Читать книгу Op die spoor van hoop - Jacqueline Leuvennink - Страница 9
So ook op die aarde
ОглавлениеDit is ’n herfsoggend in New York. Moeg van die malende menigtes om my besluit ek op die ingewing van die oomblik om die kalmte van ’n kerk op te soek. Binne trefafstand van die weelderige Donald Trump-gebou hurk ’n koulike hopie straatmense onder komberse by die kerk se ingang. Hulle sit kop onderstebo, rûe gekeer na die haastige verbygangers op die sypaadjie.
Pas in die skemerdonkerte van die kerk, breek ’n woedende brander dissonante klanke uit die orrelgalery oor my kop. Vir ’n oomblik wil ek padgee, maar bly dan tog staan. Gelukkig ook. Want hoe langer ek luister, hoe meer begin ek begryp. Dié musiek weerkaats bloot die kompleksiteit van hierdie wêreldstad met sy miljoene uiteenlopende mense wat heeltyd teen mekaar skaaf en skuur. Trouens, dit is asof die ongewone mengelmoes klanke skielik in so ’n mate sin maak dat dit my onverwags ontroer.
Terug by die huis gebeur iets wat my weer hieraan laat dink. Suid-Afrikaanse kunsfliekgangers stroom na teaters om na As it is in Heaven te gaan kyk. Aan die einde van ’n vertoning klap gehore spontaan hande. Weke daarna preek predikante nog oor die verhaal van ’n beroemde Sweedse dirigent wat, dodelik siek, terugkeer na die dorpie waar hy grootgeword het.
Teensinnig neem hy die afrigting van die dorpskoortjie oor en ontsluit in die proses verborge talente. Die koorlede – gekweste mense soos die dirigent self – ontdek elkeen weer ’n eie, unieke stem en ’n gevoel van eiewaarde. Daarby begin die musiek om hulle aan mekaar vas te speld. Slykerige, visdammetjie-enkelinge raak nou dapper medestryders in ’n see van harmonieë. En die gety begin alles skoon spoel.
Die dirigent lei hulle om elkeen ’n eie noot te vind. Iets wat daartoe lei dat, toe hulle dit saam begin doen, die individuele note in ’n wolk van klank verander wat almal verbyster.
Die kleindorpse koor gaan neem later deel aan ’n groot kompetisie en raak die gehoor aan met hul boodskap dat elke mens ’n bydrae tot die groot akkoord van die heelal kan lewer. Dit word ’n lewende bewys van wat die trompetspeler Louis Armstrong by geleentheid gesê het: “’n Noot is ’n noot in enige taal. En as jy die noot kry – pragtig!”
Aan die einde van dieselfde jaar neem ’n vriendin een Sondagoggend haar bejaarde pa saam kerk toe. Die Tygerberg Kinderkoor sluit hul reünie-naweek af met ’n optrede deur ’n massakoor; die groot kerk is stampvol. Christa se pa, ’n suksesvolle sakeman wat deur ’n beroerte verlam is, sit in sy rolstoel en luister.
Dit is uit die staanspoor ’n aangrypende diens. Die “Ons Vader” word met treffende handgebare uitgevoer. Koorlede steek kerse aan vir die 17 oudkoorlede wat in die 35 jaar van die koor se bestaan oorlede is. Die laaste persoon se naam wat uitgelees word, is die vermoorde Inge Lotz s’n.
Aan die einde van die diens sing Minette du Toit-Pierce die hartroerende “Gabriella’s Song” uit As it is in Heaven. En, soos in die rolprent, nooi dirigent Hennie Loock die gemeente om elkeen met ’n eie noot aan te sluit, ’n katedraal met klank te bou. Die musiek swel geleidelik, voller en voller, tot in ’n reuse-Hosanna – met elkeen se eie skerfie klank, drome en sugte wat deel word van die grootse akkoord wat hemelwaarts klim. Wêrelde vloei inmekaar, koor en gehoor nou saamgesmelt in een verruklike see van klank. Almal jubel dit uit vir ’n gehoor van Een.
En in hierdie kortstondige blik op volmaaktheid sing die man in die rolstoel wat sy spraak sedert die beroerte kwyt is, tot sy verstomde familie se verbasing ’n helder, suiwer noot. Vir ’n klein, genadige rukkie op aarde soos in die hemel: nuut, heel én déél.
2008