Читать книгу Op die spoor van hoop - Jacqueline Leuvennink - Страница 6

Padlangs met Dana

Оглавление

Dana Snyman

“Jy kom mos met so ’n lang afdraand af wanneer jy Jacobsbaai nader,” lui die e-pos die dag voor ons afspraak. “Onder by die stopstraat (waar niemand stilhou nie) draai jy regs …”

En dan hou jy see se kant toe, ontdek ek die volgende oggend. Al met die grondpad tussen die huise in tot by die een sonder ’n nommer.

Dana kom ons tegemoet; Jerry, Vlooi en Kleintjie stertswaaiend op sy hakke. Al drie onmiskenbaar sypaadjiestamboek-specials. “Noem hulle die room van die skuim,” stel hulle baas ons aan mekaar bekend.

Buite oor die blou van Smalbaai, net ’n renosterveldjie verder, skor ’n seemeeu. Dit maak ’n mens vry net om te sien hoe hy op die wind wieg.

Hy is van altyd af ’n man vir ooptes, gee Dana toe. Die Dana van Daniëlskuil loop nog al die pad met hom saam. “Ek wil die vyand van ver af sien aankom …”

En hier aan die Weskus kan hy tog sy armoede behóórlik uitleef, slaan die humor weer kurkdroog deur. “Ek sit veel eerder arm hier rond as om iewers in die Kaap weelderig te woon.”

Die wydkyker van beroep is weg by Weg – die tyd­skrif waarvoor hy én sy bakkie, stof en kilometers versamel het op grondpaaie van die Kaap tot in Messina. Die voormalige reisredakteur is klaar met vlieg en turbulensies wat hom ontstig.

“’n Mens raak seker al hoe meer neuroties soos jou sondes op­hoop,” verklaar hy. “Hulle vertel mos van die ou wat net agter in die vliegtuig wou sit, want hy het nog nooit gesien ’n vliegtuig reverse teen ’n berg vas nie …”

Hy was drie of vier jaar laas op ’n vlug. “Hulle kan nou maar vir my poskaarte stuur van al die ver plekke af.”

Tuis skuif hy meestal soggens van vieruur af agter die rekenaar in. Wanneer dit net hy, die geluid van die see en die prentjies in sy kop is. Sodat die regte woorde kans kry om uit die stilte te klim. Sy boek met die mooie titel Hiervandaan verskyn later vanjaar.

Ons kry ons sit om ’n tafel. Dana maak filterkoffie en bring beskuit te voorskyn. Nee, hy skryf g’n stuk maklik nie. “Ek murmureer maar erg daaroor.” Dit verg daardie geweer-teen-die-kop van ’n sperdatum om orde in sy woeligheid te kry, helderheid te kry oor iets.

“Ek is ’n groot ontkenner – die meeste joernaliste is. Tot daardie sperdatum op jou is en jy weet Bun (Booyens) wil sy storie die volgende oggend hê.”

Soms stap hy ’n paadjie uit wanneer hy aan ’n idee begin kou of ’n idee aan hom. Ander kere gaan lê hy gewoon op sy Lewis Stores-bank. “Dis waar ‘Pottie Potgieter’ skielik uit die lug geval het. Jy weet, Frank Opperman (wat die naamrol in dié eenmanstuk vertolk) is ’n baie onderskatte akteur – hy het vir baie mense by Ouboet van Orkney snork nie vasgesteek.”

Eintlik kan hy nie verstaan hoe ’n mens ’n skrywer kan wees sonder om te glo nie. “Daar is goed wat van ’n plek af kom wat jy nie weet waar dit is nie. Ek maak beslis op my bietjie geloof staat vir inspirasie.”

Hy het vroeg-vroeg al ’n gawe verbeeldingswêreld gehad, ’n enkelkind wat allerlei avonture beleef het in sy Kaprivi-bende – waarvan hy die enigste lid was. En dan was daar altyd mense in sy lewe wat vir hom boeke aangedra het.

