Читать книгу Bos - Jaco Wolmarans - Страница 10

8

Оглавление

Letaba-laeveld, 4:40 vm.

Dis yskoud in die romp van die Oryx. My tande klapper – en nie alleen van die rotors se vibrasie nie. Ek vou my arms om my bolyf in ’n poging om hitte te behou. Ek skat ons het nog so veertig minute vliegtyd oor voordat ons op die basis land.

Buite gloei die dag se begin blou op die horison. Nog minstens ’n uur voor sonop. ’n Donker see van mopanie-, loodhout- en koorsbome strek na die ooste.

Oorkant my sit Helena, teruggeleun teen die wand. Dit is net ons twee agter in die helikopter. Die geraas is van só ’n aard dat dit feitlik buite die kwessie is om ’n gesprek te voer, selfs met kopfone op. Nie dat ons enigiets vertrouliks sou kon bespreek terwyl die vlieënier en vlugingenieur ons oor die stelsel kan hoor nie. Of dat ek of sy lus is vir gesels nie.

Sy is dig toegewikkel in die wolkraagbaadjie wat sy met ons eerste ontmoeting gedra het. Sedert ons by die Waterkloof-lugmagbasis opgestyg het, het sy beswaarlik ’n woord gesê, haar oë meestal op die Oryx se metaalvloer gerig. Of toe, asof sy slaap.

Die skemerlig vlei haar gelaatstrekke. Sy’s nogal mooi, ondanks die effe harde trek om die mondhoeke en fyn plooitjies om die oë; tekens van haar wêreld waarin konstante, kritiese waarneming en ontleding so maklik sy merk op die gelaat los.

Agter in die Oryx lê die vragte toerusting waarvoor ek gevra het. In die sakke, kratte en kartondose is ons proviand, klere, ammunisie, wapens en rugsakke. Tot my ontsteltenis het my gebruiklike medium-grootte uniform ietwat styf gepas. Daar wag ’n harde drie weke.

Vir wapens het ek AK47’s getrek. Betroubaar, akkuraat en volop in Mosambiek, sodat dit nie onnodig aandag sal trek nie. Ook Makarov-pistole vir nabywerk, in huise of motors. Dan olyfgroen uniforms, generies, sonder enige kentekens wat dit met die land van oorsprong kan verbind.

Ek laat nogmaals my gedagtes gaan oor Carlos se onverklaarbare ommekeer. Ek het tydens die inligtingsessie niks oor die oorsprong van die Kalingono-skuilnaam gesê nie – en sal ook nie voor ek uitpluis hoe dit in die prentjie pas nie.

Sedert ons vertrek uit Waterkloof het ek reeds die verskillende scenario’s wat tot so ’n ommekeer kon aanleiding gee, oor en oor probeer ontleed. Deels om my fokus te behou en Liesl se dossier vir eers eenkant toe te stoot.

Ja, ek het Carlos jare laas gesien, en ja, baie dinge kon in daardie tyd met hom gebeur het. Maar genoeg om hom korrup te maak? Om mag vir eie gewin te begin misbruik? Mense word deur motiewe gedryf. Vir ’n waardestelsel om te verander, moet daar ’n geweldige sterk motief wees.

Geld is gewoonlik die eerste ding waarna jy kyk, en een wat ek onmiddellik verwerp. Dis nie Carlos nie. Of is dit? ’n Onverwagse paniekaanval omdat hy oud word en sy pensioen niks werd is nie? Het hy ’n geleentheid bespeur wat bloot te goed was om van die hand te wys? Ek weet darem nie … Carlos was regtig nooit gepla oor geld nie, het dit nooit uitgegee nie, want hy was feitlik heeltyd in die bos. Alles opgepot, seker.

Kon dit ’n nuwe beheptheid met mag gewees het wat hom laat swaai het – sodat hy ná jare van kneg wees ook ’n slag wou koning speel? Hoe sou so iets kon gebeur met iemand wat sy lewe lank in ’n bevelstruktuur opgetree het, wat die noodsaaklikheid van daardie dissipline verstaan en dit elke dag toegepas het?

Nee, ook dít klop nie. Hy het verskeie kere bevordering van die hand gewys omdat dit hom uit die bos sou haal en operasionele beplanning sou moes laat doen.

