Читать книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock - Страница 10

7

Оглавление

Hoe hét dit gebeur? wonder Pietman toe hy in die bed klim en die lig afskakel. Hoe is dit moontlik dat ék in die buitekamer slaap – en ’n wildvreemde meisiekind met ’n skeermestongetjie bly soos ’n “lydie” in die blou-en-geel gastekamer? Die moegheid sak dwarsdeur hom in die matras in en sy oë knipper vaak teen die donkerte. Maar hy bly dink. Hy het vanoggend vir Yental Niklaus hier by sy ma en oupa gelos sodat hulle haar ’n koppie tee kan gee en na haar treurmare kan luister en toe is hy fort Café Fiori toe om te gaan werk. En toe hy laataand terugkom, het sy al pens en pootjies nes geskop. G’n wonder Surita kan haar nie eintlik verdra nie.

Hy veer orent in die bed, slaat weer terug teen die kussings. Dis sowaar as vet die eerste keer op hierdie dag dat hy aan sy eie meisie dink. Hy klik met sy tong, vee met ’n handpalm oor sy gesig en stoot die laken af. As dit net nie so warm was nie. Liewe hemel, die klimaat put ’n man skoon uit. Die hitte breek nooit. Dié dat hy nie eens een keer gewonder het oor Surita nie. Te besig om net te oorleef. Gewoonlik sorg hy darem dat hy haar fraai gesig met die krans goue hare so elke uur of wat voor sy oog oproep. Dan kry hy lekker omdat hy so ’n mooi meisie het en werk weer fluks verder. Maar vandag was ’n deurmekaar dag. En hy hou niks daarvan om saans te gaan slaap as hy die dag nie eers in sy kop ’n bietjie georden het nie. Hy draai rusteloos om en om in die warm bed. Word net al moeër. Later staan hy op, leun by die oop venster uit en tuur oor die grasperk. Maar hy sien net hier en daar ’n kolletjie vaalblou maanlig. Die groot swart eike hou die nag dig. Net ’n uil roep iewers hoog bo in die toppe en ’n duif fladder van tak tot tak, koekoerrr verskrik. Toe is dit weer stil. Nee wat, besluit Pietman, hy kan maar net sowel gaan koffie drink. Slaap is nie nou op die agenda nie. Hy ken homself mos. As iets hom eers snags begin pla, is dit soos ’n vlooi in ’n wolkombers. Van vang, kan jy maar vergeet. Dan maar liewer opstaan en als probeer uitskud.

Hy loop net in sy rugbybroekie kombuis toe. Al met die donker stoep langs, die glad geloopte teëls koel onder sy voete. Dis toe hy aan die agterdeur vat, dat die uil vlak agter hom roep. ’n Hol, spokerige fluitgeluid . . . Hy spring amper uit sy vel; sy een kniekop klap dwa-dwá! teen die houtdeur soos wat hy omvlie.

Toe sien hy haar duidelik. ’n Wasige, wit figuur, gehurk op die lae stoepmuurtjie daar waar die veranda om die hoek van die huis loop, ’n streep silwer maanlig deur haar wilde wegstaanhare. En sy lag sag.

“Simpel ding! Wat skrik jy so?”

Hy suig sy asem deur sy kloppende keel in. “My magtie!” roep hy gedemp uit, “wat doen jy hier? Dis lank na middernag!”

“Beste tyd van die dag, Pietman!” sê sy en toe sy van die muurtjie afglip, maak haar nagrok ’n syerige suisgeluid. Dis eers toe sy by hom kom en hy vervaard die stoeplig aansit, dat hy sien dis ’n lang, poeierblou kamerjas. Haar gesig is blinkskoon en haar hare waaier om haar skouers. Iewers is daar die geur van rose. Hy sluk stram, rem terug toe sy verby hom leun om die deur sag oop te maak. “Kom,” fluister sy, “ek is lus vir koffie en ek wil gesels.”

