Читать книгу Bos - Jaco Wolmarans - Страница 5
3
ОглавлениеLynnwood, Pretoria, 7:00 vm.
Die selfoon lui my wakker. Ná seker ure se rondrol weer ingesluimer.
“Texeira.” My stem is ’n oggendgeroggel.
“Mister Texeira, this is warrant officer Watson, SAPS. Sorry to bother you so early.”
Die ondersoekbeampte in Liesl se moordsaak. Ek kyk op my horlosie. Sewe-uur. Goeie Vader, dis darem donners vroeg, selfs vir die SAPS.
“Adjudant, bel jy my om te sê jy het die dossier finaal gesluit?”
Hy laat hom nie van stryk bring deur my sarkasme nie. “Glad nie. Ek het ’n paar ekstra vrae. Is jy by die huis vanoggend?”
“Ek is, ja. Het julle nuwe leidrade?” Wat’s die kanse?
“Mmm, yes, in a manner of speaking, yes. Kan ek so oor ’n uur by jou wees?”
“Kom. Ek sal reg wees.”
Ek sit regop in die bed, verwonderd oor dié wending. Hoekom sou Watson hierheen wou kom? Kon hy nie maar oor die foon sy vrae vra nie? Die man is useless, het tot nou geen aanleg vir die werk of aanvoeling vir die gevoelens van ’n slagoffer se naasbestaandes getoon nie. Nou wil hy by my huis kom kuier? Oor ’n uur?
Alle gedagtes aan Carlos en my gestoei met my gewete gedurende die nag is vergete. Onder die stort werk ek in my kop deur die groen lêer op my lessenaar, probeer dink wat ek kon gemis het.
Onvermydelik speel die gebeure van daardie laatmiddag weer voor my af. Die oproep van Liesl se selfoon, die verrassing toe ’n manstem in plaas van hare met my praat. Die onmiddelike lamheid in my knieë toe ek hoor, baie jammer, sy is op die toneel dood. Die skok wat my laat terugsteier het tot by die sitkamerbank.
Ek was beswaarlik bewus van my gejaag na die moordtoneel. Iets in my het seker geglo as ek vinnig genoeg ry, sal ek haar nog lewend sien. Die Superspar se parkeerterrein was afgesper, maar ek het ’n pad tussen die uniforms deur oop baklei tot by die hopie onder die groen laken langs haar kar.
Met bloed wat soos vingers oor die teer na my uitgestrek is. Haar laaste, teer uitreiking.
Ek onthou die hopie waarby ek gekniel het, nie die mens onder daardie gevlekte laken nie. Dis die afstand wat ek tussen my en die dood moes plaas om die finaliteit daarvan te probeer uitstel. Daar was niks in my nie: geen geruk, geskud of geskree nie. Ek, wat al langs soveel lewenslose liggame was, was nou sonder emosie. Noudat ek wóú voel, wóú afskeid neem, kon ek nie.
Hulle het my uiteindelik weggelei. Ek het in die waas van skok daarna gehoor Liesl het in die parkeerterrein stilgehou, uitgeklim … toe ’n man haar trompop loop en in die bors skiet. Twee keer. Toe weggejaag.
Die polisie het aangeneem dit was ’n poging tot roof wat skeefgeloop het. Volgens ’n speurder op die toneel is onervare rowers dikwels senuagtig en wanneer ’n slagoffer weerstand bied, skiet en vlug hulle. Meestal sonder om iets te vat, wat kan verklaar hoekom niks uit haar motor gesteel is nie.
Ek het geknik, voor my bly staar. Toe gevra wie dit gesien het. Geen verklaring is toe nog geneem nie. Die ooggetuie kon blykbaar geen beskrywing van die aanvaller of sy voertuig gee nie, behalwe dat die motor donkerkleurig en skoon was.
Skoon. Nie dat dit ’n Mercedes of Toyota was nie. ’n SUV of ’n sedan nie. Nee, “skoon”. Wat ’n vreemde ding om van ’n moordtoneel te onthou.
