Читать книгу Op die spoor van hoop - Jacqueline Leuvennink - Страница 5

Delwer na drome

Оглавление

Esta Steyn

Sy bly al veertig jaar in die huis teen die kop. Digby Hoedjiesbaai met sy vissersbakkies op die plat, koue Weskus-see.

Die vrou wat bedags somme maak vir haar aptekerman se skryfbehoefte- en geskenkwinkel, ma is vir ’n laatlamseun en maat is vir haar Bybelstudie-vriendinne. Saldanhabaai se Esta-met-die-blinkbruin-hare-en-seeblou-oë.

Van wie die mense vir jou sal sê sy is ook die vrou wat haar ander twee seuns verloor het.


Maar snags word sy wat deur die dag al hierdie dinge is, ook iets meer. Dit gebeur soms al deur die loop van die dag sommer so tussen die wasgoeddraad en die opwasbak met haar. ’n Idee vlieg op. Kom sit op haar skouer. Word iets wat sy met haar begin saamdra. Kry langsamerhand lyf. Tot “die storiefonteine van die hemele” snags oopgedraai kan word vir lekkerleesstories en draaiboeke soos dié van Kinders van die Sabbatsee, Geraldina die Tweede, Meeulanders en nou weer Droomdelwers.

Dis haar eerste boek ná ’n lang romanstilte. “Ek skryf wanneer iets gereed raak om vertel te word. Jy kan so iets nie druk nie. Jy wag tot jy soms, baie onverwags, net weet nóú is dit die dag.”

Oom Kêppies, storieverteller en een van haar karakters in Droom­del­wers, probeer half stramme­rig verduidelik: “Ek kan self nie sê waar dit vedaan kom nie … Is soesie see self. Hy swel op in jou kop soes ’n groot deining …”

Esta is ook gebore met en vir stories.

“My pa, ’n bobaasverteller, het ons met verhale soos Brolloks en Bittergal van Langenhoven gevoer. Ek het vas geglo daar is ’n kabou­ter wat snags die stoele en kaste in sy meubelfabriek kom bou. Hulle sê ek het al as driejarige begin om my eie stories op te maak.”

’n Skoolmaat uit haar latere Worcester-kindertyd onthou vir Esta as “so ’n lieflike, lekker kind met sterretjies in die oë. En die Worcester-mense is mos stérk van opstap teen die wind in Hoogstraat.”

Sy het aanvanklik “vreesloos” geskryf. Maar deesdae gaan sy ver­sigtiger om met woorde, beplan sy meer. “Dalk het my skryf­ka­bouter wat snags my stories vir my kom fluister óók ouer geword – hy moet nou minstens 180 jaar oud wees.”

Die meeste van haar verhale speel aan die Weskus af met sy see, ge­roeste wrakke, klippe, bokkoms, soutpanne en flaminke. ’n Wêreld waar jy nog kan leer van eenvoud en omgee en eerlikheid, soos ’n karakter in die boek dit stel.

Esta was in ’n stadium van haar lewe bang dat sy nooit weer sou kon lag nie. En toe kom die TV-komediereeks Geraldina die Tweede soos ’n geskenk van Bo. Sy was pas sestig toe Stille Waters se kostelike karakters haar kom “oorval” het.

“Dit het met ’n borrelende binne-pret uit my gekom – en daarvoor kan ek alleen die Here dank,” sê sy vandag.

Maar eers moes sy deur alles werk wat haar boek Die grafte jubel voorafgegaan het. Esta en Le Roux het hul twee oudste seuns – Daniel en Hein – op onderskeidelik 17- en 24-jarige ouderdom verloor. Daniel is in 1988 in ’n motorfietsongeluk dood en Hein in 1996 in die see toe hy gaan seilplank ry het.

Drie jaar ná Hein se dood het haar Bybelstudie-vriendinne haar oorreed om te skryf oor dit wat hul gesin so geruk het. Hierdie (ware) verhaal was tog reeds daar. ’n Eie storie. “Waar ek gewoonlik sukkel om op dreef te kom, het ek hierdie boek binne tien dae voltooi. Die Here het my hand vasgehou; die woorde vir my gegee. Al wat ek moes doen, was om te tik.”

Sy gaan haal die boek wat reeds sewe keer herdruk is. “Ek het agterna nie eens die manuskrip vir spelfoute deurgelees nie. Ek sal dit ook nooit weer lees nie. Dis nou daar vir ander mense.”

En watter skrynend eerlike kroniek van pyn wat uitloop op ’n getuienis van hoop en genesing is hierdie boek nie vir mense nie!

Ná Die grafte jubel kon Esta weer vorentoe kyk, ingetrek in die kragveld wat haar nou weer met lewenskrag kom voed het. Nou ge­vul met die wete dat Christus nie maar net langs ons staan nie, maar één is met ons.

Die vrou wie se hart eenmaal in Desember geskeur het oor ’n seun met ’n sagte, warm mond moes in nog ’n Desember langs die see ook tevergeefs na ’n seun met ondeunde oë loop en roep. Maar in Desember 1999 kon sy die volgende skryf:

Here, ek is die vrou wat gedink het dat sy U ken. U het my langsa­merhand geleer dat U te groot en te almagtig en te oneindig is vir my menslike verstand … Maar U ken my. U weet alles van my af. U weet van my mooipraatjies in die môre en my moeë geprewel in die aand … Dankie dat U my met u Goddelike balsem genees het van die smart wat soos ’n siekte aan my seer liggaam gekleef het.

Sy kon weer dankie sê vir die hoop wat opnuut oor haar uitge­stort is. En vir dit wat sy van die oudste twee in hul jongste broer, Le Roux jr., opgesluit sien. Sodat sy kon skryf: U is verskriklik goed vir my. Dankie dat ek waarlik kan sê: Dit gaan goed met my.

Die woord “lekker” duik telkens op wanneer jy met haar gesels. Esta is iemand wat dinge geniet. Kos, mense, stories, haar tuinman. “Wanneer ek soggens vir Cornelius vra hoe dit gaan, sê hy: ‘Mevrou, ek léwe.’ Wonderlik, nè?”

Sy dink ’n oomblik. “Nou goed, ek wéét ’n mens leef soms met baie pyn. Maar dis óók deel van die lewe, die proses. ’n Mens is mos eintlik hier op aarde om jou lesse te kom leer. Ek het geleer daar is ’n werkie wat jy moet doen om in alle omstandighede vrede te kan ervaar. Jy moet erken dat Hy in beheer is en Hom daarvoor bedank.”

Die blou oë blink. Hulle behoort aan ’n vrou wat soos die veldblomme van haar droë streek klokslag ná ’n winter uit die grondkors breek. Om op die regte tyd hul koppe te lig. Son toe. Altyd weer son toe.

2011

Op die spoor van hoop

Подняться наверх