Hy loop soos ’n skaap agter haar aan, asof hy nog nooit voorheen in die wit-en-blou kombuis met sy gladde linoleum was nie. Om die waarheid te sê, hy is stom. Sy oë volg haar toe sy die ketel vol tap, die bekers regsit en oorkant hom by die tafel plaasneem. Kan daar so ’n mens wees? wonder hy. Een wat so gladweg inskakel asof sy bloedfamilie is! Nee wat, dis twak. Sy’s ’n kansvatter van die eerste water. As Surita nou hier was, het sy dié meisiekind summier die waarheid vertel. Jy kan bly, Yental, maar net tot jy ander huisvesting gekry het . . .

“Luister,” sê hy en sy stem krap sodat hy moet keelskoonmaak, “ek is nou nie snaaks nie . . .”

“Maar jy wil my hier uit hê?” lag sy breed, sit haar elmboë op die tafel en strengel haar slanke vingers inmekaar, loer tussen haar slanke polse deur vir hom. Lag weer toe sy mond effens oopsak. “Toe maar, Pietman, ek weet jou lewetjie is nou ietwat deurmekaar geskommel. Maar ek belowe jou, ek waai nes ek plek in ’n kommune kry.”

Sy moed sak. Hy ken die storie. Net voordat hy vanoggend Café Fiori toe is, het hy mos gehoor hoe hartroerend die meisiekind dit vir sy ma en oupa Murray vertel. Hoe sy lank gewerk het om geld bymekaar te maak om (van alle dinge!) B.Proc. op Potch te kom swot. Hoe haar ma in die loop van verlede jaar dood is en hoe sy op hierdie dag hier aangekom het net om uit te vind dat die huis waar sy gedink het sy saam met vyf ander studente sal woon, onder hulle uitverkoop is. Natuurlik was hulle al drie baie simpatiek. Trouens, hy wat Pietman is, is self darem baie jammer vir die kind. ’n Maklike lewe het sy seker nie gehad nie. En nou is die nuwe plek ook so onvriendelik. Smyt haar uit nog voordat sy behoorlik grondvat. Nee, hy het darem gedink dis net menslik om na haar storie te luister, vir haar ’n goeie maaltyd te gee en dan vir haar ander blyplek te help soek. Sy oupa ken mos baie mense, of hoe? Nie wat kamers uitverhuur nie! het oupa Murray hom gou-gou reggehelp, maar ons sal wel ’n plan maak. Ewe gerus het Pietman toe gaan werk. Net om terug te kom, uitgeput en warm gesweet – na ’n badkamer wat beset was, ’n leë koekblik en die absoluut allerlaaste appel in die vrugtemandjie. Hy was op die plek kokend kwaad. Hy het sy ma gaan opsoek. Sy en Oupa het gesit en skaak speel in die aandkoelte van die voorstoep.

“Die badkamer is beset,” het hy koud gekonstateer.

“Naand, Pietman,” het oupa Murray gegroet sonder om van die skaakbord af op te kyk. “Die meisietjie . . . hierdie Yental Niklaus, sy bad, ja.”

“Gaan maak solank vir ons drie koffie,” het sy ma voorgestel en haar biskop slim geskuif sodat Oupa saggies met sy tong geklik het. Hy het op sy hakke omgedraai en op sy bed gaan lê en wag. En wag, wag, wág . . . Na ’n halfuur het hy met die plathand aan die badkamerdeur gaan hamer.

“Hallou-ou!” het sy geroep. “Ek is nou-nou klaar!”

