Читать книгу Bos - Jaco Wolmarans - Страница 7
5
ОглавлениеPretoria, 9:55 vm.
Kort voor tien die volgende oggend meld ek in Skinnerstraat by Militêre Intelligensie aan. Dis ’n onopvallende rooibaksteengebou, soos al die ander staatsgeboue in die straat. ’n Koeëlvaste glaspaneel, blou danksy die skemerdonker van die ontvangslokaal, begroet my. Die wag, in privaatdrag, vra my identifikasie, teken my teenwoordigheid in ’n register aan, skakel dan ’n uitbreiding.
Drie minute later skuif die hysbak se staaldeure oop. Helena Paxton, geklee in ’n netjiese denimbroek en geruite bruin baadjie oor ’n wit hoëkraaghemp, tree halfpad uit en wuif my woordeloos binne.
Drie verdiepings van stilswye later draai ons regs uit die hysbak. Sy maak ’n konferensielokaal se deur oop. “Sit asseblief solank, Tex. Ons wag nog vir die ander.”
Baie saaklik vandag, vergeleke met die sagter mens wat ek gister ervaar het.
Met die uitstap maak sy weer die deur toe. Ek trek ’n diep, swart stoel uit, sit my selfoon op die tafel neer. Die vertrek word oorheers deur die agtsitplek-eikehouttafel en ’n yslike plat skerm teen die muur. ’n Mengsel van tagtigers-burokrasie en plastiek-TV-tegnologie, tragies oudmodies ná twee jaar.
Die deur swaai oop en Helena stap binne, swart lêer onder die arm. Agter haar kom ’n ouer bruin man in ’n donker pak klere en blou truitjie, die baadjie sukkelend toegeknoop oor ’n potsierlike bolmagie. Sy grys hare is kortgeskeer en hy dra ’n dik swartraambril wat die sakke onder sy oë aksentueer.
Hy sit sy skootrekenaar op die tafel neer. Ek staan op.
“Tex, dis kolonel Rodney Stephens. Hy’s die spanleier vir die operasie.” Ons skud blad. Stephens is waarskynlik oud-MK-intelligensie, voor dit oud-UDF, nou deel van die geïntegreerde intelligensiedienste soos so baie van sy makkers uit die apartheidsjare.
“Dankie vir jou tyd, meneer Texeira, en apologies for the short notice. Tyd is maar min, so laat ons sommer inval.” Hy stoot die bril met sy wysvinger terug op die brug van sy neus, knoop sy baadjie los en gaan sit.
“Noem my Frans. Of Tex, asseblief.”
“Sure.” Stephens knik na Helena. Sy skakel die skerm aan, en ’n Windows-lêerstruktuur verskyn deur die wifi-verbinding met sy rekenaar. Hy navigeer na ’n lêer genaamd Operation Mavic.
Helena haal ’n dun pakkie A4-grootte papiere uit haar leerhouer, skuif dit saam met ’n pen oor die tafel na my. Boaan, in rooi, staan Non-disclosure.
Stephens maak keel skoon. “Voor ons begin, jy sal verstaan wat ons nou bespreek, is top secret, soos altyd, nè?”
Ek knik, kyk vlugtig deur die drie blaaie wat uitspel, in terme van die Wet op Staatsgeheime, wat met my sou gebeur indien ek uitpraat. Standaardprosedure.
Ek parafeer, teken op die derde blad, stoot dit terug na Helena.
Stephens klik op ’n lêer. Dit maak oop en wys ’n string foto’s in jpg-formaat. Hy klik op die eerste, en ’n foto van Carlos en nog ’n swart operateur verskyn: eersgenoemde sittend op die kant van ’n rubberboot. Ek herken die buddy van hom glad nie.
“Carlos Viyera werk al sedert die disbanding van 5 Recce en later 451 Parachute Battalion in 1992 vir Militêre Intelligensie se Directorate Covert Collection. Ons het hom kort voor sy unit se disbanding ingebring om ons te help met sensitive cross-border ops, party daarvan in Mosambiek.”