Die polisie het my in my eie motor huis toe geneem en seker gemaak ek is oukei. Ek was, soort van, ná ’n derde stewige whisky. Dis toe my brein begin werk het, dat die vrae na vore gekom het.
Liesl, weerstand bied? Maak nie sin nie.
Sy was ’n opgeleide intelligensie-offisier. Wapenkonfrontasie was deel van die standaardopleiding. Bly kalm, praat sag, moenie oogkontak maak met die aggressor nie. Stel eers vas hoeveel opponente en wapens daar is, of die wapens gespan is, vingers op die snellers of nie. Wat die liggaamsposisie is – skouers vorentoe, reg vir aksie? Of platvoet, wat jou ’n kans op reaksie gee? Beplan jou optrede hiervolgens.
Sy het die prosedure geken, soos ons almal.
Het die ooggetuie werklik die hele konfrontasie gesien? Of eers opgekyk toe die skote klap, en toe ’n eie interpretasie aan die gebeure geheg? Hoe lank het die konfrontasie geduur? Kon hy of sy iets hoor – ’n woordewisseling?
Ek het in my baadjiesak gekrap, die ondersoekbeampte se kaartjie gekry en gebel. Wie was die ooggetuie? wou ek moeg weet. Hulle kon nie vir my ’n naam gee nie.
Het die persoon die hele episode gesien, of eers nadat die skote afgegaan het? Hy is nie seker nie. Is hy nie seker nie omdat hy nie die vraag gevra het nie, of omdat die ooggetuie onseker was? Hy het nie ’n verklaring afgeneem nie. Een van sy adjudante het met die persoon gepraat.
Man of vrou? Hy weet nie. Wat sê die verklaring? Daar móét mos ’n naam wees. Nee, hulle het nie ’n verklaring nie. Die persoon is weg van die toneel voordat hulle dit kon afneem.
Dit het geen sin gemaak nie. Ek het bloot die telefoon doodgedruk, en my sorge met ’n bottel Glenmorangie gedeel in die hoop dat ’n enkelmout-babelas nie so erg sou wees nie. Ek moes rus kry, en met Skotse vertroosting kon ek vir eers van die teenswoordige vergeet.
* * *
Die volgende dae, weke en maande het ’n obsessiewe Tex Texeira na vore gekom wat ek glad nie geken het nie. As die cops nie my vrou se dood kon oplos nie, sou ék dit doen.
Dit het begin met die ondersoekspan. Wat kon julle uitvind by die AO wat met die ooggetuie gepraat het? Hy is blykbaar weggeroep om verkeer te beheer, en toe hy terugkeer, was die persoon weg. ’n Man, hy weet nie wie nie. Geen beskrywing nie.
En het hulle die CCTV-materiaal van die parkeerterrein al bekyk? Nee – dit is nie beskikbaar nie, dis nooit opgeneem nie. Of uitgevee, per ongeluk, hulle weet nie mooi nie.
Wat van die wagte op die parkeerterrein? Hulle het nie met hulle gepraat nie, nee. Die ouens roteer, dit is moeilik om dié wat aan diens was in die hande te kry.
Het julle al probeer? H’m, nee, nog nie.
En so het dit aangehou. Dit het my laat ingryp, die wagte een vir een opgespoor, ondervra, maar ná drie dae kon hulle omtrent niks onthou nie. Ek het self na die Superspar se sekuriteitstelsel gaan kyk.
Die verbouereerde IT-beampte was totaal verward oor wat gebeur het. Die materiaal word outomaties opgeneem en ná ’n maand vervang met nuwe materiaal om bergingsruimte te bespaar. Maar die vorige dag se materiaal is weg. Hy het dit nie uitgevee nie, hy was aan diens, ja, maar hy was ten tyde van die insident onder in die winkel, nie in die beheerkamer nie. Anyway, die goed word mos outomaties opgeneem, sê hy.
