Читать книгу Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo - Страница 9

Оглавление

6

Cecilia is weer besig om pasta te maak, dié keer vir haar en Melanie, toe die telefoon ’n paar dae later lui.

“Sal jy antwoord?” skree Melanie vanuit die kamer. “Ek is besig om my naels te verf.”

Seker weer Wikus of Robert of Charl, vir Vera, dink Cecilia. Mans hou blykbaar van hardgebakte, bevryde vroue. Steve was reg: hulle staan tou om Vera fliek toe te nooi, Kyalami toe, Drakensberge toe; vir ’n braai, ’n sokkie, ’n swem, of wat hulle ook al kan bedink.

“Juffrou Louw?” verneem ’n vrouestem wat vaagweg bekend klink, saaklik en nie juis vriendelik nie.

“Cecilia Louw wat praat, ja,” antwoord sy. Is dit die Vrystaatse dagblad wat vir ’n proefleser geadverteer het? Of die werwingskantoor vir au pairs in Amerika? Sy is so desperaat, sy sal enigeen van die twee aanvaar.

“Hou aan vir meneer Meiring,” versoek die stem. Die assosiasie skop skielik in: witkop, halfmaan-wenkbroue, pêrel-oorbelle.

Cecilia klem die gehoorbuis vas. Hy sal nie bel net om te sê haar aansoek het nie geslaag nie . . . Of sal hy? Dalk soek hy ’n getuigskrif, of ’n verklaring van Binnelandse Sake dat sy nie ’n tronkrekord het nie en dat haar belasting betaal is.

“Hallo, Cecilia?” klink sy stem in haar oor, warmer en dieper as wat sy dit onthou. ’n Tinteling spiraal teen haar ruggraat af, sodat haar knieë skielik soos gesmelte kerswas word en sy ’n stoel moet naderhaak om te gaan sit.

“Ja?” Sy is vies omdat sy so uitasem klink, asof sy pas die Comrades gehardloop het.

“Melt Meiring hier, van Mlala Lodge.”

“Goeiemiddag, meneer Meiring.”

“Hoe gaan dit met jou?” vra hy vriendelik.

“Dit hang af . . .” antwoord sy eerlik.

“Waarvan?”

Sy byt op haar onderlip. “Van die . . . e . . . rede waarom u gebel het.”

Hy lag, en nog ’n assosiasie vorm in haar gedagtes. Strepiesgebleikte blonde hare, effe langer as Steve s’n, kuiltjie in die ken en blink sjampanje-oë. Sy bloos opnuut by die gedagte aan haar arms om sy nek en haar lyf teen syne. Hoe op aarde kon sy haar verbeel het hy is haar broer? Die man smokkel met haar kop.

“Ek weet nie of dit goeie of slegte nuus is nie. Die rede hoekom ek bel, is om te sê ons sal jou graag wil aanstel as jy nog in die pos belangstel. Of het jy reeds ander werk aanvaar?”

Cecilia is terug in die Comrades, behalwe dat sy nou genoeg krag het om Polly Shorts volspoed uit te hardloop. Sy moet haarself maan om rustig te reageer.

“Dis goeie nuus. Baie dankie vir die vertroue in my. Ek stel steeds belang, ja, en ek het nog nie ander werk aanvaar nie.”

“Wanneer kan jy begin?”

“Enige tyd wat geleë is.”

“Maandag?”

Dis bietjie gou . . . Sy maak ’n paar vinnige somme. Daar is nie veel om te pak nie, ’n paar briewe om te skryf, ’n klompie banksake om af te handel en rekeninge om te betaal.

Haar motor moet versien word, en sy sal moet reël vir veilige stoorplek vir haar meubels, veral die klavier. Die Bechstein is ’n familie-erfstuk, ’n kosbaarheid na aan haar hart; dit mag nie skade kry nie. Sy kan Saterdag haar skilderye, boeke en los goed by Steve se huis gaan haal en Sondag ry – voor hy terug is van sy vlug.

Vera kom eers Maandagaand van Mauritius af en hulle sal mekaar misloop, maar dis nie die ergste nie. Sy kan later by die Lodge kom kuier as sy ’n paar dae vry het.

“Maandag sal reg wees, meneer Meiring.”

Die koerantadvertensie het gemeld dat salaris onderhandelbaar is, maar hy noem ’n bedrag wat haar verwagting oortref.

