Читать книгу Op die spoor van hoop - Jacqueline Leuvennink - Страница 10
Sout in die are
Оглавление“Ons leef van die see. En ons leef op hoop,” sê ’n visserman van Lambertsbaai nou een oggend oor die radio. Sy stem is skor van jare se skree bo baie branders uit. Uit my Weskus-kinderdae weet ek sommer hoe lyk sy hande – eelterig van nettrek, die vingernaels geskeur van robslaan, kreefvang, masbankerkrap en snoekvlek.
Die manier waarop hy sy r’e skraap, ryg skielik die herinneringe soos ’n rytjie bokkoms voor my in. Die skielike toeslaan van ’n misbank; die diep, veraf brul van die mishoring; berigte van skepe wat in die moeilikheid raak as die “noord” (noordewind) hulle vastrap. Vissers en skuite wat skommel tussen skeptyd se volop en droëbek omdraai, hoog- en laagwater, deinings en trôe. En die see, in Langenhoven se woorde, die een dag nog ’n groot, wye glimlag, maar oormôre ’n onherkenbaar woeste, dronke derduiwel.
My sending is om te gesels met vissers, tegelyk konings én knegte van die kus, wat in die winterweer as ander dig maak selfs dik swaarweer om den brode bly trotseer. Omdat hulle na die see kyk vir kos.
Ons vat die pad Weskus toe. Daar waar die visbedryf vroeër die slagaar van talle dorpe was. Met die see nog net ’n werk-see. Vakansie-see en toerisme het later gekom.
Op Laaiplek koop ons gebakte stokvis en slaptjips by Eigevis, en eet dit waar die Bergrivier in die see uitmond. Dis ’n mooi dag en die snoek loop. Die meeste bote is reeds van die vorige nag af uit. Op die jettie is net die bekende soutreuk, pelikane, ’n streep seemeeue en enkele vissermanne. Ek staan nader in die hoop om ’n storie of twee uit te trek.
“Ja-nee, dis séér in die winter. ’n Mens se hanne … Maar die see is soes ’n léwe; jou pa het dit gedoen, jou oupa het dit gedoen,” probeer een verduidelik tussen vlek en mootjiemaak deur.
“Jy vat die skuit, soms drie-uur in die oggend, en jy kom die aand laat eers terug, by tye met niks. Maar môre is jy weer terug in die see; dalk byt die vis vandag opreg …”
’n Entjie verder bind Willem Claassen, Gert Bester en Willem Snijders die hardervangs in bossies.
’n Boepensdogtertjie uit Welkom in die Vrystaat kom staan by ons. “Kyk hoe mooi blink die vissies se lyfies!”
“Ja, hulle het net nou nog geswem,” antwoord ek.
Die ronde gesiggie versomber. Willem die Eerste neem gelukkig oor. “Kyk, jy moet verstaan. Ek en jy haal bo die water asem. Húlle,” beduie hy vlekmes in die hand, “se asem is ónder die water.”
Sy woord dra meer gesag as myne. Sy lyk getroos.
Dis vir hom lekker op die “skuide”, vertel hy.
Selfs as die noordwes ruk, Willem, op ’n kwaai see waar ’n brander met geweld oor ’n skuit kan breek?
Hy lag. “Ek is mos ’n Weskus-kind! Kyk, vis is kos. Pety dae gaan jy see toe en daa’sie vissie. In die winter kan jy soms glad nie innie see kommie. Ons praat van die ‘agt dae noord’. Werk kan vir mý nee sê, maar ek kan nie vir hom nee sê nie.” Hy trek sy hande in soos een wat net trek. “Daarom vat ek hom as hy kom. Ons slaap innie winter sommer hier op die jettie langsie vuur wat ons brandmaak as ons wag virrie bakkies om in te kom. Die mense in die kantore – hulle wetie van sout of water nie.”
En hou jy aan met glo, Willem?
“Ma Mevrou, jy kan mos nie sonner jou safety belt of Hom oppie see nie!” Sy maters knik instemmend. “Hulle sê die see is ’n vrou; sy gee maar sy vat ook baie mans se lewens,” sê een. “Die noord staan soms skerp op. Dan is daar ’n ongeluk en die see spoel jou nie terug nie. Néé, Mevrou, jy gaan nie sonnerie Jirre see toe nie.”
Ek groet teensinnig, my bossie harders agter in die motor. Ons ry verby Die Vis Vlekhuis en die SA Visserymuseum met sy walvisskedel in die skulpiestuintjie.
Bernhard (Saks) Thiart kom ons by sy voorhekkie tegemoet. “Almal hier het byname,” sê hy. “In die museum vertel hulle van Piet Beweboudjie en Johannes Skroefies. As kind het hulle gesê ek is so vet soos ’n sak vismeel!”
Saks was vyf toe hy die eerste keer uit see toe is saam met sy pa, wat soos sý pa voor hom ’n skipper was. Vandag is hy ’n stuurman op Vegkop, ’n pelagiese boot. Die sardyn loop en almal is uit op die see, maar Vegkop het dringende herstelwerk nodig. Hy kriewel.