Ek begin al hoe meer glo dat Carlos gedros het. Verraad. Plain and simple. Dit wil my smaak hy het gerebelleer teen gesag, teen ’n waardestelsel wat nie meer met sy eie ooreengestem het en wat hy nie meer kon volg nie. Maar dit sou ’n episode van wrede ontnugtering geverg het, ’n yslike skok of trauma wat hom so ver kon dryf. En niks in ons intel dui daarop nie.

Ek skud my kop. Nee.

Dan vang ek Helena se blik, voordat sy vinnig wegkyk met ’n half-verleë glimlaggie. Ek wonder hoe lank sy al na my kyk.

Iets wil steeds nie pas nie. Ek’s redelik seker dat Carlos se verraad, as dít is wat dit is, ’n morele besluit was. Ek kan nog die beweegrede daarvoor insien, maar nie die gevolg nie. Want vir Carlos om kwaad met kwaad te vergeld, om stropers, renosters, wildwagters te skiet, selfs in opstand teen ’n gesag wat hy as onwettig of onregverdig beskou, is nie wie en wat hy is nie. Hy sou veel eerder verdwyn het as dit die geval was.

Nee. Ek ruik wraak. Dis die enigste, logiese verklaring. Waarvoor en waarteen weet ek nie, maar hoe meer ek daaroor dink, hoe meer is ek daarvan oortuig. Dit strook wel met sy persoonlikheid. Wraak is die faktor wat Carlos die mens, die operateur, geskep het. Eers ná drie jaar se operasies saam het hy my genoeg vertrou om my die storie te vertel.

Soos die meeste dinge in ons lewens daardie tyd, het dit iewers onder ’n bos gebeur.

Ons was op pad terug van ’n operasie naby Ohakapeke suid van die Kunene in ’n Kwêvoël-konvooi, toe die voorste voertuig ’n landmyn trap. Die voorste Kwêvoël was U/S, oftewel ondiensbaar. Een van die troepe het ’n lelike kopbesering opgedoen toe die voertuig rol, en die bevelvoerder moes ’n helikopter ontbied. Ons het ’n kordon gespan en vir ’n paar uur laaggelê terwyl ons op die Puma gewag het.

Carlos was langs my, in die skaduwee van ’n koedoebos. Terwyl ons ’n klompie fisante dopgehou het wat voor ons aan die skrop was, vertel ek hom toe van my kinderdae op die plaas, my jagtogte met die .22 – sorgvry, selfversorgend, ’n leeftyd tevore.

En toe tuimel ’n gedeelte van Carlos se verlede ook uit.

Sy pa, Enoch, was die skoolhoof op Lusibi in Angola, sestig kilometer noordoos van Katima Mulilo. Die area was destyds onder beheer van die FNLA, maar die pasgestigte Unita het toenemend steun gewerf. Die plaaslike bevolking het kwaai begin deurloop onder gevegte tussen ondersteuners van die twee bewegings. Die probleem is vererger deur die FNLA se politieke kommissaris in die gebied, ene Ric Vemba, volgens Carlos ’n baie ambisieuse speler.

Carlos was sewentien en verwar deur die verdeeldheid in die gemeenskap. Lang gesprekke met sy pa het hom polities bewus gemaak, en hy is diep geraak deur sy pa se filosofie van dialoog eerder as geweld. Hoe ironies.

Alles het in een dag verander.

Enoch wou as gemeenskapsleier die plaaslike bevolking help beveilig en het hom deur Vemba laat oorreed om ’n bemiddelingsrol te speel. Dit sou beteken dat Vemba se eweknie in Unita die vergadering moes bywoon. Enoch het ingestem en kontak gemaak met die Unita-rebelle. Ná dae se onderhandelings het hy die beweging se plaaslike leier, Joshua Ritanda, oorreed om ’n vergadering op ’n neutrale plek by te woon.

Ritanda het in ’n FNLA-lokval ingestap – een waarin Enoch Viyera ook doodgeskiet is toe hy Ritanda probeer beskerm het. Vemba het dit nie daar gelaat nie; hy en sy moordbende is dadelik terug na Lusibi, waar hulle Unita-ondersteuners en hul gesinne voor die voet afgemaai het. Onder meer Carlos se ma en suster.

Ek het nie uitgevra oor hoe die vroue gesterf het nie, en Carlos het nie uitgebrei nie. Maar ek kon raai. Hy was stil vir ’n minuut of twee, en ek kon uit die hoek van my oog sien hoe hy sy emosies in toom probeer hou.