Die een doodloopstraat ná die ander. My navrae het my opgevreet, my groen lêer volgemaak en my sak leeggemaak. Ek kon nie werk nie, nie voor ek antwoorde – en daarmee saam hopelik vrede – vind nie. Dit het my die hartseer laat onderdruk. Die treur oor my verlies maande lank laat uitstel. Tot die afgeskeepte emosies my uiteindelik ingehaal en my vir twee dae onder doktersverdowing laat beland het.
Twee dae se slaap het die woede uit my dreineer. My in ’n diepe depressie gelaat. Die soort wat jou laat verval in die mees basiese roetine van oorlewing. Eet, drink, slaap.
My lêer het dae lank onaangeraak op die lessenaar gelê. Boodskappe op my rekenaar het ongelees opgegaar.
Dit was ’n kollega van Liesl wat my uit daardie toestand gehelp het: een van haar kollegas, Sharon Cloete, wat ’n middag ná werk onverwags opgedaag het.
Sy was duidelik geskok oor my onversorgde voorkoms, die huis se toestand. En met al die gesag van ’n kortgat vyf-en-twintigjarige het sy my met ’n wysvinger stort toe gestuur: “Jy stink!”
Met my terugkeer, in vars klere en met gekamde hare, was die kombuis aan die kant, die skottelgoed nat opgestapel langs die wasbak, en Sharon besig om die sitkamer reg te ruk. ’n Koppie koffie vir elk het reggestaan.
“Tex, jy kan nie so aangaan nie. Jy moet hulp kry. Dis ongesond om so te leef.”
Ek het geknik.
“Wat doen jy met jouself deur die dag?”
“Sharon, ek spandeer elke oomblik om te probeer uitvind wat met Liesl gebeur het, want die polisie is useless. Ek het elke leidraad opgevolg, maar alles loop dood. En niks maak sin nie. Die CCTV-materiaal wat oornag verdwyn, ooggetuies wat kwansuis nie opgespoor kon word nie, mense wat nie eens kan onthou hoe karre lyk nie.
“Iets hier is nie reg nie. Dit was nie ’n gewapende roofpoging nie. Iets word toegesmeer, en ek gaan uitvind wat dit is. Ek weet net nie meer waar om te begin nie.”
Sharon het afgekyk, stil vir ’n oomblik. “Dink jy dit het iets met haar werk te doen?”
“Wat bedoel jy? Waaraan het sy gewerk?” Iets in haar stem het my ’n lammigheid in die bene gegee.
“Het sy nooit met jou oor haar werk gepraat nie?”
“Nee, en ek sou haar nooit uitgevra het nie. Jy weet moes hoe dit werk. Waarvan praat jy?”
“Niks spesifiek nie, Tex. Ek probeer sin maak. Liesl was meer as ’n kollega … sy was ’n vriendin. Ons mis haar ontsettend baie.” Sy het weggekyk. “Ekskuus, ek moes dit nooit eens opgehaal het nie, dit was onregverdig.”
En daarmee het Sharon bot toegeslaan oor die onderwerp. Beleefd bly gesels, ja, en my laat belowe voordat sy weg is dat ek ’n poging sou aanwend om meer uit te kom, kleur te kry en ander mense te sien. “Al is dit op ’n afstand, in ’n coffee shop!”
Toe is sy by die voordeur uit.
Ek het Liesl ontmoet toe sy as intelligensie-offisier aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se spesiale ondersoekeenheid toegedeel is. Die eenheid het onder meer belastingontduiking deur ryk individue en maatskappye ondersoek.
Hul metodes het later begin opspraak wek, want die inkomstediens het operateurs soos ek gebruik om die sogenaamde leefstyl-oudits te help doen. In wese was dit niks meer nie as mense dophou, sien waarmee hulle ry, by watter restaurante hulle eet, waar hulle klere koop en hoeveel hulle bestee.
