Читать книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock - Страница 9

6

Оглавление

“En toe?” por oupa Murray en hy kry sy sit op die wit houtbankie langs die stoeppilaar. Pietman staar na die warmgeel sonlig op die oumens se paar verbleikte tekkies en glimlag skewerig. Waar sal ’n man nog só ’n oupa kry? Een met ’n oop kop en ’n luister-oor, blou jeans en uitgetrapte, sagtesool voetgoed.

“Ag, Oupa,” sê hy wrang, “Oupa weet seker self wat toe gebeur het.”

“Ek raai maar, Pieta.”

“Wel, die Otto’s was uit hul geloof geskok. Só iets soos geldgebrek ontstaan mos nie binne hul goue sfeer nie. Hul plek het die regte naam – Goue Kring!”

Maar professor Murray skud sy grys kop meewarig. “Nie bitter of snedig wees nie, Pietman. Dit gaan jou net uitmergel.”

“Goed,” willig hy bot in. “Maar dis aaklig dat mense jou behandel asof jy besmet is net omdat jou geldsake in duie gestort het. Selfs ou tant Rachina het my gister aangekyk asof ek skielik muf geword het!”

Oupa Murray kreun van die lag. “Ag foei tog, Pietman! Wat steur jy jou aan ou Rachina! Sy dink hoeka sy’s die beste in die Noordweste. Jy weet wat sê hulle van goed wat bolangs blink is, nè!”

“Ja, Oupa, maar dit laat my nog niks beter voel nie!”

“Dan is dit tyd dat jy jou minder aan jou gevoelens steur. Hoe lyk dit, wil jy nie my fiets by my koop nie!”

“Kóóp . . .?” Daardie ou dikwielding wat hom laat sweet as hy net dink hy moet begin trap? Pietman se mond hang oop.

“Natuurlik,” antwoord Oupa min gepla. “Niks in die lewe is verniet nie. Buitendien, jy sit nou sonder vervoer en ek het nog my bene én die kombi vir ver afstande.” En toe Pietman nog swyg: “Loop vra werk by Café Fiori. Ek het klaar vir die bestuurder gesê jy sal kom. Hy’s ’n gawe ou. Maar jy sal eers opgelei moet word.”

“Wel . . .” stamel Pietman, ruk hom reg toe sy oupa se een wenkbrou begin lig-lig. “Wel, dis dalk nie ’n slegte idee nie.”

“Dis ’n baie goeie idee,” praat sy ma skuins agter hom en toe eers sien hy haar teen die voordeur se kosyn leun, haar hande bedees voor haar gevou. Dit lyk asof sy gehuil het.

“Wat is dit, Anita?” vra haar pa en plant sy tekkies verder uitmekaar.

Sy kom skigtig nader, sug toe sy langs hom op die bankie gaan sit. “Ag, dis maar net dat ’n mens nou eers ontdek hoe dun jou nerf is. Ou tant Rachina se houding het my ook ontstel.” Pietman sien hoe haar mond begin beef en staan op, prop sy hande magteloos in sy broeksakke. Anita sluk en sluk om beheer te kry en sê: “Maar Oupa is reg, Pietman. Ons sal ons hipersensitiwiteit in ons sak moet steek. Ek gaan ook werk soek. Dalk kom ek nog reg as ontvangsdame by een van die dokters. Ek het juis gehoor daar is ’n opening by dokter Van Meulen-hulle.”

Pietman knik sy kop stadig. Om die een of ander absurde rede wil hy ook sommer huil. Miskien is dit die blote gedagte aan sy ma wat ook nou móét werk wat hom ontstig. En ook die voorafgaande gesprek. Want hy het heelwat nié vertel nie. Hy gaan ook nie. Hy sal wag totdat dinge effens opgeklaar het tussen hom en die Otto’s.