“My oupa was ook ’n groot twakprater op sy piesangplasie daar naby Hibberdene. Hy was nie ’n goeie boer nie – hy het al sy piesangs weggegee. Maar hy het snags by die nagsentrale gewerk – dit was mos maar daardie tyd se internet.”

Droom oor skrywerword wat by die klank van vioolmusiek werk, en met sy glas rooiwyn en ’n rolnektrui aan oor die see sit en tuur, was beslis nooit deel van sy aanloop nie. Sóveel verbeelding had hy nie. “Ek is in die eerste plek ’n joernalis en trots daarop. Dit is ’n praktiese ding. Jy is ’n vakman. Ek moes al in ’n hotelkamer agterstevoor op ’n toilet sit en tik op my skootrekenaar omdat die muurprop vir die skeermes die enigste een was wat wou werk.”

Ja, daar is vir seker dae dat hy eerder meubels in sy garage sou wou maak, “maar ek is nog steeds banger vir Absa as vir Joan Hambidge!”

As enigste kind van Coenraad en Saartjie Snyman was hy sedert sy kinderdae bietjie van ’n trekvoël. “In daardie dae het predikante nog elke vier jaar ’n beroep gekry en my pa het hulle meestal aanvaar. Ons is van Daniëlskuil na Naboomspruit na Grootfontein.”

Ná skool het hy slegs ’n paar maande ge-BA voordat hy twee jaar lank Weermag toe is. “Terug by die huis het ek en ons huishulp saam­gespan, en ’n eie sjebien op die been gebring deur bier in die park te verkoop. ’n Hupstoot vir my kontantvloei. My ouers was maar bekommerd daai tyd.

“Die grootste bestiering van my lewe was toe ek die dag die Preto­riase Technikon gebel en die befaamde ateïs George Claassen geantwoord het. Hy het gesê ek moet vir ’n keuringstoets vir joernalistiek kom.”

Daarna is hy Huisgenoot toe – “nog voor Steve se eerste buite-egtelike kind” – gedryf deur twee eienskappe wat baie joernaliste kenmerk: nuuskierigheid en ’n simpatie vir die ou wat swaarkry.

“Ek kyk gisteraand na Obama op TV. Hy het maer geword. Jis, ek kry hom jammer, man. Hy is seker al lankal spyt hy is in daardie job.”

Buite hol die honde nou agter mekaar aan oor die stuk renos­ter­veld see toe, niks om hulle te keer nie. Dana tuur hulle ag­ter­na, ver­skuif sy bril. “Hulle is nie juis suksesvolle jagters nie – Jerry is al blind.”

In sy tyd by Huisgenoot was hy eenkeer in Nelspruit se omgewing toe ’n kollega voorstel hulle moet ’n draai by die skrywer Chris Barnard op sy plaas gaan maak. “Ek was bang en het teëgestribbel. Dié man is gróót en ons skryf vir Húísgenoot! Maar toe vat Chris ons om sy mango’s en sy lemoene te gaan kyk, niks se gefilosofeer nie. In die bykans twee uur daar was dit sy nugter, aardse kyk na die wêreld wat my opgeval het, ’n man in voeling met die werklikheid.”

Maak jou bekendheid dit nie vir jou moeilik om deesdae nog ano­niem deur die land te beweeg om dinge te bekyk nie? “Nee wat, nie regtig nie. Ek hou mos aan die veilige kant; jy het nie ’n probleem as jy met gewone stories rondsmokkel nie. Ek wil nie noodwendig die regering tot ’n val bring nie …”

Die landskapskilderytjies wat hy met soveel empatie teken, het hom geliefd onder sy lesers gemaak. Mense sal vir jou sê Dana se stories het die eerlikheid en eenvoud van ’n volksdeuntjie. Hy pas in ’n mens se sitkamer in, soos ’n vriendin dit stel. Dalk omdat sy eie lyf soos dié van ’n goeie broodbakker déél word van die gereedskap. Hy vertel sonder oordeel of vingerwysing. Jy betrap hom nie op ’n meerderwaardigheid nie. En sy oë kan diep onder ’n ding inkyk as hy oor alledaagse goed skryf.