“Foi um dia trágico, Tex!” Dit was ’n tragiese dag. Sy stem het gebewe en ek probeer help:

“Waar was jy toe dit alles gebeur het?”

“Ek was in ons huis. Maar ek kon die skote in die veld hoor. Baie. Muitos tiros. Dit was naby die dorp. My pa het my gesê waar die vergadering sou plaasvind. Hy wou nie dat ek saamkom nie. Toe hardloop ek, o mais rápido que pude. Dit was te laat, ek het dit geweet. Mas Deus sabe, God weet, ek moes daar uitkom, ek moes dit met my eie oë sien.

“Hoe verder ek gehardloop het, hoe meer was ek seker dit was Vemba, en dat my pa dit nie sou oorleef het nie. Sem chance.”

Die jong Carlos het nooit die toneel bereik nie, want hy het hom trompop vasgehardloop in die FNLA-groep, op pad dorp toe. Sy reaksietyd moes toe al blitssnel gewees het, want hy kon die patrollie ontduik deur bos-in te duik toe die skote agter hom begin klap, en wegkruip. Die patrollie het hom ná ’n kort soektog gelos en aangehou dorp toe. Hy het vir ’n uur doodstil gelê totdat hy seker was almal was weg.

“Met daardie wag het dit gebreek in my, Tex. Die seun was stukkend. O menino tornou-se um homem.” Die seun moes ’n man word, want hy het ’n voorgevoel gehad dat wat hy sou sien, geen seun ooit moes sien nie. Dit was ’n slagting.

“My pa en vier ander, geskiet soos honde. Morto como cães. Nee, erger as honde. Vemba se soldate het hulle met bajonette bygekom, Tex.” Hy het swaar gesluk. “Hulle het ons mense oopgesny, hul derms vir die hiënas uitgeruk.”

Carlos moes ’n klipharde pleister op daardie geesteswond geplak het, want die kind wat ek deur sy vertelling aangehoor het, en die soldaat wat ek leer ken het, was twee totaal verskillende wesens. Die jong man emosioneel, passievol, kwesbaar; die ander onwrikbaar, hard en berekend, die Carlos wat jy nie op jou spoor wou hê nie. En dis presies wat Ric Vemba later sou uitvind.

Met die jong Carlos nou haweloos en gejag in sy eie land, het die wêreld namens hom kant gekies. Oornag. Hy het met ’n koue woede in sy gemoed die pad suid aangedurf. Sonder voorraad, ’n wapen of werklike doelwit, deur ’n area wat swaar gepatrolleer is.

Hy het my vertel hoe hy ’n patrollie ontwyk het met die tegnieke wat ons later sou toepas – deur aanvanklik ’n duidelike spoor te los, dit dan te verbloem en wyd terug te sirkel tot agter die vyand. Op die ouderdom van sewentien was hy reeds die instinktiewe soldaat, met ’n byna bonatuurlike voorgevoel vir gevaar, ’n aangebore talent en eenwees met die bos se geluide en gemoed, sintuiglikhede wat vir ander bloot agtergrondgeruis was.

Ná vier dae het Carlos die Kavango-rivier bereik, met net die klere aan sy lyf. Hier het ’n nuwe, groter probleem hom voorgedoen. Hy het die gevaar geloop om paaie met een van ons patrollies te kruis, spesifiek dié van 32 Bataljon, met sy geharde mengsel van Angolese en Suid-Afrikaanse troepe.

Hy is oor die rivier en verder suid totdat hy ’n spoor gekry het. Agt stelle stewelspore, volgens hom minder as ’n uur oud, het suidoos gelei. Hy het die groep op ’n afstand gevolg. Met die draai van die dag het die patrollie ’n tydelike basis gevorm, met vier skildwagte in ’n kring na buite terwyl die ander stil rantsoenpakke oopgemaak en geëet het. Carlos het hulle op ’n veilige afstand dopgehou en gewonder of hy hulle moes nader – en of hy dit sou oorleef.

Hy was teen hierdie tyd skreeuhonger, want hy het op pad van wildevrugte geleef. Die reuk van blikkies braised steak en Tarzan bars, ons rantsoen-sjokoladestafies, moes hom rasend gehad het.

