Читать книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock - Страница 7

4

Оглавление

Die laaste vakansiedae is droomlekker. En Pietman moet toegee tante Yvonne is nou wel ’n plesiervraat, soos wat Keppie sou sê, maar sy doen werklik haar uiterste bes om alles so aangenaam moontlik vir Pietman en Surita te maak. Dis sy wat daarop aangedring het dat hulle drie die laaste paar dae by tante Juliette, oom François se suster, deurbring. Toe sy dit aangekondig het, het Pietman se moed by voorbaat gesak. Nog ’n eindelose rondte van kastele, restaurante en museums. Maar hy was verkeerd. Tante Juliette, ’n klein vroutjie met die wakker ogies van ’n mossie, se eeue oue huisie binne die Middeleeuse mure van Autun is ’n snoesige hawe. By hul aankoms het sy ’n sappige bredie vol klein uitjies en sampioene saam met ’n volronde rooiwyn opgedis. Die smullekker kos het die snerpende, Boergondiese sneeudag buite gehou en die wyn het hul binneste warm gemaak. Dit het Pietman met ’n heerlike, loom belangstelling laat luister na die gebroke Engels waarin sy hulle vertel het dat Autun deur keiser Augustus sélf tien jaar voor die geboorte van Christus gestig is. Pietman kon dit goed glo, want vandat hulle die ou gedeelte van Autun binnegery het, het die wêreld buite gebly. Die lewe het soos poeding gestol vir hom en Surita. Selfs tante Yvonne het hulle laat begaan en heeldag saam met tante Juliette gesit en gesels. En hulle was vry om soos die luim hulle lei, die ou huisie met sy rooibruin, mosbedekte dakteëls te verlaat en al met die nou stege langs te slenter. Dit was ongelooflik vredig om af te stap na die sentrale dorpsplein, die Champ de Mars, en by die Auberge de la Bourgogne worsies met mosterd en wyn te eet, hande vas te hou oor die breedte van ’n tafel terwyl die ure verbytik en die lewe luiweg vanaf oormôre wink . . .

Saans speel hulle skaak met ’n oeroue marmerstel voor ’n groot kaggel terwyl die ouer vroue gapend en glimlaggend toekyk. Pietman kon hom amper verbeel dat hy hier gebore en getoë is. Eg Boergondies in murg en been. Hy het selfs die streekdis van slakke, gestop met knoffel, pietersielie en sampioene, begin geniet. My ou, sou Keppie kopskuddend gesug het, jy laat toe dat die genietinge van die lewe jou verlei. Kry jou brein in rat, Pieta. Sien jy dan nie wat aan die gebeur is nie? Die meisiekind en haar eienaardige tantetjies spin ’n web om jou. Maar sulke gedagtes waai Pietman met ’n handgebaar weg. Hy loop die laaste yskoue oggend saam met Surita uit strate toe om vir oulaas te drentel.

Hulle stap na die suidelike hoek van Autun waar die katedraal van St-Lazare troon. Tante Juliette het gesê hulle moet daarna kom kyk – want dan sal hulle besef dat die Middeleeuse mense glad nie so verkramp was as wat algemeen gedink word nie! Pietman lag hardop toe hy sien wat sy bedoel het. Daar is ten minste vyftig naakte standbeelde in die dertiende-eeuse kerk. Maar Surita stap nader, staar kop agteroor na die kunswerke.

“Dis mooi, Pietman . . .” betig sy half huiwerig, stap aan na die westelike deur. “Kyk, hier staan die naam van die kunstenaar . . . Gislebertus hoc fecit. Wat . . .”

“Ha! Vra ’n regstudent! Dit beteken hierdie Gyselbert-ou het dit gemaak,” val Pietman haar in die rede. “En hy het bepaald ’n oog gehad vir sulke dinge!” Maar hy sit ’n paaiende hand op haar stywe skouer. “Natuurlik is dit mooi, Surita. Die mens se liggaam is wónderlik mooi. Ek lag maar net omdat jou tante Juliette so ’n wakker vroutjie is! Sy sál dit snaaks vind dat ’n Middeleeuse kunstenaar hierdie klomp goedbedeelde mense so eksplisiet kon uitbeeld!”

Surita wil nog verder gesels toe ’n klompie toeriste met ’n lawaaierige gefluister by die hoofdeure inkom en sy kyk gesteurd agtertoe. Haar mond gaan oop en sy trek haar asem hard in. “Pietman! Pietman, daar’s . . . Keppie!”