“Luister,” sê hy kortweg, “ek gaan dan solank Café Fiori toe en ek sal seker eers laat inkom.” Hy waai vir hulle toe hy die stoeptrappies afdraf. Die klein restaurant is net sowat ’n blok en ’n half straataf en hy moet toegee – dis hoeka nie ’n slegte idee nie. Nou nie heeltemal Pietman de Waal se styl nie, maar aan die ander kant begin hy ook nou eens mooi verstaan wat dit beteken as daar gesê word dat arbeid adel is. So in die stap onderdeur die koelswart eikeskadu’s, dwing sy gedagtes weer terug na Goue Kring. As hy al ooit in sy lewe soos ’n muggie onder ’n mikroskoop gevoel het, dan was dit die oomblik toe meneer Otto gesnap het dat Pietman dit bedoel toe hy sê hy het nie ’n sent op sy naam nie. Die man se gesig het toegeklap; sy oë het bedug bo-oor sy bril geloer.

“Bankrot . . .? Bankrót, sê jy. Nou hoe de . . .” Hy het sy sin stomp afgebyt en sy kop het omgeruk na waar Surita grootoog in die deur gestaan het. Toe het hy hom klaarblyklik bedink, ’n gul gebaar na Pietman se kant toe gemaak. “Kom ons gaan praat in my studeerkamer.”

Dis toe dat Pietman begin vermoed dat die man se kop mos anders werk as sy eie. Gáns anders.

“Hoeveel het jy in gedagte gehad, ou seun?” wou hy weet en sy hand het reeds begin tas-tas na die boonste laaitjie van sy lessenaar. Hy het voor Pietman se verstomde oë sy dik tjekboek oopgevou.

“Hoe bedoel u nou?” wou hy skor weet.

“Dertigduisend? Of nee, kom ons maak dit veertig. Rentevry vir die eerste vyf jaar.” Hy het al die pen papier toe gebring voordat Pietman sy tong in rat kon kry.

“N-nee . . . ! Ek bedoel . . . Meneer Otto . . . ek kan dit nie aanvaar nie. “

“Ag, kom nou, Pietman,” het hy met ’n koel laggie geantwoord, “moet nou nie ’n gegewe perd in die bek kyk nie!”

“Ek moet,” het Pietman meteens roekeloos opgevlam, “want ek is ’n man, nie ’n jokkie nie!” En toe die man terugleun in die leerstoel, sy blik ysig: “U sien . . . ek kan nie in hierdie stadium u hulp aanvaar nie. Dis ’n seer saak en . . .”

“Ag bog! Dis ’n kwessie van rand en sent. Daar is geen gevoel by betrokke nie. Dis presies soos om ’n perd vir ’n jokkie te leen vir ’n wedren, as jy dit dan nou opsluit kru wil stel!”

“Ek verskil van u . . .”

Dit was die begin van ’n paar eindelose gesprekke wat al bly maal het om een punt: Otto wou hom teen wil en dank help en Pietman wou nie gehelp word nie. Nie op dié manier wat ’n taai web om hom sou weef nie. Derduisende rande; rentevry. Maar teen watter prys? Dit was tog duidelik. Otto help hom omdat hy met Surita uitgaan. Dit was so hittete of Pietman het dit in woorde uitgedruk – dié vrees om onherroeplik aan die Otto’s gebind te word deur morele verpligtinge. Net Surita se vraende, half gekrenkte blik het hom daarvan weerhou. En hy het opeens verstaan dat sy glad nie verstaan nie. Dat hy haar sal moet máák begryp dat hy ook sy trots het. Meer nog: dat hy nie aan haar geboei wil word deur rand en sent nie. Nee, as . . . ás hulle twee sover sou kom om wel . . . te trou, dan moet dit wees omdat sy hart hom dwing daartoe. Maar dit was nie maklik om dit vir haar te sê nie. Die regte woorde wou net nie kom nie. Oplaas het sy hom met ’n saamgeperste mond en klein handgebare stilgemaak.

