Читать книгу Bos - Jaco Wolmarans - Страница 9
7
ОглавлениеLynnwood, Pretoria, 3:00 nm.
My klere is gepak, die handvol wat ek kan saamvat. Een swart zipsakkie is genoeg, want vir die volgende twee weke gaan ek weer uniform dra. Of watter klere MI ook al aan ons uitreik.
Ons sal môreoggend voor sonop vanaf Waterkloof se lugmagbasis vlieg sodat ons ongesiens kan wegkom. Met my hele middag oop, maak ek my huis en kantoor aan die kant. Met dít klaar, beland ek voor my rekenaar en op die internet. Op ’n ingewing doen ek ’n Google-soektog oor renosterstropery.
Daar is vragte stories oor die kwessie, argumente vir en teen die handel in horings, hoe ver die smokkelnetwerke strek, en wie almal betrokke is.
Wat my die meeste interesseer, is die politieke intrige rondom pogings om die handel te wettig. Die redenasie is dat as die produk openlik beskikbaar is, dit die aanvraag en prys, en daarmee saam die stropery, sal verminder.
Groot renostertelers saag al jare horings af om die diere minder kwesbaar te maak. Dit was teen die wet om die horings te verkoop, en hulle het later die regering hof toe gevat om die binnelandse handel te probeer wettig. Die hof het die aansoek toegestaan, maar die minister van omgewingsake het kort daarna suksesvol teen die uitspraak geappelleer.
Maar toe, uit die bloute, kondig die minister planne aan om die beperkte binnelandse handel te wettig. Dit nadat die regering al jare lank enige pogings daartoe teengestaan het: ’n totale ommekeer. Diep onder die lys van voorwaardes weggesteek was daar die bepaling dat horings “vir persoonlike gebruik” uitgevoer kon word, mits die nodige permitte uitgereik is.
Die Grondwethof het kort daarna die regering se eie aansoek om die handel onwettig te hou, van die hand gewys. Dit lyk my dit was omtrent ’n formaliteit, want dit het effektief die binnelandse handel gewettig.
Ek volg al die ingewikkelde hofgedoentes met moeite. Die slotsom is dat hoewel binnelandse handel toegelaat word, die grootmaat-uitvoer daarvan steeds onwettig is. Daarom sou die aanvraag na horings, en natuurlik die prys daarvan, hoog bly. Ek begin ’n sameswering ruik.
Waarom sou die regering binnelandse handel steun as dit glad nie die stropery sal verminder nie? Dit is verbluffend teenstrydig.
’n Onlangse berig op News24 tref my oog. Erwin Bester, een van die twee groot renosterboere in die land, het ’n internetveiling van sy opgegaarde hoop horings aangekondig. Toe het Natuurbewaring hom daaroor aangevat en daarvan beskuldig dat hy weer die vraag aanblaas. Hy kap toe terug en sê die regering sit self op tonne horings wat hulle wil verkoop, dat hulle nie vir hom moet kom preek nie.
Dan lui my telefoon. Ek herken die nommer.
“Hallo, Sharon.”
“Tex! Hoe gaan dit nou? Is jou huis nog skoon?” Sy lag lig, speels. Geen wonder Liesl was so mal oor haar nie. Dis goed om haar stem te hoor. Nog beter dat dit in ander omstandighede is as laas.
“Ja, ek gedra my. En dankie, ek skuld jou. Nie net vir die skoonmaak hier nie. Dit gaan nou baie beter.”
Ek besef dat ek vir die eerste keer my depressie erken het, en dat ek beheer oor my lewe begin neem het.
“Ek’s bly, jong. Ons was baie bekommerd. Ís nog bekommerd.”
Ek’s nie seker of ek iets moet sê nie.
“Tex?” Nou klink sy ongemaklik.
“Ek’s hier.”
“Kan ek vanmiddag gou ’n paar van Liesl se persoonlike goedjies vir jou bring? Ons het haar kantoor nou eers ontruim … iemand nuut is in haar pos aangestel.” Dit verklaar haar ongemak. Ou wonde oopkrap.
“Ek is vanmiddag heeltyd hier. Hoe laat?”
“Ná werk. So vyfuur.”
“Sien jou dan.”
Die gedagte aan ’n boks vol herinneringe demp my gemoed. Ek voer die afgelope twee dae ’n relatief geslaagde stryd teen die oorweldigende neerslagtigheid wat die verlede bring. Nou, op die vooraand van ons operasie, kan ek nie bekostig om weer in swartgalligheid te verval nie.
Ek loop na buite en kyk uit oor die dynserigheid wat met laatmiddag oor Pretoria neerdaal. Hoe lank nog? Hoe lank voordat ek weer normaal voel – nee, voor ek ooit weer iets sal vóél, iets anders as verwydering, die magteloosheid en leegheid, die intense haat? Vir die wese wat my beroof het van die enigste teerheid wat ek myself ooit toegelaat het om te ervaar.