Hy kyk eers doodverstom, half bekommerd af na haar en toe tuur hy dieper die skemerige katedraal in. Maar die groepie toeriste maal half onbelangstellend tussen die pilare en arkades deur en nie een van hulle lyk hoegenaamd soos Keppie nie. Trouens, dis heel duidelik dat almal van hulle uit die Verre Ooste hierheen moet gereis het.

“Nou’s hy weg! Regtig, hy . . .” stamel Surita en tas vervaard na Pietman se arm. Hy vat haar hand stewig vas en lei haar by die naaste deur uit in die vaalwit lig van die winteroggend.

“Kom, ek dink jy het vars lug nodig!” sê hy half ergerlik. Maar sy pluk haar arm weg, haar oë wyd gerek.

“Dit wás Keppie! Ek is seker daarvan!”

Pietman blaas sy asem so hard uit dat sy lippe bol staan, lig sy hande tot op sy heupe. “En wat sal hy altemit hier in Autun maak?”

“Hoe moet ék weet?!” kap sy vies terug, haar kleur hoog. En toe hy haar steeds kopskuddend bekyk: “Goed dan . . . Hy was so skuins agter daai lot wat so geraas het. Ag nee! Ek weet dit klink dol, maar dan moet Keppie se identiese tweelingbroer seker maar hier iewers in Frankryk wees, want nou die aand by La Pomponnette het dit ook soos hy gelyk!”

“Genoeg,” sê Pietman kalmpies en vee haar hare agtertoe, plant ’n soen op haar koue mond. “Vergeet dan maar van Keppie. Wat jou aanbetref, bestaan daar nie so ’n persoon nie. My vriendskap met Keppie is die een ding wat ek en jy nooit sal deel nie!” En toe sy nog wil protesteer, sit hy saggies drie vingers op haar lippe. “Nee, Surita, bly liefs doodstil. Ek sien nou dat Keppie jou werklik ontstel. Ek sal nie weer voor jou van hom praat nie, al sal ek hom beslis weer baie sien! Reg so?”

Sy pers haar mond obsternaat saam maar hy kyk haar vas aan. Oplaas is dit sy wat wegkyk en effens skouers ophaal. “Orraait. As jy my nie wil glo nie, dan moet ek dit maar so aanvaar.”

“Ek glo jou,” sug by geïrriteerd, “maar ek glo nie dat dit juis Keppie was wat jy gesien het nie!” En toe sy nog wil asem intrek, neem hy haar aan die hand en trek haar saam oor die nat straat. “Kom ons gaan kyk na daardie Romeinse ruïnes waarvan jy gisteraand gepraat het!”

Sy stap sonder ’n woord saam. Hulle loop al langs die ou Romeinse stadsmuur tot by die verbrokkelde ruïnes van ’n ou Romeinse teater. En Pietman betrap homself dat hy nou en dan skigtig omkyk. Wat makeer jou? betig hy homself. Keppie is iewers in songebakte Suid-Afrika saam met sy pa op ’n padroller, besig om gruis in gesmelte teer in te trap, of so iets . . .

“Vreemd dat daar so min van iets groots kan oorbly, nè,” sê Surita wrang toe hulle by die paar verkrummelde sitplekke langs die nat pappery van die huidige voetbalveld staan. “Om te dink hier was eens plek vir vyftienduisend mense!”

“Hm,” mymer Pietman, “maar tante Juliette sê mos darem die dorpie se ou Romeinse geskiedenis word elke somer hier gerekonstrueer, nie waar nie?”

“O ja,” glimlag Surita, “daar neem glo oor die seshonderd dorpsinwoners deel daaraan. Dis trouens ook iets waaroor ek met jou wil praat.”

“Ja?” sê hy ingedagte en sy oë streep al met die kantlyn van die voetbalveld langs toe hulle omdraai om terug te stap. Maar daar is niemand nie en hy vra weer: “Ja . . . ?”

Sy lag opeens, druk sy hand in albei hare vas. “Ek is bly jy stem sommer klaar in. Want jy móét net ja sê, Pietman! Tante Juliette wil hê ons twee moet weer Juliemaand kom as die opvoering hier in die ‘Théatre Romain’ plaasvind. Sy neem ook altyd deel. Dié jaar is sy ’n ryk Romeinse edelvrou!”