“Pietman . . .” het sy betraand gefluister, “ons is albei nou omgekrap. Ek kan verstaan dat jy jou trots het – maar dit gaan om ons twee se behoud. Vat asseblief tog my pa se geld! Ek smeek jou. Dan swot jy klaar en . . .”

“Nee,” het hy haar ferm in die rede geval. “Duisend maal néé, Surita! Ek is my eie mens. Ek sal vanselfsprekend klaar swot, maar ek sal die geld by die bank leen. My punte is goed genoeg daarvoor.”

Nie ’n aks na links of regs kon die Otto’s hom laat beweeg nie. Otto self het weer gepraat; sy woorde klinies afgemeet. Mevrou Otto het stroperig probeer paai en Surita het met bewende lippe gesmeek. Maar verniet. Pietman wou nie Otto-geld hê nie. Nie nou of ooit nie. Teen die einde van die naweek was hulle al vier voos gepraat. Tog het Pietman by Otto ’n half teësinnige respek vir hom waargeneem. Jy is koppig, nè, het die man net geglimlag toe hy Pietman groet. Gaan dink daaroor na en dan praat ons anderdag weer.

En Surita het net haar kop in sy nek gedruk. Soos altyd het haar sagte lyf teen syne, die skielike, spontane hartstogtelikheid wat sy soms openbaar, hom onkant gevang sodat hy haar styf vasgedruk het. “Toe maar,” het hy gefluister, “ek kom gou weer.”

Maar wanneer dit sal wees, dink Pietman toe hy by die dwarsstraat na die Café Fiori indraai, weet hy sowaar nie. Petrolgeld is daar nie. Tyd ook nie. Oor minder as twee weke begin die universiteit en intussen sal hy moet werk dat dit klap. Gelukkig dat die bank toe tog simpatiek was toe hy sy saak gaan stel het. Die kans is goed dat hy ’n lening sal kry. Miskien juis ook omdat oupa Murray so ’n goeie naam in dié geweste het.

Pietman stap die Café Fiori binne, ’n gesofistikeerde plek met moderne dog warm elegansie. Oorspronklike skilderye teen die mure, ’n klein houtkroeg en ’n ouwêreldse houttrap wat boontoe lei. Hy was al vantevore een maal saam met oupa Murray hier en toe het hulle bo gaan sit en koffie drink. Geluister na strelende musiek en elkeen ’n stuk kaaskoek verorber. Ook nou maak die koffiegeur wat die plek vol hang, hom onbedaarlik lus.

“Sjoe, dit ruik lekker hier by julle!” groet hy die eienaar wat met ’n glimlag van agter die kroegtoonbank uitkom.

“Beslis,” lag die man breër, “maar ek glo nie jy het kom eet en drink nie, het jy?”

“Nee,” erken Pietman verleë, maar toe hy nog verder wil beduie, neem die man hom aan die arm en trek hom verby die kroegtoonbank in die kombuis se rigting.

“Jy is mos professor Murray se kleinseun? Die een wat werk soek?” Pietman knik swyend en die man lag weer. “Nou ja, welkom hier, jong! Gaan solank kombuis toe dat Patience jou kan touwys maak!”

“Beteken dit dat ek nou die werk gekry het?” vra Pietman vervaard. Die man kyk hom stip aan, knik plegtig.

“Jip. Ons sal later vir jou koffie gee, maar eers sal jy moet leer hoe die dinge in ’n restaurant werk.”

En Pietman leer. Hy werk soggens van nege-uur tot laatnag. Hy was skottelgoed en vryf glase blink; hy maak cappucino en melkskommels, skemerkelkies en skep skuimerige torinkies sorbet met fyn vaardigheid in bakkies. Hy leer bo alles om te glimlag, te glimlag én te glimlag . . . Jou gesigsuitdrukking is jou paspoort, is die eienaar-bestuurder se filosofie en Pietman ontdek dat daar waarheid in steek. Glimlag met jou kliënt, vang sy woorde op asof dit druppels nektar is en jy’s seker van jou fooitjie, beduie hy een oggend geesdriftig toe hy en oupa Murray aan ontbyttafel sit. Die oumens lag grommerig en skud sy kop. Mag wees, sê hy, maar ’n slim kliënt sal dwarsdeur jou sien. Sorg dat jou glimlag eg is, stel wérklik belang, al vererg jy jou vir hom. Onthou, jou kliënt is daar omdat hy vir ’n oomblik lank van die wêreld wil wegkom. Verdra sy grille . . .