Absoluut sieldodende werk. Geen wonder die blonde offisier het my oog gevang nie. Ons kantoorverhouding het gou oorgespoel in buitemuurse aktiwiteite, en ná agt maande is ons getroud. Saam die meenthuisie in Lynnwood gekoop. Lekker gebly, gelukkig met mekaar.
Ons het baie gemeen gehad. Sy het verstaan dat ek nie veel oor my verlede kon vertel nie, en ek het haar nie oor haar werk uitgevra nie. Ons het slegs sake bespreek waarby ons albei voorheen betrokke was.
Ná ons troue kon ek nie meer saam met haar werk nie. Die reëls teen nepotisme het dit verhoed. My reputasie was egter goed genoeg dat ander departemente my op aanbeveling kon gebruik. Dit was ’n lekker gereelde inkomste, en my en Liesl se lewens het ’n heerlike, gemaklike roetine aangeneem. Genoeg vir my om effe te begin ontspan, byna nooit meer soos ’n alleenloper te dink nie.
Die blote feit dat ek Liesl in my lewe ingelaat het, was vir my ’n wonderwerk. Ná soveel jare in die bos, met net myself of my buddy om op te vertrou, was dit ’n rare ervaring om emosies te deel. Dit het eers maar rukkerig gegaan, maar Liesl was geduldig en het my oor ’n kwessie van maande “mak gemaak”, soos sy dikwels geterg het.
Dis presies wat dit was. Die mens uit die bos gehaal. Hom weer geleer om te vertrou. Te deel. Ook te leer ontvang, sonder voorbehoud. Dit het my laat besef hoe kwaai ek emosioneel afgestomp was. ’n Mens in isolasie, onaantasbaar. Totdat sy ’n krakie in my mondering gekry en daardeur ’n lewegewende lig op my siel laat skyn het.
Daardie lig is nou gedoof. Haar werk ongedaan gemaak oor die maande van my ondersoek, asof ek my siel stuk vir stuk terugkatrol het deur die kraak wat sy oopgedwing het, en dit daarna toegestop het met die hardste hars. Dit was nodig vir my eie beskerming, glo ek, terwyl ek Liesl se dood probeer ontrafel.
Maar waar het dit my gelaat? Die kwesbare eggenoot het opsy gestaan vir die operateur van ouds met die verskanste hart. En daardie verandering het my lynreg in die pad geplaas van adjudant-offisier Dieter Watson.
Die man wat pas die voordeurklokkie gelui het.
Hy dra ’n blinkswart leerbaadjie. Dis koud buite, ’n snerpende wind wat waai. Waarskynlik ’n Kaapse koue front wat nou oor die Hoëveld swiep.
Ek nooi hom in, bied koffie aan. Terwyl die ketel kook, skuif hy op die kroegstoeltjie by my kombuistoonbank rond.
“Meneer Texeira, kan ek jou ’n persoonlike vraag vra?”
Ek kyk vinnig om. “Ja, natuurlik. Wat is dit?”
“Hoe was jou verhouding met jou oorlede vrou?”
Ek draai om, leun terug teen die opwasbak, arms gevou. Waarheen is dit op pad?
“Dit was baie goed. Ons was maar ’n paar jaar getroud. Hoekom vra jy?”
Hy is nou duidelik baie ongemaklik. “Het julle enige huweliksprobleme gehad?”
“Nee, glad nie!” Ek begin moerig raak.
“Is jy seker?”
“Ek is seker. Liesl was baie goed vir my.”
“So jy sou haar nie wou … laat verwyder nie?”
“Ek haar …? Is jy van jou sinne beroof?” Hy sê niks, kyk my vraend aan terwyl ek kan voel hoe die woede rooi in my wange opstoot. “Adjudant, ná maande wat jou ondersoek absoluut fokkol opgelewer het, wil jy nou huweliksprobleme as ’n motief ondersoek? En dat ek ’n hit op haar laat sit het?”