“Die vergoedingspakket sluit in ’n mediese en pensioenfonds, ’n dertiende tjek en vyftien werksdae verlof per jaar, asook losies in die vorm van ’n gemeubileerde eenslaap­kamer-chalet. Dis selfsorg, maar etes is beskikbaar in enige van die restaurante, met afslag vir die personeel. Dit geld ook vir die skoonheidsalon en klereboetiek.”

Laasgenoemde sal welkom wees, mits die boetiek nie astronomiese pryse vra nie. Vyf jaar van uniform dra het haar bederf. Sy het ’n hand vol baadjiepakke en ’n klompie meng-en-pas-stukke van goeie gehalte, maar verder bestaan haar klerekas uit denims, kortbroeke, tops en tekkies. Nie eintlik geskik vir die skakelbeampte van ’n vyfsterhotel nie.

Onverwags trek haar keel toe. Waarvoor op aarde laat sy haar in? Is sy oorversekerd en voortvarend, of gewoon domastrant?

“Enige vrae?” wil hy weet. “Dinge waaroor jy uitsluitsel wil hê?”

“E . . . nee.”

Dit hoef nie vir altyd te wees nie, troos sy haarself. Sy kan ’n maand kennis gee as die werk haar nie geval nie. Haar ma sê altyd sy is impulsief, en sy wil nie weer ’n oordeelsfout maak nie. Haar hele toekoms is immers op die spel. As sy nou vir Melt Meiring ja sê, is haar troue van die baan, dit besef sy goed. Dan eindig die Steve-hoofstuk finaal. Dan maak sy nie net die boek toe nie, maar ook die deur van versoening tussen hulle. Het sy finaal gekies, en is dit die pad wat sy wil hê haar lewe moet loop?

“Of wil jy eers daaroor nadink en my môre laat weet?” stel Melt rustig voor.

Soos sy tydens die onderhoud gesê het, is lugwaardin-wees ’n limbo-stadium en nie ’n loopbaan nie. Dis tyd om nuwe horisonne te ontdek, en Mlala Lodge is die kans van ’n leeftyd . . .

Elke afskeid is ’n kleine dood, het ’n wyse eenkeer gesê. Iewers, êrens sal daar altyd ’n stukkie van Steve agterbly. In die stuurkajuit van ’n 747 waar hy omgekyk en vir haar geknipoog het . . . Op Las Palmas toe hulle in die branders gestaan en roomys eet het en hy haar ’n koue, nat soen gegee het sodat sy die vanieljegeur op sy tong kon proe. Agterop ’n bromponie in Rome, met haar arms styf om sy lyf en haar wang teen sy breë rug. En in die sneeu bo-op die Jungfrau, toe hy ’n geel skibaadjie aangehad het en haar gevra het om met hom te trou.

Sy het hom so lief gehad . . .

“Bespreek dit met jou ouers en hoor wat jou pa dink,” stel Melt voor toe die stilte te lank rek.

“Asseblief, ja,” antwoord sy. “Ek sal, en u vroeg môreoggend laat weet.”

Aan sy stem kan sy hoor hy glimlag. “In die haak.”

As uitvoerende bestuurder by ’n internasionale hotelgroep beskik hy sekerlik oor ervaring en mensekennis, redeneer Cecilia toe sy die gehoorstuk neersit. As hy reken sy kan die werk doen, dan kán sy. Melt Meiring is nie ’n draak en ’n monster nie. Die meisie by die gastehuis het hom verkeerd opgevryf, of dalk was dit ’n geval van suur druiwe omdat sy geweet het sy sal nie die werk kry nie.

Steve self is immers ook geen engel nie. Al kon hy haar die vorige aand die maan en die sterre belowe, sou hy maklik die volgende dag op die vliegtuig in haar keel afklim as daar te veel handbagasie op die rakke was, of as passasiers se sitplekgordels nie vas was nie, of selfs as daar net ’n halflepel suiker te min in sy koffie was.

Miskien ís Melt soms moeilik, soos enige baas maar is wanneer sy vrou met hom baklei het, sy kop seer is of as hy met die verkeerde voet uit die bed geklim het. Maar haar intuïsie sê vir haar hy sal nie dwars en moedswillig of onredelik wees nie. Hulle sal goed saamwerk, en selfs later goeie vriende kan word. Die gedagte maak haar vreemd opgewonde, sonder dat sy weet hoekom.