Dit sou verklaar hoe Carlos so spoorloos kon verdwyn in die onseker stadium voor die demokratisering van die land, toe die meeste van ons werk gesoek het ondanks ’n stel vaardighede met ’n beperkte vredestyd-raklewe.
Daar was sprake van samesmelting met Umkhonto weSizwe, met ons voormalige vyand. En ergste van alles, dit sou waarskynlik geskied met dieselfde uiterste wantroue en vrees wat die integrasie van die Namibiese magte ná die Bosoorlog meegebring het. Baie van ons operateurs het eerder die hasepad gekies na Irak of Afganistan. Ons het aangeneem Carlos het ook.
Stephens klik weer, en ’n lugfoto van ’n hawe verskyn. Groot skepe, hyskrane, aktiwiteit op ’n kaai. ’n Volgende foto is van nader af, wys ’n groep mans in uniform wat ’n wit silinder met ’n hyskraan bo ’n platbak-vragmotor posisioneer. Ek herken dit onmiddellik uit ons talle lesings oor wapentuig: die SA-9-langafstand- grond-tot-lugmissiel, of SAM soos dit bekend was. Russies vervaardig, universeel verkoop en dodelik gevaarlik vir militêre en siviele lugvaart.
Die hawe is onbekend.
“Dis SA-9’s. Maar waar is die hawe?”
“Beira,” sê Helena. “Dit was in 2012. Carlos en sy buddy, DC Freitas, moes binne sigafstand kom om ons inligting te bevestig. Dan die vrag te volg na waar die missiele ontplooi sou word. Ons het Carlos en Freitas met ’n duikboot tot buite Beira geneem. Hulle is met ’n rubber duck oornag tot suid van Beira se hawe en is van daar met ’n Klepper stroomop in ’n sytak van die Pungwe tot naby die hawe, van waar hulle die bedrywighede kon dophou.”
Dis ’n helse stuk roei in ’n Klepper, ’n soort opvoubare tweemankano wat ons destyds gebruik het.
Stephens stoot die rekenaarmuis rond. ’n Kaart van Beira en omgewing verskyn. “Soos jy sal weet, is ons direktoraat se mandate early warning. Teen external threats. This was one of those.”
Hy klik op die kaart. “Teen 2012 het Renamo weer begin ructions maak in die Gorongosa-provinsie. Hulle het hul hoofkwartier hier na Sathunjira geskuif. Die Frelimo-regering was neurotic oor enige destabilisering in dié gebied – it’s really remote, and very difficult to patrol. Ons was seker dat Frelimo die missiele iewers suid van die provinsie sou deploy, waar Renamo se grootste invloed was. That way they could react quickly if the Renamo militia got active.
“Staatsveiligheid, well, destyds nog Nasionale Intelligensie se direktoraat van eksterne operasies, het intel ontvang dat Renamo van die missiele bewus was. This made them very nervous, want daar was potensiaal vir ’n baie unstable omgewing reg op ons grens as die missiele in Renamo se hande sou val.
“Maar hul eintlike worry was dat Gorongosa reg onder die commercial flight paths van die Seychelles en die Comoros na Harare en Johannesburg lê. Met die reach van die SA-9’s sou dit die hele Suider-Afrikaanse airspace in gevaar stel. Jy sal onthou watter krisis die afskiet van president Samora Machel se vliegtuig destyds veroorsaak het.
“Dit was critical dat die missiele nie in Renamo se hande beland nie. NI het nie destyds die capacity gehad vir sulke ops nie, and they approached us. Ons moes die missiele sonder die wete of toestemming van die Mosambiekse regering uithaal. Dit was die goal van Ops Mavic. MI het ingestem en met die beplanning daarvan begin, en dit deploy binne twee weke, toe die missiele in Beira uit Libië aankom.”
Twee weke? Beslis nie ’n gesonde situasie vir die tweemanspan wat die operasie moes uitvoer nie. Normaalwag sou ons spanne weke lank elke stap inoefen.
