Читать книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock - Страница 11

8

Оглавление

“Op Pietman de Waal, die regswese en gróót sukses!” Saul Otto stoot die sjampanjeglas triomfantlik die lug in. Die ander se glasies volg en hulle drink op die man van die aand en sy graad. Alles met groot gebaar en geil geesdrif, dink Pietman wrang, maar knik sy dank. Want die Otto’s het oorgeneem. Vir vanaand. En daar is nie ’n ding wat hy daaraan kan doen nie. Speel hy nie saam nie, sal die herrie los wees. Daarvoor sien hy op die oomblik nie juis kans nie. ’n Man se gradedag is darem spesiaal genoeg om liefs vrede en vreugde as opsie te aanvaar.

Daarom glimlag hy breed, knipoog vir sy ma en oupa Murray wat oorkant hom en Surita sit en duidelik net so ongemaklik soos hy voel. Trouens, oupa Murray lig net die linkerhoek van sy mond om erkenning aan Pietman se gebaartjie te gee. Die professor is sweerlik besig om die oupa in hom eenkant toe te skuif. Netnoumaar vertel hy nog vir Otto ’n ding of twee. En, dink Pietman roekeloos, as dit nie vir Surita sou ontstel nie, sou hy self nogal dié petalje wou aanskou. Want hy smag hoeka daarna dat iemand vir Saul Otto moet koudsit, iemand wat nie ’n snars omgee of die man hom ooit weer groet nie. Soos wat dit in elk geval nou lyk, sal oupa Murray ’n sug van verligting slaak as hy op dese oomblik kon koebaai sê en in sy geel kombi klim Potch toe. Want die Otto-man praat te veel en te hard. Almal binne ’n radius van vier tafels weet ook nou al dat hy die man met die beursie is en dat hulle ander maar mag bestel wat hulle wil en soveel as wat hulle wil.

“Jy’s baie stil,” fluister Surita en haar hand soek na syne onder die tafel. Hy vat dit vas, knik instemmend toe Saul na sy kant toe kyk en wens vlugtig dat hy geluister het waaroor die man praat. Netnou word sy opinie ook nog gevra. Maar hy leun nader na Surita. “Ek dink diep dinge,” jok hy speels. “’n Man met ’n graad behoort mos gedagtes te hê wat by sy akademiese status pas.”

“Dit hoef nie noodwendig akademies van aard te wees nie,” glimlag sy. “Ek het nog altyd gewonder hoe ’n vryer ou Einstein was! Dalk heel innoverend!”

“Hokaai!” lag Pietman gedemp saam. “Ek is ver van Einstein af, maar ek verseker jou ek weet van hofmaak.”

“Ag só? Ek kry weer al hoe meer die indruk dat jou kop jou hart regeer.”

“Soos dit hoort,” antwoord hy en hoor hoe die erns in sy stem hul klein gesprek binnesluip. Haar gesig verstrak en hy is byna dadelik spyt. Tog kan hy nie anders nie. Dit hang nog steeds oor hulle. Hierdie ding van geld-hê en nié-geld-hê-nie. Dis asof hulle oor ’n diep kloof met mekaar moet praat. Harder as gewoonlik. Met al hoe minder woorde – sodat hul asem nie opraak nie.

