Читать книгу Die ding in die riete - Jean Lombard - Страница 8
ОглавлениеDie Diere vra om kos en water
G.R. VON WIELLIGH
Hierdie verhaal kom uit “Mitologie en Legendes”, Deel 1 van die Boesman-Stories (vier dele 1919–1921). Von Wielligh se taal word in die onderstaande verhaal net so behou, ter illustrasie van die ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands.
Toe die Diere en ook die Mense gemaak was, het hulle nie kos en water gehad nie. Toe moet die een dier die ander se vleis eet en sij bloed drink. Maar dit gee ’n uitroeierij onder hulle af; dog wat anders kon hul doen? Hulle huil toe oor hulle toestand en soek om verbetering. ’n Baie groot Olifant, wat so groot is dat hij oor ’n rantjie of koppie kan sien, praat toe en sê: “As ek dood is, sal ek dit baie lekkerder hê as nou. Dan is ek ’n groot Gees, wat geen kos en water nodig het nie; want Geeste eet en drink nie; en as ek ’n Gees is, sal ek vir julle algaar sôre. Mij bene sal ek laat bome word, wat vrugte vir julle kan lewer; mij senings sal plante word, wat op die grond rank en vir julle waterige waatlemoene en wilde komkommers dra, en mij hare sal op die grond groei en gras word. Dan sal julle oorgenoeg kos hê.”
Die Diere vra: “Hoelank gaan jij nog lewe? En hoelank moet ons nog wag? Want ’n Olifant word baie oud.”
Hij antwoord: “Hoelank ek gaan lewe, weet ek nie. Al wat julle te doen het, is: julle moet julle tijd afwag.”
Daarop vra die Diere weer: “Waar krij ons water om te drink?” Hierop gee die groot ou Slang, met die blink steen op sij kop, antwoord: “So gek om dood te gaan, is ek nie; maar ek sal oor ’n plan nadink om water te maak. As ek dood is, kan ek dit nie doen nie.”
Van al die Diere wat sterk genoeg is om die groot Olifant dood te maak, is die groot Slang met die blink steen op sij kop die enigste; want hij is nie alleen baie sterk nie, maar daarbij ook baie giftig.
Daardie groot Slang roep toe uit: “Groot Olifant, jij het jouw eie vonnis uitgespreek. Jij moet woord hou! Op die plek moet jij dood, dan sal jij en ons algaar gelukkiger wees as nou.”
Hierop maak die groot Slang ’n aanval op die groot Olifant, en bijt hom met sij gif dood. Toe het al die Diere vereers genoeg kos en drank aan die vleis en bloed van die Olifant. Dieselfde aand sien die Diere die groot Gees van die Olifant, met twee groot vurige oë en bek, rondstap, maar die Gees stap weg en doen vir hulle niks nie.
So het hij aand vir aand kom kijk na sij aas, waaraan die Diere eet tot daar glad niks mer oorgeblij het nie as net die bene, senings en hare. Toe praat die Gees met die bene, die senings en hare, dat hul bome, rankplante en gras moet word, wat kos aan die Diere moet verskaf, en dat hul hulle eie sade moet dra, om hulle self verder voort te plant.
Toe kom daar bome, rankplante en gras. Maar daar was toe nog geen water nie. Hiervoor het die groot Slang mos belowe om te sorg. Hieroor spreek die Diere toe die groot Slang aan en vra hom waarom hij nog langer versuim om water te maak.
Op die plek kruip hij onder die grond en maak toe die onderaardse waters, wat in fonteine staan of uitborrel.
Die gras en bome langs die fonteinplekke groei toe welig en geil; maar die plante op die berge en vlaktes kwijn, verlep en verdor. Toe huil daardie plante en soebat die Sterretjies en Maan om tog van hulle water snags op die bome, rankplante en gras uit te giet.
Maar die Maan en Sterre antwoord dat hul net genoeg water vir hulle eie gebruik het, en daarvan nie kan spaar nie.
Daarop huil die plante wat op die berge en vlaktes groei. Die plante aan die waterbronne huil ook saam oor die lot van hulle broers en susters. Hierdie rouwgekerm was te veel vir die Maan en Sterre, wat toe ook met die dorstiges bitterlik saamhuil; en hulle trane val snags in druppels op die blare van die plante, sodat hulle soggends nat gedouw is.
Die geval nou is: Die Diere het genoeg drinkwater bij die fonteine, wat deur die groot Waterslang gemaak is; ook die plante wat bij die fonteinplekke groei het volop water; maar die berge en vlaktes is droog en dor. Dan kom daarbij nog: Die sonstrale is warm en dorstig, en die wind is dor en ook dorstig; daarom lek daardie sonstrale en wind die douwtrane soggends vroeg op.
Daar was ’n groot Bees, wat baie graag gras geëet het, en hij kon nie genoeg daarvan krij om te eet nie. Hij sê toe dat hij reën sal maak om orals op die velde te laat uitstort. Hij neem van die waters van die fonteine en gooi dit in die lug. Hij stap van fontein na fontein en smijt water in die lug. Die winde kom van ver af en drijwe al daardie waters bo in die lug saam om wolke te vorm; dan vervoer hij die wolke, wat reën uitskud, oor die velde; en so het die eerste reëns ontstaan.
Later, as daar droogte oor die land kom, word daardie Reënbees rondgelei om die plekke te wijs waar dit droog is. Die plekke wat hul hom nie kom wijs nie, blij droog tot hul hom eendag daardie plekke gaan wijs. Van toe af was daar genoeg kos en water vir al die Diere.
Maar partij Diere was te moorddadig en wederstrewig en kon nie ophou om te moor en te verslind nie. Hulle wou glad nie veldvrugte en gras eet nie. Leeuw, Tier, Wolf, die Wildekatte,Valk, Uil en nog baie ander het tot daardie klas behoort, om niks anders as vleis te wil eet nie. Aasvoël het gesê hij is met die aas van die dooie Diere tevrede.
En so bestaan die wêreld vandag nog: Die een leef van die ander, en sonder die ander kan die een nie bestaan nie.