Читать книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock - Страница 6

3

Оглавление

Pietman kon die kopseerstreek nog twee maal uithaal en toe het tante Yvonne snuf in die neus gekry. Sy het hom op flou tee en brosbeskuitjies laat leef vir ’n paar dae. Surita moes uit sy kamer bly en die gordyne is dig getrek.

Na ’n halfdag was hy uitgeslaap en het hy die patroontjies op die muurpapier bestudeer, tóé die fraiings aan die beddeken getel (drieduisend sewe en veertig plus agtien wat effens uitgerafel het) en hom toe lê en verwonder aan die vorm van sy hande. Heel orraait, was die oordeel, maar hy het oupa Murray se skewe linkerpinkie geërf. Hy sou dus nooit ’n konsertpianis kon word nie. Die gedagte wou-wou hom bedruk, maar toe onthou hy hoe hy sy musiekjuffrou tot op die rand van waansin gedryf het, en vergeet toe van sy moontlike mislukking as musikus.

Daarna het hy (lief vir musiek soos wat hy is) al die popdeuntjies wat hy kon herroep, gelê en neurie. Maar net totdat Jeanne met ’n skerp frons om die deur geloer het. Dit was op ’n middag toe Surita haar tante na ’n voorskou van die Huis van Dior vergesel het. Pietman was teen daardie tyd voos van die honger en bereid om sy staking te laat vaar. Dit was net die gedagte aan Keppie wat hom nog in die bed gehou het.

“Sies, my ou!” sou Keppie gesê het. “Skaam jou flenters! Is jy nie eens mans genoeg om twee vroumense te maneuvreer totdat hulle erken dat jy ook ’n saak het nie? A nee a, ’n man der manne skop vas en hou uit! ’n Vrou, my ou, is soos ’n stad wat beleër moet word. As jy lank genoeg jou pos behou, is die oorwinning joune!”

As hy so aan Keppie se wyshede dink, is dit omtrent die enigste kere hier in Parys dat hy die behoefte het om te glimlag. Dan lyk die patroontjies op die muurpapier sommer interessant en die fraiings maak hom nuuskierig. Waarom sou agtien van hulle uitgerafel het in hierdie huishouding waar daar nie eens ’n kopspeld rondlê nie?

Keppie sou wel die antwoord gehad het: “Die rede, ou Pieta, is omdat hulle vir jou ’n óú deken oorgegooi het. Bang jy mors koffie op die nuwe een wat antie Yvonne by daai smaart winkel langs die Pont Neuf gekoop het. As ek jy was, sou ek die fraiings maar vleg, wat. Dis goeie tydsbenutting en dit wys hulle ook sommer dat jy fluks en handvaardig is. Net die soort skoonfamilie wat hulle begeer – leergierig en wysgerig; konsensieus en onversadigbaar geesdriftig. Iemand wat die samelewing se stempeltjie van goedkeuring onvoorwaardelik sal kry. Dis mos wat jy wil hê – ’n nommerpas, goed beplande lewe saam met Surita.”

“Nie noodwendig nie,” sou Pietman dan terugkap – soms selfs in ’n harde fluistertoon sodat hy vervaard moet stilbly en luister of Jeanne hom nie dalk gehoor het nie.

Maar Keppie sou onverstoorbaar terugantwoord: “Moenie stry nie, my ou. Jy’s klaar vas in die web, want jy kan kwalik jou hande van Surita afhou. En dis hier en daar se vat-vat wat ’n man so gaandeweg inkatrol sodat hy trou nog voor hy weet wie is die volgende politikus wat droogmaak.”

Ag twak met jou, Keppie! dink hy nou ook, sy oë op die strepies vaalgrys lig wat tussen die donkerblou gordyne deur sif, sy mond saamgepers om te keer dat die woorde nie onverhoeds uitspring nie. Hy is grensloos geïrriteerd en magteloos honger, maar minder lus as ooit om oral saam met tante Yvonne te flerts. Al is Surita by.

“Tj!” sê hy weer vir Keppie. “Ek is g’n vas nie. Dat ek mal is oor Surita, is waar. Maar ek is in beheer, ou swaerie. Absoluut en toetentaal. Pietman de Waal laat hom nie gesê nie!”