Sekondes tel in so ’n operasie, en slegs wanneer operateurs sekere aksies oor en oor geoefen het, kon hulle die spiergeheue ontwikkel om dit suksesvol onder druk en in die donker uit te voer. Met net twee weke se voorbereiding sou hulle bloot tyd gehad het om die logistieke deel van die operasie te beplan, die terrein op ’n afstand te leer ken, en te besluit op prosedures vir noodonttrekking en eksfiltrasie.
Stephens vertel in breë trekke hoe Carlos en Freitas met hul Klepper met donkermaan tot naby die militêre hawe in Beira gekom het, die boot, radio en toerusting versteek en met ligte pakke tot binne sig van die kaai gekom het. Dit is bewaak deur troepe van FADM, die Mosambiekse gewapende magte. Hier het hulle twee dae lank die laai van die missiele op drie vlakromp-rivierbote dopgehou. Dit sou vir hulle onmoontlik gewees het om die missiele hier te probeer verwoes – die sekuriteit was uiters streng.
Die enigste opsie was om die rivierbote te volg na hul uiteindelike bestemming, en vir ’n geleentheid te wag wanneer die sekuriteit verslap, buite hoorbare afstand van Beira.
Ek kyk na die lugfoto van die omgewing. Beira is geleë aan die mond van die Pungwe, ’n kronkelende watermassa wat vir etlike kilometers die binneland in begaanbaar is.
Die rivier se slangagtige kinkels vernou ná sowat veertig kilometer, en draai noord vir omtrent nog tagtig kilometer waar dit die suidgrens van die Gorongosa-provinsie vorm. Na my mening sou Frelimo die missiele so ver noordwes geneem het as wat die water dit toelaat, en dan ’n tydelike basis daarvoor bou.
Om die bote helder oordag te agtervolg sou geweldig moeilik gewees het. Hul enigste opsie sou wees om tot donker te wag en die bote te gaan soek. Gelukkig was dit gou duidelik dat die FADM beplan het om die missiele in die nag te vervoer. Dit sou sin maak – Renamo het orals oë gehad.
Die FADM-bote is teen elfuur die aand uit die hawe en stadig stroomop verby die twee. Carlos en Freitas kon hulle met nagsigtoerusting volg, vyfhonderd meter agter hulle in die stroom.
Met donkermaan, en met die geraas wat die rivierbote se enjins gemaak het, asook die watergeruis, sou ons span ’n goeie kans gestaan het om onopgemerk te bly.
Stephens vertel hoe Carlos en Freitas die bote tot eerste lig gevolg en toe opgelê het naby die dorpie Mafambisse, by ’n groot winkelhaak in die Pungwe.
Stephens stap na die geprojekteerde kaart en wys na waar die rivier sowat ’n kilometer breed is. Die bote het blykbaar hier vasgemeer en wagte is uitgeplaas. Carlos en Freitas het die area verken en op ’n vernietigingsplan besluit. Freitas sou die Klepper in die rivier gereed hou terwyl Carlos die ladings plaas.
“Freitas het later met sy debriefing vertel alles het aanvanklik goed verloop, maar dit wou voorkom asof Carlos deur ’n wag surprise is,” sê Stephens. Volgens hom was daar meteens skote en chaos. Hy het tot op die nippertjie gewag, soos hulle ooreengekom het, maar toe Carlos nie sy verskyning maak nie, moes hy die eksfiltrasieplan volg en het hy so stil moontlik weggeroei.
Carlos het ook nie soos afgespreek binne die volgende twee uur by die nood-RV uitgekom nie, en Freitas het aanvaar hy’s dood of gevange geneem. Freitas is later weer deur ons duikbootspan opgepik.
“Ons het vir weke asem opgehou. As Carlos captured was, sou ons op diplomatieke vlak daarvan gehoor het. Maar dit was grafstil. Ons het gehoop dat die FADM Carlos vir ’n Renamo-soldaat sou aansien, en daar geen trace terug na ons operasie sou wees nie.”
