Читать книгу Die ding in die riete - Jean Lombard - Страница 12

Оглавление

Kinders van die waterslang

’n Griekwa-geskiedenis

PIETER W. GROBBELAAR

Meneer wil die storie van onse mense hoor? Ons hier aan die lope van die Gariep? Dis onse wêreld dié, meneer, van my tate se tate se tate af. Die rivier is ons lewe; ons leef saam met die rivier. In hierdie dorre land is dit hy wat vir ons water te drinke bring, en vir ons diere. Met sy water maak ons onse tuintjies nat. En die koning van die Gariep is die waterslang. Maar eintlik is hy nie net een nie; hy is baie, al noem ons hom so met die een naam. En dis nie net die water wat vir hom luister nie, maar die wolke en die wind. So leef ons saam met die rivier en die slang.

Ek het man gevat toe ek een-en-twintig jaar oud was. Ek onthou dit sekuur, want my ma het vir my gesê: “Jy is nou mondig, en jy mag maar jou make maak. Ons kan jou nie keer nie. Maar ek sê vir jou: pasop vir daardie man; hy’s ’n nikswerd.”

As ’n mens nog jonk is, en jou bloed is heet, weet jy nie van werd nie. Jy ken net van die ander ding, en jy dink die lekker gaan nie weer opraak nie. En die kinders het gekom: ’n dogter en twee seuns. Toe sien ek, hei, my ma was reg. Hierdie pa van hulle sal maak dat ons nooit iets het nie. Hy bly dan in die wapad. Ek sê vir hom: “Nee, ek gaan jou los. Dis beter dat ons uitmekaar. Jy is net: Volstruis, waar ek kom, is ek tuis. Maar ek is nie van die volstruisspan nie.”

Ek het met my kinders saam op Middelwater gaan bly, want my hande staan vir niks verkeerd nie, en die plaas se mense was bly om my in die huis te hê. Later is ons na Welgevonden, en daarvandaan het ek ’n huisie hier op die dorp gekry en vir die miesiese gewerk.

Toe my dogter, Dina, se speentjies begin dik raak en dit tyd word vir haar eerste maand-se-dinge, het ek geweet: nou moet hy hok toe gaan dat ons hom vir die waterslang gaan wys sodat sy water oor hom kan kom. Dis nie altyd ’n besonderse hok wat ons iewers bou nie; ons skort sommer ’n hoek van ’n vertrek af, en dis waar die hokmeid moet sit – vir ’n week of twee weke, of vir so lank as wat dit nodig is. Hy eet net pap en dikmelk totdat hy goed uitgevars is, en daar mag g’n jongetjiesmens in die omtrek kom nie. Dis alles uit respekte vir die waterslang.

Ek het die waterslang vir die eerste maal gesien toe ek so opgeskote was en my pa my een Sondagoggend na die rivier toe afgevat het. Die slang staan met sy voorlyf hoog bokant die water, net soos ’n man. “Hy moet so tien voet of wat orent wees,” het my pa in my oor gefluister. Die slang kyk op in die rivier tot daar waar ’n mens se sien opraak, en hy kyk af tot waar hy onder ’n mens se sien uitgaan. Sy kop is net soos ’n perdekop, maar sy ore is kleiner. Op sy voorkop dra hy ’n steen soos ’n diamant met vier punte, en die een punt loop so tussen sy oë in af. Hier op sy rug lê ’n streep net soos ’n dadelboom se blaar, ’n bietjie ligter as sy lyf, en dit verander gedurig soos sy lyf verander, want hy kan allerhande kleure wys: swart of rooi of bruin.

Die regte oggend vir die waterslang maak ons vroue die meisiekind daar in die hok paslik reg. Ons trek vir hom ’n rok aan, driekwartmou. Sy hals het ’n kollertjie wat jy bo toesteek, en die rok se soom kom tot onderkant die knie. En ons blom sy gesig mooi uit met wit klei en rooi klei wat ons van die rivier af gebring het.