Die kos kom en Pietman moet toegee die Otto’s het die regte plek vir ’n viering gekies. Pavarotti’s se gourmet-geregte is fabelagtig lekker. Dit stem ’n man sommer in vir gemoedelikheid. Selfs oupa Murray haal ’n paar van sy droë grappies uit en gie-gie lustig saam toe Otto uit sy maag uit lag. Ook mevrou Otto gesels ewe gawerig met sy ma. Nou en dan glimlag Anita de Waal in haar seun se rigting, vra of sy seekosdis lekker is. Maar hy ken haar. Die laggie is stram; haar rug pylreguit. Dis vir haar bitter om sulke godekos met aalmoese te koop. Want dis hoe sy daarna verwys het toe hulle die Otto’s se uitnodiging na Pavarotti’s gekry het. Ek sal nie gaan nie! het sy losgetrek. Die Otto’s moet dink hulle kan my met soetgoed koop! Maar oupa Murray was ferm: Anita, jy sal gaan omdat dit Pietman se aand is. En ek sal ook met plesier Saul Otto se beursie loop leeg eet as dit vir Pietman en Surita ’n oomblik se mooi genot kan besorg. Hoe bedoel Oupa nou? wou Pietman weet. Professor Murray het hom skreefoog beskou. My kind, het hy gesug, jy en Surita is op die kruispad. Julle sal gou genoeg moeilike besluite moet neem. En daarop het Pietman nie geantwoord nie. Hy het dit self goed genoeg geweet. En bly uitstel. Maar noudat hy so tersluiks kyk hoedat Surita net bolangs met haar kos peuter, weet hy een ding: nie veel langer sal hulle twee kan voorgee asof alles maar dooddollies is nie. Want elke keer dat hy haar bel of sy vir hom, praat hulle allerlei soetpraatjies, ál verby die eintlike “issue”, soos Keppie sou sê. En hy wat Pietman is, het haar nog nie eens vertel van Yental se blyery by hulle aan huis nie. Hy verswyg dit doelbewus vir haar. Het net so skuinsweg vir sy ma en oupa vertel dat hierdie Niklaus-meisie en Surita saam grootgeword het. Gesien hoedat sy ma se mond oopsak en oupa Murray se koerant oor sy wenkbroue opskuif. Nee, hulle sal nie praat nie. Maar hy sal móét . . .

Hy luister hoedat Saul Otto in die politiek begin grawe en sien sy oupa glimlag en sy ma skouers ophaal.

“Surita,” sê hy dringend en los die laaste twee happe op sy bord, “ons moet gesels.”

“Ek weet,” antwoord sy dadelik, “en ek het gedink dat jy vanaand saam met ons sou oorbly in die hotel. Dan kan ons môre mos lank praat.”

Sy moed plons in sy skoene. Oorbly is uit. Hy moet môre by Café Fiori wees om sy skof te werk. Anders kan hy nie vir daardie nuwe vonnisbundel betaal nie. Ook nie vir die nuwe paar tekkies wat hy so broodnodig het nie. En dan is daar die dikwielfiets se agterband . . . Hy sug hardop. “Kom ons gaan staan ’n rukkie op die balkon. Dit sal nog ’n tydjie neem voordat die nagereg kom.”

Hy maak verskoning vir hulle en die grootmense glimlag toe hulle uitstap. Buite op die lang, koel stoep staan hulle ’n ruk in stilte en afkyk op die verligte plein en die elegante vooraansig van die Staatsteater. Sy skuif nader en laat haar kop teen sy skouer sak. ’n Diep, byna weemoedige deernis stuif in hom op en hy druk haar styf teen hom aan, voel haar sagte, geurige hare teen sy mond en neus.

“Surita, ek kan nie bly nie. Jy weet mos ek het klas en ek moet môre werk ook. Verstaan tog. As ek nie werk nie, het ek nie geld vir boeke of vir klere nie.”

Sy swaai om, steek haar hande uit om sy gesig in haar palms vas te vat. “Pietman . . .” fluister sy en hy sien haar traanblink oë knip-knip, “jy hét ’n keuse . . .”

Sy is vreeslik mooi so in die halflig. Haar oë donker, haar mond donkerder. Hy trek haar teen hom aan, soen haar met ’n magtelose drif. Sóén die protes op haar lippe weg totdat sy uitasem aan hom bly klou en hyself sy hand uitsteek om die koue balkonmuur vas te vat.

“Bly,” smeek sy, “bly by my . . .”

Maar hy staan effens tru. “Ek kan werklik nie,” antwoord hy, sy stem onvas. “Ek weet ook nie wat om te doen nie . . . al wat ek op hierdie oomblik verstaan, is dat ek nog my trots het.”

Hy hoor hoedat sy haar asem luid intrek en hy is voorbereid op haar woorde. Wag mos lankal daarop. “Jy gaan toelaat dat jou simpel tróts tussen ons staan?” Dis of sy stik. “Pietman, jy sal weer moet dink!”

“Nee,” sê hy opeens doodnugter, “dis jy wat weer sal moet dink. Begryp tog dat ek nie van aalmoese uit jou pa se hand kan leef nie. Dit sal my selfrespek wegneem.” Hy bly abrup stil, half geskok om die woorde uit sy eie mond te hoor. Hy wou nog nie werklik so daaraan dink nie. Tog is dit waar. Dis soos wat hy voel, en basta. Sy móét dit net verstaan. Maar toe sy praat, hoor hy dat sy wat Surita Otto is, niks móét nie. Behalwe eet, slaap en geniet, is daar niks op die liewe, wye wêreld wat haar dwing om enigiets te móét doen nie. Sy is nou in ’n heel ander liga as Pietman de Waal. Die gedagte maak hom siek. Hy voel bibberkoud op die oop balkon.