Stephens sê hoëvlak-fotografie van die gebied het niks opgelewer nie. Ná die aanval het Frelimo klaarblyklik die bote na digter skuiling verskuif, en hul sekuriteit opgeskerp. Daar was geen teken van die missiele nie, en nog minder van Carlos. Vir langer as ’n jaar.
Ek kyk hom afwagtend aan.
“En?”
“Toe, drie maande terug, kontak staatsveiligheid se direktoraat teen georganiseerde misdaad ons. Iemand wat soos Carlos lyk, was blykbaar betrokke by die rhino poaching in die verre weste van Mosambiek.”
“Ek sluk dit nog nie. Hoekom dink hulle dis Carlos?”
“I’m getting to that.”
Stephens roep ’n ander kaart op, en wys na ’n groot meer aan die oosgrens van die Krugerwildtuin.
“Dit is die Massingir-meer in die Parque Nacional do Limpopo. Georganiseerde Misdaad werk al ’n geruime tyd saam met ’n unit van die SAPS en Sanparke om die joint protection zone te patrolleer.
“Vir staatsveiligheid is die patrollies bloot ’n cover vir die werklike operasie – om informante in die omgewing te recruit, of nog beter, om agente die Lagoa Nova-gebied te laat infiltreer, hier, waar die poachers deurbeweeg na die JPZ.”
Hy wys na ’n beboste gebied met lae koppies, klein valleie met vloedvlaktes in die meerarea. Infiltrasie lyk godsonmoontlik: hope kraaltjies tussen die kolle bos en groot oop ruimtes wat ongemerkte indringing baie moeilik sou maak.
Stephens sê tot dusver was staatsveiligheid se operasie minder suksesvol. Die plaaslike bevolking steun die stropery, neem selfs aktief daaraan deel – hetsy as jagters of as vooraf-waarskuwing vir die stropers wat deur hul areas na die Kruger beweeg.
In sulke van-die-hand-na-die-tand ekonomieë is die enorme bedrae geld wat lojaliteit en stilswye koop sekerlik onweerstaanbaar. Voeg hierby die tipiese intimidasie en vrees waarmee die poacher bosses oor die mense beheer hou, en jy het ’n ideale omgewing vir die ontstaan van ’n ondeurdringbare organisasie – en ’n intelligensie-nagmerrie.
“Die joint task force het byna een van hulle veldwagters in ’n ambush verloor. Die groep het onder kwaai vuur gekom en moes terugval. One of them got pinned down. Sy buddies kon nie by hom uitkom nie, en moes vir backup wag het. In daai tyd is hy geskiet, blykbaar.
“Toe die backup opdaag, was die poachers lankal weg. Hulle het die veldwagter in die bos gekry, skietwond in die bors. Hy het baie bloed verloor, maar hulle kon hom by ’n hospitaal kry.
“Toe staatsveiligheid hom uiteindelik debrief, het hy vertel die poacher boss self het hom geskiet. He was lucky to be alive. Ons is nie seker nie, maar dit wil voorkom of die poachers hom deliberately geskiet en lewend gelos het. As a warning.
“Hy kon darem ’n beskrywing gee vir ’n identikit. Staatsveiligheid se rekenaars het slegs een hit daarop gehad: die naaste ooreenkoms was met ene Carlos Viyera. Which made no sense. Carlos was mos weg, presumed dead, maar nog nie so aangeteken nie. Ook maar goed daar was nie ’n update op die records nie, anders sou hulle dit nooit opgetel het nie.”
Ek skud my kop. “Dit maak nie sin nie, Rodney. Die Massingir-dam is honderde kilometers van Beira af. Al kon Carlos weggekom het, sou dit vir hom onmoontlik gewees het om so ver sonder hulp te kom. En in elk geval, hoekom sou hy spesifiek soontoe wou gaan? Hoekom nie bly waar hy is nie? Of terugkom hierheen nie? En hoekom nóú, so lank ná die Beira-operasie?”