Dit, vind Pietman uit, is makliker gesê as gedoen. Daar is werklik gawe mense wat die Café Fiori besoek en ’n genotvolle atmosfeer agterlaat. Maar dan is daar die klaagkouse wie se jeremiades ’n kelner laat wens hy kon ’n skinkbord op hul kop stukkend moker. Een so ’n kliënt stap twee dae voor die opening van die universiteit die Café Fiori binne. Die plek is vol en sy is sommer omgekrap.

“Waar kry ’n mens sitplek?” wil sy skerp weet. Pietman se hande is vol vuil borde en hy moet mooi korrel of die messegoed glip af. Gelukkig sien hy ’n klein tafeltjie in die hoek raak en sonder om mooi na die meisie te kyk, beduie hy met sy oë soontoe.

“Sit gerus, juffrou, ek is nou-nou by u.”

Maar sy trommel al met haar fyn vingertjies op die tafelblad toe hy opdaag en hy kreun innerlik. Nog een van dáái, besluit hy. En hy het reg. Sy kla oor die hitte, trek ’n gesig toe hy die tafel eers mooi met ’n klam lap afvee en vat die spyskaart aan asof dit besoedel is. Dis toe sy dit fronsend begin bestudeer dat hy effens terugtree en haar goed bekyk. Kort, ultramoderne, blonde kapsel met ’n parmantige kuifie. Klassieke gesig. Reguit neusie en . . . Pietman se kakebeen word slap. Sy lyk dan soos . . . Grace Kelly! Kompleet so. Beeldskoon met die hoë wangbene en perfekte mond; die aura van koel grasie met net ’n glimp van ongeduld in die blou oë wat dui op ’n versteekte vuur.

Pietman se kop draai. Hy probeer aan alles tegelyk dink. Aan Keppie wat nou skielik in Potch opduik en dan nou hierdie meisiekind wat Grace se ewebeeld is. Hoe op aarde rym dit? Maar hy glimlag werktuiglik toe sy opkyk en staan nader om haar bestelling te neem. Sy klap die spyskaart toe, lig haar ken.

“Twee koppies cappucino, asseblief, en dan los jy my alleen. Moenie kom vra of alles reg is nie en moenie die rekening bring voordat ek nie vir jou wink nie. Verstáán?”

“Verstaan goed,” haak Pietman af en die ysblou oë vernou effens. Maar hy draai op sy hak om en stap kombuis toe. Die simpel vroumens! Sy weet natuurlik sy lyk soos ’n prinses.

Maar dis Patience wat wit glimlag toe hy voor haar gal afgaan oor kliënte wat maak asof kelners vadoeke is.

“Jy’s dom, Pietman!” sê die vrou geduldig en tik hom paaiend op die skouer. “Daai meisie is verlede jaar se Joolpersoonlikheid. Sy is regtig ’n queen, jong! Sy shunt almal altyd rond!”

“Ga! Nie vir my nie!” trek Pietman los en plak twee koppies in ’n skinkbord neer sodat sy dit kan vol maak.

Dis toe hy terugstap na die tafel toe dat die verstomming hom heeltemal oorneem. By die meisie sit Keppie Fourie. Hy lyk so befoeterd soos tien donderwere en sy leun ’n slag speels oor die tafel en vryf sy kuif deurmekaar, sê met ’n pruilmond: “Ou dikbek diertjie! Vergeet nou al die dinge en . . .”