“Ag so? Dan moet dit seker vir jou lekker wees om so te lê. Wat sou jy dié prosedure van jou noem? Lydelike verset of onversetlike lyding? Oppas, hoor. Jy verwar stagnasie met standvastigheid – en dan praat jy van liefhê! Jy sal nooit ’n verhouding aan die brand kan hou nie, want jy gee te gou in – of jy retireer.”

Pietman voel die woede saam met die hongerpyne aan sy ingewande knyp. Hy dink: Luister, ou swaerie, jy wat Keppie Fourie is, weet niks van verlief wees nie. Altans nie soos ons gewone ouens wat so af en toe oorhoeks raak oor ’n mooi stukkie vlees en bloed nie. Nee, jy raak mos koekoes as jy na ’n prentjie van Grace Kelly kyk! Noem haar jou engeltjie!

Maar selfs in sy gedagtes maak Pietman gou die woorde ongesê; vee hulle met ’n half radelose handgebaar uit die lug. Hy sal nooit so iets vir Keppie sê nie. Nooit nie. Al kwel by hom nogal daaroor. Hy wens werklik hy kon die man help. Soms – maar net soms – oorweeg hy dit om met Surita daaroor te gesels in die kort tydjies wat die Druets haar gun om langs sy bed te kom sit en gesels. Want miskien kan ’n vroumens tog lig werp op Keppie se gedrag. Maar toe hy wel een oggend die onderwerp aanraak, het sy by die tweede sin al uit sy gesigsveld verdwyn. O, lyflik het sy nog daar gesit, ja. Vreeslik mooi uitgevat in ’n nousluitende groen broek wat sy blik oor haar lang bene laat gly het, maar so sielsafwesig soos ’n model op ’n loopplank. Sy wou nie hoor wat hy oor Keppie te sê het nie. Sy wou soos gewoonlik nie eens Keppie se naam hoor nie.

Deesdae het sy ’n manier om haar net te onttrek as hy oor dinge wil praat waarvan sy liefs nie kennis wil neem nie. Dan kry sy daai afwesige kyk, die groot oë loop leeg en een skouer druk vorentoe asof sy ’n lastige bries wil afkeer.

Sy is netnou ook hier uit sonder dat hy eens by die punt kon uitkom. Hy het nog net terloops gewonder hoe dit met ou Keppie gaan as hy sy pa so op die paaie help, toe kyk sy al anderpad. En hy was baie lus en vertel haar ’n slag kaalkop die waarheid.

“Kyk hier, my skat,” sou hy sê, “jy moet jou opstêrse nonsens laat staan. Keppie is ’n mens soos ek en jy. Hy het gevoelens, al het hy nie geld nie. Hy het ’n pa wat ook gevoelens het – dalk diep gevoelens wat spore laat al langs die paaie wat hy bewerk!”

Hy is nogal in sy skik met dié bewoording. Selfs Surita met haar voorliefde vir die regte woordkeuse, behoort so te dink.

“Daar’s dit al weer,” sug Keppie. “Jy is afhanklik van die vroumens se goedkeuring. Jy smag daarna, kan nie asemhaal daarsonder nie. As ’n man eens sy eie woorde onder ’n mikroskoop begin plaas om sy meisie te sien glimlag, is dit maar ’n trietsige saak, my ou.”

Pietman veer orent, wieg effens duiselig op sy voete en neem ’n blitsbesluit. Hy gryp sy handdoek en loop stort toe. Hy kry Jeanne op die trapportaal en sy gooi haar hande verskrik in die lig.

“Mais non!” roep sy uit. “Madame . . . !”

“Madame se voet!” val Pietman haar glimlaggend in die rede. “Ek staan nou op en as ek my aangetrek het, gaan ek iewers iets eet. Regte kos, Jeanne!”

Sy staar hom onbegrypend agterna en draf toe haastig trapaf.