Pietman skater dit terstond uit. Hy kan hom die wakker, voëltjiegesiggie van die ou dame kwalik onder ’n antieke hooftooisel met lang lokke voorstel. “Dit sal ek gráág wil aanskou! “ proes hy.

“Nou ja, dan kom ons!” lag sy ingenome. Op pad terug na tante Juliette se huis gaan sy opeens staan, vat albei sy hande en druk die koue vingers teen haar warm keel vas, kyk koket op in sy oë. “Is jy gelukkig, Pietman?” vra sy uit die bloute.

Gelukkig . . . ? wonder hy half vervaard. Seker tog, ja. Op hierdie oomblik en op hierdie vrieskoue plek, met sy hande knus in sy meisie se sagte greep, is hy wel gelukkig. Hy glimlag skewerig, knik net.

“Dan is ek bly,” sê sy en huppel-stap vinnig vooruit sodat hy moet draf om by te bly. Hulle kom uitasem tuis aan. Tante Yvonne is al aan die inpak, beduie dat hulle môre maar vroeg sal moet terug Parys toe, want dan is dit nog net ’n paar uur voordat hulle twee op Charles de Gaulle moet wees om die vliegtuig te haal. Maar gelukkig kom hulle sommer gou weer, straal tante Juliette. En dis toe dat Pietman besef dat die drie vroue mos lankal die plan gesmee het. Hy het self geen besluit geneem nie; hy is net ingelig. Maar tog, dink hy toe hy in sy dakkamertjie aan die pak is, waarom nie? Dit sal lekker wees om Juliemaand weer te kom. Hy kan selfs daaraan dink om sy ma te vra om saam te kom. Dis hoog tyd dat sy en Surita se mense mekaar beter leer ken. Dalk kom sy beter klaar met tante Yvonne en die vrolike tante Juliette as wat tot dusver die geval was met die stywe, beuselagtig korrekte Mariaan Otto.

Maar dwarsdeur die lang vlug huis toe maal die wete in hom: hy wat Pietman de Waal is, dans soos ’n willose toutjiespop op maat van ’n wysie wat vir hom voorgespeel word. Ag twak, keer hy sy gedagtes op ’n kol vas, moenie dat klein dingetjies jou so bodder nie. Die meisiekind is lief vir jou. Sy doen alles binne haar (fenomenale!) vermoëns om die lewe vir jou lekker te maak. Waardeer dit dan nou . . .

Asof hy die seël op dié gedagte wil sit, buig hy oor na haar toe en soen haar skrams op die wang. Van haar syige hare kleef aan sy lippe vas en hy vee die goudblonde drade met sy vingertoppe weg. “Dis lekker by jou,” sê hy toe sy vraend opkyk van die tydskrif wat sy lees. Sy glimlag en tik hom speels oor sy knieë, tuur meteens verby hom deur die ronde venstertjie na wolkmassas ver onder hulle. Toe vra sy sag: “Wanneer sien ek jou weer, Pietman?”

Hy kyk na haar vol mond se roering en sê roekeloos: “Sommer baie gou! Ek gaan net ’n week of wat by my ma bly om haar hart tevrede te maak en dan sal ek op Goue Kring kom kuier. Reg so?”

“Hm . . .” antwoord sy luiweg, laat sak haar kop agtertoe teen die sitplekleuning. “Dan moet ons die reëlings vir gradedag bespreek. Ons kan dit tog nie sommerso laat verbygaan nie. My ma het lankal al gereken ons behoort ’n groot opskop te hou.”

“Waar nogal?” vra Pietman en sonder dat hy mooi weet waarom, stoot daar ’n suwwe moedeloosheid in hom op. Hier gaat dit al weer . . .

“Wel, wat daarvan as jou ma en my ma ’n bietjie saamgesels en op ’n plek besluit? Sê nou maar by Diep in die Berg, of so?”