Maar sy bly abrup stil toe Pietman die koppies voor hulle neersit, rek haar oë betekenisvol toe hy nog bly huiwer. “Tóé nou,” por sy, “loop nou dat ek en hierdie bedonste outjie alleen kan praat!”

Maar Pietman staan; kyk stip na Keppie wie se blik syne netjies systap. “Stel my voor, swaerie,” sê hy sag, “anders vertel ek . . .”

“Oukei!” skrik Keppie op en begluur hom met kille woede. Hy trek sy asem hoorbaar in voordat hy praat. “Engelie, dis nou Pietman de Waal. My kamermaat van die afgelope jare. Enne . . . Pietman, dis Engelie van Wijden. Ons . . . ken mekaar al lankal.”

Sy glimlag dadelik skitterwit, skud haar kop vir Keppie. “Al sewentien jaar lank, om presies te wees maar – ons ken mekaar maar swak. Nie waar nie, Kep?”

Hy antwoord nie, pers net sy lippe saam en staar na die klont room op sy koffie. Toe hy opkyk, sê hy net: “Ek sal jou later sien, Pieta.”

Dié slag maak Pietman hom uit die voete. Dis duidelik dat Keppie en Engelie plofbare sake praat. En toe hy later ’n tafel naby hulle bedien en so skuinsweg na hulle twee loer, sien hy hoedat Engelie meteens opstaan en vorentoe buk om weer oor Keppie se hare te vryf. Sy lag, maar hy sit soos ’n sfinks. Net die blinkswart oë skiet vonke in sy bleek gesig. Toe sy uit is, stap Pietman nader, gee vir hom die rekening.

“Kan ek help, swaerie?” vra hy sag. Maar Keppie skud sy kop, haal geld uit om te betaal. Toe staan hy op en sê digby Pietman se gesig: “Bly hier uit, my ou! Ek weet jy bedoel dit goed, maar dis nie jou saak nie!” Daarmee stap hy driftig uit, sy arms effens bak onder die breë skouers.

Heeldag bly die insident Pietman by. As hy al ooit ’n raaisel aan die stertkant beetgehad het, is dit dié een. Al wat hy weet, is dat hierdie Engelie en die Grace Kelly van Keppie se plakkaat, een en dieselfde mens is. En nou verstaan hy ook wat Keppie daardie oggend voor die plakkaat so hartstogtelik gefluister het. Hy het nie met sy “engeltjie” gepraat nie – maar wel met Engelie. Engelie van Wijden, om presies te wees. Joolpersoonlikheid en klaarblyklik ook die huidige kampuskoningin – te oordeel na die baie bewonderende blikke wat sy in die Café Fiori gekry het. Dat menige man sal spring as sy haar vingers klap, is immers duidelik.

Pietman se gedagtes maal al om en om die meisiekind totdat hy aan ontbyttafel daaroor begin praat. Sy ma luister half afwesig maar oupa Murray is dadelik die ene ore. “Ek ken die kind, ja,” sê hy terwyl hy roosterbrood smeer. “Engelie is baie slim. Was ’n eerstejaartjie die jaar voor ek afgetree het. Sy is nou besig met haar doktorsgraad in die regte.”

“Wat . . . ?” kry Pietman tussen kousels brood uit.

