Читать книгу Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo - Страница 16
Оглавление13
Cecilia het gehoop Melt bel, al was dit net om nag te sê of sommer net te vra hoe dit gaan . . . Maar ná hy weg is, het hy niks weer van hom laat hoor nie. Nie gisteraand nie en ook nie vanoggend nie. Laaste was die klik van die voordeur toe hy uitgestap het.
Is hy skaam? Spyt omdat hy te gou gepraat het en van mening verander het?
Hoe gaan sy hom in die oë kyk? Sal hy dalk dink sy het hom uitgelok? Dat sy dalk met Leo ook geflirt en gekry het wat sy gesoek het? Ai, sy wens Vera was hier om haar gerus te stel dat gisteraand nie ’n droom was nie . . .
Wat maak sy as Melt haar ignoreer – koel en afsydig sy gang gaan en haar behandel soos die vreemdeling wat sy volgehou het sy is? Sy sal nie saam met hom kan werk en hom elke dag sien nie. Dit sal te vernederend wees. Sy sal haar tasse moet pak en ander werk soek, dalk selfs teruggaan Lugdiens toe. Of na Steve toe . . .
Mits Steve haar nog wil hê. Ná ’n lang tyd het hy gisteraand weer gebel, nie in ’n goeie bui nie. Sy het gewens die verbinding was dof en vol eggo’s, soos dikwels in die verlede. Maar hy was in die Kaap, en sy kon elke woord van die beskuldigings en verwyte asof in stereoklank hoor.
Sy was darem bly om te hoor dat hy in Madrid by haar pa-hulle gekuier het.
“Wanneer kom hy en my ma kuier?” wou sy weet. “Ek moet vroegtydig ’n datum hê, sodat ek ’n suite kan bespreek. Vanaf November tot einde Januarie is hoogseisoen, dan is die Lodge gewoonlik vol.”
“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie,” het hy stroef geantwoord. “Jou ryk baas kan seker ’n plan maak om sy minnares se ouers te akkommodeer.”
Sy het eers koud geword, en toe warm. “Wat bedoel jy?”
Hy het spottend gelag. “Ag, kom nou . . . Jy en ek is nie kinders nie, Cilla. Ons is albei mos al mooi groot. Jy weet goed wat ek bedoel.”
“Nee, ek weet nie,” het sy uitdagend geantwoord. “Jy maak insinuasies sonder dat jy die feite ken.”
“Daar is genoeg bewyse.”
“Bewyse? Watse bewyse?”
“Die man het tog sekerlik nie daardie lang slap sportmotor vir jou gegee omdat jy sulke lekker koffie maak nie?”
Dekselse kaptein Doep, het sy met ’n sinkende gevoel gedink. Hy en Steve het mekaar seker in die Kaap raakgeloop, en natuurlik sou Doep hom vertel het dat hy haar op die lughawe gesien het.
“Sê vir jou kastige boesemvriend hy moet minder skinder!” het sy teruggekap. “Ek het uitdruklik vir hom gesê die motor is nie myne nie, net geleen omdat my Golf in die garage is. Omdat jy nie na die punte gekyk het nie en die enjin by Waterval-Boven oorverhit het.”
“Die punte makeer niks. Ek het nuwe vonkproppe vyfduisend kilometer gelede ingesit.”
“Dan was die olie vuil.”
“Nonsens! Ek het laas ’n nuwe oliefilter ingesit en die olie vervang.”
“Die man van die werkswinkel sê as Brandertjie ’n perd was, het hy hom geskiet.”
“Die man praat snert!”
Steve was gegrief oor die onregverdige aantygings, en sy draad was net so kort soos Melt se stukkie lyn. “Jy het ’n gawe, Cilla, om ’n man só van sy wysie af te sit dat hy vergeet hoekom hy gebel het.”
Sy wou nie die rede vir die oproep weet nie en het hom voorgespring. “Het jy jou ma se verjaarsdag eergister onthou?”
Steve het hom nie weer op ’n ander spoor laat rangeer nie. “Daardie nuwe kêrel na wie Vera laas verwys het, wat glo meer integriteit het as ek – is dit daardie kastige ryk baas van jou? Die Meiring-vent van die hotel?”