En ’n halfuur later loop Pietman ál met die Rue Saint Honoré langs na die Charcuterie Gargantua. In die groot snoepwinkel koop hy al die bestanddele vir ’n droompiekniek: subtiel gegeurde patee en twee bakkies slaai; ’n vars brood en kaas met ’n “vin ordinaire”. Toe loop hy na die nabygeleë Tuileries. Daar is wip in sy stap en die vrieskoue lug trek soos vonkelwyn deur sy bloed.

Op ’n leë bankie naby ’n standbeeld met absoluut goddelike kurwes, gaan hy sit. Hy verkyk hom aan die klipgodin en hy eet sonder ophou. Toe die laaste lekseltjie verdwyn het, skud hy die krummels van sy hande af en sit terug.

“So ja, Keppie,” sê hy hardop, “nou’s ek gereed vir die slag. Nou sal jy sien hoe pak ek Surita en daai antie van haar. Van nou af hou ek vakansie soos ek wil, en basta!”

Snaaks genoeg is Keppie tjoepstil. Pietman kan nie eens vaagweg dink wat sy kamermaat hierop sou kon antwoord nie. Dis eers toe hy halfpad terug is na die elegante woonstel in die Rue Saint Honoré dat hy begin vermoed dat Keppie nie nodig het om ’n stuiwertjie in te gooi nie. Dinge sal hul loop neem. Nes ’n klapper met ’n lang lont.

Sy voorgevoel is reg. Toe tante Yvonne binnestap en hom voor die televisie gewaar, spat die vonke. Sy vergeet sommer van die Franse aksent waarmee sy volgens Surita die laaste twintig jaar Afrikaans praat en laat waai volrond in haar moedertaal: “Maar my allawêreld, Pietman! Ek dag jou gô is uit en hier sit jy voor die televisie!”

“My gô is terug,” kondig Pietman koeltjies aan en kom veerkragtig orent, laat sy oog oor die goed geklede vrou gaan en sê sjarmant: “U lyk werklik baie mooi. Is dit die rokkie wat u gister by Dior gekoop het?”

Hy sien hoe die ergernis so effens verdring word deur die vleiwoorde en glimlag innerlik. Soos ou Keppie dikwels beweer: “’n Vrou sal enige ding sluk wat soet genoeg is, my ou!” Maar tante Yvonne wys tog liggies vir hom vinger. “Oppas vir jou, Pietman de Waal! Vanaand gaan ons na ’n restaurant in Montmartre. Sorg dat jy reg is!”

Surita trek vir hom groot oë, blaas vir hom ’n soentjie agter haar tante se rug en sy verset verdamp.

Ha, ha, ha! begin die Keppie-stemmetjie, maar hy smoor dit en knik inskiklik. Restaurant toe sal hy gaan. Dáár is kos! Buitendien, daar is maar min vakansiedae oor. Nog net vier en dan moet hulle terug.

Wonder bo wonder is die tydjie in Montmartre baie genoeglik. Oom François raak spraaksaam oor sy ou studentekwartiere en neem hulle eers na die Sacré Coeur-katedraal met sy koelwit koepels, tóé na die Place du Tertre waar hulle tydsaam die skilders aan ’t werk bewonder, en daarna na La Rue Lepic met sy kleurryke mark.

Moeg en koulik drentel Pietman en Surita agter die grootmense aan na ’n fynproewer-restaurant in dieselfde straat. Maar oom François se geesdrif is aansteeklik. Dis duidelik dat hy op hierdie aand baie ver terugdink aan die jare toe hy as arm student hier in ’n kamertjie in Montmartre gewoon het. Hy steek nadenkend vas voor die ingang van La Pomponnette, skud sy kop.

“Hoe vreemd!” sê hy. “Dáárdie jare het ek talle male verby dié restaurant geloop en gewens dat ek net ’n vars brood kan bekostig. En nou kom ek dikwels hier. Ek is al byna gewoond aan geld.”

Tante Yvonne gee ’n senuagtige keellaggie en haak by hom in. “Maar natuurlik, chéri! En vergeet nou daardie aaklige tyd.”

Die man met sy donker Franse oë kyk haar goedig peinsend aan. “Ma chére Yvonne, dit was nie aaklig nie. Dit was bloot moeilik. Maar kom, die plek se Coq au Vin is onoortreflik.”