“Goeie plan,” antwoord hy neutraal. En dink: Laat ek my hier uithou. Dis die vroumense se ding hierdie. Wat maak dit saak waar ons gaan paartie hou? Die hoofsaak is dat ek my graad gevang het. Die geweldige verligting toe hy huis toe gebel het om sy ma te hoor lag en huil oor die uitslae, laat hom nou nog hoendervleis kry. Hulle was ’n week of twee in Parys toe Tuks se eksamenuitslae gekom het en hy en Surita het albei staan en rondtrippel by die telefoon. Hulle het mekaar vasgegryp en rondgedans totdat selfs Jeanne met haar suur glimlaggie begin giggel het. En dit was een van die min kere dat hy en Surita alleen kans gekry het om weg te glip en dit te gaan vier. Hulle het hand in hand in die Champs Elysées gaan wandel, kort-kort op die bankies onder die nat bome gaan sit en sommer net gelag. Later het hulle ’n fortuin betaal vir twee biere en lustig ’n heildronk gedrink op sy B.Proc. en haar geslaagde B.A.-jaar. Maar iewers in sy gemoed was daar ’n skadu. Sy ma het niks gesê van Keppie nie. Nie dat dit nodig was nie, want hy het mos geweet sy ou pêl gaan dit nie maak nie. Maar hy het nogtans – teen alle hoop in – gehoop dat Keppie se naam darem ’n slag die koerant sou haal. Vreemd tog, hoe ’n diep en vaal verdriet soms saam met die omgee-vir-ander kom. En hy gee wragtig om vir Keppie, dink hy en maak sy oë met ’n suggie toe, hoor hoe Surita rondblaai in die tydskrif.

Toe hy wakker word, sak die vliegtuig om te land en Surita draai met ’n lang gaap na hom toe: “Onthou nou . . . om met jou ma te praat oor die gradedagviering!”

My gradedag, wil hy teëkap. Myne. Nie óns s’n nie. En ek wil dalk nie eers ’n paartie hê nie. Dis heeltemal genoeg om net bly te wees. Maar hy swyg. Stap twintig minute later saam met die ander passasiers af om sy ma en oupa Murray hartlik om die hals te val. Dis toe hy haar ’n tweede maal vasdruk dat hy eers opmerk dat Saul en Mariaan Otto ook nader staan met Surita knus tussen hulle. Saul hou sy groot hand na hom uit en sy vrou haar pienk gebloste wang. Pietman druk en pik soos wat van hom verlang word; knipoog vir Surita wat die prosedure met ’n goedkeurende glimlag beskou. Daar volg ’n skattige onderonsie waartydens die vroue vreeslik vriendelik nuus uitruil – maar toe vat oupa Murray Pietman se boarm stewig was en sê in sy moenie-sukkel-nie gromstem: “Dit was gaaf om u te ontmoet. Anita het my al vertel van Surita se gawe mense. Maar nou moet ons gaan.”

Wonderlik om ’n oupa te hê, dink Pietman en maak asof hy nie die ligte irritasie in Surita se groot kykers gewaar nie. Wat sal sy nou ook weet van die geborgenheid wat ’n oupa kan gee. Sy blote teenwoordigheid maak alles sommer makliker. Die Otto’s se opgeblasenheid lyk opeens heel belaglik en selfs die sensuele erns waarmee Surita na hom kyk, is eensklaps van minder belang. Dis nou van oupa Murray, dink Pietman – hy het ’n vermoë om ’n mens perspektief te gee op ’n situasie.

En toe almal oplaas gegroet en weer gedruk het, sê hy dit vir hom. Die ou man gee ’n grinterige laggie en stoot sy benerige vingers deur sy grys krulkuif. “Ek is bly, Pietman. As ek vir jou enigsins kan lig werp op dinge, is ek regtig baie bly!”

“Hoe is Mams so stil?” vra Pietman toe hy agter die wiel van haar groot Duitse motor inskuif en hy na haar loer in die truspieëltjie. Hy is net betyds om te sien hoedat sy haar vingers op haar mond druk. So asof sy die bewing van haar lippe moet vasvat. En meteens, na al die maande van wonder-en-nie-weet-nie, kan Pietman dit nie hou nie. Net daar in die parkeerterrein van die lughawe draai hy hom dwars in die motor.

“Wat is fout?” vra hy pylreguit en dis na oupa Murray wat hy kyk.

Die ou man se blik wyk nie voor syne nie. Hy skud net meewarig kop. Toe sê hy: “Dis baie goed dat jy dink dat ek perspektief kan gee. Want nou gaan jy dit baie nodig hê.” Sy knopknieë in die donker strepiesbroek sak effens uitmekaar en hy vou sy lang arms voor sy bors. En Pietman hoor duidelik hoe ’n skor snik hier agter hom uit sy ma se keel glip. Ook oupa Murray maak eers keel skoon voordat hy praat en dis of die krapgeluid in Pietman se ore eggo. “Luister, seun, daar het iets gebeur wat ’n groot verandering in jou en jou ma se lewe tot gevolg gaan hê.”