Dit was die ergste, daardie gevoel van jouself blootlê, stuk vir stuk oopmaak en die emosie inlaat. Jy veg daarteen, teen daardie gevoelens wat stadig nader kruip soos ’n hond wat die huis belet is, totdat hy op jou bed lê. Dis te laat om dan te keer.
Ek het daardie deur wyd oopgelaat vir Liesl; vir voel. En dit was orraait, ek was oukei daarmee. Totdat dit gebeur het …
Ek stap sleepvoet binnetoe.
* * *
Ek hoor Sharon in die oprit stilhou en stap uit om haar te ontmoet. Die motor se regter-agterdeur is oop en sy stoei met ’n swaar boks.
“Wag! Ek kom help jou!”
Sy kyk bo-oor die motor se dak en staan terug. Toe ek by die agterdeur inleun, sien ek die kartondoos is vol papiere, lêers, ’n geraamde foto van my en Liesl, boeke en skryfgoed. Ek tel dit op en beduie na die huis toe. “Kom binne.”
“Kom ons gesels buite.”
Sy moet die frons op my gesig sien; háár uitdrukking is strak. Iets het haar op hol.
“Wat gaan aan, Sharon?”
“Tex, wat ek nou gaan sê, het jy nie by my gehoor nie, en in daardie boks is iets wat jy nie by mý gekry het nie. Verstaan jy?”
Ek knik. Ek het geen idee waarop sy afstuur nie, maar vermoed dit het te doen met wat sy op pad was om met ons vorige ontmoeting te sê.
“Ek kon eergister sien die saak en jou frustrasie is besig om jou klaar te maak. Wat jy gesê het oor haar dood … dat jy nie dink dit was bloot ’n rooftog nie. Dit het my laat dink. Toe ek gister Liesl se lessenaar opruim, gaan ek deur haar papierwerk, kyk na inskrywings in dossiere waaraan sy gewerk het tot met haar dood …
“Tex, ek dink jy is reg. Ek het ’n afskrif van ’n dossier gemaak en dit tussen van haar resepte en handboeke weggesteek.”
“Wat sê dit?”
“Ek het nie alles gelees nie, daar was nie tyd nie. Wat ek wel weet, is dat Liesl spanleier was op een van ons ondersoeke. Sigaretsmokkelary op groot skaal. Onwettige invoer om aksynsbelasting te ontduik. Ons het mense undercover gehad as kopers en verspreiders. Hulle het goed vordering gemaak, maar toe verdwyn een van die agente … Hy’t ’n afspraak met Liesl gemis en hulle het begin soek. Ons het hom drie dae later langs die Gautrain-spoor gekry, ’n entjie van OR Tambo, in ’n rivier. Geskiet in die agterkop.”
“Holy shit! Iemand het hom uitgehaal?”
“Presies. Liesl het onmiddellik haar ander agent onttrek, want die missie was duidelik geblaas. Dit was kort voor haar dood. Anyway, daar’s ’n copy van die dossier in die boks. Soos ek sê, jy’t dit nie by my gekry nie. En Tex … wees versigtig. Hierdie mense is pro.”
“Ek sal, belowe. En Sharon, dankie. Jy weet nie wat dit vir my beteken nie.”
Sy soengroet my spontaan, spring in haar motor en ry weg. Ek bly staan met die kartondoos, onseker wat om volgende te doen. Die nuwe inligting oor Liesl se werk kom op ’n bitter ongeleë tyd. Ek het belowe om te fokus op die operasie wat môre begin.
Maar ek vergun my darem ’n vinnige kykie deur Liesl se dokumente.
Die dossier is diep weggesteek, sonder omslag, en dit vat ’n tydjie voordat ek die stapeltjie papiere bymekaar het.
Dit bestaan uit dagnotas, in haar netjiese, sorgvuldige handskrif, uiters gedetailleerd. Datums, tye, waarnemings. Ontstellende inligting, in saaklike, onemosionele taal uiteengesit. Volgens die informant kry die netwerke hoogs akkurate intel wat slegs vanaf amptelike bronne kon kom. En dit het klaarblyklik tot sy ontdekking en dood gelei.
Dan kom ’n skok – een van die laaste inskrywings, ’n week voor Liesl se dood. Dit gaan oor ’n telefoonoproep wat sy op kantoor ontvang het, op haar landlyn. Sy het die boodskap verbatim neergeskryf, met geen aanduiding van die paniek wat dit moes veroorsaak het nie: Back off, or another one dies. We’re watching you.
Dit voel of iemand my wind uitgeslaan het. So Liesl het geweet, maar nie ’n woord teenoor Sharon of iemand anders gerep nie. Nie om hulp gevra nie. Nie haar base nie, en nie vir my nie, wat seker kon gehelp het. Ek weet nie hoe nie, maar God weet, ek sou probeer het!
Sy moes gemeen het as die organisasie binnegedring is, sou dit gou uitkom indien sy dit aanmeld, en sou sy daardeur nog kollegas in gevaar stel. A rock and a hard place.
Sy het dus niks laat blyk nie, ter wille van haar span. Sy was magteloos, tergend magteloos. Jy kan nie iemand raak slaan wat jy nie kan sien nie.