Dwarsdeur die aand in die elegante plek met die egte Poulbot-sketse teen die mure en die geur van eg tradisionele disse, bly Pietman aan die woorde dink. Hy kyk met ’n nuwe oog na oom François, sien opeens die diep kepe langs sy mond.

“Vertel my van oom se studentejare,” sê hy en steur hom nie daaraan dat tante Yvonne en Surita gelyktydig hul oë rol en sug nie. En dis inderdaad ’n swaar verhaal. François Druet moes veg om houvas te kry op elke rang van die leer na sukses. Geld was skaars. Geleenthede nog minder. Maar eindelik het hy ’n voet in die deur gekry by ’n argitekfirma en van heel onder af begin.

“Mais non, François! Hoe vervelig tog!” sê tante Yvonne naderhand, maar sy kry net ’n speelse tikkie op die hand van haar lankmoedige eggenoot.

“Ma chérie, dis net omdat jy dit nie geken het nie. Jou familie het nog altyd geld gehad. Julle sal nie weet wat om te doen as dit van julle af weggeneem word nie.”

Dis genoeg om die vrou stil te maak, sien Pietman. Die blote idee is vir haar so vreemd soos ’n laserskyf vir ’n walvis. Niks kliek in haar brein sonder geld nie, dis seker. En dis presies wat Keppie sou gesê het, dink hy, en glimlag innerlik toe die kelner hul bakkies met veerligte vrugtesorbet voor hulle neersit.

“Hoekom lag jy?” vra Surita half geamuseerd, maar toe hy blitsig iets bedink om te verduidelik, verslap haar mooi gesig eensklaps in stomme verbasing. Sy sit oopmond en staar na ’n hoek agterin die restaurant.

“Wat’s dit?” vra Pietman en kyk om. Maar hy sien net die kersverligte gesigte van gaste wat genotvol oor vol borde buig. “Niks,” antwoord Surita stadig, skud toe haar kop ongelowig. “Maar ek kon sweer ek sien vir Keppie.” En voordat hy van sy verstomming kan herstel, verduidelik sy haastig aan tante Yvonne: “Keppie is ’n . . . ’n vriend van Pietman. Eienaardige ou. Nie aan veel gewoond nie.”

“’n Arm student dus,” sê oom François gelykweg en sy vrou se wenkbroue wip in die lug. Dit gee Pietman kans om sy oombliklike ergernis weg te sluk. Surita is aan te véél gewoond! flits dit deur sy kop. By implikasie is dit seker ook wat monsieur François Druet netnou van sy skoonfamilie wou sê . . .

“Keppie is anders as ander mense,” sê Pietman nadruklik en ignoreer die trekkie om Surita se mond. “Hy het klas. Ten spyte van ’n agterstand in die lewe, is hy ongewoon sensitief, skerpsinnig en intellektueel. Daarby weet hy wanneer om stil te bly.”

“Hoe fassinerend,” antwoord tante Yvonne na ’n kort stiltetjie en toe Pietman vinnig opkyk om te sien of sy dalk sarkasties is, vind hy haar uitdrukking heel peinsend en na binne gekeer. Dis byna asof sy nog nooit van so iets gehoor het nie. Oom François sit weer met sy enigmatiese glimlaggie en knipoog fyntjies vir Pietman.

Surita stamp liggies aan hom en sê speels: “Soms vies ek my vir jou as jy so ’n ophef van ou Keppie maak, maar as jy hom so mooi analiseer, raak ek sommer geïnteresseerd.”

“Solank jy my net nie jaloers maak nie!” spot Pietman saam. Maar hy weet in sy diepste bodem dat sy net praatjies maak. Surita hou van pittigheid en poëtiese mooiklanke in ’n gesprek – nie van woorde wat skielik uit die hart kom of ’n in-diepte-konfrontasie nie. Konflik verwar haar. Daarom skeer sy heen oor onderwerpe waaroor hulle dit nie eens is nie.