“Wat . . . ?” fluister Pietman met ’n droë mond en sy vingers vou vanself snaarstyf om die ronding van die stuurwiel.

“Die besigheid het ’n onherstelbare knou gekry. Fotoland het gevou. Al drie ateljees. Daarby het die twee tuisnywerhede ook teëspoed opgetel.” En met ’n onverwagte woedeklank: “Alles net omrede ’n sekere, één persoon die finansies hanteer het.”

Fotoland én Lekkerland . . . ! Sy ma se suksesverhale.

“Nee!” sê hy. “Dit kan nie wees nie! Ma se besigheid was nog altyd gesond. Die ateljees en die koswinkels is dan so suksesvol!”

“Wás suksesvol,” knip oupa Murray hom ferm kort. “En jy hoor nie wat ek sê nie. Janet du Plooy, wat die meesterbrein van jul finansies was, het lang vingers ontwikkel.”

“Tante Janet?” fluister Pietman skor.

“Mevrou Du Plooy, ja. Dieselfde een wat al jou ma se kreatiewe idees opgeslurp en daaruit geld gemaak het.”

“Pa . . . moenie . . .” probeer Anita de Waal keer, maar haar stem stok en Pietman steek blindelings ’n hand na agter uit. Sy vat dit vas en hy voel hoe warm trane op sy pols drup. En vir die eerste maal sedert hy grondgevat het, steek ’n verskriklike vermoede sy lelike kop uit. Hy moet twee maal sluk voordat hy kan praat.

“Beteken dit . . . dat . . .”

“Ja, ons is bankrot.”

Dis sy ma wat gepraat het – en die woorde swel die hele kajuit vol, walm teen die windskerm aan en maak hom doodsbenoud sodat hy sy venster afdraai en lang teue van die warm middaglug insuig. Daar is ’n lang, lang stilte en toe sê oupa Murray sugtend: “Kom, laat ons ry. Ons kan by die huis verder praat.”

Pietman bestuur soos ’n outomaat, moet met alle mag sy aandag by die verkeer probeer bepaal. Hy is onnoemlik verlig toe hulle eindelik sy ma se meenthuis in Northcliff binnestap. En die heel eerste ding wat hom soos ’n vuis in die maag tref, is die kartondose wat oral rondstaan. Die ouer mense sê niks, staan net langs hom en oplaas steek sy ma ’n skigtige hand uit om sag aan sy skouer te raak. Maar dis toe dat oupa Murray hom stewig aan die arm neem en maak sit op die naaste regop, antieke stoel in die portaal.

“Jy is klaar ’n man,” sê hy kortweg. “En dis tyd dat jy leer om die klappe te vat wat ’n man soms kry. Ek is baie jammer, Pietman, maar bankrotskap het verskeie minder aangename implikasies. Een daarvan is dat die huis verkoop word. Dan is daar die motors en die meubels, die juwele en die skilderye.”

Pietman hou skielik ’n hand op, kom stram orent uit die stoel en voel die wêreld draai, draai, dráái.

“Dis . . . nié regverdig nie!” bars die woorde oor sy lippe en hy gryp met een hand na die rugleuning van die ou en skielik dierbaar bekende stoel. “Dis nie rég dat tante Janet dit oor ons gebring het nie!”

“Nee, natuurlik nie,” antwoord oupa Murray met die onbewoënheid van ’n regsprofessor, “maar niemand het ooit gesê die lewe is regverdig nie!”

“Maar,” stamel Pietman, “daar moet tog ’n manier wees om . . .”

“Alles te herstel?” vra oupa Murray met die glimp van ’n glimlag in sy grys oë. Toe tree hy nader aan Pietman en sit ’n hand op sy skouer. “Daar is, ja. Maar nie soos wat jy beplan nie. Jy sien, dis soos wanneer glas breek. Jy kan las en plak, maar dit sal nie werk nie. Jy kan wel ’n ander glasstuk gaan koop.”

Pietman se kop ruk ergerlik op.

“Dis tog belaglik!” stry hy pervers. “Kóóp is mos buite die kwessie!”

