Читать книгу Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo - Страница 15
Оглавление12
Haar selfoon lui. Cecilia se eerste impuls is om dit te los, maar plig kom eerste en uit die mag van die gewoonte steek sy haar hand uit om te antwoord.
“Hallo, daar!” groet Melt se diep stem. “Jammer dat ek nou eers bel. Ek het tot laat vir jou by die Impala gewag, maar toe kry al twintig katte skielik weer kleintjies – almal tegelyk. Sal ons vanaand weer probeer vir daardie ete?”
Sy sluk pynlik. “Ekskuus?”
“Het jy geslaap?”
“Nee . . .”
“Cecilia?” sê-vra hy. “Hoe klink jou stem so vreemd?”
“Ek’s oukei . . .”
“Jy klink nie oukei nie. Wat gaan aan?”
Sy sukkel kombuis toe en probeer om met een hand ’n glas water te tap. “Niks nie . . . ek makeer niks nie.”
“Dit klink nie so nie. Waar’s jy?”
“Hierso . . .”
“By die huis?”
Sy sluk ’n mond vol water onder die kraan en ruk haar reg. “By my chalet,” antwoord sy, maar Melt het reeds afgelui.
Seker weer sy blieper of ’n noodgeval waaraan hy moes aandag gee, dink sy en drink nog ’n bietjie water vir haar keel. Dan besef sy haar keel is nie net droog nie, dis seer ook. En nie net binne nie, buitekant ook. Dis rou geskaaf en geswel. Môre gaan haar nek en lyf vol bloukolle wees. Dit was traumaties, maar sy was gelukkig, dit kon soveel erger gewees het. Aaklige skepsel . . . Sy gril by die herinnering aan sy suur sweetreuk en drankasem.
Buite stop ’n voertuig. ’n Deur klap toe en voetstappe weerklink op die patio. Sy verstar en pluk die geskeurde kraag van haar japon toe. Is dit Leonardo wat teruggekom het? Sy was in so ’n toestand, sy kan nie onthou of sy die voordeur agter hom gesluit het nie.
Daar is ’n klop aan die deur en ’n stem wat na haar roep. Sy skrik en hardloop in die gang op – vas in ’n donker figuur op pad deur die sitkamer. In die skemer kan sy nie behoorlik sien nie, net aan die buitelyne uitmaak dis ’n man. Iemand groot . . . Sy skree en swaai wild met haar arms om hom te probeer afweer.
Sterk hande vat haar vas. Een arm pen haar arms vas en die ander een haar bolyf om haar te probeer beheer. “Hokaai! Stadig nou! Dis ek.”
Hoewel haar brein registreer, is haar lyf nog vol adrenalien. Sy ruk weg, rem en spartel teen die hand wat haar gewrigte vasdruk. Totdat iets aan die skouers en die hemp opeens vir haar bekend is. En sy die vae muskusgeur ruik . . . Toe verslap sy.
“Ekskuus dat ek sommer ingestap het, maar ek het gedink iets het gebeur,” sê Melt.
Sy knyp haar oë toe, staan doodstil en laat ná ’n paar oomblikke met ’n sidderende sug haar kop teen sy bors rus.
Sy arms wat om haar vou, word sag en beskermend. “So ja . . . dis beter. Wat het gebeur? Wat gaan aan?”
Cecilia kan nie ’n woord uitkry nie, net teen hom leun terwyl verligting in ’n vloedgolf oor haar spoel.
“Wie het jy gedink is dit?” probeer Melt weer.
Sy moet eers sluk voordat sy die naam kan uitkry. “Leo.”
’n Frons laat trek sy wenkbroue saam. “Leonardo? Hoekom hý?”
Sy was lank genoeg dapper en selfstandig. Dis ’n verligting om haar nagmerrie-ervaring op sy skouers af te laai: Leo se sweterige, vroetelende hande, die gestoei op die bank, die blompot, haar angs en skok. Dis ’n saligheid om veilig en beskut in sy arms te wees, wetend daar is geen ander plek op aarde waar sy op hierdie oomblik liewer sou wou wees nie.
Melt hou haar ’n armlengte weg om in haar gesig af te kyk. “Leo, hier in jou chalet?” vra hy skerp. “Die vuilgoed! Ek gaan sy kop van sy lyf af donner!”
Skielik, met vaste sekerheid, besef Cecilia: sy het hierdie man met die sterk skouers en koesterende hande lief. Nie net nou uit dankbaarheid en verligting nie, maar lankal. Van die heel eerste oomblik toe sy aan sy baadjiemou vasgehou het en hy gesê het sy moet dink aan nartjies eet by ’n rugbywedstryd of sjokolade aflek van haar vingers . . .
