Читать книгу Die ding in die riete - Jean Lombard - Страница 14
ОглавлениеFragmente uit gesprekke dóúr neffens die Groot Gariep
PIETER STRAUSS
1. Die insnyding
“Die waterslang? Of ek iets van die waterslang wis? Maar natuurlik weet ons van mekaar! Kom ek, Willem Waterboer, vertel nou vandag vir jou, duusman, ’n ding … Vandag se nylonmense sal dit nou seker nooit as te nimmer wil glo, maar ek steek al tien my vingers innie lug. Daai slang het ek in my leeftyd in ál sy gedaantes gesien. En lieg sal ek mos nou nie hier vir jou sit en lieg nie. Vir wat sal ek dit nóú, hier in my vier-en-tagentagste jaar, hier op dié stukkie aarde, nóú wil gaan staan en doen?”
Die klein, verrimpelde ou mannetjie druk hom moeisaam op sy een hand in sy bed orent. Dit is Septembermaand en reeds snikheetwarm hier in sy roubaksteenhuisie op Pella. Sy regterarm hang slap in ’n wit verband om sy nek. “Breek geval innie agterwerf,” het sy kleindogter, Annatjie, flussies vertel. Nou sit sy ’n handjie by om sy rug gemaklik teen die koppenent en ’n kussing gestut te kry.
“So ja,” sug hy, “nou kan ons behoorlik praat.”
Sy koeëlronde ogies draai blinkswart en slangagtig in sy spitsgesiggie rond. “Meneer wou weet van die slang. Kyk, hoe sal ek nou sê: ek weet Meneer kom daar uit die verre Kaap. Maar dra Meneer darem ’n bietjie kennis van die aarde? Het Meneer al gehoor van onse slim mense, hulle wat medisynes en goete maak? Hulle wat ’n mens gesond kan maak? Wat ’n mens sukke kappe kan gee?
“Nou kyk, ek is destyds twee maal met daai slang se stront ingekap. Of ingesny, soos party mense praat. Eers, onwetend, teen die knie. Toe, vir agt sjielings, hier teen my bo-arm.”
Met sy gesonde hand wys hy na die donker, opgehewe letsels teen die bo-arm van sy slap linkerhand. Dit lyk soos die strepe van ’n rangteken uit ’n vreemde oorlog.
“Oupa bedoel hy was siek en toe het hulle ’n medisyne van die uitlaatstowwe, die uitwerpsel van die slang, gemaak,” verduidelik sy kleindogter en glimlag. “Toe het hulle merkies in sy vel gesny, of gekap, en die medisyne daar ingevryf. Dit word dikwels só hier in onse wêreld gedoen. Hier glo die ouer mense mos nou nie eintlik waffers aan die witmensdokters se medisynes nie …”
“So is ek toe gepaljas!” beaam oom Willem. “’n Ander man het my gepaljas. Toe raak ek mos siek. En niemand, niemand hier kon my help nie. Hulle medisynes was te swak.
“Nou ja, toe vat Ma-goed my mos hier af na my oompie-goed toe. Alheit toe, daar naby Kakamas. Toe maak hulle my daar lê. Toe moes ek daar lê en wag vir ’n dokter.
“Maar smiddags, hier van twee-uur af, dan blaas ek op. Dan raak ek mos geheel deurmekaar in my kop. Dan hoor ek mos die waters druis hier tussen my twee ore.
“Nou kyk, daai huis van my oompie-goed het ’n onnerdeur en ’n bo-deur gehad. As ek opvlie, dan moet hulle my terughou, dan moet hulle my duwweld vou, want ek wil net uit! Ek spring sommer so woers-warts oor daai onnerdeur. Dan haadloop ek tussen die riete in, kuile toe, na die groot slang toe. Ek hoor hom mos roep. Dan moet hulle my daar gaan vang en weer terugsleep werf toe.
“So oorkruis,” en hy trek met sy vinger ’n kruis in die lug tussen die vier pote van sy bed, “ja, só moes hulle my dan aan daai katel se vier pote vasmaak. Met osrieme moes hulle my daar vasmaak. Maar eendag breek ek toe uit. Ek breek uit en ek haadloop. In my kop hoor ek weer net waters dreun …
“Hier by Rooipad, by Ou Rooipad, waar hulle nou die … hoe noem hulle dit, Annatjie? Waar die mense altyd loop uitkamp? Daar by die waterval?”
“By Augrabies-waterval?” help Annatjie hom reg.
“Ditsem! Daar kry ’n vrimde man my toe. Die man se naam was Charlie Tungsten. Hy het rooi hare gehad. Hy kon ook ons mense se medisynes aanmaak. Hy gryp my toe daar. En hy kyk my tot hier diep, diep agter innie oë, tot daar waar die waters dreun.
“Toe sê hy vir my: ‘Ek kom twee, ja, ek kom net twee goed kort … anders kon ek jou gesond gemaak het.’
“Hy vat my toe weer t’rug, t’rug Alheit toe. Hy sê toe vir my: ‘Willem, daardie ou man wat jou oubaas in jou plek gevat het, Jakob Booise, van die Richtersveld, van Khubus, daardie ou jong het jou gepaljas. En net hý sal jou weer gesond kan maak.’
