Читать книгу Die ding in die riete - Jean Lombard - Страница 13
ОглавлениеBietjie bokmis, bietjie boegoe
THOMAS DEACON
In die onderstaande fragmente uit Maagmeisie – Griekwa-stemme (2003) gebruik Deacon die idioom van Griekwa-Afrikaans. Ouma Klipskoen en ouma Trooitjie inisieer die maagmeisie in die puberteitsritueel waartydens ’n offer aan die waterslang gebring word.
Fragment 1
Verteller: Waar ouma Klipskoen holwang seet en twakrook blaas,
luiyster sy hoe vrougoed raas
en dans en sing,
voetstamp uun an kring,
om en om en om,
handslag op die trom.
Roep reentboogslyf van waterslang,
om luglaans ôr fontein te hang,
wyl maagmeisie nou seet en wag,
vir ouma om die krag
van bokmis, boegoe, saggerooide klei,
teussendeur die vingers te laat gly,
ôr rug en pram en skaamte uun te vryf,
die mag van donker geesgoed te verdryf.
Fluiyster ouma Trooitjie uun haar ôr:
Ouma Trooitjie: Dour’s dinge wat jy nog moet hoor, my keend,
als jy die lewe vas wil bind,
voorlat Vaderliefie1 hand ôr jou se kop sal hou,
Sy sagte arm om jou lyf sal vou,
jy sonner kierie, sonner pyn,
uutklim teun die hoogste duiyn.
Diepkeek ôr die vervlak heen,
waar hanne jou sal vat,
sal hoogtrek door die lug se pad.
Jy ewiglik sal sing en huppel,
sonner om te lyfpyn, sonner om te kruppel.
Toe mes se lem by lam se keel uunglip,
ees nawel van jou keendskap losgeknip.
An nes sal jy van nou af óóp moet krap,
an evaspad2 met jou se voete trap,
bly loop tot Aram3 jou met slapriem vang,
soos akkeldis an janfiskaal se tak ophang.
Bekbeen van die lam moet heelgelyf kom uut die vuur,
anners sal die dood lê loer dié uur
lat afgôipyne keer op keer
door jou se lyf bly ruk en skeur,
tot ramkeend4 teun die sonkant op sal rys,
soos blom wat blaar beginte wys.
Meng boegoe met an spoegsel melk en maagsop van die lam
spoel af die rooiklei wat an bors en lyf en skaamte t!kam5
Vang op, bêre uun an skeulpaddop,
lat voorkantsjare kan vertel,
van sy wat nie net vel,
maar ok die siel geskoon het,
haarself met waterslang se loklikheid bekroon het.
Fragment 2
Ouma Trooitjie: Swarthand van die nag verdwyn;
voorloper6 se oog wat skyn.
Halfkeend ees jy, halfvrou,
tot suuglyf7 met die swelpram8 trou.
Halfnag ees deet, halfdag, tot môrevoël sy opstaanliedjie sing,
bloedson ôr oens Langeberge spring.
Verteller: Dees ouma Klipskoen wat die rooi en wit en swartklei brei,
totlat deet soos bokvet teussendeur die vingers glip en gly.
Sê sy:
Ouma Klipskoen: Smeersel rondom neus van maagmeisie ôr kin en wang,
wit stippeltjies wat kring en draai soos sleepsel van an wegseilslang,
swart spikkelkruiys van neus tot kin, van kin tot ôr,
vertel van oudagslyf als jy jou krag verloor.
Rooi kringsel an die voorkop om die oog,
vertel van sampan9 wat die bloed uut lyfte soog,
totlat voete vierspôr sandlaans trap,
jy soos an stuk verskeurde lap
ôr vlakte weg sal waai,
en wie verbystap, hastag lyfswaai, kop wegdraai.
Witgerokte lyf die hergeboortnis as an vrou,
al sal die keend nog steeds soos sampan an die lyf bly klou.
Swartgepunte doeksel om die kop geknoop,
vertel van haat en kwaad, van donker hoop,
maar witsel van die rok sal swartsel nekom draai,
soos hoennerhaan sal deet loop vlerke klap en koning kraai.
Bietjie bokmis, bietjie boegoe ôr die draaglyf10 laans verby,
maak afgôi van an kleinkeend net soos slapgebreide klei,
wat met an pottemaker hom se hand baklei.
Bietjie boegoe, bietjie bokmis ôr die teupel, by die draaglyf laans verby,
lat voorkantskeend11 soos boklam ôr oens Griekoeswerwe wei.
Fragment 3
Verteller: Ouma Trooitjie swaai vir kierie bokant kop,
toe hou die dansters op
met voete stamp en sing
want uut die diepkant van die kuiyl sien hul an ding,
kromlyf soos an sekelboog omhoog
en uut die blinksteen voor sy kop,
dans kleurboog luglaans op
soos vere van an spogterspou,
wat met die son se opstaanstrale trou.
Toe sak sy krul weer af tot uun die kuiyl,
sterf an huiyl
ver weg ôr die rante heen,
kruiyp dansters een vir een,
krampgat agter vaalbos uut,
beginne weer met wille voetgestamp te sing en fluiyt.