“Ja, sy kom my soms ’n bietjie raad vra. Nie ’n slegte kind nie.” Pietman bly hom ’n antwoord skuldig, maar toe hy drafstap werk toe, dink hy: Engelie van Wijden plus Keppie Fourie maak nie twee nie. Iets rym nie. Maar toe hy eers by die Café Fiori instap, suig ’n dwarrelwind hom in. Al wat mik om dié jaar PUK toe te kom, sit die restaurant kant en wal. Buite staan selfs ’n tou wat wag. Een beduie met swaaiende arms dat Die Akker en die Ierse Herberg hoër op in Tomstraat ook vol is en sal Pietman assebliéf kyk of daar nie ’n plekkie vir drie is nie? Hy maak beloftes en glimlag hulle tot bedaring. Een meisiekind staar openlik na sy mond en hy hoor hoe sy aan haar vriendin iets van Tom Cruise fluister. Ag tog, hierdie skewe voortande van my! dink hy en duik by die toonbank verby om eers in die kombuis ’n draai te gooi voordat hy begin bedien. Dit gaan heeldag dol en hy moet haastig iemand vra om vir ’n uur in sy plek te werk sodat hy self kan gaan registreer. Die kampus is ’n miernes en hy val ’n bietjie rond voordat hy geholpe raak, al ken hy die plek so effens. Hy het vantevore dikwels saam met sy oupa verby die Ferdinand Postma Biblioteek gestap na die Ou Hoofgebou waar die regsfakulteit geleë is. Hy ken ook die laning reuseplataanbome wat Lover’s Lane genoem word en kry sy pad daardeur na die studentesentrum langs die amfiteater. Vir ’n oomblik ervaar hy ’n skerp verlange na die Tukkiekampus. Die lang grasperk voor die Ou Lettere, die kafeteria half versteek onder die Aula, die baie bekende gesigte op die bankies onder die bome . . . Die lekker kuierplekke by die Hatfield Plaza. Maar boweal mis hy Surita – en hy wens hy kon na haar roep sodat sy vanuit die diepgroen skadu’s van die plataanbome na hom toe aangestap kan kom. Maar ’n suwwe moedeloosheid stuif in hom op. Hy sal elke liewe dag hier loop en haar nooit sien nie, want sy is klaar terug op Tukkies. Hoe hy ooit hierdie verhouding aan die gang gaan hou, weet hy sowaar nie . . .

Hy druk deur die menigte tot digby die amfiteater waar die kantore van die dorpskoshuise geleë is. Hy en Keppie het afgespreek om mekaar hier te kry en dan sommer by Heimat te registreer. Keppie ken glo die primarius, ene Herman, en hy reken daar behoort baie pret te wees saam met die Heimat-manne. Pietman is maar skepties, want hy ken mos Keppie se idee van pret. Laatnagstories en serenades, grys grappies en ’n filosofiese gegorrel tot dagbreek toe. Alles net om ’n swottery te ontduik. En dan wil hy glo ’n meneer word. En dis ’n ander ding. Keppie is sweerlik beenaf op daai prinses Engelie van hom en sy gaan een van die dae doktor Engelie wees. Soos dit vir Pietman lyk, gaan dit net ’n klein sprongetjie van doktor na regter na hoofregter wees vir ene Engelie van Wijden. Sy is die soort wat haar pad sal oopveg boontoe. Arme Keppie . . . Watter kans het ’n meneer om ’n regter aan te keer? En selfs al kry hy dit reg, sal hy sweerlik elke dag onder kruisverhoor wees.

Keppie wag klaar vir hom in die Heimat-kantoor onder die amfi. Hy sit en gesels met ’n blonde blouoogman wat dadelik opstaan toe Pietman binnekom.

“Hallo, ek is Herman,” sê hy en steek ’n ferm hand uit. “En ek is bly jy en Keppie wil Heimat-manne word!”

“Dankie,” sê Pietman verras en toe, met ’n skielike vermoede: “Ken jy Keppie al lank?”

“O ja!” lag Herman breed. “Ons pa’s was saam op skool en partymaal word daar oor en weer gekuier.” Hy kyk skalks na Keppie, knipoog toe vir Pietman. “En . . . natuurlik ken ek ook vir Engelie. Ek het in ’n stadium nogal gedink die naam sal baie goed pas by ’n voornemende predikant en ek hou nou maar eenmaal van mooi meisies!”