“Toe onthou ek: ek het nog mooitjies die oggend werk toe kom ry. Ek was op my baisiekel … Toe kom die twee jong Damaratjies – seker van ou Jakob se kjenners – toe kom hulle mos nou reg van voor af gestap. Hulle stap al met die pad langs. Toe ek by hulle verbykom, toe slaan die voorste een my met ’n sakdoek. Net hier, hier op dié knie.” Hy beduie na waar sy knie ’n knop stoot onder die kombers. “Met ’n toegeknoopte sakdoek met lemmetjies in het hulle my geslaat.
“Toe’s dit klaar met my. Toe’t daardie ou man, Jakob Booise, my hoeka ingesny. Dis nou om my te paljas.
“Hy’t toe wragtag die stront van die waterslang, en ek weet nie waffer goed nog als nie, bymekaar gesit. Maar nie ek, of Charlie Tungsten, kon uitmaak wat in daai sakdoek was nie.
“Ek val toe in die pad, vroemôre met my baisiekel, t’rug na ou Jakob toe. Voorlat die slang en sy waters my weer deurmekaarkop kan maak.
“Maar ek bly toe nie by ou Jakob op my oubaas se werf nie. Ek bly toe langsaan, by Kolie Visasie, op Volksriet. Ons wat mos saam opgegroot het – Kolie en Jet en Jan Visasie. Duusmanne, almal Visasies.
“Hulle sê toe vir my: ‘Willem, ons sal jou graag wil help. Sien jy daardie skwêrdakhuis: daar waar die donkiekarre staan? Jy kan maar daar gaan bly.’
“Maar toe ek nou daar kom, toe spoel hulle se twee werksmanne nog grond g’lyk. Met water saam. Want hulle se base, Kolie-goed, wou nóg ’n erf gemaak hê. Toe ek die water sien, toe voel ek weer hoe ek beginne opblaas. En ek voel hoelat die slang hier in my kop begin krul en draai.
“Ek draf toe net daar oor na Jakob Booise toe en vertel hom van my probleem. En ek vertel hom wat die man op Ou Rooipad vir my gevertel het.
“Toe sê hy vir my: ‘Ja, Willem, ek hét jou gepaljas. En net ék kan jou weer help. Hiér was jy alte veul ’n te agtermekaar man na my sin. Jy en die oubaas het te veul innie selle paadjie gestap. En ek was te niks … Ek sal jou kan help, maar eers moet jy my hier hand oppie Bybel belowe: jy sit nie jou voet weer op hier’ie plaas se werf nie. By hierdie oubaas wil ék en my kjenners aanbly. Hier wil ons bly werk.’
“Toe sê ek vir hom: ‘So, Jakob Booise, jou ou donner, dan is dit hoeka jy wat my so gepaljas het. En dit net om my plek hier oor te neem. En so hittete was ek nou moer toe, fynvoer vir slang se kjend!’
“Hy sê toe: ‘Ja, met sý stront het ek jou mos ingesny. Net sý stront sal daai paljas weer ongedaan gemaak kan kry.’
“Hy gee my toe vier kappe, vier kappe vir agt sjielings. En nog twee ander kappies, sommer so van sy kant af. Net om te wys hy’s nie meer té kwaad vir my nie. Dit nou als net om die paljas gebreek te kry … om my deurgehaal te kry.
“Dit was in ’51. En hier sit ek nog steeds soos ek hier sit. En om te dink: wat my so ampertjies gebreek het, wat my so ampertjies slangkos gemaak het, was één man se afguns. Sy paljas. Wat die waterslang se stront toe gelukkig fyn en flenters oopgebreek het …
“Die volgende jaar het ons vir ou Jakob gaan begrawe. En die jaar daarop ook sy twee seuns. Daar onner langs die rivier. Die Grootrivier se slang laat mos nie met sy stront saam mors nie.”
5. Slang se lekkerte
“Kyk, dié slang – dis nou die een met die lig of vuursteen voor sy kop – hy is mos vreeslik agter die vroumense aan,” sit en vertel oom Klaas Willemse in sy riethuisie op Onseepkans. Hy sit met sy bene oorkruis op ’n ou staalraamstoel, die boonste been se waai op die ander een se kniekop. Met sy voet karring-karring hy die stilwarm lug ’n bietjie om. Links van ons, in die kookskerm, werskaf tant Mieta, sy vrou. Met ’n geblomde lapkappie laag oor die oë getrek, is sy besig om ’n vuurtjie onder die swart ketel aan die gang te kry.
“Hier by Kambreek, daar bly mos ene wat so vreeslik stout is,” vertel oom Klaas en skop-skop weer met die voet. “Daar loop die voetpad so al oppie wal langs. Dan, as die meisies daarlangs loop, loop raak hy mos skoon speuls. Dan ruk hy hulle daar af, mos hier by hom in die waters in.
“As jy daar wil loop, dan moet jy eintlik, dan moet jy eintlik ’n soort medisyne daarvoor hê … Ek weet nou nie of dit boegoe is of waffer medisyne nie. Seker rivierboegoe.
