Читать книгу Die ding in die riete - Jean Lombard - Страница 9
ОглавлениеDie slang in die tuin
THOMAS DEACON
Grootmoeder vertel vir my: “Eendag was daar ’n man en ’n vrou wat in ’n tuin gebly het. Hulle het mooi gelewe, want daar was nie anner mense met wie hulle maatskappy kon maak nie. Maar eendag kom ’n slang by daai vrou; hy vra: ‘Is dit waar lat jou tata gesê het jy mag nie van die aartappels op die ploegland eet nie?’
“Die vrou sê: ‘Ja, hy’t gesê as ek van daai aartappels eet, sal ek dood neerslaan.’
“‘Nee,’ sê die slang. ‘Die dood sal jou nie vang nie. As jy beginne aartappels eet, sal jy net so slim soos jou tata worre.’
“Toe’t daai vrou ’n streepsak vol aartappels in die ploegland gaan uitgrou. Sy’t ’n paar daarvan in die warmte van die vuur gebraai.
“Naderhand kom haar man van die veld af. Hy vra: ‘Wat vir ’n soort kos ruik so lekker?’
“‘Ditapolê,’ sê die vrou.
“Toe beginne hulle se monde te water. Hulle vat van daai aartappels; hulle eet lat die spoeg spat. Jy sien net skille trek soos wat hulle afdop.
“Maar toe hulle klaar geëet het, hou die vrou haar hanne voor haar tiete; sy vra: ‘Hoekom is my liggaam so káál?’
“Die man sê: ‘En kyk hoe speel die kaligheid oor my lyf!’
“Hulle gaan kruip in die riete langes die rivier weg, maar hulle se tata het al die tyd eenkant gestaan en kyk hoe stout sy twee kinners is. Hy sê: ‘Omlat julle so ongehoorsamig was, sal julle van nou af aan laag moet buk om julle se kos te verdien. Julle sal ook nie meer in hierie mooi tuin bly nie. Nee, julle het nie mooi gemaak nie! Die asem wat in julle se lywe geblaas is, sal ook nie meer vir altyd daar nesmaak nie. Een of anner tyd sal die velsak van julle se lywe oopgaan; dan sal die asem deur die blou lug vasgegryp worre, soos reën wat in die ploegland wegsak.’
“Van daai tyd af aan het die swaarkry van die lewe al met die mens se voetspoor saamgestap. Toe het die mens beginne krom buig om die goeie dinge van die lewe tussen die opslag uit te grawe, net soos daai aartappel-etertjies. Toe’t die engel van die dood gekom; hy’t sy skadu oor al wat mens en dier en plant is, gegooi. Jy sal nog dink om dit of dat te doen, dan klap daai vlerke bokant jou kop.”
Rooigrond (1995), waaruit die bostaande fragment kom, is gebaseer op onderhoude wat Deacon met Alfred Mokgotsi gevoer en in ’n unieke Sotho-Afrikaans geskryf het.