Daar is net ’n paar sulke onderwerpe, soos sy vriendskap met Keppie, natuurlik, en ook sy onwilligheid om feitlik elke semesternaweek saam met haar na haar ouerhuis naby Brits te gaan. Hulle stry dikwels daaroor. Soms gaan hy maar saam na die paleisagtige huis op die lemoenplaas Goue Kring. Hy gaan jag selfs saam met haar pa en sy hooggeplaaste vriende en luister met geveinsde aandag na haar ma se boetiekpraatjies wat nooit, maar nooit dieper as die duur klere aan haar lyf gaan nie. Ander kere kry hy Surita weer sover om ’n naweek in te bly en die een of ander kampusaktiwiteit saam met hom te geniet.

Maar daar is tye dat dit broekskeur gaan om nie heftig aan ’t stry te gaan nie. Al rede, dink hy, waarom hy en Surita nog nie werklik vasgesit het nie, is dat hulle albei wil keer dat die bom bars. Dalk is dit goed so. Is dit dan nie wat twee mense in ’n verhouding moet probeer doen nie? Hier keer en daar keer sodat alles mooi glad kan verloop.

“’n Hele sak vol silwer vir jou gedagtes,” fluister Surita skielik by sy skouer en hy sien met verbasing dat hy sowaar al sy vrugtesorbet opgeëet het, die dessertlepel slap tussen sy vingers.

Hy lag verleë, dink vinnig en sê toe: “Wel, ek wonder sommer oor wat die nuwe jaar vir my gaan inhou, en . . . “

“Ag, dis maklik,” flikflooi sy en vee die hare langs sy slaap met haar vingertoppe plat. “Jy gaan soet swot en graad vang en baie, baie by my kuier! “

“C’est la vie,” haak oom François gelate af. “Laat ’n vrou jou maar voorsê, seun.”

Die woorde krap Pietman onmiddellik om sodat hy bitter bly is toe oom François opstaan en tante Yvonne aan die hand saam optrek. “Kom, dit word laat en ek moet môre werk.”

In die deur van La Pomponnette kyk Surita ’n slag oor haar skouer terug. “Ek kon sweer dit was Keppie,” sê sy.

Tuis in die Rue Saint Honoré kry Pietman en Surita kans om ’n uur of wat voor die gloeiende kaggel te sit en koffie drink. Die grootmense het gaan slaap en selfs Jeanne se skamper geskuifel is stil.

Tot Pietman se innige verligting, praat Surita oor niks wat enigsins kan opstootjies maak nie. Hulle sit op die dik mat teenaan die rusbank en sy nestel teen sy bors aan. Hy kyk af na die spel van vuurlig op haar gladde vel; die rosige gloed van haar hals bo die trui wat rond oor haar kurwes span. Sy asem stol in sy bors en hy draai haar met een haal om in sy arms; soen haar asof hy nooit weer hoef asem te skep nie. En hy is roekeloos bly toe sy haar aan hom oorgee. As ek so by haar is, dink hy vlietend, vergeet ek al die ander dingetjies wat soms soos droë grassaad oor my nerf skuur.

Haar mond is soet en warm en sy hart donder in sy ore toe sy met ’n fyn vlindergebaartjie haar trui se hals oor een skouer afstoot. Dis toe dat hy weet ’n man moet liewer asemhaal. Hy teug aan die lug van die verhitte vertrek en glimlag skewerig, vat haar hand opeens stewig vas sodat sy vraend opkyk.

“Wil . . . wil jy dan nie?” vra sy sag en hy sien die donker blos in haar nek opslaan.

Vertedering swiep deur hom. Sy is so weerloos, so geheel en al meisiemens. Hy sal versigtig moet wees. Sy dink emosie werk soos die vlam van ’n aansteker: Knik-knak. Aan en af.

Hy sug diep, maak sy oë toe en buk vinnig af, druk ’n skrams soen op haar roomwit skouer. Die vet weet, as sy oog nou daardie rondings vang, is dit verby met hom. En dis nie wat hy beoog nie. Nie nou al nie.

“Pietman?” Hy hoor die trane in haar stem.

