Читать книгу Bos - Jaco Wolmarans - Страница 4
2
ОглавлениеLynnwood, Pretoria, 2:10 nm.
Die ontmoeting met MI vanoggend het die verlede teruggebring soos ’n familielid wat onverwags kom inloer. Jy moet maar beleefd sit en luister na die ou dae. Al die herinneringe van my en Carlos se operasies, die ontberings, die vrees vir ontdekking so diep en weerloos in Angola.
En daarmee saam die vertwyfeling. Carlos, my buddy, die rots. Ek stoei met die gedagte dat hy oor is na die dark side. Ek ontleed ons destydse operasies deur ’n bril van wantroue, soek na krake waar die donker kant van sy wese kon deurskyn – sodat ek nou in sy skuld kan glo en my optrede kan regverdig indien ek betrokke sou raak.
Dit werk nie.
Ek dwaal rusteloos deur die huis, van die kombuis na my kantoortjie en terug, gaan sit in die sitkamer met koffie en kyk na BBC World News. Dan terug na my kantoor. Na die lêer, ’n liggroen omslag bultend met papiere. Nuttelose speurwerk. Doodloopstrate. Geboekstaafde frustrasie soos wat ek na antwoorde soek.
Vergeefs.
Sedert Liesl se dood, amper ’n jaar gelede in die parkeerterrein van ons plaaslike Superspar, doen ek die polisie se werk vir hulle. “A botched robbery” was adjudant-offisier Watson se bevinding ná twee weke. Dit het my laat oorkook.
“Dis mos nonsens, man! Die shooter het genoeg tyd gehad om haar kar te vat, of selfoon of handsak, maar niks is weg nie. Dit was moord, dit was plein, bliksemse moord, maar julle wil dit nie insien nie!” het ek hom toegesnou, vinger teen sy bors.
Ek kon Watson se erkenning van die aantyging sien, sy skouers opgetrek, lankal dikvellig oor reaksie op die SAPS se onvermoë om sake suksesvol te ondersoek.
En dis hierdie frustrasie, my obsessie van die laaste paar maande, wat keer dat ek nou my volle aandag aan Militêre Intelligensie en die Mosambiekse situasie kan gee.
Daar doen ek dit weer: die “Mosambiekse situasie”. My ontwyking van die werklike kwessie – Carlos se duistere ommeswaai, my klaarblyklike naïwiteit om te aanvaar dat my buddy sy morele kompas kon verloor.
Hoe sal ek ooit kan fokus met soveel vertwyfeling, soveel los drade in my lewe? Algehele fokus was ’n voorreg van my ongekompliseerde jeug, toe dinge wit en swart was.
Dit was voordat Carlos dit op die grens gekompliseer het: hy swart, ek wit, maar die onderskeid irrelevant wanneer jy gekonfronteer word met ’n dodelike, gemeenskaplike vyand, tientalle kere binne reikafstand in die bos. Ek en hy, onafskeidbaar, sy aan sy.
Ons werk was verkenning. Vinnig infiltreer, laaglê, dan in die nag naby aan die teiken kom om troepegetalle, die aard en toestand van die wapentuig te bepaal. En dadelik ongesiens terugval en rapporteer.
Nadat ons radioboodskappe met gegewens oor die kampe gelewer is, was die slaggereed Impalas met eerste lig op boomhoogte donderend op pad na die teiken. Ons vlamgat-vriende met hul dodelike ladings onder die vlerke.
Soms moes ons binne sig van die teiken wag, die strike op radio inpraat, en onsself teen die lugaanval probeer beskerm met die helderpienk dayglo-panele aan die binnekant van ons omgedopte boshoedens.
Dit is angswekkend om as twintigjarige jou lewe aan ’n trigger-happy vegvlieënier se reaksietyd toe te vertrou, met die hoop dat daardie tagtiger-pienk in ’n breukdeel van ’n sekonde sigbaar en herkenbaar as vriendelike magte sou wees.
Ek was vars uit Verkenningskool, ingedeel by 51 Kommando in Ovamboland: Frans (Tex) Texeira, die seun van ’n Portugese boer en sy Afrikanervrou uit die Laeveld.
Van kindsbeen ’n alleenmens. Gemaklik op my eie, veral in die natuur. Ook mal oor lees. Ek het gereeld dae lank van die huis weggebly. Ek, my bivvie en ’n boek. Dit was natuurlik in die dae voor die internet. Ek het myself vir die pret uit boeke leer spoorsny en menssku tarentale en kleinwild vir kos gejag. Vuur gemaak met niks. Ek kon van vroeg reeds na myself omsien, ’n Grensvegter in my eie verbeelding.