“Daar is nie ’n nuwe kêrel nie. Vera het sommer net so gesê om jou jaloers te maak.”
“Wat het hy wat ek nie het nie?”
“Hoor jy nie wat ek sê nie? Hy is nie my kêrel nie!”
Steve het aanhou karring. “Hoekom is jy dan agter hom aan Nelspruit toe?”
“Ek is nie, dit was ter wille van die werk.”
“Bly julle saam? Deel julle ’n kamer?” het hy reguit gevra.
Haar bloeddruk het ook begin opstoot.
“Genugtig, Steve, hoe ken jy my? Melt is ’n wildvreemde man vir wie ek toevallig werk. Ek ken hom skaars. Ek weet nie eens wat hy van my dink en of hy van my hou of . . . of . . . wat ook al . . .” Haar stem het weggesterf en sy het skuldig geswyg.
Daar was ’n lang stilte aan die ander kant, en toe ’n gesuis in haar oor. Ná ’n rukkie het sy tentatief gevra: “Hallo . . .? Steve, is jy daar?”
Daar was nie antwoord nie; hy het die foon doodgedruk. Sy het haar taktloosheid verwens. Steve is baie dinge, maar hy is nie dom nie en hy ken haar te goed. Die feit dat sy so hewig geprotesteer het, sou hom dadelik agterdogtig gemaak het. Sy kan hom nie kwalik neem as hy sy eie afleidings gemaak het nie. Sy was woedend oor hom en Nadine, dis logies dat hy dieselfde sal voel oor haar en Melt. En dalk met meer rede . . .
Sy het teruggebel, maar sy sel het net aanhou lui en lui. Terwyl sy geweet het hy staan waarskynlik met die ding in sy hand.
Op pad kantoor toe probeer Cecilia weer vir Steve bel, maar hy antwoord nie en dit ontstel haar. Sy wil nie hê hy moet sleg van haar dink nie. Al wil sy nie met hom trou nie, wil sy ook nie kwaaivriende wees nie. Of hê Nadine of Melanie moet hom erf nie . . .
“Hier’s ’n brief vir jou,” verwelkom Garth haar toe sy instap, “en ’n present. Dis op jou lessenaar.”
Brief? Cecilia se maag trek op ’n knop. Maar dis nie Melt se handskrif op die koevert nie. Sy lig die flap en haal twee kaartjies uit: vir Leo die Laeveldleeu se konsert vanaand. Sy is lus en smyt hulle in die snippermandjie. Die present is ’n bottel maroela-likeur, met ’n nota daarby: Sorrie, Suzy, jou verkeerd gelees. L.
Daar is ’n vrank smaak in haar mond. Darem een ou wat nie dink sy is ’n los meisie nie.
“Van wie af kom dit?” vra Garth.
“Leonardo die Bosveldbuffel.” Sy hou die bottel na Garth uit. “Likeur gee my hoofpyn, maar ek weet Sue het ’n soettand. Jy weet mos nou sy het nie ’n man, ’n verloofde of ’n kêrel met ’n regterhaakhou nie, en vanaand is volmaan. Nooi haar vir koffie en likeur by die swembad. Dis oorspronklik en romanties.”
Garth lyk ingenome. “Dankie, ek sal! Leo het gelukkig uitgetrek, so hy sal nie sien dis jou bottel waarmee ek Sue verlei nie.”
“Uitgetrek?” vra Cecilia.
“Boots and all. Uitgeboender deur meneer M. Persona non grata, en beveel om met sy hele entourage ander blyplek te kry.”
Cecilia is verstom. “Wie sê so?”
“Die grootbaas self. Hy was nou-nou hier, net gou in en uit op soek na jou, om te sê hy’s terug en jy moet hom asseblief twaalfuur in die parkeerterrein ontmoet.”
Cecilia is lus om hom met die likeurbottel oor die kop te slaan. “Hoekom sê jy my nou eers? Terug van waar af?”
Garth kyk haar skuins aan. “Middelburg. Sakekamer-ontbyt. Het jy vergeet?”
“Nee, want ek het nie geweet nie.”
So dís waarom sy niks van hom gehoor het nie, besef Cecilia. Hy is natuurlik gisteraand weg Middelburg toe, het oorgeslaap en nou eers teruggekom. Sy het te lank oor Steve gesit en tob, anders was sy betyds op kantoor om hom te sien.