“Pietman,” sê sy skielik afgemete, “jy sal iets moet opoffer. Dit mag dalk net jou trots wees. Dink daaroor!” Daarmee druk sy verby hom en hy loop verslae agter haar die restaurant binne. Hul nagereg het al gekom, maar Saul Otto glimlag begrypend. En omdat Pietman op hierdie oomblik net glad nie vir ’n storm in ’n poedingbak kans sien nie, sit hy ’n arm om Surita se skouers en druk haar ’n oomblik teen hom aan.

“Jammer dat ons julle opgehou het!”

“Glad nie!” straal meneer Otto en sy skerp oë vee oor hulle. “Dit was seker die moeite werd, dan nie?”

“O, absoluut!” skerts Pietman nog voordat Surita iets kan inkry. Toe hy afkyk, vou daar ’n glimlag om haar mond. Sy lyk verbaas bly. Wat doen ek? wonder hy vlietend en kyk liefs nie na oupa Murray nie. Dié het sekerlik lankal snuf in die neus dat hy wat Pietman is, nie meer weet hoe en waar om fyn te trap in die lewe nie. Hy berus kwansuis by sy nuwe lewe op Potch, leë beursie en al, maar hy smag ook maar lekker na die goeie ou dae toe geld nie ’n faktor was nie. Hy skep diep asem, glimlag met almal in die rondte en hou vir die res van die koningsmaal Surita se hand onder die tafel vas sodat hul albei die smullekker sjokolademousse met een hand moet bemeester. Teen die tyd dat die allemintige rekening vereffen is en die De Waals en die Otto’s op die balkon van mekaar afskeid neem terwyl professor Murray swyend toekyk, is Surita heeltemal mak. Sy vlei haar openlik teen Pietman aan en soen hom vol op die mond voor haar pa se goedkeurende oë. Sy trek sy das en piets hom met die punt op sy ken.

“Lief vir jou! Soet wees, hoor!”

“Wanneer kom jy kuier?” wil mevrou Otto pertinent weet en draai om om Anita op die wang te piksoen.

“Volgende naweek,” antwoord Pietman sonder huiwering, maar sy hart word sommer pap. Die geel kombi suip petrol en Brits is ver. Dit beteken vier ekstra skofte by Café Fiori te midde van sy stywe klasrooster en die komende kwartaaltoetse.

“Ons sien uit daarna,” antwoord Surita betekenisvol en kom soen hom weer skrams oor sy lippe.

Terug in die kombi, wens Pietman hartgrondiglik dat die twee grootmense tog net sal stilbly. Maar verniet. Oupa Murray het iets op die hart. Pietman hoor dit aan die dikke swye wat heers tot op Krugersdorp. Toe die dorp se liggies verdwyn, sê oupa Murray in sy professorstem: “Pieta, jy sal jou dinge nou moet agtermekaar kry. Op die oomblik is jy ’n toutjiespop. Jy sal moet besluit of jy een gaan bly en of jy ooit weer Pietman de Waal wil wees.”

Pietman swyg amper net so lank voordat hy stram bely: “Ek weet nie meer wie is Pietman de Waal nie, Oupa. Dis kompleet asof ek hom nooit geken het nie.” Hy hoor hoedat sy ma haar neus hard snuit en hy weet sy het nog heelpad gesit en huil. Dit laat hom nog meer ellendig voel. Tog gee dit hom ook moed. Dis ’n oomblik vir oopmaak hierdie. Sy oupa en sy ma het hom lief en hulle voel ook maar soos hy. Sy oupa omdat hy meelewend is en sy ma omdat syself ly. Hulle sal verstaan. Die gedagte trek sy kop soos ’n sluis oop. “Ek het nog nie vir Surita van Yental gesê nie . . .” begin hy.

“Is daar iets om te sê?” wil oupa Murray weet.

“Nee, natuurlik nie, maar dis net ordentlik om darem te sê dat daar ’n meisie saam met ons in die huis woon, nie waar nie?”