Ouma Trooitjie vat vir velsak en vir bekbeen van die lam,
gooi deet uun die skrikmaakdam,
seën vir maagmeisie met modder voor die kop,
ôr knieg en met die onderlyf al op,
dié deel wat rond en vol soos barsgranaat sal hang,
waar grypersvrou12 vir keend soos rypwordpit sal vang.
Ouma Trooitjie: Teussen lammerooi13 ees jy uut veld gehaal,
gebring tot hier by Griekoeskraal,
waar Aramsramme14 uutpeuloog lê loer,
en wag lat jy soos kransduiyfie begin te koer.
Dan sal voorspoedsaamgeid ôr jou se harspan reent,
sal jy geseënd wees met die voorkantskeend.
Soos boklam sal hul op jou voorwerf speul en loop en blêr,
en als die dikgeid van jou lyf nog ver pad laans moet loop,
sal dour alreeds weer niewie hoop
vir nog an boklam uun jou Aramsram se latlyf roer,
sal hy soos teelbul ôr die kraalmuur staat en loer.
Verteller: Gekruiysde arms soos die draaitak van an doringboom,
seet maagmeisie, keek hoe vellesak en bekbeen afdryf met die waterstroom.
Sagpraat ouma Klipskoen uun haar ôr:
Ouma Klipskoen: Als vellesak nie afsak uun die stroom,
had jy verloor,
sal jy ôr Griekoeswerwe laans moet swerf,
tot oudgeid an jou lyf bly kerf.
Niemand om jou hanne ôrmekaar te vou,
als dood met vasgrypvingers an jou nekpit klou.
Verteller: Skielik! Kolk en maal deet uun die kuiyl,
klink roepstem soos an smartseerkeend wat droeflik huiyl,
gryp hand vir bekbeen en vir sak,
lat deet uun die diepte sak.
Toe word deet als weer stil soos graf,
g’n branner wat ôr waters draf.
Soos Moses van jaar nêr,15
goi ouma Trooitjie oog tot ver
waar arend met sy vlerke oopgesprei
met winde van die lug baklei.
Smeer sy rooiklei an die kieriepunt,
dans en trippel soos an wipgat keend,
maar voorlat sy op water slaat,
begint sy spoebek sing en praat:
Ouma Trootjie: As Aramsram se lyfte jou gebeente uungeboor
had, sal druppels neffens jou se lyf loop
val, sal jy die evasblaar16 verloor
had, sal swaarweer altyd bo jou harspan raas,
sal waterslang vir ewig uun jou nekvel blaas.
Maar as ram se keend met ompad laans bly loop en blêr
had, sal spatsels ôr jou lyf bly stroom, sal waterslang se stêr,
blinkbles ôr jou voortyd17 hang, sal als vir jou met witbek lag
tot dourie voorkantsdag18
lat levensroksel om sal dop,19
jy soos an kleurselmot,20 opper, op
ôr witgatbome21 vlerk sal rek,
tot dour by oense himmelsplek22
waar jy weer ribbensbeen sal raak,
t’rug uun Aramsram se latlyf haak.
Als grootslang by die waters raas en huiyl en lyf lat rol,
sal ongewaste kolrok brandbors teun die rant uuthol.
Maar vir haar wat met die kieriewater
uutgeskoon is, sal kleurboog altoos om die nek bly hang,
sal banghaar nout orent spring op die kop als sy vir grootslang by fontein gewaar.
Als kwaad soos hoennerhaan op haar se levenspad kom kraai,
sal slang se draaisel saggies om die nek kom swaai,
sal tokkelos wat agter vaalbos skuiyl,
nout op haar se dak kom spore trap en huiyl,
sal hy bly vlug ôr verre rant,
met son wat voetsool skroei en brand,
nout weer t’rug na haar se werf toe kom,
nout weer om haar huus loop praat en vloek en kwaaiwoord brom.
Op haar wat met die waters uutgeskoon is,
rus krag om teussendeur die haak-en-steek23 te stap,
sonner lat g’n inkle tak vir kaalgesoolde voete krap.
Lammerkeend24 sal springspeul teun die rante wei,
en nout sal droogpram25 weer met keend se mond baklei.
Smôrens sal dour voorspoed ôr die rante spring,
sawens sal die sterre rus an vrede bring.
Voetnotas
1 Vaderliefie: God
2 evaspad: versigtigheid aan die dag lê
3 Aram: manlike geslag
4 ramkeend: seun
5 t!kam: vaskleef
6 voorloper: môrester
7 suuglyf: kindertyd
8 swelpram: volwassenheid
9 sampan: tampan
10 draaglyf: baarmoeder
11 voorkantskeend: nageslag
12 grypersvrou: vroedvrou
13 lammerooi: jongmeisies
14 Aramsramme: jongmans
15 jaar nêr: jare gelede
16 evasblaar: voorspoed van die lewe
17 voortyd: toekoms
18 voorkantsdag: tyd in die toekoms
19 levensroksel om sal dop: as die dood intree
20 kleurselmot: skoenlapper, vlinder
21 witgatbome: Noordkaapse inheemse boom (Boscia albitrunca)
22 himmelsplek: hemel, hiernamaals
23 haak-en-steek: Noordkaapse inheemse boom (Acacia heterecantha)
24 lammerkeend: kindertjies
25 droogpram: honger