“Wie was dit wat gebel het?” roep Melanie vanuit haar kamer.

Cecilia gaan sit by haar op die voetenent van die bed. “Wens my geluk: ek het ’n jop!”

Melanie verf haar laaste pinkie en beweeg haar vingers op en af soos ’n dwergie wat klavier speel. “Die Vrystaat is te koud in die winter, jy gaan verkluim.”

“Ek gaan nie Bloemfontein toe nie.”

“En Amerikaanse kinders is horribaal. Jy is nie net kinderoppasser nie, jy moet ook was en stryk, teen ’n hongerloon, met een dag ’n maand af.”

Cecilia lag. “Ek gaan ook nie au pair nie. Ek gaan skakel!”

“Telefoniste op ’n skakelbord?”

“Kom by! Mlala Lodge!”

Die bolaag op haar vingers is winddroog en Melanie begin haar toonnaels verf. “Ek weet die sitkamerbank is vol hobbels, maar ons kan ’n uitskopbed koop, dan het ons beter slaapplek vir jou. Jy is regtig welkom om te bly so lank soos jy wil. Dis nie nodig dat jy uit desperaatheid jouself tot doer in die bekveld gaan begewe en malaria kry nie.”

“Dis nie in die bekveld nie! Die Lodge is net buite Nelspruit, naby Kruger Mpumalanga Lughawe, en ’n uur se ry van die Wildtuin af. Dis ’n enorme vyfsterhotel met restaurante, swembaddens, winkels, ’n casino en sy eie gholfbaan.”

“Hoekom praat jy dan van ’n lodge? ’n Lodge is ’n herberg, soos in kinderverhale – in ’n woud, met ’n herbergier en donkies en ganse.”

“Dis ter wille van oorsese besoekers, en Mlala is ’n Afrika-woord, soos ‘boma’ en ‘lapa’. Die hotel is ingestel op toeriste wat invlieg om te dobbel, in die son te lê of dagritte wildtuin toe te doen om die Groot Vyf te sien.”

Melanie begin belangstel. “Vera het gepraat van ’n ou daar vir wie jy glo die hots het. ’n Ryk Amerikaner of iets?”

“Ek het g’n die hots vir hom nie!” sê Cecilia verontwaardig. Melanie is ’n gawe vriendin, maar sy is net op mans en geld ingestel.

“Dankie vir die aanbod van die uitskopbed, hoor, maar dis tyd om aan te skuif,” sê sy. “Ek het lekker gebly en sal julle mis. Jy en Vera moet kom kuier – kom detox met ’n sitrus­dieet in die skoon Laeveldse lug, ontstres met ’n sauna, aromaterapie, velmasserings, ensovoorts.”

“Klink salig . . . Wat van Steve?”

“Wat van hom?” vra Cecilia op die verdediging.

“Moet jou nie deur Vera laat breinspoel nie. Jy is baie preuts. Wat hy gedoen het, was verkeerd. Maar een misstap is nie die einde van die wêreld nie. Steve is ’n super ou. Gaan jy nie later besluit dit was ’n fout en jy wil hom terughê nie?”

“Ek weet hy is ’n super ou. Maar ek wil nie met hom trou nie.”

“Is jy seker?”

“Ja.”

“Wat gebeur as jy besluit om hom te vergewe?”

“Hoe bedoel jy: wat gebeur?”

“Gaan julle opmaak?”

Cecilia kyk hoe Melanie die botteltjie naellak versigtig toedraai en haar tone op en af wikkel terwyl sy haar onderlangs dophou.

Sy begin lag. “Hoekom vra jy, Mel? Wil jy hom graag erf?”

Melanie hou haar onskuldig. “Ek krap nie in my vriendinne se slaai nie. Maar as jy seker is jy gaan nie terugkrabbel en arseen in my koffie gooi nie . . .”

“Jy kan hom kry. Vat hom,” bied Cecilia aan. “Jy het my toestemming. Dop hom om, druk hom plat en vry hom uit sy sokkies uit. Hy sal dit geniet, en ek sal nie ’n oog knip nie.”

Melanie se babablou oë is wydgerek. “Genuine?”

Cecilia ignoreer die slangetjie in haar binneste wat sy kop oplig en ’n vurktong uitsteek. Jaloesie? Is dit die besitlikheid waarna Melanie verwys het, wat Nadine wou vermorsel het en nou vir Melanie ’n giftige antwoord wil gee? Wil sy dan haar brood aan albei kante gebotter hê?