“Ditsem,” is die ou man se kommentaar. “Dan weet jy nog goed wat reg is, Pieta. Jy weet wat sê die Woord van ons verhouding met ander mense, nè. In Filippense staan daar dat ons moet toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons sal kan onderskei wat werklik saak maak en wat nié. En solank jy dit toepas, kan jy nie ver verkeerd gaan nie. Vertel dan vir Surita die waarheid en kry klaar.”

“Goed, ek sal dit dié naweek doen as ek Brits toe gaan. Maar sy gaan verskriklik kwaad wees en ek haat dit as daar onmin tussen ons is. Ek . . . ek kry soms die gevoel dat die Otto’s nie mal is oor die waarheid as dit hulle nie pas nie. En Oupa, dit pas hulle nie dat ons bankrot gespeel het nie. Hulle wil maak asof dit nie gebeur het nie. Dié Saul Otto wil my studies vir my betaal en ek weet nou al hy sal wil hê ek moet Juliemaand weer saam met Surita na die Druets gaan!”

“Se voet!” trek sy ma los en hy sien dat sy haar feitlik tussen die twee voorste sitplekke ingewurm het om alles te kan hoor. “Mondig of nie mondig nie – ek verbied jou om oorsee te gaan met daai man se geld!”

Hy steek sy linkerhand na agter uit, vat haar voorarm sag vas. “Liewe Ma, ek sal nooit nie!” beloof hy. “Ek vertel julle maar net wat wát is!”

“Ons het gesien en geproe wat wát is,” kom oupa Murray drogies tussenbeide. “Otto is nes jy hom beskryf: ’n aartsmaterialis. Geld en goed is sy god. Hy het vanaand oor amper niks anders as sy bankbalans en sy besittings gesels nie. Die enkele keer dat hy oor politiek wou praat, was dit ook net om te kla oor alles wat die belastinggaarder van hom vat.”

Pietman sug luid en hulle ry in stilte verder. Toe hulle eindelik by die huis in Tomstraat indraai en die ou kombi met ’n hik voor die agterdeur tot stilstand kom, sê hy net: “Ek weet nie wat om te doen nie. Ek weet nie eens of ek wil hê dat alles weer moet wees soos dit was nie. En dit maak my deurmekaar . . . Hoekom weet ek nie wat ek wil hê nie?”

Hulle drie sit ’n hele ruk lank so in stilte. Toe sê oupa Murray: “Gaan lees Psalm 37. Daar waar dit staan ‘Laat jou lewe aan die Here oor . . . Hy sal sorg.’ Dit het my al dikwels deur die weet-nie-wát-nie-tye gehelp. Verder moet jy net jou werk doen, Pieta.”

Dis toe hulle oplaas die huis binnestap, dat die stoep en kombuisligte meteens aangaan. ’n Skaar begroet hulle. En daar word dreunend gesing. Van “Veels geluk liewe maatjie” tot “Gaudeamus Igitur” en “Vat hom, Pieta, vát die graad . . .!” Toe Pietman tot verhaal kom, sien hy Keppie en Yental voor in die ry staan met ’n hele swerm ouens en meisies wat saam met hom klas loop en ook ’n paar kollegas by Café Fiori. Hy kyk half vraend om na sy ma en oupa, sien dat hulle breed glimlag. Anita druk verby hom en groet almal met ’n hartlike “Maak julle tuis, hoor!” voordat sy gangaf loop om haar rooigehuilde gesig te gaan was. Ook oupa Murray kom skud eers luiters blad met die singendes en gaps ’n paar tjips uit ’n bak voordat hy uitstap.

“Nou toe nou!” roep Yental hande in die sye uit. “Die graadman is sprakeloos!”

“Hy’s natuurlik nou te slim vir ons!” lag Keppie en kom nader om Pietman se hand te pomp.

“Sjoe, julle ouens!” is al wat Pietman uitkry. Hy weet net een ding: die sware bedruktheid wat hierdie hele aand nog kenmerk, het verwaai soos dons in die wind. Hy glimlag sy skewe wit glimlag. “Wie se blink idee was dit?”

“Myne!” antwoord Yental en kom staan digby hom. Sy gooi haar wilde krulle agtertoe en tuit haar mond vir ’n soen, haar oë toe. Die ander por laggend aan. Hoera vir groepsdruk, dink Pietman en soen die vol, pienk lippe. Sy loer op in sy gesig. “Baie geluk met die graadjie! Mag daar nog vele wees!” Daarmee gryp sy na ’n blikkie Coke, skud dit ’n slag en knip dit oop om Pietman van bo tot onder te bespuit. Hy koes onder luide gelag. Toe eers merk hy die volgepakte kombuistafel. Bottels koeldrank, blikkies bier, bakke tjips en ’n hele skinkbord vol van daardie taaipienk toffies wat heelnag hou. Hy is opeens rasend honger en dooddors. Dis asof hy eergister laas iets oor sy lippe gehad het.