My pa het daarop aangedring dat ek universiteit toe moes gaan. Iets in hom was skaam vir boer wees. Ek kon dit nooit verstaan nie. Hy wou dat ek méér as dit word. En om oor onafhanklikheid te leer moes ek ver van die huis af wees. Stellenbosch toe, koshuis toe, vir twee van die beste jare in my lewe.
Politieke filosofie was ’n vreemde dog halfbekende wêreld: Die konsepte wat ek so gereeld in die bos raak gelees het, het nou gestalte gekry, ’n konteks ontwikkel en begin sin maak. Terselfdertyd het dit ’n morele beslag vir my optrede begin neerlê, het ek geglo. Op negentien het ek die wêreld geheel en al verstaan, met die arrogansie van die onbewuste ongeskoolde.
Dit het ons gesoute filosofieprofessor nie ontgaan nie. Wees krities; bevraagteken alles, was sy vermaning.
En daar het my vertwyfeling in verwyderde, akademiese politiek begin. In Marxisme, die sogenaamde wêreldeuwel van kommunisme, die antichristelike Rooi Gevaar waarteen ons magte geveg het. Aan die ander kant was daar my totale verwarring oor ons regering se afsku van sosialisme, en die ooglopende en bewese voordele daarvan vir samelewings oor die wêreld heen. Hoe kon dit verkeerd wees? Verkeerd genoeg om ons oorlog toe te stuur daaroor? Wie moes ons glo? Hoe weet ons wie’s reg?
“Daar’s geen rooi telefoon na God toe om Hom te vra nie,” was professor Degenaar se antwoord hierop. “Dis iets wat jy vir jouself moet uitmaak. En dis ’n lewenstaak.”
My vertwyfeling is aangevuur deur middernagtelike gesprekke in die koshuis, waar ons ná swottyd in die hoekkamers vergader het en koffie in die hand die plek blou gerook het. Hier is ek vasgenael deur die stories van die eerstejaars wat eers diensplig op die grens gaan doen het, soos Bamma en Jeff. En Pieta van Klerksdorp. ’n Paar van hulle in die gevreesde recce-eenhede.
Hoe meer hulle vertel het, hoe sterker was die trekpleister. Dit was asof die taak van verkenning net vir mý geskep is, en dit ondanks my twyfel oor die politieke motiewe vir die oorlog.
Dit het noodwendig tot hewige argumente gelei. Ek het kritiese vrae oor die ideologie gevra, en die manne het hul aksies oorkant die grens as strategies noodsaaklik verdedig. Ek was nie oortuig nie. Hulle het my “’n fokken kommunis” genoem. Ek het hulle “onkritiese dose” genoem. Dit het lelik begin raak, tot een dag op pad klas toe.
Een van die oud-recces het ’n rukkie tevore begin saamstap. Bamma, ’n skraal kêrel met skerp groen oë, was altyd vreemd stil tydens al die koshuisargumente. Nou het hy vir die eerste keer sy mening gelug.
“Tex, jy moenie dat die ouens jou so rondfok nie. Baie van hulle was nie in die recces nie, hulle praat kak. Soos die Mech-ouens wat saam met ons gewerk het. Ander ding – jy het ’n probleem met hoekom ons daar was. Onthou, vir ons was dit bloot ’n job. Jy het dit gedoen omdat jy goed was met dinge soos bekruip en wegkruip, en omdat jy geweet het wanneer jy moet hol en die fight vir ’n ander dag los.
“Daar was nie dom ouens nie. Die operators was sensible mense, ouens wat weet wanneer om gat skoon te maak. Ouens soos daai laat hulle nie bullshit met ideologie nie. Dis nie hoekom hulle daar is nie. ‘Om kommunisme te beveg’. Dis bullshit. Hulle sluit aan omdat hulle ’n spesifieke skill set het wat nêrens anders inpas nie. So hulle dink nie eens aan commies fight en klap-’n-Swap nie. Dis ’n job, niks meer nie. En of hulle dit nou hier doen of in Nicaragua of Colombië, dis wat hulle wil doen. Niks anders nie.”
Hoekom Bamma my die preek gegee het, weet ek nie. Maar dit was soos ’n lig wat aangeskakel is. My dae, my weke in die bos as kind, my liefde vir alleen wees, my spoorsnyery, my veldkennis – dit het alles nou sin gemaak. Wonderlik, eenvoudig sin gemaak.