Nou-nou was meer as ’n uur later. Sy beswete T-hemp het al aan sy lyf droog geword en hy was briesend. As ’n man in die koshuis so lank gebad het, het die ander manne hom gou van ’n waterdood verlos. Of sy klere gesteel sodat hy in sy paradysgewaad moes gangaf . . . Maar net daar het sy gedagtes gestol. Nee, jong, het hy homself gekeer. Dis effens dislojaal teenoor Surita. Nie eens in jou gedagtes kan jy vir Yental só straf nie. Netnou raak jy op loop. En sy ergernis het heeltemal verdamp toe hy in die toegewasemde badkamer kom. Die bad was skoon gewas en die vertrek was vol rosegeur. Soet en heerlik en . . . sommer net strelend. Hy het gesug en water ingetap. Dit was eers toe hy klaar gewas en skoon aangetrek in die kombuis gekom het, dat hy uitgevind het dat daar heelwat minder te ete was as gewoonlik. En sy ma het hom ewe ingenome ingelig dat die kind ook so baie van die hawerkoekies hou wat sy altyd vir hom bak. Sies tog, ’n mens se hart krimp darem. Sy is te jonk om so swaar te kry. Sy verlang nog verskriklik na haar ma, weet jy . . .

Tot hiertoe, besluit Pietman meteens en ignoreer die irriterende gekielie van sy gewete. Sy ma en oupa moet nou perspektief kry oor die meisiekind. Die feit dat sy swaargekry het en nou sonder heenkome sit, het niks te doene met die feit dat hierdie ou huis met sy diep veranda en plankvloere, sy skuifraamvensters en één enkele badkamer, nie plek het vir al wat behoeftige eerstejaar is nie. Soos wat sake staan, is hy wat Pietman de Waal is, heeltemal behoeftig genoeg.

“Luister,” begin hy weer toe sy ’n beker stomende koffie voor hom neersit, “ek begryp jou omstandighede en ek is simpatiek. Maar . . . die ding is nou net dat . . .”

“Ahá! “ val sy hom in die rede, “ek moes dit sien kom het! Natuurlik, ja! Jy is bang Surita kom dit te hore.” Sy frons diep en knik wyslik. “En sy sal ook, hoor! Sulke nuus trek saam met die wind. Pietman de Waal bly saam met ’n meisie onder een dak – al is dit sy oupa s’n en al speel sy ma chaperone!”

“Yental, nou’s jy heeltemal verspot!” haak Pietman af en neem ’n te groot sluk van die vuurwarm koffie. Hy proes en stik en verwens homself en hierdie meisie met die blink stringe hare en lagmond tot in die diepste oerwoud van die ewenaar. “My magtie!” kry hy uit, “jy’s ’n onhebbelike skepsel! Daar is nie sprake van dat ek en jy onder een dak saamwoon nie! Jy is hier as my oupa se gas en . . .”

“Tot ek ander blyplek kry,” glimlag sy onverstoord, “en dit mag maande neem. Selfs jare. Intussen betaal ek losies, Pietman. Dis soos wat ek en jou ma afgespreek het. Sy reken dis ’n goeie plan. Dis ’n soort inkomstetjie vir julle, want ek eet nie so vreeslik baie nie en ek is absoluut altyd in ’n goeie bui – veral as ek my instel daarop.”

Pietman is stomgeslaan. In sy lewe het hy nog nie so ’n mens teëgekom nie. Bekkige meisies, ja. Asters wat baie fyn kan flankeer, ja. Maar nêrens in sy ervaringsveld was daar een soos Yental Niklaus nie. Sy kyk na hom met ander oë. Haar blik is spekulatief, haar houding tegelyk versigtig en effentjies aanmatigend. En nog nie een keer het sy na sy mond gekyk as hy glimlag nie. Maar nou ja, hy het ook nog nie juis veel geglimlag vandat hy haar leer ken het nie. Miskien moet hy dit op die proef stel. Dalk kan hy haar manipuleer as sy net eers vat gekry het aan sy skewe, wit glimlag. Hy sluk sy ergerlikheid saam met nog ’n bietjie koffie weg, smak sy lippe en glimlag stadig, baie stadig . . .

Die fronsie trek weer saam tussen die donker wenkbroue; sy staar openlik na sy mond. Toe leun sy vertroulik vorentoe.

