Читать книгу Bos - Jaco Wolmarans - Страница 6

4

Оглавление

Lynnwood, Pretoria, 8:20 vm.

Die deurklokkie lui en ek spring op van my kombuisstoel.

Helena Paxton lyk vars, uitgeslaap, netjies uitgevat in ’n donker broekpak en baadjie, groen serp om haar keel. Ek verwonder my ’n paar oomblikke – te lank na my eie sin – oor hoe die serpie die kleur in haar oë uitbring.

“Wel, goeiemôre vir jou ook,” sê sy met ’n skalkse glimlag toe ek haar nie dadelik binnenooi nie. Dan haal my maniere my in en ek wuif haar na binne. Idioot.

“Die water het nou net gekook. Koffie?”

“Dankie.” Sy kyk rond, neem die sitkamer met ’n vrou se oog in, sien seker die agteruitgang in my lewe. Want kort daarna, toe sy by die kombuistafel sit, kom dit uit:

“Hoe gaan dit met jou, Tex? Ná jou vrou se dood?”

Ek dink voordat ek antwoord, hou my besig met die skink, melk en suiker aanskuif. “Dis hoekom ek met jou wil praat. Ek is nie oortuig my kop is al reg vir ’n operasie nie.”

Sy sê niks, skink melk, en sit dan met albei hande om die beker voor haar gesig. En wag dat ek oopmaak, haar groen oë neutraal, sonder oordeel.

“Ek was maar in ’n terrible toestand die afgelope maande. Dit het my sleg gevang, en ek het nog nie vrede gemaak nie. Die saak draal, want die polisie se ondersoek was van die begin af ’n gemors.”

Ek noem ’n paar voorbeelde.

“Ek het nog nooit so ’n aborsie gesien nie,” sê ek oplaas. “En die jongste is nou dat hulle dink ek het ’n aandeel gehad in die moord.”

“Wat?” vra sy skerp, haar oë geskreef, en sit die beker neer. “Hoe weet jy?”

“Die ondersoekbeampte was kort voor jou hier gewees. AO Dieter fucking Watson,” sê ek bitter, en voel onmiddellik sleg. “Ekskuus. Hy het my kom sê hy het gisteraand ’n anonieme wenk gekry dat ek ’n gewelddadige verlede het en dat my verhouding met my vrou nie so goed was nie.”

Sy hou haar hande vraend op. “En …?”

“En niks verder nie. Hy het my bloot kom beskuldig. Om te sien hoe ek reageer. Standaardprosedure. Maar toe laat hy val hy het my file gesien, weet wat ek in die oorlog gedoen het, en insinueer toe dat ek aan PTSD ly en ek daarom ’n hit op my vrou gesit het!”

Sy skud haar kop uit ongeloof, haar oë hard. “Dit klink of iemand jou wil brand, Tex. Enige idee wie? En hoekom?”

“Nee, glad nie. Ek het skaars enige vriende, wat nog te sê vyande. En die meeste van dié is dood!”

“Jy’t gesê jy voel nie reg vir ’n missie nie? Hoekom so?”

Ek sug, vryf my oë en dink oor hoe ek dit moet stel. “Dit gaan oor fokus, Helena. Die vermoë om totaal te kan fokus, sonder sideshows. Dit bring selfvertroue, dit bring die vlak van konsentrasie wat jy nodig het om jouself aan die lewe te hou. En dis erger as jy ander mense saam met jou het, mense wat op jou staatmaak. Ek het te veel sideshows op die oomblik.”

Haar oë is weer op die beker in haar hande. “Wat is die sideshows?”

“Die moordondersoek. Watson se aantyging. Daar is iets daaragter, en ek gaan nie kan rus voor ek weet wát aangaan nie.” Ek durf nie iets sê oor Liesl se werk en Sharon se suggestie dat dit dalk met haar dood verband hou nie.

“Ek verstaan. Maar met alle respek, wat kan jý doen wat die polisie nie kan nie?” Haar stem is neutraal en ek kan sien sy probeer my nie verneder nie. “Ek meen, jy het tog nie dieselfde toegang tot inligting as hulle nie? Jy kan tog nie lasbriewe kry, mense ondervra nie? Wat kan jy nóg doen?”

“Ek kan minstens probéér, Helena, en dis meer as wat die ondersoekspan kan sê!”

Ek staan op en loop na die kombuistoonbank, waarop ek moet leun, meteens doodmoeg.

“Kyk, jy’s seker reg, ek is waarskynlik heeltemal naïef, maar kan jy verstaan dat dit vir my minstens vóél of ek iets doen? Kan jy verstaan dat ek haar dit verskuldig is om te probeer?”

“Ek kan, ja,” sê sy sag. “En as dit ék was, sou ek waarskynlik dieselfde wou doen. Sy het vir jou baie beteken, ek kan dit sien. Ek kan ook sien dit vreet jou op, want jy maak nie vordering nie. En jy gaan nie. Nie só nie.” Sy laat die stelling hang.

Ek kyk haar in die oë, vraend. Die oomblik draal, maar sy kyk nie weg nie, hou die afwagting lewend.

Ek’s nie seker hoe om te reageer nie, vra eindelik: “Wat wil jy sê?”

“Ek wil sê ons kan mekaar dalk help.”

Ek weet nie wat om te antwoord nie.

“Tex, ons het jóú nodig. Niemand anders nie. Maar ons het jou gefokus nodig. Totaal gefokus.”

“Dit is hoekom ek nie reg is vir die operasie nie.”

“Wat as ek sê MI kan jou help met jou ondersoek?”

“Hoe?”

“Ons het bronne, ons het databasisse, ons het toegang wat jy of die SAPS nooit sal hê nie. Ons het mense op die grond. Informante. Tex, as jy antwoorde soek, kan ons jou help. Maar eers nadat ons klaar is met Carlos. Dis my voorwaarde. En natuurlik dat jy eenhonderd persent gefokus sal wees. As jy dít nie kan waarborg nie, is daar geen deal nie.”

Hoe kan ek ooit so iets waarborg? Dit en die lewens waarvoor ek sal moet pa staan?

Ek kyk verby haar na die sitkamer, en ek sien die verval, die duidelike tekens van ’n mens in krisis. En ek weet in my kantoor wag die bultende groen lêer onvergenoeg op my lessenaar, ’n onversadigbare monster.

Ek draai terug na haar. “Wanneer begin ons?”

Bos

Подняться наверх