“Ek wil,” sê hy en sug weer, sit terug en kyk haar vas aan. “Maar eers wanneer die tyd reg is.”

Toe trek hy haar aan albei skouers nader en soen haar weer. Soen haar totdat die twyfel en die effense gekrenktheid weg is. “Surita, ek is outyds. Of nee, eintlik is ek baie modern. Ek neem my eie besluite. Niemand sê my voor nie. Net die Woord. En ek wil nie egbreuk pleeg nie.”

“Maar . . . ons is nog nie eens getroud nie! Daar is geen sprake van egbreuk nie!”

“Daar is, ja,” sê hy ferm. “Ek wil juis nie by die huwelik inbreek nie!” Daar’s hy! Dis gesê. Hierdie ding wat nou al maande lank in ons nek blaas en ons albei verwar, het tot ’n punt gekom.

Hy sien hoe die óú kommerfronsie as diep dinge ter sprake is, tussen haar oë saamtrek. En hy gee haar kans om haar antwoord agtermekaar te kry. Miskien begin ek haar nou verstaan, dink hy en leun terug teen die bank, sy vingers agter sy kop ineengestrengel. Sy het tyd nodig om my soort sêgoed te verwerk. Later sal dit makliker gaan. Yster slyp mos yster – so staan dit geskryf.

Surita skud haar hare terug, trek skugter aan die rand van die trui sodat dit weer op haar skouer sit. Toe sê sy met stugge nadenke: “Jy is tóg lief vir my, nie waar nie?”

“Ek . . . voel ernstig oor jou,” antwoord hy effens stram. Dink: Deksels! Nou moes ek gesê het: Ek hét jou lief, Surita! Baie lief. Liewer as myself! Maar hoekom kom die woorde dan nie?

Hy byt opeens sy lip vas. “Ag, tj! Ek druk myself swak uit, jy weet mos!”

Tot sy innige verligting glimlag sy, streel met haar hand oor sy opgetrekte knieë. “Vir seker, ja, maar miskien is dit beter so. Ek dink nogal jy’s eintlik die macho tipe. Stil en sterk. En soms ru.”

“Sjoe!” Hy lag. “Dit klink gevaarlik baie na ’n sepiekarakter! Net skuim – en as die wind dit skep, is daar niks!”

“Toe nou, dis nie wat ek bedoel nie! Buitendien klink jy nou erg teatraal!” sê sy.

“Ek wou eintlik ernstig klink, Surita. Dis hoog tyd dat ons praat. Ek . . . ons kan nie maar net so aankarring nie.”

Sy vou haar arms driftig oor haar bors, maar haar oë ontwyk hom. “Dis wat baie van ons vriende maar doen, hoor. Veral as hulle reeds weet hulle gaan eendag trou.”

Pietman kyk haar ongelowig aan, sit orent en vou sy arms om sy knieë. En toe kom die woorde – nie dié wat hy weet sy wil hoor nie, maar sy eie, eie woorde wat in sy bloed en sy gebeente is: “Surita, die massa laat my koud. Of hulle saamslaap, skeel my nie. Ek het jou gesê ek is my eie mens. En ek wil nie voor die huwelik seks hê nie. Jy eintlik ook nie . . .”

“Ek dag jy gee om vir my!” val sy hom in die rede en vir die eerste maal dat hy haar ken, drup daar trane oor haar wange sodat sy dit met ’n ergerlike gebaar wegvee. “Ek dag jy wil eendag my man wees! Ons . . . ons is albei grootmense en teen dié tyd behoort jy mos te weet!”

Die woorde ruk hom soos daardie aand toe oupa Murray hom kom sê het dat sy pa eindelik dood is ná ’n ses maande lange lyding. Hy voel onverklaarbaar verpletter. Binnekant rou en buite broos. Want dis ook so ’n oopruk-situasie hierdie. Al is dit skoon anders as daardie aand toe hy gehoor het sy pa is weg om nooit weer te kom nie. Dit voel kompleet asof hy afkyk en sy hart rooi tussen sy ribbes sien pomp. Toe hy praat, is sy stem hees.