“Weet jy, Pietman, as ek nou Tom Cruise was, sou ek iets aan my gesig laat doen het. Hy sal soveel beter lyk met ’n ry reguit tande. Daar’s baie slim tandartse in Pretoria wat glo sulke werk doen. Mondrekonstruksie, of so iets.” Sy sit terug, skud toe haar kop. “Maar wat, vir ’n gewone ou soos jy sal dit seker nie die moeite loon nie. Dis mos nie asof jy heeldag voor ’n kamera is nie, nè!”

Pietman staar haar sprakeloos aan, maar voordat hy sy woorde kan inspan, drink sy smaaklik die laaste bietjie koffie op en loop om die beker uit te spoel. “Nou ja, nag, hoor! Ek sal moet gaan doeks, want Dinkie se eerstejaars moet glo môreoggend voor vyf by die Calvyn-fontein bymekaarkom.”

Dinkie se eerstejaars . . . volg sy suwwe brein haar woorde. Natuurlik. Sy het seker by die dames se dorpskoshuis geregistreer. En haar ouderdom ten spyt, sal sy ook maar die bekendstellingsprogram moet volg nes enige ander groen studentjie. Dis eers toe haar sagte voetval die gangplanke liggies laat kraak, dat hy weer dink aan wat sy oor Tom Cruise kwytgeraak het. En hy is op die plek opgeblase vies. Wie dink sy is sy? Tom Cruise is ’n dekselse smart ou en hy wat Pietman is, trek nogal na hom. Al die meisies wat hy ken, het nog altyd so gedink. Yental blykbaar ook – dis net dat sy reken Tom se gesig kort plastiese chirurgie of iets! ’n Mens sou sweer sy is self so volmaak. Trouens as hy aan haar dink, is haar effense skerp heupies en speekarmpies die eerste wat hy kan oproep. Toegegee, dit was die eerste wat hy opgemerk het toe sy so lekker geploeg het met haar fiets, maar nogtans. En dan haar kwaai, donkerblink oë met die krullerige wimpers.

Pietman kook nog toe hy weer gaan lê en toe hy later lang gape gaap, wonder hy vir die hoeveelste maal hoe dit moontlik is dat ’n mens se wêreld so blitsig op sy kop gekeer kan word. Kwalik ’n maand gelede was hy nog Pietman de Waal. Die slim, ryk Tukkie met die vlamrooi Mêrs, soos Keppie altyd gespot het. Hy het ’n lekker verhouding gehad met ’n mooi meisie en alles was nes in die storieboeke. Al wat gekort het om dit ’n blitsverkoper te maak, dink hy bitter, was seks en sensasie. Maar nou voel hy soos ’n ou koerant. Klaar gelees en opgefrommel, reg om as ou nuus bestempel te word. En hier kom ’n snip van ’n meisiekind, gaffel sy reeds gestroopte lewe om – en reken hy moet iets aan sy gesig laat doen om soos ’n mens te lyk . . . Daarby het sy beste vriend nooit opgedaag soos wat hy beloof het nie en wonder hy nog steeds wat met Keppie aan die gang is. Hy wat Pietman is, is hartlik siek en sat vir Keppie se misterieuse gekonkel. Wanneer gaan die man besef hy is te oud om Zorro-Zorro te speel of om die ewige student te wees?

Pietman se gemoed raak skoon omge-ellie. Die een melodramatiese gedagte volg die ander seepglad op totdat hy snaargespanne en wawyd wakker lê en wag dat die ure moet verbykruip. Dis toe hy later vir die soveelste maal op die ander sy draai, dat iets teen die vensterruit tik. Hy kom stadig orent, tuur die donkerte in. Hy maak net ’n figuur teen die halflig uit. Keppie, weet hy sonder dat hy eens hoef te wonder. Hy loop skuif die raam op en steek ’n hand uit om hom in te help.