Verkenning was my roeping. Ek wou opskop.
My pa het natuurlik ontplof. Snaaks genoeg, my ma was kalm. Dis asof sy al die tyd geweet het, met daardie wysheid wat net ’n ma kan hê wat ’n kind so eenkant sien grootword en nie aan hom probeer verander nie.
Ná die Junie-vakansie in my tweede jaar, wat maar stormagtig verloop het, kom ek en my pa toe ooreen dat ek my jaar suksesvol sou klaarmaak, my graad dan vir eers sou parkeer, en dat ek dit deur Unisa verder sou vat sodra ek kon.
Dit was ’n ongelooflike toegewing van my pa se kant, totaal onverwags. Ek vermoed my stil en sterk ma het met hom gepraat.
Op die laaste aand voor my vertrek het hy my eenkant geroep.
“Tex, ek kan sien jy’t jou mind opgemaak. Ek ken nie hierdie wêreld waar jy nou wil in nie. Ek het gehoop jy sou iets anders doen. Maar ek gaan jou nie keer nie. Ek wil net hê jy moet beter doen as dít waarin jy grootgeword het.”
“Dad, daar’s niks fout gewees met my opvoeding nie!”
Hy het sy hand opgehou, sy kop geskud. “My kind, ek wens ek kon jou meer gegee het. Dat jy kon word wat ek nooit kon wees nie. Dis die enigste manier hoe ’n mens vorder. Elke generasie moet kan beter doen. So – ek gaan nie in jou pad staan nie. Jy wil ’n soldaat word …”
“’n Recce, Pa!”
“… ’n recce word. Belowe my een ding: Maak seker jy word die beste donnerse recce onder die son. En bly leef.” Toe sy hand op my skouer, ’n nattigheid in sy oë, en die gesprek is verby.
Ek het woord gehou, my tweede jaar goed geslaag, en is in Januarie die volgende jaar per trein Pretoria toe.
Basiese opleiding was niks. Ek was fiks, en ek het geweet wat wag as ek vir spesmagte gekeur sou word. My aansoek daarvoor is dadelik deur my eenheidsbevelvoerder ingedien, en dit is genadiglik goedgekeur. Ons was binne ’n paar maande op pad na die gevreesde duine by Durban.
Die fisieke eise van die aanvanklike keuring was swaar. Die een afkak op die ander. Die kleiner, ligter laaities onder ons kon uithou; dit was die groter manne wat eerste gevou het. Maar daarna het die getalle ewewigtig begin krimp soos die geestelike teistering deur die instrukteurs, die skok van langdurige blootstelling en wakkerbly hul tol geëis het.
Nege uit die oorspronklike dertig het die keuring en uiters taai daaropvolgende opleiding voltooi. Ons is vir taktiese oefening Caprivi toe. Daarna opleiding in spoorsny en toe, uiteindelik, taktiese ontplooiing saam met opvolgspanne en Boesman-spoorsnyers.
Dit was ’n verrykende ervaring, ’n wêreld van nuwe kennis wat voor my oopgegaan het. Ek het alles gretig ingedrink. Soos Bamma gesê het, hier was iets wat ek van nature goed kon doen. Daardie kennis het alles vir my verander – weg was die politiek, die ideologie, die vertwyfeling. Al wat oorgebly het, was die job en hoe goed jy dit kon doen.
Dit het geen oorreding gekos om my by die staande mag te laat aansluit nie. Selfs voordat my twee jaar van diensplig verby was. Die nuwe status het my ook vir keuring vir een van die mees gesogte eenhede in aanmerking laat kom: kleinspan-verkenning. Die spanne het uit twee operateurs bestaan, om hul teenwoordigheid so onopmerklik moontlik te hou en kontak met vyandelike magte tot elke prys te vermy.
Ook dié keuring het ek met redelike gemak geslaag, en ek is kort daarna na 51 Verkenningskommando uitgeplaas. Die werk het my soos ’n handskoen gepas – op myself aangewese, totaal selfvoorsienend.
Die ouer lede van die eenheid het geen ooghare vir ’n jong snotkop gehad nie, veral nie toe ek saam met Carlos Viyera ingedeel is nie. Dit was omdat ek Portugees kon praat, het hulle my duidelik laat verstaan, niks meer nie.