Dan vat ons ’n swart kopdoek en ’n witte, en ons vou hulle so inmekaar, en ons vou hulle so en ons vou hulle so, met vier punte soos ’n ster, nes die waterslang se steen. Ons maak die doeke op sy kop vas met die een punt wat afloop tussen sy oë in. En ons hang hom twee stringe krale om: ’n wit string en ’n swarte. En ons gee hom ’n klein skilpaddoppie vol droë boegoeblare in sy hand. Nou is hy reg vir die rivier.

Toe ons hom uitbring uit die hok uit, en uit die huis, my eersgeborene, staan die mense al en wag. Daar is ’n ou man met ’n kitaar, en ’n ou man met ’n konsertina, en ’n ou man met ’n fluit. Hulle is die musikante. Hulle begin te speel, en hulle sal nie weer ophou speel voor dit tyd is nie.

’n Ouma kom en vat my dogter by sy hand. Die ouma sal my dogter na die water toe lei om hom vir die waterslang te wys. Ons val agter hulle in, ek en my ander kinders, en onse familie, en onse vriende – ’n ganse skare. So stap ons aan met die stem van die konsertina en die kitaar en die fluit in ons ore, en dis al wat jy kan hoor, want almal wat wil saamgaan, weet hulle moet baie stiptelik wees in hulle gedrag.

Op die rivier se wal lig die ouma sy hand om ons te stop. Die musieke raak stil. En ons weet hy wat van die water is, weet van ons koms.

Die ouma wat met my meisiekind werk, sê nou: “Almal wat iets aan hom gedoen het, goed of kwaad, kom na vore en praat.”

’n Vrou laer af in onse straat stap twee treë uit die halwe kring en sê: “Eendag het hy my geterg toe hy nie wou doen wat ek hom gevra het nie, en ek het hom ’n klap gegee.”

En ’n jong meisiekind wat al jare lank my meisiekind se beste maat is, stap na vore en sê: “Eendag het ons stry gekry, en ek het hom met ’n klip gegooi.”

En ’n langbeen-jongetjiesmens sê hangkop: “Ek het hom al gekyk.”

Toe almal nou klaar is, sê die ouma: “Dis goed dat julle gepraat en dit van julle harte afgekry het. Kom almal wat aan die meisiekind behoort nou na vore.”

Ek en my jonger kinders tree uit die halwe kring, en my skoonsuster wat op die dorp woon met haar kinders, en ’n oompie aan vaderskant, en ’n antie van moederskant af.

Die ouma vat die skilpaddoppie met die boegoe van die meisiekind af, en hy sê: “Dans!”

Nou pluk die kitaarslaner die snare wild en wakker van die basnote tot die kwint. En die konsertina steun. En die fluit koggel hulle helder uit. ’n Oompie wat vooraf verkies is, kom vat my meisiekind se hand, en hulle trap en trap al vinniger, en hulle swaai hulle lywe wyd. En my meisiekind se speentjies galop soos boklammers onder haar rok, en die wit en swart gevlegte doeke op haar kop dans saam, en die stringe krale swaai hot en bles.

So trap en trap hulle al nader aan die waterkant. Dan vat die ouma die meisiekind se hand, en die dansery stop, en die musiek word stil. Die ouma stap totdat hy teenaan die water kom, en hy skud die boegoeblare in die skilpaddop op sy hand uit, en hy strooi dit oor die water. Toe praat hy in die rivier in, en hy sê: “Ons is hier!”

Die slang lê en luister, daar onder die water. Hy woon in ’n groot gat in die wal van die rivier – so vertel die oumense – met die water wat soos ’n muur voor die gat se bek staan. En binnekant die gat is dit soos in ’n huis met ’n tafel en stoele en kaste en ’n yslike kooi; al die soorte meubels is daar. So by so is daar ’n straaltjie water wat dwarsdeur die vertrek loop, en as jy dors het, kan jy maar drink. Dit smaak soos ys – helder water, glad nie modderig soos die rivierwater nie.

Die ouma sê die tweede en die derde maal: “Ons is hier!” Ons wag en kyk. As hy wat van die water is nou tevrede voel met die meisiekind, sal jy sien die water groei al op en op totdat hy tot by sy voetlid daarin staan, en die ouma saam met hom.