Sy vryf ’n kreukel in die beddeken glad, tel ’n stukkie rafel van die mat af op en frommel dit tussen haar vingers. Toe sy opkyk, het sy haar gevoelens onder beheer.

“Genuine, ja,” bevestig sy.

Melanie wil doodseker maak. “Het jy dit duidelik aan Steve uitgespel dat dit geskiedenis is tussen julle?”

“Honderd keer, maar hy weier om dit te aanvaar. Om dit behoorlik te laat deurdring, gaan ek vir hom ’n amptelike brief skryf waarin ek verduidelik presies hoe ek voel, en hoekom ek so voel. Ná alles wat tussen ons was, skuld ek hom dit. Ek kan nie sommer net oppak en padgee nie.”

“Wil jy hê ek moet die brief vir hom gee?”

Nie baie subtiel nie . . . “Nee dankie,” keer Cecilia. “Ek gaan Saterdag die res van my goed haal, dan sal ek die brief neersit op ’n plek waar hy dit sal sien.”

Saam met haar verloofring, besluit sy. Dis die ordentlike ding om te doen – om die juwele wat hy vir haar gekoop het terug te gee.

“Weet hy jy het in Nelspruit aansoek gedoen vir werk?”

“Nee,” erken Cecilia kortaf.

“Die nuus gaan vir hom ’n skok wees. Hoekom het jy hom nie gesê nie?”

Cecilia sug. “ ’n Lang lys redes . . . Omdat ek te kwaad was vir hom. Omdat ek weke lank nie met hom gepraat het nie. En omdat hy oudergewoonte weer sou geflip het en my gestoomroller het. Laas toe ek hom gesien het en ons wel gepraat het, was daar nie tyd nie, want hy was laat vir sy vlug.”

Voor Melanie verder kan uitvis, staan sy op. “Ek is moeg om oor Steve te tob. Ek gaan my klere uitsorteer, sodat ek nie Maandag met ’n tas vol vuil wasgoed by die hotel aankom nie.”

Toe Cecilia verby die kombuis stap, is sy net betyds om die kastrol spaghetti te red voor dit weer ’n gitswart offerande word. Die bolognaise-sous prut vreedsaam en lyk soos die prentjie by die resep. ’n Teken dat haar sterre ophou bots het en dat die gode haar goedgesind is? Sy voel sommer minder angstig.

Terwyl die wasmasjien sy jop doen, maak sy ’n vinnige groenslaai.

“Ons eet so teen agtuur!” roep sy in die gang af. “Ek moet nog my pa in Madrid bel, en my ouma op Brandfort. Daar is hordes goeters om te doen, maar eers gaan ek bad. Ek belowe ek sal nie al die warm water vat nie.”

“Vat wat jy wil, en vat jou tyd,” bied Melanie vrygewig aan. “En skryf neer wat alles in Steve se brief moet staan, sodat jy nie driekwart vergeet nie. Sorg dat hy die boodskap kry – hard en duidelik.”

In die daaropvolgende paar dae – van Woensdag tot Sondag – het Cecilia Melanie se raad gevolg, al was haar vriendin se voorskrifte hoofsaaklik selfgesentreerd en op haar erfporsie gefokus. Sy het lyste gemaak van wat om te onthou en wat om te doen, doodgetrek wat afgehandel is en onderstreep wat belangrik is.

Bo-aan die lys was: Bel Melt Meiring en Skryf lang brief vir Steve.

Sondagoggend, op die N4-snelweg verby Middelburg met haar ongedienste, oorlaaide motor, tik sy die items wat afgehandel is op haar vingers af: Vervoerkontrakteur en stoorplek vir die Bechstein. Rekeninge, bankbestuurder en droog­skoonmakers. CD’s, boeke en skilderye. Sleutels, ring en brief vir Steve, duiwekos vir Vera, sjokolade vir Melanie omdat sy ongeduldig met haar was toe Melanie haar kort-kort met skimpe aan die brief herinner het.

Cecilia sou graag Woensdag toe sy teruggebel het met Melt Meiring self wou praat, maar hy was in ’n vergadering. Sy witkopsekretaresse het nie opgeklits geklink met die idee dat hulle kollegas gaan word nie, maar het darem onderneem om die boodskap vir haar baas te gee.

