Читать книгу Bos - Jaco Wolmarans - Страница 8
6
ОглавлениеMI-hoofkantoor, Pretoria, 11:40 vm.
Ek en Helena staan in die klein kombuis in die gang af van die konferensielokaal. Sy roer twee koppies stomende koffie, gee dan een vir my aan. Ek proe. Sy het by my huis opgelet ek drink nie suiker nie.
“Wat dink jy?” Sy kyk my afwagtend aan.
“Om die waarheid te sê, ek weet nie wát om te dink nie. Die tyd wat Carlos weg was, maak nie vir my sin nie. Ons is opgelei in ontsnapping en ontwyking. Carlos sou mettertyd ’n boodskap na missiebeheer kon deurkry. Dit was standaardprosedure.
“Ek weet hy was ’n loner, hy was eksentriek en het verkies om alleen te werk. Maar hy was ook verreweg die beste operateur saam met wie ek ooit gewerk het. Sy lojaliteit was nooit in twyfel nie. Ons mis iets, iewers.”
“Lojaliteit? Hy is Angolees, nie waar nie? Aan wie kon hy nou eintlik lojaal wees?”
“Dis presies die punt, Helena. Vir iemand soos Carlos gaan dit oor as méér as ’n land of ’n ideologie. Mense soos hy veg altyd vir ’n waardestelsel. Maar dis hul eie, nie altyd in lyn met ’n spesifieke land se ideologie nie.”
“Wat was Carlos s’n?”
“Ek dink nou al van gister af daaroor en sukkel om dit te beskryf, want dis so eenvoudig dat dit nie geloofwaardig sal klink nie. Ek het altyd die gevoel gekry die ding wat hy die meeste verpes, is onregverdigheid. Hy kon nie verdra dat die boelies op die klein outjies trap nie. Die MPLA was vir hom ’n boelie; sy mense in Angola was die slagoffers.
“Dit was vir hom die ergste vorm van magsmisbruik en hy kon dit nie duld nie. Nie van ons offisiere nie, van niémand nie. Hy het eendag ’n kaptein in die basis binne-in ’n visdam gemoer omdat die ou sy gewig onnodig rondgegooi het. Dit het hom ’n paar ekstra dienste gekos. Maar hy het nie geworry nie.
“Ek dink die beste manier waarop hy misbruik kon beveg, was om by ’n groep aan te sluit wat sy waardestelsel gedeel het. Suid-Afrika het destyds teen die groot Rooi Gevaar geveg; die hele wêreld aangevat en Kuba, Angola en Rusland lekker op hul hel gegee. Net soos Israel. Against all odds. Ek dink dit het Carlos aangegryp.”
Sy knik, albei haar hande in die nou bekende gebaar om die beker voor haar mond gevou. “En jy voel wat hy nou doen, is in stryd met daardie waardestelsel?”
“Heeltemal. Dis uit karakter. As hy mense in Mosambiek intimideer, dan boelie hy ook. Dis waarteen hy sy lewe lank geveg het – en as dit waar is, het iets groot in sy lewe gebeur om hom oor die wal te help. Die vraag is, wat? Geld sou dit nie aan hom doen nie. Dit was nooit belangrik genoeg nie. Mag? Miskien, maar ek sluk dit swaar.
“Ek is nou nie ’n sielkundige nie, maar Carlos is sy lewe lank in uniform en het orders gevat vir ’n lewe. Miskien is dit die een of ander teenreaksie, ná jare van onderdanigheid? Ek weet nie. Dis steeds vir my ’n stretch. Maar ek begin die ergste vrees, want ek kry nie ander antwoorde nie.”
Terug in die konferensielokaal staan kolonel Stephens en ’n gesette swart man in ’n grys pak klere, wit hemp met ’n nou boordjie en ’n uitspattige rooi das vooroor geleun by ’n oopgerolde kaart op die tafel. Die dakligte weerkaats op die swart man se blinkgeskeerde kop. Hulle kyk op toe ons instap.
“Tex, ontmoet Gibson Langa van staatsveiligheid se direktoraat teen georganiseerde misdaad.”
Langa stap om, steek sy hand met ’n joviale glimlag uit. “Tex? I’ve heard so much about you! It’s an honour! Thank you for helping us out, my man. We really can’t do this without you.”
Ons groet en kry ons sit om die kaart. Stephens neem weer oor.
“Gibson, ons het Tex die background gegee. Can you bring us up to speed on the joint ops?”
Gibson knik, leun oor die kaart en maak ’n kringbeweging van ’n area noordoos van die Letabarivier na ’n paar kilometer suidwes van die Mosambiekse grens.