Dan eers registreer die res van Garth se mededeling by haar. “Twaalfuur in die parkeerterrein? Om wat te maak?”
Garth weet nie; meneer M het nie gesê nie. Net dat sy twaalfuur gereed moet wees. Hy sal haar kom oplaai.
Cecilia vryf oor haar hare en onthou sy het vergeet om jel aan te sit. En maskara, en blosser. “Sal jy die fort hou? Ek moet dringend vir my ’n rok by die boetiek gaan koop.”
“Ek dag jy het al ’n rok,” terg hy.
“Tien,” spot sy saam. “ ’n Kas vol, maar ek het niks om aan te trek nie.”
“Tipies vrou.” Garth bekyk haar op en af. “Wat is die okkasie – jou twaalfuur-afspraak in die parkeerterrein?”
Cecilia hou haar onskuldig. “Jy kyk te veel sepies, my vriend.”
Voor hy te nuuskierig raak, raap sy haar handsak op en woerts by die deur uit.
Sy kry ’n droomrok: kuitlengte, liggroen moeselien, met spaghetti-bandjies oor die skouers. Teen afslag, en drie maande om te betaal.
“Wie is die gelukkige man?” skimp die verkoopsdame.
Cecilia se oë blink. “Die wonderlikste, sexyste man in die wêreld!”
“O! Ken ek hom?”
Cecilia sê niks, vat net haar rok en glimlag geheimsinnig. Die lug buite is skielik blouer, die bougainvilleas rooier, en ’n kakiebos langs die paadjie mooi genoeg dat sy nie buk en hom uittrek nie. “ ’n Onkruid kry ook seer,” sê haar ma altyd. “Hy’s net ’n plantjie wat op die verkeerde plek groei, arme ding.”
Haar ma is die eerste een wat sy gaan bel as dit lyk of dinge tussen haar en Melt gaan uitwerk.
Terwyl sy hare droogblaas, naels verf en maskara aansit, probeer sy weer haar eks in die hande kry. Hy is al krappunt in haar dag. As sy met hom vrede kan maak, vra sy geen verdere geskenke van die gode nie.
Daar is geen ontvangs nie. Steve-hulle is blykbaar in die lug, op die Kaap – Kimberley-sektor, raai sy. Die vredemaak en verduidelikings sal tot later moet wag.
Toe sy terug is op kantoor, is dit elfuur. Om die tyd verby te kry en haar salaris te verdien, beantwoord sy ’n klompie e-posse en finaliseer die reëlings vir ’n advertensievoorlegging in die Indaba.
Op pad uit deur die ontvangsportaal laai sy Leonardo se twee kaartjies by Sue af.
“Ek weet Garth is mal oor sokkie-sokkie,” breinspoel Cecilia haar. “Die arme ou het so hard gewerk met die sitruspromosie, hy verdien om uitgevat te word. Nooi hom saam konsert toe. Hy sal graag saamgaan, en dis boonop volmaan!”
“Ja, goed,” stem Sue in. “Is dit hoekom jy so opgedollie is?” vis sy uit. “Word jý ook uitgevat?”
Cecilia plaas haar handpalms teen mekaar en sluit haar oë. “Ek hoop so.”
“Jou eks? Is julle weer bymekaar?”
Sy skud haar kop. “Dis ’n ander man. Ek is oorhoeks, van my tone tot by my kroontjie toe verlief. Dit lyk of hy dalk vir my ook iets voel, maar ek is bang ek lees hom dalk verkeerd.”
“Leonardo? Een van die gholfspelers? Of ’n ryk piesangboer?” raai Sue.
Cecilia hou aan kopskud en gee pad, voor sy haar mond verbypraat.
Melt is stiptelik. Toe sy by die hoteldeure uitstap, wag die wit sportmotor by die parkeerterrein se uitgang. Hy strek om die passasiersdeur vir haar oop te maak.
“Hallo . . .” Sy stem is warm, soos sy mond en sy hande gisteraand. “Jy lyk soos ’n woudnimf.”
Sy lag verbaas. “Ek het nie gedink jy ken sulke romantiese woorde nie.”