“Wat de hel soek jy dié tyd van die nag op straat?” wil hy boos weet. “Nou kan ek ook maar van slaap vergeet!”

“Nee wat,” sê Keppie en maak hom op die stoel by die lessenaar tuis, “slaap is vir kinders. Kom maak vir my koffie, dan vertel ek jou maar die lewensgeskiedenis van ene Karolus Engelbert Paulus Fourie.”

“Karolus . . . Engelbert . . .?” Pietman begin lag, skoon verby woorde. Hierdie nag lewer baie dinge op, dis seker. Hy lag so hard dat Keppie begin gebare maak om hom stil te kry. Net toe gaan die stoepdeur oop en daar staan oupa Murray, flits in die hand. Verby sy skouer loer Anita de Waal en Yental Niklaus.

“Skuus, Oupa,” maak Pietman gou verskoning, “maar dis . . . dis ’n anderste soort nag hierdie!”

Maar professor Murray het nie verniet meer as dertig jaar lank met studente te doene gehad nie. Hy skud net kop, lag skewerig en wil omdraai om te loop toe Keppie darem ook ’n woord inkry. “Jammer, prof, maar ek moes net gou vir Pietman kom sien.”

Pietman vee ’n slag oor sy gesig en stel toe maar die mense aan mekaar voor. “Dis nou Yental . . . ’n skoolvriendin van Surita,” verduidelik hy aan Keppie.

“O nee,” help sy hom dadelik reg, “ek en Surita is nie vriende nie. Jy kan maar sê die noodlot het van ons verlangse kennisse gemaak.”

Die grootmense groet laggend en loop weer gangaf. Toe Pietman hom kom kry, sit Yental en Keppie by die kombuistafel en gesels dik stukke terwyl hy moet koffie maak. By verstomming verby, hoor hy hoe sy smaaklik vertel dat sy en Surita Otto in ’n stadium op dieselfde outjie verlief was. Hulle het selfs een pouse vuis geswaai oor hom.

“Hoe oud was jy toe?” skater Keppie dit uit.

“O, so vyf of ses, as ek reg onthou. Die belangrike ding is dat ons van toe af ontdek het dat ons baie dieselfde smaak het wat mansmense betref. In matriek was daar weer hierdie mooi blonde ou. Ene Gysbert Stadler. ’n Regte harmansdrup in die winter – maar toe was hy vir ons oulik. Ewenwel, hy het my matriekafskeid toe gevra en Surita moes saam met een van die amptelike ‘nerds’ gaan. Sy’t my nou nog nie vergewe nie.”

“Ek glo jou,” glimlag Keppie en loer skalks na Pietman se kant toe. “Weet sy al dat jy en Pietman nou saamwoon?”

“Skei uit, swaerie!” sê Pietman vies. “Ek het genoeg probleme!”

“Nou kom sit dan,” nooi Yental met ’n moederlike tuitmond, “en vertel ons. Gedeelde leed is mos naderhand amper lekker!”

“Nee,” sê Pietman ferm en plak haar beker voor haar neer dat bietjies-bietjies koffie uitspat. “Ek het nou genoeg gehad. Jy gaan nou slaap en ek en Keppie gaan gesels.”

“Ag wat,” sê Keppie doodbedaard. “Laat haar bly. Almal sal tog binnekort weet wat ek te sê het, as hulle nie alreeds weet nie.”

“Dankie, Keppie,” antwoord Yental met ’n glimlag en klad die spatsels netjies met ’n sneesdoekie op. “En as jy jou storie klaar vertel het, sal ek weer vir jou myne vertel. Dis nogal ’n riller, hoor!”

“Nie erger as myne nie, ou poppie,” sê Keppie met oortuiging. “Terloops, Pietman, jy moet maar daaraan gewoond raak om my van nou af Karolus te noem. Niemand gaan na ’n onnie luister as sy naam Keppie is nie.”