Dan slaan die ouma plathand om haar heen dat die boegoewater oor die meisiekind spat, en dit spat oor ons almal wat sy mense is. En die water begin te wemel terwyl die ouma slaan en slaan. Die water woel en gaan vreeslik te kere, en die ouma moet so besig bly tot dit weer bedaar het.

Die hokmeid skep ’n hand vol van die water op, en hy drink. Dan steek hy sy voorvinger in sy mond en vee dit uit. En die jongetjiesmens wat hom al gekyk het, kom na hom toe en lig sy hemp sodat die meisiekind hom met sy voorvinger op sy naeltjie druk. Dan begin die konsertina en die fluit en die kitaar weer speel. En die meisie en die jongetjies dans die Griekwa-stap. En die ouma dans. En ons almal dans onse lywe warm. Dan steek die ouma sy regterhand in die lug op, en dit word stil.

Ons draai om en stap terug huis toe, want almal weet nou dat my kind ’n jongmeisie geword het. En hy is respekbaar. En hy sal ’n goeie vrou wees vir ’n jongetjiesmens.

Maar ’n moederhart kan nooit te gerus wees nie. By sy dankbaarheid dat die slang sy kind gunstig aangeneem het, bly die gedagte: “Pasop vir die waterslang!” Want kom sy op ’n dag by die rivier, en die slang wil haar hê, gooi hy sy baard oor die water uit. Dit lyk nes fyn koperdrade wat hy na jou toe stuur, en jy draai jou daarin vas. So vang hy jou en trek jou in. Miskien is hy maar net lus vir jou bloed. Dan suig hy jou uit en smyt jou lyf op die rivier se wal weg. Of anders gaan hy saam met jou op die groot kooi lê soos ’n man by ’n vrou. Na ’n dag of drie sal hy jou weer laat gaan. Maar kry hy die meisiekind te lief, word hy ’n watermeid met die bolyf van ’n vrou en die onderlyf van ’n vis.

Daardie middag nadat julle eers ’n lafenissie by die huis gaan soek het, moet jy jou meisiekind regmaak om haar ook vir die fonteinslang te gaan wys. Besyds die rivier wat by die dorp verbyloop, is hier wat ons die fontein roep, daar bo uit die berg, en hy gaan by die rivier in. Dis waar die fonteinslang woon. Hy is kwaaier, want hy is links. Hy kan sy baard nie regs om uitgooi om te vang nie; net links om. Dan het hy nou ook so ’n feitelikheid dat hy jou kan spoe, soos ’n spoeslang. En as hy jou gespoe het, dan slaat jy sere op jou liggaam uit so groot as wat jy is, en hulle wil nie weer gesond word nie.

Die meisiekind het nog dieselfde rok aan van die oggend, en die gevoude doeke op die kop, en die stringe wit en swart krale om die nek. Maar jy bles hom nou met modder wat jy van die rivier af saamgebring het op die voorkop, en op die neus, en op die maermerries.

Soos julle nader aan die fontein kom, is die wind skielik om julle, soos ’n dwarrel om en om, en hy ruk aan julle klere. Al die tyd dat julle daar by die fontein besig is, hou die wind julle geselskap.

Jy vat die skilpaddoppie wat jy by die huis weer vol droë boegoeblare gemaak het en strooi die blare oor die water van die fontein. Dan vat jy van die fontein se klei en bles die meisie bo-oor die klei van die rivier af waarmee jy haar by die huis gebles het: op sy voorkop, en op sy neus, en op sy maermerries. En jou meisiekind sê: “Mama, ek is koud en warm.” En jy sê: “Dis goed so, my kind.” Want jy weet dat die fonteinslang met hom werk.

Nou sal jy sien hoe julle klere stil word, en die wind gaan lê. Die fonteinslang is ook tevrede. As die meisiekind later eendag allenig daar kom, sal die slang hom ken, en hy sal hom nie vol sere spoe nie.

Fytjie Bok het hierdie “Griekwa-geskiedenis” aan Pieter W. Grobbelaar vertel. Hy het die verhaal aan “Fytjie Bok en genote” opgedra.

Die ding in die riete

Подняться наверх