Haar hart het geweet dis besig om te gebeur, maar haar verstand het weggeskram met die voorwendsel dat Steve nog te deel van haar is, dat sy emosioneel nie gereed is om betrokke te raak nie. Dit het ’n dronk Laeveldleeu gekos om haar wakker te skud en die simptome te herken.
“Hy was vol bier, hy het nie geweet wat hy doen nie.” Sy is só gelukkig, sy kan selfs vir Leonardo verskoning soek. Sy voel om te sing en te dans onder ’n stortreën van sjampanje. Sy wil haar arms om Melt se nek sit en teen sy lyf versmelt.
“Hy was nugter genoeg om te weet waar jy bly en dat jy vrou-alleen hier is!” sê Melt ontsteld. “Ek het gesien die spul daar by die Lapa bêre die biere asof ’n droogte op pad is, maar ek het darem nie gedink daardie stuk skuim sal hom met geweld op ’n vrou afdwing nie. Hoekom het jy my nie gebel nie?”
Cecilia is op ’n ander bladsy. Sy wens Melt wil ophou om oor die aaklige Leonardo te praat. Sy wil die vlesige lippe en drankasem vergeet en op belangriker dinge konsentreer. Op die heerlike wete van die ontdekking wat sy so pas gemaak het.
“Ek is nie hulpeloos nie, ek kan na myself omsien. En jy is besig, jy’t te veel ander pligte om jou ook nog oor my te bekommer.”
“Na jouself omsien?” Hy lag kortaf en sonder humor. “Deur ’n dronk ou oor die kop te moet slaan om te keer dat hy jou verkrag?”
“Dit was nie so erg nie. Ek het ’n onnodige bohaai opgeskop.”
Melt laat hom nie paai nie. Hy is hewig ontsteld. “Te besig, te veel pligte? Bog! Ek het jou voorheen gesê ek is tot jou beskikking as jy my nodig het – dag of nag. Ek het dit bedoel, Cecilia. Ek gee vir jou om en jy is vir my belangrik. As jy my nodig het, sal ek alles los en dadelik kom. Ek het gedink teen hierdie tyd weet jy dit.”
Gee vir haar om – wat beteken dit? Soos vir sy beste hemp, sy gholfstokke en die weeskindertjies in Kambodja?
“Waar was Garth, dat hy niks kon doen nie? Of Joe?”
“Garth was ver, by die sitruspromosie. En Joe ook, seker by sy werkswinkel.”
“Jy moes om hulp geroep en die noodknoppie gedruk het! Wat baat sekuriteitswagte en ’n alarmstelsel as jy dit nie gebruik nie?”
“Hy was te vinnig op my en te sterk. Ek kon nie by die knoppie kom nie.”
En sy is vir hom belangrik, het hy gesê. Omdat sy vir hom werk en sy hele personeel vir hom belangrik is? Sy weet Melt is nie heeltemal neutraal teenoor haar nie; ’n vrou kan so iets intuïtief aanvoel. Daar is iéts tussen hulle, ’n aangetrokkenheid – ’n toegeneentheid, het hy dit op ’n keer genoem.
Sy vingerpunte lig haar kakebeen versigtig na die lig toe sodat hy beter kan sien. “Wat makeer jou keel?”
“Dis niks. Geskuur. Sy baard was lank . . .”
“En jou japon?” Sy mond span in ’n onverbiddelike lyn en hy raak aan die V-vormige kraag wat oopgeskeur oor haar skouer gaap. “Ook daardie verdomde seksmaniak se werk?”
Cecilia rem selfbewus aan die stukke handdoekstof. Sy het verwag hy gaan ontplof, weer teen Leonardo uitvaar en dreig om hom met sy vuiste by te dam. Maar Melt raas en lawaai nie. Sy luim verander en hy trek haar teer teen hom vas.
“My arme mooie meisiekind,” troos hy. “Arme perskebloeiseltjie . . . Ek is jammer dat ek nie hier was om jou te help nie, só jammer oor wat jy alleen moes deurmaak.”
As hy aanhou baklei het, was dit makliker. Maar dit was van kleins af so: as iemand met haar simpatiseer, kry sy haarself ook jammer. Sy probeer sterk wees, maar die trane begin stroom oor haar wange en oor sy pragtige donkerpers hemp.
“Ek is . . . j-jammer,” stamel sy midde-in die Niagara-waterval.
Melt gee vir haar sy sakdoek. “Ek is nie. Ek hou daarvan, want dit gee my ’n verskoning om jou te troos.”
