Читать книгу Op die spoor van hoop - Jacqueline Leuvennink - Страница 14

Wat ’n “mensch” van ’n Marlene!

Оглавление

Marlene le Roux

Verlede jaar in Desember het Marlene le Roux skaamteloos voor driehonderd uitgelese gaste in Keulen gehuil. Dit was toe die voormalige Duitse president Horst Köhler aan haar en Pieter-Dirk Uys die Duits-Afrika-prys toegeken het – vir albei se uitsonderlike bydraes tot vrede, demokrasie, menseregte en ontwikkeling in Afrika.

Nou, drie maande later in haar eie huis, straal sy. Sy trek haar seun Adam (11) dig teen haar vas en soen hom keer op keer terwyl sy dwarsdeur alles gesels.

“’n Mens doen mos nie werk vir toekennings nie. En my en Pie­ter-Dirk se agtergronde verskil so hemelsbreed. My ouma was ’n druiweplukker, my ma ’n fabriekwerkster … Keulen en al die prestige was net …”

Om in die geselskap van hierdie direkteur van Kunstekaap te wees is soos om teenaan ’n rooshoutklavier te sit wat sing. Een wat eindelose kombinasies van klank kan voortbring.

Op 46 is Marlene gemeenskapsleier, wêreldreisiger, kunstenaar, filantroop, Vrou van die Jaar, Chevalier des Ordres et des Lettres … Sy dien onder meer in die kommissie vir die bevordering en be­skerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeen­skappe. En tog kan al die toekennings in die wêreld haar op hierdie laat-Vrydagmiddag in Boston, Kaapstad, nie skeel nie. Ná nog ’n stampvol week het sy het net oë vir Adam en hy vir haar.

Maar Adam kan nie regtig sien nie. En hy is serebraal gestremd.

Sy verskuif sy lyfie – soos dié van ’n gekweste voëltjie met willose, dun armpies en beentjies – op haar skoot en sê: “Hy is totáál ge­stremd; hy kan níks doen nie. Ek sê elke dag dankie vir die wonderlike ondersteuning van sy twee verpleegsters, Yolanda Titus en Jean Bailey. Wanneer ons Rooi Kruis toe gaan, sien ek nog mense met sulke kinders – vroue wat brandarm is omdat hulle nie kán gaan werk nie – hulle moet 24 uur na die kind kyk. Dis vir daai mense dat ek nog hierdie week met president Zuma op televisie baklei het – ons móét meer na hulle begin omsien. Met die onlangse sensus was daar nie één vraag oor mense met gestremdhede nie – ons weet dus nie eens hoeveel daar is nie.”

Sy verteder opnuut wanneer sy na haar seun kyk. Dis asof sy hele wesentjie op haar gerig is, hulle één word. “Jy verstaan als, nè, Adam?” Sy lag kop agteroor.

“Soggens as hy my stem hoor, smile dié kind. Ek het kort na ons troue ’n breingewas gehad. Die dokters het gesê ek sal nie ’n kind kan hê nie. Toe kry ons eers vir Aimee (16) en vyf jaar later vir Adam. Niemand het gedink hy sal lank leef nie. Nou is hy al elf jaar die spil waarom alles in hierdie huis draai.”

Marlene, deesdae direkteur: gehore-ontwikkeling en op­voed­kun­de van Kunstekaap, het destyds pas daar begin werk – die eerste bruinvrou in ’n bestuursposisie – toe Adam op ses maande met serebrale gestremdheid gediagnoseer is.

“Dit was bitter. My skoonma, Valerie George, was die engel wat my hierdeur gehelp het. ’n Mens róú oor so ’n kind. En dan, eers dan, raak jy verlief op hom en hy op jou. Maar ek moes besluit: Ek gáán hierdie kind aanvaar en liefhê soos hy is. Dit was asof alles toe net ligter geword het, die nag weer begin oopmaak het.”

Die oudmusiekonderwyseres met die uitbundige lag se gesig en hande vertel saam. In die nousluitende hemelsblou rok wat haar mooi figuur beklemtoon, lyk sy soos die danser wat sy is. “Jy moes die mense by die dansklasse sien toe ek al hinkende daar kom aanmeld het,” giggel sy. Vir wals, tango én salsa.

Oor grasieus bo-oor gebreke klim, kan hierdie Le Roux uit Versaillesstraat, Wellington ’n boek skryf. Trouens, hét sy al boeke ge­skryf. Met Look At Me, een oor 20 formidabele gestremde vroue wat ondanks alles presteer en hul vroulikheid geniet, wou sy die negatiwiteit rondom gestremdes “by die deur uitgooi”.