“Nou hierdie goetertjies, hierdie swartetjies,” hy wys na die swart vlekkies op sy arms, “ek het mos ook vir hulle … As ’n vroumens vir hulle het, da’ raak hy malverlief op haar. Ja, dan kom hy, dan trek hy daai vrou af … af in die waters in.
“As jy by Kamberg kom en julle woel daar rond, en julle swem en duik en werskaf, dan steek hy jou voor die kop en suig hy jou bloed uit. Dan steek hy jou net hier voor die kop.” Hy wys met sy vinger na ’n roesbruin kolletjie presies tussen sy oë. “Dan maak hy jou tot niet. Kyk, hy wil jou mos nou vat vir ’n vrou vir hom.
“Hy bly ónner die klippe. Die slang. In die binnekant van die rivier. Hulle sê sy huis is droog, daar onner die water. Sy huis is soos ’n glaskamer – ’n glaskamer onner die water. En dan hou hy die vroumense met hulle se moesies dáár.
“En as jy jou vrou weer wil t’rughê, dan is daar net één raad, dan is daar net één ding wat jy kan doen: jy moet ’n wit bok gaan soek. ’n Spierwit ooibok. Dan moet jy daai bok vir hom gaan los, in ruil vir jou vrou. As jy haar nog wil hê. Daar, op ’n klip, in die rivier. Dan, as hy daarna voel, gee hy almiskie jou vrou vir jou t’rug.
“Partykeer wil jou eie vrou dan niks meer met jou te doen hê nie. Dit is so, ja. Sy het mos nou slim geloop raak daar onner die water. Ek en jy kan tog nie met haar gedoen kry wat die slang met haar gedoen het nie. Die slang gee haar ’n anner soort lekkerte.
“Kyk, duusman, ek weet nou nie hoe jou mense se dinge werk nie,” sluit oom Klaas sy vertelling af, sit al twee sy voete langs mekaar neer, leun vorentoe met sy handpalms op sy kniekoppe en kyk my vas in die oë. “Maar hierlangs kan ons mansmense maar gaan slaap as dit by daai soort lekkerte kom!”
7. Daai pers-blou !nibboetjie
“Hier is mos nog ’n slangetjie, hulle roep hom die !nibboe. Hy kom eintlik hierbo uit die Richtersveld uit.” Dit is weer oom Willem Waterboer van Pella aan die woord.
“Daar is enetjie wat een been het. Dan is daar een wat twee bene het. Dan is daar een wat drie bene het. En dan is daar enetjie wat vier bene het,” vertel hy. “Nou daai een met die vier beentjies, hy is ’n blou-persetjie. Hy’t nog sulke drie geel strepies oppie rug ôk.
“Hy’s omtrent hier van my handgewrig tot omtrent hier by my middelste vinger. So, met sy stertjie en al,” beduie oom Willem.
“Daai klein !nibboetjie slaan daai groot slang om. As jy met hom ingesny is, dan maak die groot slang jou niks. Hy kannie daar verby kom nie.
“Jy maak hom heel droog – die kop, die voete, die stert, die derms, als! Dan maal jy hom fyn. Dan sit jy mos nou jou kruie by, jy wat slim is. Dan kap jy die mense daarmee. Dan gee jy hulle kappe.
“Die groot slang kom nie daar verby nie.
“Oor die slang so erg gewees het oor my, net waar ek by die rivier kom, daar is hy. Toe het ek vir my ook nog boonop met daai pers-blou !nibboetjie gelaat inkap. Dat hy so ’n bietjie moet stadig, dat hy nie so vinnig moet wees met my saam nie.
“As ek daar by die rivier werk, op die seil onder die trekker, met my een voet in die water, dan kom hy uit die diep water, hier na die vlak watertjies toe. Dan kom staan hy so regop voor my, só.” Oom Willem lig sy gesonde arm regop in die lug langs hom, sy vingers gepunt en na sy mond gedraai. “Ja,” sê hy, “met ’n kop so groot soos ’n jong bok s’n.
“Dan kom staan hy hier. Dan bekyk hy my so. As hy nog sy kop kom opskud hier na my toe, dit lyk asof hy my wil soen, dan vat ek daar van die klei, van die riviermodder, dan sit ek dit op sy kop.
“As hy sy kop wegpluk, as hy die modder afskud, dan sê ek: ‘Loop, jou ou wetter, loop haal die water. Jy kan nie hier kom staan en soenerig raak nie!’
“Dan loop hy. Vanaand kan ek nie weer daar onder gaan lê nie. Vanaand kan ek maar my goed vat en bo-op die wal gaan lê. Want da’ het hy die water geloop haal.
“Môre vroeg, daai klippe, daai growwe klippe waarop ek met my kastrol kos gemaak het, hy kom vat hulle ammal. Ook daai houte wat daar langs die vuur gelê het, hy vat als wat hy kan kry!
“Da’ is die rivier kant en wal opgestoot. Ek het mos vir hom gesê hy moet die water loop haal!”
Die bostaande fragmente kom uit die reeks vertellings “Op die spoor van die waterslang” in Tussen kokerboom en kaiingklip (2006).