Maar professor Murray is oud en der dagen wys. Hy glimlag net skeefweg vir Pietman se magtelose tirade.

“Koop met silwer en goud is buite die kwessie, my kind. Maar jy kan leer koop met jou hart en met jou gesindheid.”

“Ek verstaan nie,” sê Pietman bot – maar in die helderte van hierdie seer oomblik, sien hy tog wat sy oupa bedoel. Alles gaan verander, en hy sal moet aanpas. Tot sy innige konsternasie begin sy onderlip beef en hy moet wegdraai van hulle. Hy stap blindelings deur die huis, hoor hoe sy ma doenig raak met die ketel en koppies in die kombuis en hoe oupa Murray ’n stoel uittrek om by haar te sit. Oral sien hy dieselfde ding. ’n Huis in die teken van vertrek. Selfs sy goed is al netjies in bokse gepak en die kamer waarin hy grootgeword het, is leeg en onpersoonlik. Selfs sy plakkate van kriekethelde uit sy hoërskooldae is afgehaal en opgerol. Hy gaan sit op die kant van die bed en laat toe dat daar trane uit sy oë loop. Dit brand sy wange en hy vee dit hardhandig met sy vuiste weg, dwing homself om te dink. Logies en analities soos wat hy geleer is om te dink. Sy blik tas sentimeter vir sentimeter oor die kaal mure, die leë venster wat uitkyk op die digbegroeide klein patio, die los, geweefde mat wat klaar vasgebind is. Die weggaan is hiér, besef hy. Dinge is baie verder gevorder as wat hy ooit kon vermoed. Hulle het dit vir hom dig gehou om redes wat hy ineens kan begryp. Daar was die eksamen en daar was die vakansie saam met Surita wat hulle klaarblyklik vir hom ongeskonde wou laat geniet. Maar hy weet nou ook waarom byna alles wat sy ma in die laaste tyd gesê het, so melankolies geklink het. Sy het hierdie ding sien kom en sy was magteloos . . .

Hy vlie meteens op, maak ’n vuis en slaat dit donderend teen die kasdeur vas, byt op sy tande totdat sy kieste pyn. Die verpeste, mislike tante Janet. Hy het nooit juis van haar gehou nie. Sy gee die indruk van seepgladde bekwaamheid; van iemand wat net die beste wil hê en dit dan vasgryp. Aanvanklik het dit Pietman nogal geïmponeer – dié vriendin van sy ma wat so breedsprakig is oor wat alles met geld gedoen kan word. Want sy het nie net gepraat nie. Anita de Waal het die kreatiewe idees gehad, soos sy oupa gesê het, en Janet het dit help vergestalt. Sy het die geld wat Pietman se pa aan hulle nagelaat het, geneem en ’n baie lonende besigheid op die been gebring. Eers net die tuisnywerheid. Toe nog een en later die ateljees. Met die jare saam het hy en sy ma nie eens meer gewonder oor tante Janet se flair met geld nie. Nee wat, sy was bekwaam. Té bekwaam, dink hy nou en voel die emosie weer opdam in sy bors. Die vrou se flair was toe al die tyd ’n flirtasie met die wortel van alle kwaad.

Lank staan hy nog so. En hy wag dat die skrik moet krimp. Maar die impak was te groot. Hy moet nou eers weer met sy ma en sy oupa praat of in trane uitbars. Hy hol die trappe af soos duisende male vantevore, kry hulle by die teepot wat al half gedrink is. Sy ma kyk skaars op, gooi luiters vir hom ook in toe hy gaan sit. ’n Ruk lank drink hulle net in suwwe stilte. Toe vra Pietman: “Wanneer moet ons hier uit?”

“Oormôre,” antwoord sy ma. “Ons sal dit juis vanaand bespreek as my prokureur hierheen kom. Maar voordat ek vergeet – Keppie het gebel toe jy in Frankryk was. Hy het ’n boodskap vir jou gelaat.”

“Wat . . .?” vra Pietman half lusteloos.

“Net dat hy nie weer teruggaan Tukkies toe nie. Hy het glo ander planne.”

Dit skok Pietman terug grond toe. “Wat?!” vra hy weer en sy koppie rinkel in die piering.

“Ja,” sê oupa Murray sag maar beheers. “En Pietman, jy kan ongelukkig ook nie weer teruggaan Tuks toe nie.”

Helene de Kock Omnibus 4

Подняться наверх