Baie daarvan is goed wat soms lank gelede gebeur het, maar steeds in die lug hang. ’n Oom met ’n onhandige das in ’n portretraam. Geroeste, skewe plaasnaambordjies. Gehekelde toiletsitplekomhulsels, die mussie vir die reserwerol in die hoek …

Dikwels roer dit jou onverwags. “’n Ou sal vir my SMS dat ek hom vanoggend op die toilet laat sit en huil het.” Hy grinnik. “Dan SMS ek maar terug: ‘Wat het jy vanoggend vir ontbyt geëet?’ Ons mense is wonderlik. Moeilik, maar wonderlik. En eintlik is die Afrikaanse mense in die voorstede baie dieselfde as dié op die platteland. Laasgenoemde is net meer waarneembaar.”

Hy frons, neem nog ’n sluk koffie. “Maar Afrika het ’n skrikwek­kende kant. Mense maak mekaar hárd dood. Jy voel soms vreemd waar jy nou is en hoe meer noord jy beweeg, hoe rowwer raak dit. Ek probeer die land vir myself verduidelik deur daaroor te skryf.”

Dit neem my terug na ’n leeskringbyeenkoms in Durbanville ’n week vroeër. ’n Vervaarde Dana, laat omdat hy verdwaal het en hulle hom by die polisiekantoor moes gaan kry, is die spreker. “Ont­hou net, julle is nie hier oor Dana nie. Julle is hier omdat julle lief is vir stories,” begin hy half voel-voel.

Maar die groep (oorwegend ouerige) vroue hang aan sy lippe, vra inderdaad later soos kleuters voor slaaptyd vir gunstelingstories. En Dana vertel. “Julle weet mos die aarde draai om die ge­bede van ouerige tannies. Mans haak uit, gaan jag, steek mes. My ma was so ’n ACVV-tannie,” breek hy opnuut by baie harte in.

“Ek dink nie ek het al ooit weer so veilig gevoel soos tussen daai jolige ACVV-tannies in die bussie op pad na Barkley-Wes se kinderhuis toe nie,” gaan hy ongestoord voort. “Vroue met halleluja’s op hulle lippe en oorgehaal, grétig om goed te doen. Almal so vrólik. Solank hulle tog net kan dién!”

Dis doodstil in die volgepakte saal. Dana die storieman vertel van die talle tannie-trane oor die kinderhuiskinders, die manier waarop die krimpelien-rokbrigade hul blydskap onder die kinders gaan plant het. Hy praat soos hy skryf: “Teen die tyd dat die bus uiteindelik weer vertrek, kry die eerste kind reeds ’n galaanval van die oordaad van die besoek …”

En sy gehoor in die moderne, lugverkoelde biblioteeksaal ry mee­gesleur sáám in daardie stowwerige bus – hulle ruik, voel en kén daar­die tannies met die goeie harte.

Jy skryf met ’n sagte hand? vra ek ’n week later. “Jaaa,” gee hy huiwe­rig toe. “Maar ’n mens is bang vir valse simpatie. Op jou klein maniertjie is jy as skrywer ook mos ’n skepper, skuif jy ook maar mense rond.”

Dis meer as ’n uur en twee sarsies koffie later. Die beskuit is amper op. Ons is traag om te vertrek. Teen die muur is ’n foto van een van die honde alleen op ’n eindelose grondpad. Nog ’n entjie verder hang ’n treffende skildery, ook van ’n pad wat tot in die verte strek. Bokant die kaggel is ’n enkel, skuins houtkruis van dryfhout.

Ek en my man groet, onderneem om weer te kom. Dit was goed om seelangs saam te loop. Iets in Dana laat jou glo dat selfs wanneer hy so ’n bietjie voetpad mag misloop, hy nou-nou weer oor die oopte op die regte pad aangestap sal kom.

Deesdae is dit weer net hy en sy honde en sy woorde in die huis op Jacobsbaai. En soms, net soms, begin die woorde op ’n vreemde manier ook in die wind wieg.

2011

Op die spoor van hoop

Подняться наверх