“Sjarrap, Herrie!” brom Keppie – maar Pietman sien dadelik dat dié twee mekaar beslis baie goed ken, want Keppie verduur Herman se spottery ewe gemoedelik. Hemel, dink Pietman verstom, dat ek en Keppie drie jaar lank ’n kamer kon deel en dat ek feitlik niks van hom weet nie . . .

“Luister, Herman,” sê hy kamma fronsend, “ek hou net so baie van mooi meisies. Dalk moet jy my meer van Engelie vertel. Sê my, is sy werklik so ’n engeltjie as wat onse Keppie dink?”

Keppie kom soepel orent uit die leunstoel, sy kleur hoog, maar Herman lag net. “O nee, geen suster van Keppie kan ’n engel wees nie, glo my!”

Pietman se gesig raak slap. “Suster . . .?” adem hy verslae.

“Stiefsuster,” antwoord Keppie bot, draai opeens vies na Herman: “Dis nou genoeg, hoor!”

“Nee, dit is nie!” kap Pietman teë. “Ek wil nou álles hoor!”

Maar voordat enigeen nog ’n woord kan sê, kom daar ’n klompie eerstejaars in om by Heimat te registreer en Herman verkas na die agterste gedeelte van die kantoor om hulle te help. Keppie druk verby Pietman buitetoe, sê net stuurs: “Ek sal jou vanaand alles kom vertel wat jy graag wil weet. Maar ek waarsku jou, jy bly uit my sake uit!”

“Goed,” antwoord Pietman sag, staar hom in groeiende verstomming agterna toe hy in die studentemassa tussen die kafeteria en die amfi verdwyn. Hy besluit om self gou ’n koeldrank te gaan drink en stap onder die bome deur verby Radio Puk wat lekker ritmiese popmusiek uitsaai. Dis toe hy die kafeteria wil binnegaan dat sy oog iets vang. Die vooroorgeboë figuur van ’n meisie in ’n blou blommetjiesrok. Sy sit op ’n groterige tas, haar kop op haar knieë, haar welige donker hare soos ’n waterval tot op haar wit sandale. Iets aan haar is vaagweg bekend. En dit pla hom. Te meer omdat haar hele lyftaal so duidelik sê: Los my uit, want ek is moeg, moeg, móég . . .

In die oomblik wat Pietman langs haar huiwer, lig sy haar kop en gooi die swaar krulle terug oor haar skouers. En hy sien dat die donker oë inderdaad traannat is, die vol mond beef liggies.

“Yental . . .?” adem hy verstom. “Wat . . . wat maak jy hier?”

“Ek sit,” sê sy futloos. En toe met ’n skielike drif: “Jy kan maar lag ook, as jy wil!”

Pietman kyk af in die blink oë en iets knoop om sy hart. Die fietsmeisie . . . En sy is sowaar in die nood. Toe hy hom weer kom kry, buig hy af en trek haar orent.

“Lós my!” sis sy, pluk haar hande weg en kyk verleë rond. Maar hy het klaar gebuk om die allemintige swaar tas op te tel.

“Wat het jy als hierin?” wil hy steunend weet.

Sy suig haar asem in om te praat, maar byt opeens haar lippe vas.

“Kom,” sê Pietman net en begin aanstap in die rigting van Lover’s Lane. “Ek vat jou gou na my oupa se huis toe. Dis net hier naby in Tomstraat. Dan drink ons tee en jy vertel my alles.”

Hy loop skeef-skeef vooruit soos wat die tas aan sy skouer rem, Yental Niklaus se sagte voetval agter hom aan. En hy dink: Ek, Pietman de Waal, is op ’n vreemde planeet. Skielik is daar derduisende dinge om te ontdek. Want Keppie tree op soos ’n besoeker uit die ruimte en oral val daar meisies in my skoot. Mooi, kwáái meisies vol misterie . . .

“Kóm!” roep hy oor sy skouer toe sy effens agterraak en hy lag spontaan toe sy haar wit sandale uitpluk en kaalvoet met die sypaadjie langs draf.

Helene de Kock Omnibus 4

Подняться наверх