Met vandag se bote, instrumente en weervoorspellings is dinge makliker, maar dit bly riskant. “Die wind waai soms tot 55 knope by Kaappunt. Een van jou grootste gevare bly maar dat jy kan gly en val as die skuit in ’n onstuimige see rol. My pa het egter destyds sy afvinger verbind en nog twee gooie gemaak tot die boot vol was.”
Hy wás drie jaar by Sasol, “maar die water was te laag vir my daar. Ek is bitter lief vir die see. My vrou se pa was ook ’n skipper. Sy verstaan dit.”
Vegkop kan selfs op ’n swaar see werk. “Dit gaan stadiger as jy teen die see stamp en die groot swelle loop die skuit toe, maar hy loop ónder deur die branders.”
Daar was wel ’n nag buite Saldanha toe hy die mans moes wakker maak om te sê hy kan nie meer die skuit bo water hou nie.
“Die radio het gewaarsku daar kom ’n gróót see. Ons het ’n kans gevat. Rooi-oog hóú van wind en jy word mos betaal vir wat jy inbring.
“Ek was later sopnat agter die stuur. Dit was soos in ’n akwarium. Ek kon niks in die sproei sien nie en kon net op die radar staatmaak.”
En op die Here. “’n Man is ’n snaakse ding. Vistermanne is ’n harde lot. Ek erken as ek bang is. Ander ouens hou hulle bietjie dapper. Jy sê dit nie vir mekaar nie, maar jy bid. Soos jou pa en jou oupa voor jou.”
Hulle het deurgekom. En Saks het met nuwe oë gekyk na die geloofsbelydenis van ’n visserman, geskryf deur ds. Kotie Kritzinger van Laaiplek, wat hy by sy bonks in die skuit opgesit het. Ek glo in Jesus Christus; die Stuurman van my boot; Wat deur donker nagte en toemis heen my boot stuur op die baken van veiligheid; Na Wie die winde en die golwe luister en stil raak op sy bevel.
In sy boek As die Skipper op die voorstewe staan skryf Johnnie Eigelaar, bekende in die visbedryf: “Wanneer dit stormweer is, stoot die ys-grys branders woes uit die noordweste en slaan met mag teen die strand, soos dit seker al miljoene eeue doen. Dan spoel daar allerhande vreemde goed op die wit sand uit. Skepe en skuite moet versigtig vaar om die stormwoede te oorleef. Baie het dit nie reggekry nie, en van hul bemanning het ook omgekom. Die Weskussee het baie stories om te vertel oor sulke skuite en hul manne.”
Op St. Helenabaai gaan gooi ek nog ’n net uit in Jaloersstraat by Ferney Dipaola (71) wie se kleinseun Michael (21) nou die vyfde geslag Dipaola op die Weskus-waters is. Ferney se oupa het ná die Eerste Wêreldoorlog uit die vissersdorpie Barletta in Italië hierheen gekom.
Teen die muur hang ’n foto van Duinekis, 360 ton sardiens aan boord.
Ferney was al op 16 ’n skipper, maar sedert hy in 2000 van die see af is, kyk hy net vanuit sy huis hoe die skuite inkom en uitgaan. “Ek gaan sit selfs anderkant die huis om liewers na die berg te kyk!” grap hy.
Hy onthóú die buite staan in slegte weer om die vis in die brandwater (fosfor) raak te sien, die nat as hulle die druipende nette intrek.
Al wat lekker van die winter was, sê Ferney, is as jy seker was daar’s onweer op pad – “dan het jy ’n geldige rede gehad om tuis te bly. Ons was lang tye weg.”
’n Engel was hy beslis nie, skerm hy. “Maar jy móét glo op see; jy is net té uitgelewer. My broer Amil se boot het uitgebrand en drie maande later het die skool masbankers in die net sy nuwe boot omgekeer. Gelukkig het die ander skuite gesien sy lig raak weg.”
Hy grinnik. “Vistermanne … Sondae as hulle moet klim, het die een ’n rug en die ander een ’n maag. Een ou het in ’n storm na die Here geroep, maar veilig aan wal het hy sy half-jack uitgepluk en gesê: ‘Die duiwel is darem self nie ’n sleg kêrel nie …’”
By Cape Columbine wag vuurtoringwagter Japie Greeff ons in. Dis sy agste toring in 32 jaar. Die afgeslote, spokerige mistigheid is sy soort wêreld.
“By Kaappunt loop jy soms op jou knieë werk toe in die wind, maar ek asem sonder twyfel van die skoonste lug op aarde in.”
Laatmiddag stap ek nog langs die silwernat strand op Paternoster tot by ’n groepie mans, hulle oë vasgenael op die see.
“Ons kyk al jare lank hier harders,” lig een my in. Sy jonger maat stamp aan hom vir ’n teug aan die sigaret wat hulle deel.
Lang linte voëls gee vlugvertonings oor die see op pad na hulle neste. Dit is naby donker. Daar hang ’n misbank oor die see. Die jongetjie ril effens onder sy dun hempie.
“Nee wat,” glimlag hy, sy oë deurentyd op die water. “Die winterweer pla nie regtig nie. Solank die vis net byt …”
2011