“Kolonel Stephens het jou seker ingelig oor ons basis hier, op die walle van die Letaba?” Ek knik. “Ons direktoraat se mandaat is om taktiese inligting en intelligensie aan die wetstoepassingsorganisasies te verskaf. Die aard van die inligting is natuurlik meestal georganiseerde misdaad. En ander aktiwiteite wat ’n bedreiging vir ons nasionale veiligheid kan inhou.”
Hy praat presies, afgemete, die georganiseerde staatsamptenaar, sy Afrikaans geaksentueer maar verbasend goed. Hy wys na die oewergebied suidoos van die Massingir-dam, ’n verlate stuk aarde met net een toevoerpad, die 406-roete, wat die dorpies van Macavene en Massingir en verder suidoos die groterige Chokwé verbind.
“Volgens ons inligting is die mees georganiseerde groep renosterstropers hier. Sowat vyf-en-sewentig persent van al die stropery uit Mosambiek vind hier plaas. Hulle teiken die private reservate: Timbavati, Sabi Sands, Sabi-Sabi. En natuurlik die Krugerwildtuin.
“Feitlik hierdie hele streek is deur die bedryf gekriminaliseer. Omtrent almal maak ’n inkomste uit stropery. Dit is ’n ekonomie op sy eie, en feitlik al inkomste vir die mense in die omgewing. Hulle is baie arm, met die gevolg dat hulle uiters lojaal teenoor die poacher bosses is.
“Dit maak infiltrasie natuurlik baie moeilik. Ons probeer ’n netwerk van informante op die been bring, maar kommunikasie is moeilik en onvoorspelbaar. Die mense word goed betaal, maar hulle vrees ook vir hul lewens. Dis ’n gevaarlike plek met gevaarlike mense. Ons is besig om die oorlog te verloor, Tex, en Carlos Viyera is in ’n groot mate daarvoor verantwoordelik.”
Langa maak sy lêer oop en haal ’n paar A4-grootte lugfoto’s uit. Ek neem aan dit is die dorpie wat die kern van die smokkelbedrywighede is.
“Carlos het so ’n jaar terug hier in Massingir verskyn. Uit die bloute. Ons het in daardie stadium natuurlik nie geweet wie hy is nie. Ons kon hom ook glad nie verbind met die Carlos Viyera wat verdwyn het nie. Daar was geen rede daarvoor nie.
“Die area hier was in die verlede onder twee of drie poacher bosses. Almal oud-Frelimo-mense, waarskynlik oorspronklik van die omgewing. So hulle ken die plaaslike mense, en beheer dinge met geweld en intimidasie.
“Dinge was redelik normaal, elkeen het sy eie netwerk gehad en jagspanne oor die grens gestuur en uit mekaar se pad gebly. Ons kon informante werf, en was op die punt om die netwerke self te begin infiltreer toe dié Kalingono opdaag. Die moeilikheid het byna dadelik begin – inligting het opgedroog, die mense wou nie met ons praat nie, en ons het al hoe meer verliese begin ly. Tientalle renosters op ’n dag. Maar toe begin daar ’n ander dinamika in die gebied kom.”
Langa vertel dat een groep stropers volgens hul inligting ’n ander groep van oortreding op hul gebied begin beskuldig het, en dat die derde groep kant gekies en die eerste groep help uitroei het. En nie lank daarna nie, toe tel die twee oorblywende groepe stry op en begin onder mekaar skiet.
“Ons inligting het duidelik gewys iemand was besig om die leiers te manipuleer en teen mekaar aan te hits. Kalingono was in daardie stadium ’n ‘luitenant’ in een van die groepe, iemand net vaagweg op ons radar. Maar toe bars alle hel los tussen daardie twee groepe.”
“En toe die stof gaan lê, he was the only one left standing,” voeg Stephens by.
Langa knik.
Met die geheimsinnige Kalingono die de facto-leier van die oorblywende bendelede, het hy blykbaar vinnig sy posisie by Massingir gekonsolideer en binne enkele maande feitlik alle toegang uit Mosambiek suid van die Parque Nacional do Limpopo tot die Kruger en die private wildreservate beheer.
“As jy in dié deel jou smokkelnetwerk wou opereer, moes jy hierdeur beweeg en dan het jy betaal.” Langa leun terug in sy stoel en sy nekvelle beur uit bo sy nou kraag.
“Ook die gereelde aantal horingkopers is eensklaps uitgedun. Ons het inligting ontvang dat van hulle bloot weggeraak het, en daar was ander kopers wat om die een of ander rede begin wegbly het. Maar ons is redelik oortuig dit was Kalingono wat sy voorkeure gehad het en die mense begin uitdun het sodat hy net met een koper kon werk.”
En toe begin die stroom van inligting stelselmatig opdroog namate die nuwe boss se vreesbewind posgevat het. Niemand wou praat nie, en die gesamentlike taakspan se beperkte fondse vir informante kon eenvoudig nie meeding met die koopkrag van vrees nie.
Kalingono was stewig in die saal.