“Dankie, julle!” lag hy en vat ’n hand vol krakerige skyfies. “Dis manna!”

“Ek dag julle was Pavarotti’s toe!” lag Keppie. “Was die kos nie lekker nie?”

“Hemels, ou swaerie! Dis die geselskap wat my honger gelaat het!”

“Foei tog,” is die onbewoë kommentaar. “Nou kom, die nag is nog jonk.”

Pietman lag net. Dis al twee-uur in die oggend – maar wat daarvan? Hy is op die PUK tussen ou en nuwe vriende en dis skielik verskriklik lekker.

Dit word een van daardie holderstebolder partytjies waar almal tegelyk praat en eet. Binne ’n halfuur is die bakke leeg en tot Pietman se verligting kom loer sy ma weer in, grawe in die beskuitblik tot elkeen ’n paar stukke het wat in koffie gedoop kan word. Hy gee haar ’n dankbare druk en sien dat haar oë vir die eerste maal in ’n lang tyd saam glimlag.

En dwarsdeur die jolige nag kan Pietman sy oë nie van Yental afhou nie. Die meisie verstom hom. Sy is bruisend energiek; sjiek en sjarmant. Hy hou van die swart romp en eenvoudige donkergroen T-hemp wat vreemd elegant vertoon saam met die silwer oorringe. Hy vergaap hom aan die vrymoedige manier wat sy met van die LL.B.-studente staan en gesels. Synde ’n eerstejaar, is dit ietwat uitsonderlik. Later roep hy haar eenkant toe.

“Vir ’n Door het jy darem baie selfvertroue!” spot hy en pluk-pluk aan een van die lang stringe hare.

Sy gooi weer die hare terug in die nou kenmerkende gebaar, lag saggies. “Ha! ek het geweet die ou graadjie gaan jou ’n groot kop gee! Laat ék jou nou vertel, jy mag ’n gesoute Tukkie wees, maar hier op die PUK is jy saam met ander eerstejaarmannetjies net ’n ou Drakie! En tussen hakies, ek hou daarvan om ’n Door te wees! Ons het allerlei voorregte!”

“Soos wat?” vra hy, sy oë op die mooi mond en die effense kuiltjie in die linkerwang.

Die blink oë spot met hom; die kuiltjie verdiep. “O, soos om foute te kan maak en dan te sê jy het nie geweet nie! Jy sien, hulle sorg goed vir die eerstejaars hierso – daar is altyd iewers ’n skouer om op te huil!”

“Net nie op myne nie!” glip dit uit en hy voel ’n blos na sy nek toe skiet. Wat flankeer hy nou met die meisiekind? Netnou nog het hy Surita gesoen . . . Maar Yental lag ’n enigmatiese keellaggie, druk met ’n skraal voorvinger teen sy bors.

“Jy vlei jouself, Pietman de Waal, B.Proc.! Ek weet mos jou skouer is nie breed genoeg vir my én vir Surita nie! Terloops, wéét sy al dat ek en jy so saamwoon?”

Hy trek sy asem in om iets te sê, vang betyds die stoute glinstering in haar donker blik en wys vir haar vinger. “Yental, jy is ’n onhebbelike skepseltjie!”

Maar haar glimlag versober. “Sonder grappies, Pietman, jy beter haar vertel. Sy gaan nie veel daarvan hou nie!”

Keppie kom slaat ’n gemoedelike arm om Yental se smal skouers. “Sê vir haar ek woon ook nou hier. Groter getalle sorg vir veiligheid!”

“Maar dan lieg ons mos!” antwoord Yental half geamuseerd.

“Nie noodwendig nie. Ek het nogal lus om hier te kom loseer. Daai stoepkamer van jou is mos groot genoeg, of hoe, Pieta?”

“Wel . . .” begin Pietman, maar Yental pomp hom in die ribbes.

“Ag komaan, dit sal vet pret wees!”