Marlene is, soos die danse wat sy dans, vurig. Vlamrooi lipstif­fie in die een hand, swepie in die ander. Mense van alle soorte kom gou agter hulle het hier met ’n kryger op beenstutte te make. Een wat veral jongmense “uit hulle hokke uit gaan haal om te oefen en déél te neem”. Daarvoor is sy met geloof, krag en liefde toegerus: Vír versoening en benadeeldes, téén laksheid en sy tweelingboetie uitspattigheid. “Hoeveel gála-dinners moet ons nog doen terwyl jou hart elke dag bietjie-bietjie breek oor mense wat dit heeltyd opdraand het?”


Hulle woon lekker in die huis agter die rooi posbus. Op die hoek van Krom- en Broadwaystraat – daar waar dit wat krom en skeef was, insig en deernis gebring het en ’n blik op die breër prentjie. Simeon, hoofdirekteur van sekuriteit en risikobestuur by die Wes-Kaapse provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, is die een wat eintlik die medaljes verdien, sê sy van haar man. Hulle het mekaar ontmoet toe hulle nog aktiviste aan die “Universiteit van die Wilde Kleurlinge” (haar naam vir die UWK) was.

Dit was in daardie tyd, nog vóór 1994, dat my en Marlene se paaie gekruis het. Ons was albei stigterslede van die eerste permanente veelrassige koor in die land, die Stellenbosse Libertas-koor onder leiding van prof. Johan de Villiers. Die jong, dapper Marlene het as solis gehoor ná gehoor ontroer met haar vertolking van die Negro Spiritual “Sometimes I feel like a motherless child”.

Maar onder die geskerts en singery deur was die spontane jong vrou kwaad, verontreg. Onder meer oor ’n onsensitiewe (wit) dokter wat haar ma afgejak het toe sy destyds vermoed het daar skort iets ernstigs met haar baba – “Wat weet julle mense tog? Jy kan mos sien dis net tandekry…”

“Ek was dus die enigste koorlid wat geweier het om saam met F.W. de Klerk afgeneem te word,” roep sy daardie tyd in herinnering. Tot die aand, ’n waterskeiding vir baie mense, toe die koor die eerste keer ’n Afrikaanse weergawe van “Nkosi Sikilele” in die Unisa Gehoorsaal in Pretoria uitgevoer het.

“Onthou jy nog?” sê sy. “Johan (ons dirigent) het mos gedink die mense loop uit toe hy die stoele agter hom hoor kraak het.” Ek knik. “Maar intussen staan die hele saal vol mense toe soos een man eerbiedig op. Nè? Johan het net gesien onse koorlede se oë skiet vol trane …”

Dit was ’n keerpunt. “Ek het besef ek sal my houding moet ver­ander.”

En sy het. “Ek is deesdae glad lid van die ACVV!” skaterlag sy. “Hulle doen wónderlike werk. Ek hóú van daardie tannies. En hulle is lief vir my ook, hoor!” kom dit weer so windaf en woelig soos die Suidoosterfees waarin sy ook ’n hand het.

Dit het haar lewenstaak geword om mense met mekaar te laat praat. “Sodat hulle kan sien almal het dieselfde drome en ideale. Ons kan tog só verby mekaar lewe, maar waar ons teater en mu­siek na mense, álle mense, neem, kom Khayelitsha en Constantia by­mekaar. Méér as sport wat so kompeterend is. ’n Tannie met ’n beehive en blou eyeshadow raak soms binne minute dik tjomme met ’n gekopdoekte township-vrou. Dit gee vir almal hoop,” praat sy oor haar uitreikprogram.

“As gestremde was ek van kleins af in ’n emosionele stryd gewikkel met myself en ander. Daar was altyd subtiele én minder subtiele verwysings na die mankbeen. Maar vandag is ek bly ek het bruin en arm en gestremd grootgeword. Dit het my die lewe laat próé, my voorberei vir wat kom.”

Haar ma, Christine, het drie maande nadat sy getroud is, besef sy het ’n verkeerde keuse gemaak. Marlene was reeds op pad. “Ons is terug na my ouma toe – ek was die elfde kind in die huis.”

Die geld was min, maar daar was geloof en liefde en musiek. Sommer báie daarvan. “My ouma het douvoordag al gesange oor die wasbalie staan en sing, en smiddae het die Coons agter ons huis kom oefen. ‘Maahlene’ het Wellington se bruin Laurika Rauch geword, polio-been en al.”

Vandag is daar, soos in die “scheme”-huisie van haar kindertyd, in die ruim Boston-huis met sy mooi ou houtvloere en spesiale skilderye ook altyd plek vir nog een – “die anties kom sit eintlik verkieslik in die tuin, selfs al is ek nie hier nie,” skerts sy. “Maar dis hier in Kromstraat dat Simeon my vang wanneer ek saans van die verhoog af klim. En Aimee en Adam vir my smile wanneer ek inkom.”

2013

Op die spoor van hoop

Подняться наверх