“Surita . . . Ek weet dat ek ernstig oor jou voel, maar ek weet niks van die toekoms af nie.” Die drif kom terug in hom en sy hande praat saam: “Ek het ’n probleem met dié wat so maklik sê hulle gaan mos eendag trou. Hoe weet hulle wat voorlê?”

“Hoe weet ’n mens jy gaan nie eendag skei nie?” kap sy terug, haar wange bloesend.

Hy kyk lank na haar, toe trek hy haar nader tot sy weer teen sy bors sit, haar kop in die holte van sy nek.

“’n Mens weet nie, Surita. ’n Mens weet eintlik niks. Daarom verkies ek om nie slimpraatjies te maak oor diep dinge nie. Ek verpes filosofietjies en pasklaar antwoorde. En . . . ek weet goed dit word as intellektueel naïef beskou as jy die Tien Gebooie te ernstig opneem. Maar vir my is dit veel makliker as om maar net voort te vaar in die hoop dat alles eendag maar reg sal uitwerk!”

Sy is ’n rukkie stil, toe sê sy huiwerig, half kinderlik: “Ek glo ook wat in die Bybel staan, maar . . .”

“Maar?” por hy.

“Maar ek dink jy’s te doktrinêr,” sê sy afgemete en hy kon voel hoe haar liggaam met elke woord strammer raak. Sy haat die gesprek, weet hy meteens weer. Sy wil nie oor dinge tob nie. Sy wil liefs op ’n golf ry in die hoop dat dit nooit sal breek nie. En sy is onredelik bang dat hul verskil in sienswyse ’n breuk tussen hulle sal veroorsaak. Hy weet ook waarom: Voor sy geestesoog sien hy hoe haar ma se netjiese kapsel op en af knik as haar pa iets kwytraak. Hy wat Pietman is, het hulle nog nooit oor enigiets hoor verskil nie. Maar Surita moet dit al gehoor het. En leer vrees het.

Hy sug en vat haar bos glansende hare tussen sy hande was, streel oor die brose vorm van haar kop.

“Ek is jammer,” sê hy opreg, “maar dit is hoe ek voel. En dit kan tog geen kwaad doen om te wag nie, kan dit?”

Sy vryf haar kop teen sy palms, sê gelate: “Nee, seker nie. Dis net dat ek dink jy is baie, baie sexy!”

Die óú opwinding swiep deur hom, vang hom onkant toe sy opkyk en haar mond vir hom hou. Hy soen haar gedagteloos, moeiteloos soos die gladde spasma van ’n brander wat wil breek. En net vir ’n oomblik stem hy met haar saam: hy wat Pietman is, is hopeloos te konserwatief. Hy hoort in ’n museum. Hier het hy ’n dierbare en gewillige meisie in sy arms. Die wêreld sal nie ophou draai as . . .

Maar dis dié gedagte wat hom in vlak water laat strand en hy lig sy kop om asem te skep. Dis mos wat oupa Murray ook altyd sê as hy wat Pietman is, met hom korswil: “Nee, die wêreld sal nie ophou draai as jy die wet oortree nie, my kind, maar die kans dat hy jou sal afgooi, is groot.”

“Ons moet liewer gaan slaap,” sê hy en staan in een beweging op, trek haar saam. Sy stribbel nie teë nie, glimlag net geheimsinnig soos ’n vrou wat weet wat sy weet. En hy wys vinger vir haar. “Jy’s stout, hoor!”

“Miskien.” Sy lag openlik en stap swaailyf die vertrek uit. Dis toe Pietman al in die bed lê dat hy half lui op die bedkassie rondtas na sy sakbybeltjie. Hy blaai na 1 Korintiërs 1. En hy lees: “Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie?”

Hy lê lank en dink – en toe hy slaap, is dit om te droom van oupa Murray wat in sy studeerkamer op Potch sit. Hy druk met ’n voorvinger op die noordelike as van die groot aardbol wat altyd op sy lessenaar staan. Met die ander vingers tik-tik hy sodat die aarde al vinniger draai. “Klou, Pietman,” sê hy. “Klou of jy’s jou staanplek kwyt.”

Helene de Kock Omnibus 4

Подняться наверх