“Dis nie nodig om te vloek nie, meneer Texeira. Ons doen wat ons kan.”
“Ek het elke rede onder die fokken son om te vloek, man! Jy’t niks! Fokkol! Ná maande, terwyl ék al jou fokken ondersoekwerk doen? Is dit hoe ’n man optree wat ’n hit op sy vrou gesit het? Dink, man! Waar het jy dié idee gekry? Nog ’n onsigbare getuie sonder naam wat uitkyk vir skoongewaste karre?”
Hy trek homself orent, reg om hom te verdedig. “Wel, ons hét ’n anonieme tip gekry. Gisteraand. Iemand wat laat weet het ons moet kyk na jou verhouding met jou vrou. Dat dit soms gewelddadig was. So ek vra jou weer – hoe gesond was jou verhouding met jou Liesl?”
“Ek het jou reeds gesê. Dit was uitstekend. Beter as die meeste mense s’n. My fok, man, ons was omtrent nog pasgetroud! Wat verwag jy?”
“Tog het jy ’n geskiedenis van gewelddadigheid, meneer Texeira. Jy was ’n soldaat. Ja, ons het jou file gesien. Ons weet van jou werk, waar jy was. Julle recces het mos baie aksie gesien. Miskien ervaar jy posttraumatiese stres. Miskien het jy dit so effe verloor …”
Watson se gesig verhard. “So moenie vir my lieg nie. Ons gaan jou bure vra, ons gaan jou kollegas vra. Ons gaan jou shrink vra, as jy een het. Of as sý een gehad het. En as ek ’n hint van geweld kry, gaan ek jou boek. Dan praat ons weer. In die selle.”
“Adjudant, be my guest. Ek’s reg vir jou.”
Hy staan op. Die water het pas gekook, maar hy gaan nie bly vir koffie nie, want ek hou die voordeur vir hom oop.
* * *
Die res van die oggend dwaal ek weer rond in my huis, my gedagtes ’n warboel: Carlos, MI se Mosambiekse operasie en die nuwe verwikkeling in Liesl se saak is beurtelings op die voorgrond.
Ná twee, drie maande se geploeter sonder hoop, wat my na aan ’n senu-ineenstorting laat draai het, voel ek die eerste keer weer soos ’n mens. Dit smaak my ook ek het weer rigting noudat ek ’n slag uit die huis was.
Maar MI se versoek neuk met my planne. En nou Watson se aantyging. Ek wil nie spoed verloor met my ondersoek nie, vir my eie kopgesondheid moet ek eers vrede vind.
Onderliggend aan alles is ek ook nie gereed vir so ’n operasie nie. Dit voel of ek geen greep op my omgewing het nie. As operateur is dit ’n móét: beheer hou oor jou lewe. In my huidige geestestoestand is ek baie ver verwyder van daardie totale fokus, daardie broodnodige beheer – my ontploffing teenoor Watson het gewys hóé ver.
Nee, fokkit, ek het tyd nodig. Helena Paxton se kaartjie lê op my toonbank. Ek soek haar nommer. Sy antwoord omtrent met die eerste lui.
“Tex?” So sy het my nommer op haar foon. En ons noem nou mekaar sommer op die voornaam. Mooi, man.
“Helena, kan ons gesels?” Ek skuld haar ’n verduideliking, maar nie oor die foon nie.
“Ek kan na jou toe kom? Ek’s naby.”
Hoe de hel …? Maar natuurlik sal sy weet waar ek bly. Ek sal nie verbaas wees as ek al geruime tyd dopgehou word nie. En dit is ontstellend – die blote feit dat ek niks opgemerk het nie.
“Wel, ja, oukei. Ek’s by die huis. Siende dat jy weet waar dit is.” Ek kan myself nie help nie, die sarkasme glip uit.
Sy reageer nie daarop nie, sê net sy sien my oor ’n halfuur.