Daar was nie tyd om haar motor te laat versien nie, en sy is boonop reeds te diep in die rooi met haar oortrekkings­fasiliteit. Oom Lotz by die garage op Witrivier is ’n ou vriend van haar pa, en sy sal haar tjor na hom toe neem sodra sy haar eerste salaris en ’n oop dag het.

Haar pa was positief oor die nuwe werksvooruitsigte, en haar ma verlig omdat haar dogter weer koers kry. Ouma Klara wou weet wat nou van die aanvallige kapteintjie. Is dit nou vir ewig verby tussen hulle? So ’n aansienlike en innemende jongman . . . En haar trourok? Sal sy dié kan afknip en kerk toe dra, of gaan sy hom bêre?

Vir wat? het Cecilia sinies gewonder. Daar is geen manier waarop sy ooit in kant en satyn voor ’n kansel gaan staan nie. Nie langs Steve de Villiers of enige ander mansmens nie.

Tot by Waterval-Boven herleef sy die brief wat haar Vrydagaand tot ná middernag geneem het om te skryf. Eerstens ’n paragraaf vol dankies vir die mooi en goeie tye, en dat hy met haar wou trou. Dis ’n eer en ’n kompliment as ’n man bereid is om die res van sy lewe saam met jou deur te bring.

Tweedens ’n paragraaf vol jammers omdat sy nie kans sien om met die troue voort te gaan nie. ’n Huwelik is ’n vennootskap wat op respek en wedersydse vertroue berus, en as die vertroue geskend is, is daar geen fondament om ’n gesonde verhouding tussen ’n man en vrou op te bou nie. Indien die lewenswaardes en prioriteite te radikaal verskil, verg die geestelike aanpassing te veel van die onderskeie huweliksmaats, en uiteindelik ly die verhouding skipbreuk. Soos in hulle twee se geval gebeur het . . .

Ook ’n jammer omdat sy hom nie van die werk op Nelspruit vertel het nie, maar sy het nie verwag haar aansoek sal slaag nie. Sy sou hom graag persoonlik wou groet, maar dis miskien makliker só, eerder as ’n uitgerekte afskeid wat tot rusies en verwyte kon lei en afbreuk kon doen aan die mooi herinneringe tussen hulle.

Paragraaf drie was praktiese sake en dus makliker. Sy het dominee Bothma ingelig dat die troue afgestel is, en het die spyseniers laat weet dat die onthaal gekanselleer is. Dieselfde geld ten opsigte van die blomme en troukoek. Vir haar rok was dit te laat, sy sal dit maar adverteer en verkoop. Hy kan die gordyne en linnegoed hou, sy het geen nut daarvoor nie. Die skilderye, boeke en CD’s wat sy gevat het, is hare. Behalwe die Pavarotti – daarvan is sy nie seker nie. As dit syne is, moet hy laat weet, sy sal dit terugstuur. Hy moet onthou van komende Vrydag se tandartsafspraak, sy ma se verjaarsdag die dertigste en om Vera-hulle se voordeurslot te vervang. Daar is maalvleis in die vrieskas vir die rondloperkat. En sy kry nie haar swart rolnektrui nie – weet hy dalk waar dit is? As hy daarop afkom, sal hy dit asseblief vir Vera gee om saam te bring as sy kom kuier?

Sy het niks van Nadine gerep nie. Sy het afgesluit met beste wense vorentoe; sy hoop hy vind die geluk in die lewe wat hy verdien. Lomp en onbeholpe . . .

Langs die brief het sy sy denimhemp neergesit wat per ongeluk in haar tas beland het die aand van die uitbarsting, toe sy halsoorkop haar klere in ’n tas gegooi het en by Vera-hulle ingetrek het. Bo-op die hemp het sy haar voordeursleutel neergesit en haar verloofring, met ’n nota: Dankie vir die leen daarvan. Ek het groot vreugde uit albei gekry in die tyd toe hulle myne was.

Die sentimentele uitweg van ’n lafaard? vra sy haarself nou af. Nee, dis beter as ’n konfrontasie en moddergooiery. Steve gaan sy top blaas, en dis veiliger om dan vyfhonderd kilometer ver op Nelspruit te wees.

Op die lang duur sal hy saamstem dit was ten beste; hulle is teenoorgesteldes wat nie pas nie, twee harde klippe wat mekaar sal fynmaal en uiteindelik sal vernietig.

Satyn Omnibus 3

Подняться наверх