Teen skemeraand het die patrollie die Caprivi-hoofpad bereik, waar die groep opgetel sou word. Toe ’n SAMIL-trok opdaag, kon hy sien die troepe ontspan effe, en het hy sy kans waargeneem. Hy het met hande omhoog uitgestap, en is onmiddellik oorrompel en in die Caprivi se wit stof neergesmyt.

Met sy hande agter sy rug vasgebind, is hy 32 Bataljon se kamp binnegeneem, agter op die SAMIL. Die bevelvoerder het die ondervraging bygewoon, waar Carlos hulle van sy staptog vertel het. Hy het egter verswyg dat hy die patrollie ongesiens agtervolg het, ingeval iemand se eer gekrenk sou wees.

Die bataljon se intelligensie-offisier het Carlos se inligting oor UNITA en die FNLA teen intel uit ander bronne gemeet, en dit het geklop. Hulle was bewus van Ric Vemba, en die nuwe inligting oor sy troepegetalle was goud werd. En dis hoe 32 Bataljon Carlos gewerf het – met ’n aanbod om ’n groep van die eenheid na Vemba te lei.

Ons weet nie veel daarvan nie. Operasies oor die grens was geheim. Wat ons wel gehoor het, was dat Carlos soos ’n gesoute operateur sy kennis van die omgewing gebruik het en die span gehelp het om dit ongemerk te infiltreer.

Ons weet nie of die plan was om Vemba lewend uit te bring nie, maar hy en sy troepe is in ’n skietgeveg gedood. Ek vermoed die spanleier het Carlos ’n pistool in die hand gestop en anderpad gekyk.

Carlos het saam met die span teruggekeer. Hulle kon nie uitgepraat raak oor sy rou veldkuns en sterk aanvoeling nie, en het aanbeveel dat hy vir opleiding gestuur word.

Die res is geskiedenis.

* * *

Ek ruk terug na die hede toe die Oryx begin daal. Onder ons kronkel die Letabarivier, ’n luislang deur die donker bos. ’n Streep oggendmis op die water verklap waar dit loop. Die Oryx draai regs, daal tot bo boomhoogte.

Dan trek die vlieënier die neus op bokant ’n groot, ovaalvormige opening in die bos: CommCen, die kommunikasiesentrum en basis van die gesamentlike taakmag teen renosterstropery. Dit son wil-wil kop uitsteek.

Weerskante van ons, in die skemerlig, kan ek verskeie opslaanhuise met sinkdakke uitmaak. Langs dit is enkele groter geboue wat ek aanneem ’n opskamer, kombuis en gemeenskaplike geriewe is. Aan die verste kant van die ovaal is ’n groterige vliegtuigloods. Buite dit staan ’n wit-en-rooi Bell 206 JetRanger, met silwer materiaal teen die ruite om die instrumente teen son en hitte te beskerm.

Die Oryx sak stadig en kom met ’n stamp te lande op ’n sementblad in die middel van die oop area. Dit ontketen ’n storm van stof en grassade wat in stadige aksie verby ons vensters dans. Dan begin die turbines afwen. Oorkant my maak Helena haar harnas los, staan op en strek. My lyf is styf ná die lang vlug.

Die vlugingenieur stap om, trek die skuifdeur oop en skree bo die whoep-whoep van die rotor: “Moet nog nie uitklim nie, die bakkies is op pad!” Koel lug spoel na binne. Twee wit Hilux-bakkies kom vanaf die loods aangery, en hou stil digby die oop deur.

Gibson en Stephens klim uit, leun in by die Oryx om met die hand te groet. Stephens is in kakie, ’n boshemp en praktiese broek, maar Langa is in ’n hemp met ’n hoë kraag, geplooide grys broek en ’n noupassende leerbaadjie wat sy plomp vorm mooi kamoefleer. Die man hou van sy klere. Ons sal maar moet sien hoe dit met hom in die bos gaan, want dit lyk my ons gaan kamp, en dat dit maar redelik primitief gaan wees.

“Welkom by CommCen,” sê Stephens. “En verskoon die secrecy. Hoe kleiner ons hierdie sirkel hou, hoe beter.”

Hy maak die Hilux se kappie oop en beduie vir my en Helena om in te klim. Die vlugingenieur pak die toerusting agter ons in. Die kappie se ruite is taamlik donker getint.

Voordat hy die kappie toemaak, verduidelik Stephens dat hoewel CommCen puik geriewe het, ons om sekuriteitsredes nege kilometer suid hiervandaan in ons eie tydelike basis gaan bly.