“Ek . . . ja, dit sal!” lag hy opeens en daarmee lig die gewig van die afgelope paar dae van sy skouers af. Dis glad nie ’n slegte plan nie. Trouens, dit sál pret wees. Byna soos in die ou dae op Tuks. Dalk selfs beter. “Goed!” sê hy weer. “Ek weet my ma en oupa sal nie omgee nie!”

“Ons weet ook,” glimlag Yental, “want ons het hulle eergister al gevra!”

Pietman se mond val oop. “Julle konkel agter my rug! Wat is daar nóg waarvan ek nie weet nie?”

“Net dat ek en Keppie vir jou ’n afspraak gereël het met die primaria van Wag-’n-Bietjie. Sy’t jou nou die dag op die kampus sien loop en toe raak haar knieë lam en toe kry ons haar jammer!”

Pietman voel hoe sy oë oopsper. “Ek is ’n beloofde man, onthou!”

“Beloofde?” lag Yental. “Eerder beroofde, sou ek sê. Jy lyk soos iemand wat baie gemis het in die lewe!”

Daar is ’n geskater in die kring rondom hulle. Dat Yental Niklaus en Keppie Fourie al ’n stewige klompie bewonderaars in dié geledere het, is duidelik. Pietman besluit om te kapituleer en lag maar saam. Daar is gewigtiger dinge om hom aan te steur as dié twee se speelse manipulasie.

Die res van die nanag word saam met potte koffie opgedrink en die beskuitblik raak dolleeg. Keppie beloof om dit die volgende dag weer aan te vul met sy stiefma se skoubeskuit (glo een van haar min deugde) – en kort na dagbreek sluip die klomp uit om nog ’n uurtjie te loop slaap voor die klasse begin.

“Nie óns nie!” beduie Yental, en hou aan Pietman se mou vas toe hy kamer se kant toe wil staan. “Jy moet my gou help met Inleiding tot die Reg. Die Latynse terme maak my deurmekaar.”

Pietman bly gelate langs die kombuistafel staan en sy bring haar boeke, maak nog twee bekers koffie. “Wat,” vra sy en keer ’n gaap met haar handpalm weg, “is die eintlike verskil tussen die lex lata en die lex ferenda . . .?”

Hy neem ’n sluk warm koffie, vee ’n slag oor sy oë en buk by haar om te begin verduidelik. Maar hy moet sy kop bymekaarhou. Behalwe dat hy smorend vaak is, is daar nog iets anders ook. Haar hare dra die geur van rose en daar waar sy die lang stringe uit haar nek gevee het, is haar vel roomsag. As hy daaraan sou raak, sal dit voel soos daardie syjapon van sy ma waaraan hy altyd so graag gevat het toe hy klein was . . . Hy sluk weer aan die koffie en voel hoedat die brandwarm vog van bo in sy keel tot in die kom van sy liggaam afgaan. Hel, dink hy – en praat kopstukke oor die skeiding van reg en moraliteit – ek is ’n regte skurk. Of dalk is ek ook net ’n goeie akteur soos ou Keppie. Miskien moet regsmense ook kan toneelspeel. Want hier staan ek doodkoel en regsprake lewer – dit terwyl die mansmens wat ek is, dié mooi vroumens wil gryp en soen totdat sy om genade smeek. Erger: die sondaar binne-in die mansmens wil sommer maak en breek. En of dit nou Surita of Yental is, maak nie saak nie . . .

Pietman tree effe terug, kyk na die meisiekind se brose nek soos wat sy geboë oor die boek sit en slaan sy oë op plafon toe. Wát is dit met my? wonder hy ontstig. Is alle mense dan soos daardie Russiese poppies – daar is altyd nog een binne-in versteek? Want daar is skielik ’n hele paar Pietmanne. Die een wat weet wat reg is en die ander een wat nie lus het om te weet nie; nóg een wat diep omgee vir Surita en ’n ander wat wens sy wil verdwyn sodat hy kan . . . Wát?! vra hy homself af. Wát???

“Wassit?” vra Yental en toe hy afkyk, sien hy dat sy oopmond na hom sit en staar, die werk vergete.

“Luister,” sê hy kwaai, “vat jou boek en loop leer. Inleiding tot die Reg is een van daai soort vakke. Daar’s niks te verduidelik nie. Jy moet dit net swot! “

Sy kyk na hom met daardie onbeskroomde bruin blik van haar. Toe maak sy die boek suutjies toe en sê bedees: “Oukei.”

Helene de Kock Omnibus 4

Подняться наверх