“Hoekom nie? Omdat ek lyk soos ’n ou droë stok, altyd gestewel en gespoor in ’n pak klere, saaklik en formeel?”
Sy bekyk hom skewekop. Sy hare is blinkgewas en hang skuins oor sy voorkop. Hy het weer die syhemp van haar eerste dag aan, oopgeryg tot amper op sy naeltjie, by styfpassende swart ontwerper-jeans.
“ ’n Droë stok? Jý?” Sy skud haar kop. “Beslis nie!”
Hy haak sy donkerbril van die truspieëltjie af en sit dit op. Dan leun hy weer oor en trek haar sitplekgordel vas. Voor hy die knip vasklik, draai hy sy kop en vee met sy lippe oor hare. “Ek het na jou verlang.”
“En ek na jou ook,” fluister sy.
Sy gesig is so naby, deur die lense kan sy sy oë sien. Goudbruin, soos ’n bergpoel op ’n sonhelder dag. En die boodskap daarin . . .
“Ek wou gisteraand in die chalet by jou bly – jy weet nie hoe graag nie. Ek wou heelnag by jou wees. Jou vashou en begeer, en myne maak . . .”
Die vel oor sy kakebeen span styf en sy stem is intens. “Dis hoekom ek daardie singende Leeu se stembande een vir een soos ’n vark s’n wou uitslag. Ek het vir hom gesê hulle kan nog vanaand die Lapa gebruik, maar sy soort is nie welkom by die Lodge nie, en as hy ná dese nog ’n loopbaan wil hê, moet hy en sy trawante ander huisvesting soek. Ek hoop die drommel het jou om verskoning gevra?”
“Hy het, ja – skriftelik, met ’n present daarby.”
“Die minste wat die stuk skuim kon doen. Hy beter uit my pad uit bly!”
Die Mercedes se enjin brul en sy ruik rubber toe Melt wegtrek. Sy wonder of dit is hoe hy gewoonlik ry, en of hy self ook opgewarm is, dié dat hy die arme motor so moor
. . .
Hulle gesels nie veel nie. Sy voet is swaar op die petrolpedaal tot hulle verby die gholflandgoed, die piesangplantasies en suikermeule is. Van daar af ry hy stadiger en draai links af op ’n kronkelende grondpad.
“Ek het ’n tafel bespreek by Frangipani-gastehuis, wat oor die Krokodilrivier uitkyk, met die wildtuin aan die oorkantste oewer. Hulle maak heerlike calamari. As jy gelukkig is, sien jy seekoeie, en dalk olifante wat kom bad. En die grootste bonus: waar niemand ons ken nie en ek jou hand kan vashou sonder dat die hele personeel ons aanstaar.”
“Dit klink heerlik.”
Sy een mondhoek wip tergend. “Watter deel? Die wildtuin, die calamari, die olifant, of dit wat daarop gevolg het?”
“E . . . alles,” erken Cecilia blosend.
“Ek kan meer ambisieuse dinge doen as net jou hand vashou,” bied hy hulpvaardig aan, en geniet dit toe die blos op haar wange verdiep. “Weet jy hoe verruklik mooi jy is, meisiekind? Die soort nimf vir wie ’n man blomme koop tot sy geld opraak, en dan die park s’n steel.”
Hy klink soos Steve – voor dinge tussen hulle verkeerd geloop het. Net nie lelies nie, dink sy. Enige ander soort . . . Sy sal elke blom pars en byvoeg in haar plakboek van spesiale herinneringe.
“Hoe voel jou nek en keel? Steeds sensitief?”
Dis wat hy gisteraand in die kamer ook gevra het, met sy hemelse lyf half bo-op haar . . . Sy kan nie glo dit was werklikheid nie.
“Beter, dankie,” antwoord sy, skielik ongemaklik. Sy was so lank aan Steve gewoond dat sy haarself amper al as oud en getroud beskou het. Al is dit Melt hier langs haar, voel dit vreemd om deur ’n ander man uitgeneem te word.
Sy stuur die gesprek in ’n meer alledaagse rigting. “Jy moet maar die gebreekte kleipot se vervangingswaarde van my salaris aftrek die einde van die maand.”
“Ek sal wag tot ek ’n gebreekte hart het voor ek vir jou ’n rekening stuur – met rente,” dreig hy.