Hy soen haar deurmekaar hare, haar nat wimpers en die punt van haar neus; vee met sy duim oor die traanstrepe aan haar wange. Dan, vlindersag, oor haar kaal skouer, die stukkie van haar sleutelbeen wat uitsteek en die ronding van haar bors daaronder. Sy asemhaling raak vinniger, rukkerig. Maar dan aarsel hy en sy hand verstil. “Of moet ek ophou? Is dit seer? Sensitief?” fluistervra hy.
Dit is nie – nie seer nie. Maar wel sensitief vir elke molekule van hom wat teen haar raak. Van die ligte fladdering van sy mond teen haar wimpers, sy skouer teen hare, sy heup en bobeen wat warm teen haar aandu – elke greintjie van sy harde, lenige lyf wat haar liggaam laat vlamvat.
Haar borste voel swaar, smagtend na sy aanraking, met ’n gretigheid en ’n afwagting wat haar ook kortasem laat. Met haar hele wese begeer sy om haar hand op Melt s’n te sit en dit terug te plaas waar dit was. Dit kos wilskrag om terug te staan en lyfkontak tussen hulle te verbreek. Al is dit net ’n sentimeter . . . Anders, weet sy, gaan sy kop verloor en doen wat sy nie wou nie. Waaroor sy môre spyt gaan wees.
“Ons . . . e . . .” stamel sy verward en bondel haar japon toe. “Jy en ek . . . ken mekaar nie goed genoeg vir . . . hiervoor nie.”
Melt dring nie aan nie. Hy maak ’n verontskuldigende handgebaar en trek die geskeurde japon netjies reg oor haar kaal skouer, versigtig om nie aan haar te raak nie. Sy asem kom onreëlmatig, met rukke en stote. Toe hy praat, is sy stem vol frustrasie.
“Ek weet, ja . . . Jy is reg, dis te gou. Maar hoe lank is ’n stukkie lyn?”
Sy voel dom. “ ’n Stukkie lýn? Ek weet nie.”
“Presies. Dis relatief – soos hoe goed twee mense mekaar eers moet leer ken. Party het ’n oogknip nodig, vir ander is ’n leeftyd te kort. Ek het dadelik geweet jy is die meisie vir wie ek gewag het – die oggend daar by Sue se toonbank, toe daardie twee groot groen oë van jou dwarsdeur my tot binne-in my siel gekyk het. Ek het geweet hierdie meisiekind wil ek hê.”
Hy leun nader en vee met sy lippe oor hare. “Jý is die onafgehandelde sake waarvoor ek teruggekom het. Ek is vanoggend vroeër uit Pretoria weg, nadat ek drie dae lank gefrustreerd geloop en tob het. Ek was haastig om by jou te kom, omdat ek twee belangrike dinge gehad het wat ek vir jou wou sê. Twee dinge wat ek reeds gesê het: Ek gee vir jou om, en jy is vir my belangriker as enige ander mens op aarde. Ek is lief vir jou, Cecilia Louw, en ek wil jou myne maak. Nie net nou, tot ek gekry het wat ek wil hê nie, maar vir altyd. Ek verstaan jou huiwering, want tot onlangs het ek self ook gedink ons is nie eens in ’n verhouding nie, en miskien moet ons mekaar eers behoorlik ontdek. Maar wat doen ons intussen omtrent hierdie . . . hierdie vonk wat ’n vlam geword het en op pad is na ’n veldbrand?”
Cecilia weet wat hy bedoel. Hy is net so bewus van haar soos sy van hom, van die “iets” wat tussen hulle groei. Die sandkorrel wat ’n miershoop geword het en op pad is na ’n berg . . .
Sy druk haar hande in haar sakke om die versoeking te weerstaan om aan hom te raak.
“Ek voel ook die vonk tussen ons. ’n Konneksie, ’n chemiese reaksie . . . noem dit wat jy wil. Maar dis blote passie en wellus wat sonder rede tussen ons ontspring het. Dit kan niks dieper wees nie, want ons is so te sê vreemdelinge.”
Vir haar het dit logies geklink. Maar ’n glimlag roer om Melt se mondhoeke en sy oë tintel.
“ ’n Interessante teorie. En wat stel jy voor sal ons omtrent hierdie onverklaarbare . . . e . . . wellus doen?”
Sy sukkel om haar stem neutraal te hou. “As ons dit ignoreer, sal dit weldra vanself oorwaai.”
“Jy reken?” Sy een wenkbrou lig. “Dit sal ’n hengse sterk tornado kos om dit te laat oorwaai.”
“Nee wat, dis klaar weg . . .”
“Weg?” Hy lag. “Jy praat teen jou eie beterwete . . . Is jy seker?”