“Goeie vrae, Tex. Ons kan lank speculate, maar die waarskynlikste is dat hy geflip het. Jare se stres, maybe one trauma too many. Geld. ’n Vroumens. Who knows? Maar ons gaan uitvind, because we now have to deal with the fallout.” Hy kyk op sy horlosie. “Kan ons breek vir tee of koffie? Gibson is probably on his way.”
Stephens staan op en stap uit. Ek kyk vraend na Helena. Sy was deur die hele inligtingsessie doodstil.
“Dis Gibson Langa van staatsveiligheid. Hy kom van die JPZ met die jongste intel.” Sy maak haar papiere bymekaar, stamp dit liggies op die tafel en sit dit in ’n ordelike stapeltjie neer. Presiese mens. By die deur draai sy om:
“O ja, die poacher boss noem homself blykbaar Kalingono, volgens ons intel. FYI. Kom ons gaan kry gou iets om te drink.”
Kalingono. Ek bly verstar in my stoel sit, my gedagtes terug by Fort Rev in Ondangwa en ’n operasie saam met Carlos in Angola. Ons het verkenning gedoen van ’n Swapo-basis, en het dié nag onverwags tussen twee krale ’n man op sy fiets raakgeloop, ’n AK47 oor sy skouer.
Wie die grootste geskrik het, weet ek nie, maar omdat ons tot elke prys ’n skietgeveg wou vermy, het ons ’n sekonde te lank gehuiwer om hom uit te haal. Dis al wat hy nodig gehad het om alarm te maak.
Nog so in die platval van sy fiets af het hy sy wapen omgeruk en begin skiet. Sy skote is wild verby ons, en die nag het ontplof met die geblaf van honde.
Die operasie was daarmee heen. Ek het twee rondes deur die man se bors gejaag en saam met Carlos suid begin hardloop, weg van die chaos.
Ons het van oortollige gewig ontslae geraak en die hele nag gehardloop, ’n stywe pas wat ons teen skemer twee-en-twintig kilometer verder by ons nood-RV gebring het. Gelukkig was die radio-operateur in ons tuisbasis wakker en ’n Puma kort daarna op pad. Ver agter ons was die geluid van troepedraers se enjins reeds hoorbaar, en mortiere is toe reeds elke tien minute afgevuur om ons aan die beweeg te hou. Hulle was klaarblyklik nog onseker oor waar ons was, en sou eers teen daglig hul spoorsnyery kon versnel.
Die Puma was betyds en ons is terug oor die grens. Teen skemeraand, met ons wapens op ons knieë onder die bome in Fort Rev, was ek steeds briesend oor die terugslag. Ons het weke lank voorberei vir die operasie. Ons was vir alles gereed. Behalwe vir ’n middernagtelike ontmoeting met ’n Swapo-lid wat waarskynlik op pad terug was van ’n vryery in ’n kraal.
Shit happens, het Carlos getroos. “Amigo, soms is hardloop die beste taktiek. Gister was een van daai dae.” Dit was al. Hy het doodstil aangegaan met geweer skoonmaak.
Maar ná ’n minuut of twee begin hy my vertel van sy jeug in Angola. Uit die bloute. Van sy tyd as jong seun op ’n dorpie waar sy pa die skoolhoof was, en hoe sy pa hom een dag op die rand van ’n rivier die klein vissies uitgewys het wat in die vlakwater maal.
Een daarvan, met groen en blou strepe dwarsoor die lyf, het roerloos op die modderige bodem gelê, oënskynlik vrek. Ander, kleiner visse het nader geswem en die verrottende vleis probeer verslind. Dan, sonder waarskuwing, het die gestreepte vis met ’n kragtige stertbeweging omgeswaai en die naaste aasvreter met ’n enkele hap ingesluk.
Dit was, in volksmond, die kalingono, of Livingstone se cichlid. ’n Vis wat doodspeel tot ’n fyn kuns vervolmaak het. Doen dit wanneer dit nodig is vir jou oorlewing, was Carlos se slotsom.
Kalingono.
Nou is daar by my geen twyfel meer nie. Dis hy. Carlos leef.