Hy parkeer onder een van die bome waarna die gastehuis vernoem is. Hy help haar uit die motor en plaas sy arm liggies om haar skouers in ’n besitlike gebaar wat erotiese rillings langs haar ruggraat afstuur. Sy voel sy vingerpunte teen die kaal vel van haar rug raak: sterk, bruingebrande vingers, met kortgeknipte naels. Dieselfde vingerpunte wat gisteraand oor haar borste gestreel het en haar lyf in passie laat ontwaak het . . . Sy het nie vir Sue gejok nie. Sy is tot oor haar kroontjie malverlief op Melt Meiring.
Die tuin is ’n wilde lushof vol voëls, en ’n spekvet vlakvark trippel hulle tegemoet toe hulle na die toegerankte patio stap. By een van die verste tafels sit ’n groep mense, verder is die restaurant stil.
Op pad om vir haar ’n stoel uit te trek, beduie Melt met sy vinger sonder om ’n woord te sê. Cecilia kyk in die rigting waarin hy wys. Sy sien eers net ’n swartgrys kol tussen die riete, wat ’n klip of ’n droë boomstomp kan wees, en dan opeens roer om twee flappende ore, ’n slurp en ’n paar omkrultande te vorm. Sy trek haar asem in. Die scoop van die dag . . . mooier selfs as meneer M met sy strepieskuif en gespierde borskas in ’n syhemp.
Terselfdertyd klink die weeklag van ’n visarend onder by die rivier op. Melt se hande vou van agter om haar skouers en hy laat rus sy wang teen haar nek. “Ek is oneindig lief vir jou, Cecilia.”
Eendag as sy oud is, sal sy hierdie oomblik onthou as die mees volmaakte moment in haar lewe, mymer Cecilia. Sy kruis haar arms oor haar bors om sy hande in elk van hare vas te hou, terwyl hulle die grootvoet bekyk, al plunderend en knarsend deur die biesies.
“My dag is gemaak, nou kan ons maar huis toe gaan,” adem sy.
Melt stoot die spaghetti-bandjies van haar rok opsy en proe al teen haar rug af, sover hy kan bykom. “Is ’n olifant en ’n visarend genoeg vir jou?”
Sy vryf haar wang teen die agterkant van sy hand. “Dis die bonus. Die hoogtepunt is dat ons uitvoerende bestuurder my rugwerwels een vir een gesoen het.”
“Ek sal graag meer van jou wil soen – jou hele lyf proe, elke millimeter daarvan,” prewel hy met die punt van sy tong ondersoekend teen haar oor.
“Melt!” roep ’n vrouestem, gevolg deur naderende voetstappe oor die patio. ’n Aantreklike donkerkop stop by hulle tafel.
“Dis gaaf om jou weer te sien, vreemdeling! Ek het ’n spesiale calamari gemaak en Imke se gunsteling-rosé . . .” Sy bly stil, ’n hand voor haar mond gedruk. “Oeps! Het ek my voet daarin gesit?”
Melt kom regop en beweeg om die tafel. Toe hy opkyk, is sy gesig onleesbaar, sy oë steeds verskuil agter die donkerbril.
“Hallo, Tertia. Lekker om jou ook weer te sien, ná die lang tyd. Nee, jy het niks gesê wat jy nie moes nie,” antwoord hy gelykmatig.
Hulle gasvrou lyk steeds verleë. “Ek is jammer, ek het nie mooi gekyk nie. Die blonde hare en skraal figuur het met die eerste oogopslag soos Imke gelyk en –”
“Imke is op Badplaas. Hierdie is Cecilia Louw, skakelbeampte by Mlala. Cecilia, dis Tertia, eienaar van die Frangipani,” stel Melt hulle voor.
“Aangename kennis,” groet Tertia. “Ek is regtig jammer, hoor!”
“Cecilia verkies droë witwyn, met ys,” sê Melt bruusk en wend hom na haar. “Tertia maak ook heerlike bredies en bobotie. Wil jy die spyskaart sien?”
“Nee, calamari sal goed wees, dankie,” antwoord Cecilia net so neutraal soos hy.
“Reg so.” Tertia is duidelik verlig om te kan ontsnap. “Ek stuur ’n kelner met die wynlys.”