“Hoe so?” kry Pietman uit, suf van moegheid en loutere verbystering. Hy is so stadigaan besig om sat te raak vir verrassings, dis seker.

“Wel,” begin Keppie, “’n naam is ’n sekere manifestasie van waardigheid of onwaardigheid. Keppie klink na pret en Karolus klink outoritêr. Ewenwel, dis nie wat ek eintlik wil sê nie.”

“Begin by die begin, Karolus,” raai Yental hom aan en stut albei haar elmboë op die kombuistafel.

“Goeie plan,” begin Keppie en glimlag met haar. “Wel . . . eendag was daar ’n man. Hy het met niks begin nie. Toe trou hy met ’n ryk man se dogter en hulle het ’n seuntjie. Saam-saam begin hulle toe daaraan dink om die erfgeld goed te bestee. Dit iewers in te steek waar dit meer sal word. Maak bakstene, raai die mooi vrou die man aan. En vervaardig staalgoedere, stem die man toe saam. Hulle word toe skatryk. Ryker as wat hulle ooit kon gedroom het. Hulle woon in ’n paleis en hou vakansie in ’n kasteel by die see. Hulle gaan oorsee en koop vir die kleintjie als wat sy ogies sien. Die lekker lewe raak net lekkerder . . .” Keppie bly stil, tuur diep in die koffiebeker in en sluk stadig.

“En toe?” por Yental, maar haar stem is net ’n yl fluistering.

Toe weet Pietman. Hy weet sommer alles sonder dat ou Keppie dit hoef te sê. Sy binneste draai en krimp ineen van jammerte en hy moet op sy lip byt toe Keppie eindelik skor sê: “Toe breek alles stukkend . . . Die vrou sterf aan ’n vreemde virussiekte en die man en die seuntjie bly alleen agter. Die man werk soos ’n bewer om die hartseer weg te kry. Hy maak oral bakstene en hy ry die paaie plat. En hy neem die kind oral saam. Eers . . . probeer hulle hard om maar alleen te bly. Maar dit wou nie werk nie. Toe trou die man weer. Met ’n vrou wat ’n dogtertjie het. Die allermooiste, vrekstoutste blonde dogtertjie.”

“Engelie van Wijden,” sug Pietman skaars hoorbaar en Keppie knik.

“Einste. Ergste is dat die seuntjie toe sy hart verloor. Sommer op die prille ouderdom van sewe.”

Yental trek haar asem stadig in en Pietman ys opeens dat sy dalk sal lag. Maar nee, haar mond is saamgepers en haar oë is baie blink. Toe skud sy haar kop simpatiek en sug: “Ek was bang dat jy dit gaan sê.”

“Waarom sê jy so?” vra Keppie met vernoude oë.

Sy vou haar arms voor haar bors en in die elektriese lig lyk sy meteens bleek en broos asof sy baie, baie moeg is. “Omdat dit die gevaarlikste soort liefde is,” sê sy opeens sag. “Daardie ryp emosie wat soms in ’n kind se borskas begin blom. Niks kan dit laat verwelk nie. Nie ontrou nie, nie verguising nie. Nie eens die dood nie.”

Dis ’n ruk lank so stil in die kombuis dat Pietman die gegorrel van die waterpype bo in die plafon kan hoor. Hy kyk na Yental Niklaus en sien ’n heel ander mens. Iemand wat vir ’n oomblik die mantel van tergende speelsheid afgegooi het en weerloos in die wrede kollig van die wêreld sit. Sonder dat hy kan keer, raak hy lig aan haar vingers wat nou slap op die tafelblad lê.

“Hoe weet jy . . . sulke goed?” vra hy en ook Keppie betrag haar speurend met sy skerp blik. Haar vol onderlip roer effens en toe glimlag sy net.