“Natuurlik,” antwoord sy met meer oortuiging as wat sy voel.
“Ek verskil van jou,” stry hy. “Kom ons doen ’n eksperiment om vas te stel wie van ons reg is.”
Cecilia snap nie dadelik wat hy bedoel nie. Sy staan vasgenael toe hy die sentimeter spasie tussen hulle herwin en haar lyf opeis. Hy trek haar teen hom vas en buig haar agteroor, sodat sy in sy arms lê en haar gesig reg onder syne is.
Sy kop buig laer en hy soen haar. Sy lippe ondersoek haar gelaatstrekke een vir een, eksperimenteer met haar oorskulp en verken die lyn van haar kakebeen, strelend af oor haar nek en sleutelbeen. Dan stadig, voel-voel tot by haar kuiltjie en die onderpunt van die V-nek-kraag.
Cecilia vergeet al haar logiese redenasies, wat opeens nie meer sin maak nie. Al waarvan sy bewus is, is dat Melt se eksperiment vonkelwyn deur haar are laat bruis. Haar hart tamboer in suiwer ekstase. Haar lyf word sag en soet teen syne, nie in staat om teen die proefneming te rebelleer nie.
Of te keer toe hy sy een hand om haar middel losmaak en sy vingers die boonste pêrelknopie van haar japon stadig oopknoop nie . . . Hy soen die gleufie tussen haar borste en verberg sy gesig in die stuwende rondings aan weerskante. Sy vingers vind die volgende knopie en sy kop buig laer, terwyl hy met die punt van sy tong die buitelyne van haar mond navolg.
Sy hande is koel oor haar koorsige lyf toe hy die laaste knopie oopwoel en die gordel lostrek. “Jy is mooi. Lieflik!” fluister hy gesmoord en stroop die japon van haar af sodat dit in ’n bondel by haar kaal voete val. In dieselfde beweging tel hy haar op en dra haar in die gang af.
Cecilia se mond soek na syne met ’n passie wat haar teen sy bors laat smelt. Haar arms klem om sy nek toe hy in die slaapkamer kom en haar versigtig op die bed neerlê.
“Onweerstaanbaar en begeerlik,” fluister Melt toe hy half bo-oor haar gaan lê. Hy liefkoos haar langsaam, talmend en koesterend, terwyl hy haar onderlyf onder syne inskuif . . .
Dan verstar hy skielik, kreun en rol van haar af weg. “Nee, nie só nie. Nie nóú nie . . . Dis nie hoe dit die eerste keer moet gebeur nie.”
Hy bly op sy maag langs haar lê, sy gesig in die kussing gedruk, terwyl hy veg om sy selfbeheersing te herwin.
Cecilia weet wat dit hom gekos het om weg te rol, want sy stry teen dieselfde oorweldigende drang. Elke sintuig in haar roep uit na hom, hunker om na hom te reik en hom terug te lok na haar.
Melt rol om op sy sy. Sy onstuimige blik vang hare vas, die boodskap daarin duidelik leesbaar. Oplaas streel sy vingers tot waar haar borsbeen eindig, en nog ’n entjie aan, tot net onder haar naeltjie. Maar nie verder nie. Hy rol verder weg en trek ’n hoek van die duvet oor haar. Dan staan hy op en gaan spoel sy gesig in die badkamer af.
Toe hy terugkom, bly hy in die deur staan, net buite die slaapkamer.
“Ek is jammer, Cecilia, en ek vra om verskoning. Ek is nie trots op myself nie. Ek het gedink as ek jou vashou en troos, sal dit die ervaring met Leonardo neutraliseer. Maar die situasie het handuit geruk. Ek het toegelaat dat my emosies oorneem en het van jou weerloosheid misbruik gemaak.”
Hy vryf met sy vingers deur sy hare. “Die stukkie lyn was toe korter as wat ek gedink het. Ek beter loop, voor ek ook ’n kansvatter word met net een ding in sy kop . . .”
Hy kom nader, tot langs die bed en kyk lank na haar, voor hy die punte van die duvet knus om haar invou en met sy vinger ’n strepie oor haar wang trek. Dan stap hy met besliste treë uit. Sy hoor hoe hy die voordeur agter hom toemaak.
Cecilia bly lê, bewend en gefrustreerd. Sy weet nie vir wie sy kwaad is nie: vir Melt of vir haarself. Kwaad omdat sy so maklik beskikbaar was . . . En vir hom omdat hy nie gebly het nie.
Sy is lus om hom terug te roep om te kom klaarmaak wat hy begin het. Hy het mos gesê hy is tot haar beskikking – dag of nag . . .