Die man se reputasie het hom ver vooruitgeloop. Dit was ’n skrikwekkende vooruitsig om saam met hom te moes werk. Ek kon my indink hoe hy oor my moes voel: onervare, ongetoets.
Carlos, ’n gesoute Angolese operateur, het as jong man in verslete klere oor die riviergrens naby Katima gestap en summier by 32 Bataljon gaan aanklop vir werk. Ná lang eenkant-gesprekke met intelligensie-offisiere en die bevelvoerder is hy blykbaar ongewapen saam met ’n groep operateurs terug oor die grens. Drie weke later is hulle opgepik: bebloed, vuil en doodmoeg.
Kort daarna is wapens en ’n uniform aan hom uitgereik en het sy opleiding begin. Tot vandag toe weet niemand wat hul sending was nie. Diegene wat daar was, swyg soos die graf. En as jy Carlos geken het, sou jy hom ook nie trompop loop en vra nie.
Hy het jou op ’n afstand gehou met ’n kombinasie van kil oë, gespierde lyf wat groter vertoon het as sy relatief klein een-komma-sewe meter, en die broeiende stilte wat hom omgeef het – die soort wat jou onsamehangend aan die babbel kon kry omdat jy dit wil verbreek.
In daardie stadium was Carlos reeds vier jaar by 51 VK, met tientalle suksesvolle operasies agter die rug. Ek was fiks en kon byhou, maar gemeet aan sy operasionele standaarde het ek soos ’n blinde koei met klokke behang deur die bos beweeg.
Carlos was ’n masjien, presies die soort mens wat Bamma beskryf het: totaal ingestel op sy werk en met geen tyd vir enige sideshows nie. Hy het min gepraat, maar was wawyd wakker, ingestel op die bos en sy geluide.
As tweemanspan moes ons uiteraard ure in mekaar se geselskap deurbring. Ek het aanvanklik probeer gesels, wanneer ons kon. Hy het net die nodige geantwoord, norserig. Niks willekeurig aangebied nie. Ek het hom probeer uitvra oor sy verlede, maar dit was duidelik ’n verbode onderwerp en ek is summier stilgemaak.
Dit het hom soveel moeiliker gemaak om te verstaan. Hy het geen ooglopende ideologie aangehang nie; hy het nie vir Swapo, die MPLA of die Kubane gehaat nie. Hy was nie besonder ingenome met die SAW nie, en het nie ’n opinie oor PW Botha of enige van die brass aan ons kant gehad nie. Dit was vir my vreemd, maar dit het Bamma se stelling onderstreep: Dit was bloot ’n job, een wat hy baie goed gedoen het. Moenie meer daarin lees nie.
As gevolg van die klandestiene aard van ons werk, is ons dikwels per helikopter kilometers van die teiken af ontplooi sodat ons teenwoordigheid geheim kon bly. Dit het soms twintig kilometer se voetslaan gekos met rugsakke van vyftig kilogram of meer; ons hele voorraad vir twee of drie weke.
Daglig-ontplooiing was dikwels onmoontlik omdat dit ons posisie kon verklap. Daarom is ons met laaste lig afgegooi, en moes ons ná ontplooiing soms tot middernag bewegingloos bly lê totdat ons doodseker was ons aankoms is nie opgemerk nie.
Weerloos teen insekte, dan die koue soos die nag neersak, die stil gebibber. Jy moes maar uithou, uit vrees vir ontdekking. En regdeur daardie vrees was daar Carlos se onverbiddelike teenwoordigheid: stil langs my, so gebiedend dat ek dit nie eens wou waag om ’n vlieg van my bolip af te blaas nie.
Daardie intense geheimhouding was die noodwendige uitvloeisel van die Lusaka-akkoorde van 1984. Dit het bepaal dat alle Suid-Afrikaanse magte uit Angola onttrek word. In ruil daarvoor het die MPLA onderneem om nie Swapo-magte op hul insurgensie-operasies na Suidwes-Afrika te ondersteun nie.
Maar dit was bullshit. Die stroom van insurgente het juis toegeneem omdat Swapo homself nou feitlik sonder inmenging in Angola kon organiseer en oor die grens infiltreer. Anderkant die grens, in Suidwes-Afrika, het hulle die plaaslike bevolking se steun geniet. Dikwels in civvies geopereer – onsigbaar, en maklik om met die eerste teken van ons magte te bombshell voor hulle later hergroepeer.
Vir voorrade kon hulle bloot tot by ’n kraal stap en een van hul makkers instuur om die stamhoof vir kos en inligting te vra. In teenstelling daarmee is ons magte met vyandigheid begroet, sonder samewerking tensy daar met geweld of erger gedreig is.