“Ek het gesien hoedat my ma oud en jonk en weer oud word van liefde. Sy en my pa het op laerskool ontmoet. Verlief, verloof, vir altyd en ewig – so het sy gedink. Maar hy het haar gelos. Vir ’n ryk vrou met ’n string haarsalonne. Ek onthou dat daar ’n tyd was dat ek gebid het die vrou se hare moet alles, alles uitval . . . Maar dit het nie.” Sy staan skielik op, maak die leë koffiebekers bymekaar en tap dit vol water. Toe sê sy oor haar skouer: “Ek weet van Engelie van Wijden. Sy was in die koerant. Joolkoningin of iets. Lyk na ’n filmster. Oppas vir haar, Karolus.” Toe blaas sy vir hulle elkeen ’n soen en verdwyn die gang in.

Oomblikke lank sit Pietman en Keppie net na mekaar en kyk. Toe skud Keppie sy kop. “Vreemde meisie . . . maar ek hou van haar.”

Pietman pers sy lippe saam. “Te wysneusig na my smaak, ou swaerie. Maar vergeet haar nou eers. Sê my net een ding: waarom het jy al die jare voorgegee om brandarm te wees?”

Keppie gee ’n verleë laggie. “Ag my ou, eers was dit net ’n speletjie. Maar toe begin ek uitvind hoe eenvoudig dit eintlik is om nie geld te hê nie. Of liewer, om voor te gee dat jy nie geld het nie. Geld of nie geld nie – dis wat die koring van die kaf skei, my ou. ’n Mens weet amper dadelik of mense régtig van jou hou en of hulle jou net wil gebruik.”

Pietman sit ’n rukkie. “O,” sê hy net. En toe: “Dus het jy al die tyd gemaak asof jy nie geld het nie?”

“Jip. Was nie altyd lekker nie, want ek het myself baie dinge ontsê. Maar noudat ek terugdink, was dit baie goed vir my. Nou moet ek ook erken, dit was net tydens die kwartaal so. Vakansies was ek by die huis of in die kasteel by die see. En dit, Pieta, was glad nie lekker nie. Engelie is ’n feeksie, maar haar ma is ’n heks. Van die gawe soort wat jou skielik ’n oorveeg met die besem gee as jy dit die minste verwag. Sy is gepik met prestasie en geld maak haar verskriklik opgewonde.”

Pietman glimlag skeef. “Is dit regtig so erg?”

Keppie se mond sluit bot. Hy snuif half ongeskik. “Wel, nou nie heeltemal nie. Sy is partykeer orraait. Maar sy wil my lewe vir my reël en ek skop daarteen. Van kleins af het sy dit vir my pa ingeprent dat ek baie intelligenter is as wat ek voorgee. Intussen is ek net ’n goeie akteur. En wat meer is,” hy lig ’n waarskuwende voorvinger, “ek sal ’n baie goeie onnie wees! Onnies moet kan toneelspeel!”

“Ek glo so,” antwoord Pietman en begin stadig glimlag. Baie dinge maak nou sin. Die stukkies van die legkaart val mooitjies inmekaar. Hy ken ook al die antwoord toe hy luiters vra: “Was jy nou onlangs in Europa?”

“Jip,” grinnik Keppie voldaan. “Ou Suritatjie het seker gedink sy sien gesigte. Eers was dit snaaks om julle oral te agtervolg, maar later was dit vervelig.”

Pietman sit doodstil, voel hoe die lag om sy mond wegraak. Toe knik hy swaarmoedig. “Ja . . . soms was dit vrek vervelig, swaerie. Ek het meermale gewens jy was daar om die dae ’n bietjie op te kikker.”

Die twee sit mekaar swyend en betrag. Toe skud Keppie sy kop. “My ou, ons sal moet werk aan ons lewetjies. Dinge het nou baie verander. Ons sal diep moet dink.”

“Oor wat?”

“Oor ons hartsake, natuurlik. Ons is albei met die verkeerde meisie deurmekaar!”

Helene de Kock Omnibus 4

Подняться наверх