeloggend vrae gevra oor alles by die hotel en hoop maar net Garth sal dit nie vreemd vind dat haar vrae Mlala Lodge se bestuurder insluit nie. Sy moet weet, dis beter as om ’n aanname te maak en haar skanse dalk te laat sak. Sy wil nie weer oopoë in seerkry inloop nie. Dan eerder enige toegeneentheid wat sy voel nou reeds in die kiem smoor, voor die saadjie groei.
Garth tik haar nuwe e-posadres op die webwerf in: cecilia@mlala.co.za. Dit lyk goed. Hy toets ’n paar briefhoofontwerpe en kyk nie op nie. “Wie?”
“Meneer M,” herhaal Cecilia.
“Getroud? Was, is, ek weet nie . . .”
Sy wil hom skud. “Watse soort antwoord is dit?”
“Ek stel meer belang of Sue getroud is, en of haar man of kêrel my ’n blouoog sal gee as ek ’n pass maak. Wat dink jy hiervan?”
“Waarvan? Van Sue?”
“Nee, die koedoe of die sebra, bo-aan die briefhoof?”
“Garth!” roep Cecilia uit. “Jy luister niks wat ek vra nie!”
“Of wil jy ’n sterker beeld skep? ’n Leeu of ’n olifant? Die uitlanders is mal oor ’n kameelperd. Hulle reken hy is so indrukwekkend, hy moet ingesluit word in die Groot Ses. Ek kan sy lang nek in ’n regaf lyn regs van die letterwerk opstel en –”
“Los my rekenaar. Die hotel het seker ’n briefhoof; so nie sal ek my eie een ontwerp. Hoe maak mens koffie met hierdie masjien?”
Garth kry die boodskap. Hy gooi water in die koffiemasjien, druk die skakelaar, sit koppies reg en spoor selfs ’n pakkie Marie-beskuitjies in ’n kas op.
“Maria-koeken, noem die Hollanders hulle. Sorrie, skattebol . . . Wat het jy gevra? Of Melt ’n vangbare vis is? Ja, as sy egskeiding afgehandel is.”
“O . . . Is hy besig om te skei?”
Sy onthou dat Melt gepraat het van “bagasie”, en dat min mense ongeskaad deur die lewe kom . . . Dit was dalk op homself van toepassing.
“Ek hoor so. Hulle was glo nie lank getroud nie, en daar was nie kinders nie. Die skeisaak is seker al afgehandel, dié dat dit nie ter sprake kom nie. So, moenie worrie nie, hy’s ’n loslappie. Jy kan maar met ’n geruste gewete jou wimpers fladder.”
Cecilia klik haar tong. “Ek wil niks van dié aard doen nie! Ek is ’n geëmansipeerde vrou, en my loopbaan is belangriker as ’n man.”
“ ’n Feminis?” Garth trek ’n suur gesig. “Wat ’n vermorsing van talent . . . Arme Joe gaan gebroke wees.”
“Joe? Wat het Joe daarmee te doen?”
“Jy het die man skoon uit sy bloedgroep uit. Vandat jy gekom het, loop hy rond soos ’n gans wat die weerlig in die ooste sien uitslaan. Wat het jy met die stomme kêrel aangevang?”
“Niks.”
Garth lag. “Jou doepa is blykbaar kragtig, dié dat meneer M ook met sulke dweepoë oor sy cappuccino na jou gestaar het.”
Cecilia kan verstaan hoekom Melt gemaan het Garth moenie haar ore dronk klets nie. Hy is soos ’n kwetterende spreeu.
“Moet jy nie die kombi uitstuur lughawe toe nie?” herinner sy hom.
“O hel!” Hy kyk op sy horlosie en hardloop by die kantoor uit.
“Onthou die katte en die kaviaar!” roep sy agter hom aan.
Sy gaan sit agter haar lessenaar, verstel die monitor en bekyk die briefhoof. Garth het haar ’n klomp werk gespaar. Hy gaan haar teen die mure uitdryf, maar hy is pret en mens kan nie help om van hom te hou nie.
Sy voel beter noudat sy weet Melt het nie ’n vrou nie. Dis nie te sê daar sal ’n verhouding tussen hulle ontwikkel nie. As hy pas geskei is, is hy in hierdie stadium seker ook nog bietjie vuisvoos en versigtig vir vroumense – in dieselfde bootjie as sy. Dit pas haar dat hulle ’n suiwer platoniese werksverhouding het.