Ons bevelstruktuur moes met ’n nuwe strategie vorendag kom: om die plaaslike steun te probeer neutraliseer. Ons moes insurgente vanuit Angola oor die grens volg en dophou om te sien met wie hulle kontak maak.
Dit was malligheid. Ons moes helder oordag in “vriendelike” gebiede in die vyand se uniform rondbeweeg. Die base het dit pseudo-ops genoem. Carlos se gesig het egter vir die eerste keer sedert ek hom leer ken het, opgehelder by die aanhoor van dié strategie.
Dit het maande se saamwerk op pseudo-operasies gekos voor ons begin kliek het. Die eerste tekens daarvan was dat hy elke dan en wan iets in die veld uitgewys het. Verduidelik hoe ’n blaar krul en verdor, dan deur die geringste aanraking afval en ’n vyandelike beweging só verklap. Of hoe spoortjies van ’n sekere insek wat slegs met sonop aktief is ’n vyand se tyd van beweging kan weggee.
Maar nog belangriker was dat hy my begin leer het om goed te antisipeer.
Al die inligting op die grond voor jou – die aantal troepe, spoed van hul beweging, diepte van hul spore, vlak van uitputting – het jou die vermoë gegee om te bepaal waarheen hulle op pad is. Sonder dat jy noodwendig op die spoor moet bly en jou aan gevaar blootstel.
Hierdie vermoë was ook nuttig vir lokvalle stel, die vyand omseil en voorlê. Nie dat ons as koverte tweemanspan dít kon doen nie, maar jy kon jou minstens indink hoe die vyand dit sou doen – en dan in die teenoorgestelde rigting beweeg: die “double-blind”.
Carlos se houding teenoor my het verander. Hy was steeds nie my tjom nie, maar daar was ’n versagting, geduld en ek hoop mettertyd darem respek vir die snotkop se vermoëns.
Ons het Portugees gepraat. Dit het die band tussen ons versterk, maar groter afstand tussen ons en die ander operateurs meegebring. Carlos was op die oog af nie gepla nie. Inteendeel, ek vermoed hy het dit so verkies, en ek het nie vriendskappe buite ons span probeer kultiveer nie.
Dit het wel die gevaar ingehou dat die res van die eenheid ons eenkant toe kon skuif. En dit sou gebeur het, was dit nie vir ons sukses as kleinspan nie.
Die feit dat ons albei Portugees gepraat het, het baie bygedra tot ons sukses in Angola. Met my gesig swart gesmeer en ’n kortgeknipte afro-pruik, kon ons onsself in die meeste noodsituasies uit die moeilikheid praat. Ek glo steeds dis hoekom ons die moeilikste, gevaarlikste jobs gekry het – en dit oorleef het.
Maar onderliggend hieraan was Carlos se bomenslike aanvoeling vir enige verandering in die stemming van die bos. En bowenal sy vermoë om kalm te bly in verskillende situasies, iets wat hy op een van ons heel eerste operasies moes demonstreer.
Dit was nag, veertig kilometer oorkant die grens in suidoos-Angola. Ons opdrag was om ’n MPLA-basis te nader en die troepegetalle te bepaal. Dan ongesiens te verdwyn.
Ons het gekyk hoe ’n groep van twintig regmaak vir ’n lang roetemars; waarskynlik Swapo, op pad suid, oor die grens. Die inligting moes dadelik terug na ons missie-bevelvoerder en die reaksiemagte.
Met nagsigtoerusting op ons koppe was ons met ’n voetpaadjie langs aan die terugval toe ons die kenmerkende geluid van stewels hoor. Carlos het my summier bos-in gedruk en platgestoot voordat ek nog die rigting behoorlik kon bepaal waaruit die bedreiging kom. Ons twee was skaars ’n meter van die voetpaadjie af, in digte bosse, en kon dit weens die geraas van skrapende takke nie dieper in waag nie.
Ons kon die voetpaadjie in die naglig duidelik sien. Ook die donker beweging van ’n slang wat die paadjie op daardie oomblik begin oorsteek het, reguit na ons toe. Die voorlyf het regop gekom, die kop ’n derde van ’n meter van die grond af, die tong flitsend. ’n Kobra, aan die wieg, aan die jag. Ek het verstar. Carlos se knik was genoeg aanduiding dat hy daarvan bewus was, en van die penarie waarin ons ons bevind.