“Daar’s showers, maar dis outdoor en moet gestook word. Ons het ’n veldkombuis, en ’n ops-tent wat double-up as eetvertrek. Ons slaap in ’n paar tente. Die ander spanlede is laas nag ingery. Maar eers, selfone asseblief.”

Ons oorhandig die fone. Stephens haal stelselmatig elkeen se simkaart en battery uit, sit dit in plastieksakkies wat met ons name gemerk word. Met die simkaart verwyder en die foon afgeskakel, kan jy net ’n persoon se laaste ligging deur driehoeksmeting bepaal, nie sy bewegings nie.

Neurose is ’n goeie ding.

“Almal reg? Dit gaan maar bumpy wees agterin, maar byt vas. Ons sal stadig ry.” Stephens klim by die bestuurskant van een bakkie in, Langa by die ander. Dan vat ons die pad, ’n stowwerige rit op ’n enkelspoorpad deur die bos.

’n Halfuur later klim ons styf uit, en spoeg stof.

Die TB is knus, ’n ontboste stuk grond kleiner as ’n halwe rugbyveld wat met ’n stootskraper gelykgemaak is, op ’n draai in die loop van die Olifantsrivier. Dis winter en die water is laag.

Nes by CommCen is die slaapgeriewe, kombuis en gemeenskaplike geriewe om die oop stuk grond teen die rand van die bos. Alles ou militêre tente in ’n U-vorm. Die oop area in die middel is groot genoeg vir ’n helikopter.

Teen die rivier, binne-in die oewerbos, is ’n enkele stort en toiletgebou, mooi privaat en met ’n pragtige uitsig. Bo dit, ’n houtstellasie met ’n groen watertenk op staalpote, en ’n tydelike selfoontoring gedryf deur ’n sonpaneel. ’n Batterystelsel is aan die kant van die staalkonstruksie vasgebout. ’n Ingewikkelde stel pype en vakuumbrekers lei daarvandaan na ’n outydse houtgeiser op die oewer, weg van die bosse.

’n Houtdek, gemaak van ou palette, is op die rand van die rivier opgerig, met ’n mobiele braai langsaan. Heel skaflik vir ’n vakansiekamp.

Regs van die houtdek is ’n ry groen seiltente, een vir elk van ons behalwe Langa, die kok en sy helper. Hulle ry blykbaar saans ná ete terug na CommCen, waar hulle hul eie verblyf het – iets wat my nie te gelukkig maak nie. As jy werklik sekuriteit wil handhaaf, gaan niemand in en uit nie. Maar ek aanvaar dat ons daagliks kosvoorraad moet inry.

Twee stewige swart mans in groen uniforms kom uit die tent na ons aangestap, hul boshoedens half terloops op hul agterkoppe geplak. Een lag breed, die ander lyk meer terughoudend, selfs wantrouig. Hy het ’n slapbandboek in die hand, ’n vinger tussen die blaaie om plek te hou.

Smiley stel homself eerste voor: hy is Fausto Xembe, sê hy. En sy vriend is Daniel Matteus. Verskoon maar sy vriend, asseblief: “Desculpe meu amigo, ele é anti-social!”

“Ei! Ei! Não mente, bastardo!” Daniel frons, klap Fausto met die boek oor die duidelike belediging.

“Deixe seu livro e preste atenção!” Los die leeswerk en gee aandag, daar’s werk om te doen, kap Fausto terug. Albei Mosambiekers, op die oog af gesoute operateurs.

Ons pak uit, sit ons klere in die tente. Oor koffie en beskuit begin Stephens die grondreëls neerlê: Ons noem mekaar op die voornaam, g’n range, g’n selfone, moenie alleen van die kamp wegdwaal nie.

“Ons het ’n shitload voorbereiding om te doen, en ons het basies ’n week daarvoor. Ons target is donkermaan, rondom die ses-en-twintigste. Ons het ’n baie klein window vir die ops, maybe twee of drie dae om daardie datum.”

“Wel, dan gaan ons maar aan die werk moet spring. Daniel, Fausto, você está em forma?” Is julle manne fiks?

“Claro!”

“Ons sal môreoggend sien.”

* * *

“Yes, colonel?”

“They’ve gone offline and are in position. Call the fixer. Tell him to get the team on standby. They should hold back and stay out of sight, of course.”

“Will do, sir.”

Kliek.

Bos

Подняться наверх