Regs van ons was die voetstappe en dowwe gepraat van die patrollie hoorbaar. Ook die slang was van hulle bewus. Hy het sy gewieg gestaak. Sy kop was omhoog, waarskuwend. Hy kon duidelik die aankomende trillings voel, en was ook sonder twyfel bewus van my en Carlos in die bos langs die paadjie. Hy sou enige oomblik besluit watter kant toe, en dit wou my paniekerig laat raak.
“Se você se muda, você morre,” het Carlos skaars hoorbaar in my oor gesis. As jy beweeg, is jy dood. Ek het hom geglo. Hy het regs langs my gelê, heup teen heup, sy AK47 se greep in sy regtervuis vasgeklem.
Dit was doodstil in die bos. Selfs die konstante naggeluide van jakkalse, honde in krale en uile in die verte het opgehou. Die natuur wat asem ophou. In die gloed van die nagsigtoerusting kon ek sien die kobra was nou in ’n stywe veer gerol: miskien een en ’n halwe meter lank, slank, glinsterend en oorgehaal. Vyf meter regs van hom was die voetval van die niksvermoedende patrollie.
Die naderende voetstappe was te veel vir die slang. Hy het sy kop laat sak en met ’n sierlike sekelbeweging het hy uit die pad gegly, reguit na ons toe. Angs het in my bors vasgeslaan en ek het teruggebeur, wou orent kom. Maar Carlos se linkerhand was ’n ysterklamp op my nek, en hy het my met mening bly platdruk, vasgepen voor die aankomende kobra. In sy ander hand het die AK rotsvas opwaarts gewys.
Die reptiel se beweging moes die voorste patrollielid se aandag in die naglig getrek het. Ek kon hoor hoe hy ’n patroon in die loop stoot, daardie onmiskenbare sjiek-sjiek soos die geoliede metaal agtertoe en vorentoe gly.
Die kobra was halflyf die bos in, en het enkele sentimeter voor ons kom huiwer. Die kop was effe opgelig, die tong toetsend in die lug. Agter dit, in die donker, was die ewe gespanne vorm van die MPLA-voorloper, sy wapen nou gerig op waar hy die slang sien inseil het. Hy wou nie nader nie, en hy wou nie verby nie. Sy regterhand het orent geskiet en die patrollie het stil agter hom gehalt.
Tien man, gewapen met AK47’s wat in ons rigting wys. ’n Kobra nou tussen ons en hulle vasgekeer. Daar was dood in die lug. En Carlos se arm ’n brug tussen ons liggame wat my weghol keer.
Die patrollieleier se wapen het in ’n stadige, soekende kring oor ons geswaai. Dan, voor my, ’n ritseling toe die kobra die aftog blaas. Onderdeur Carlos se arm, tussen ons heupe deur, dan oor my kuite. Die fynste ritseling toe dit in die donkerte verdwyn. Ek het my asemhaling beheer, maar moet erken ek het myself byna natgepis.
Die patrollieleier het hoorbaar ontspan: “Relaxar! Serpente.” Die geluid van wapens wat oor skouers geslinger word. Een wat vroetel, ’n sigaret aansteek. Die reuk was eksoties in die bos-naglug. Vir twee minute het die groep nog sag gesels, die klank onwerklik intiem so kort nadat die dood sy vertrek geneem het.
Ons taak was ook nie om die dood te bring nie. Ons moes daar uit en toe die patrollie aanbeweeg, het ons so stil soos die kobra verdwyn. Tydens die lang voetslaan na ons afgespreekte optelpunt het ek die gebeure weer en weer in my gedagtes laat afspeel.
Carlos, onverstoorbaar onder druk. So gefokus dat hy my vasgeklem sou gehou het, selfs al het die slang gepik. Want jy kon onder geen omstandighede die ops blaas nie.
Dit was die destydse Carlos. Ferm met vriend, meedoënloos met vyand. Het daardie onderskeid nou vir hom begin vervaag?
* * *
“Colonel?”
“My man. Hope you’ve got news for me?”
“Yes, sir. We got a fix on the guy. His name is Texeira. Frans. Ex-Special Forces, now security consultant.”
“Texeira? Why does that sound familiar?”
“The husband of Liesl Texeira.”
“Oh my God!”
“Just what I thought, sir.”
“Holy fucking Jesus, I’m going to have to send this upstairs. Have you got eyes on him?”
“We have a team out there, yes, sir. I’ll keep you posted.”
Kliek.