Читать книгу Matriks - Joan Hambidge - Страница 11
So dan
ОглавлениеEk staan voor jou oop kis:
hoe broos en klein lyk jy nie?
Die begrafnisbrief, ’n laaste lykskouing.
Soveel verydeling, soveel verdriet.
Jou oë dra weerhake, jou mond gestop
met watte en blinde kruissteek versier.
Soveel verydeling, soveel verdriet.
Jou hande dig gesluit op jou moeë bors,
naels geknip, jou trouring ’n wit band.
Soveel verydeling, soveel verdriet.
Jou blou lyksrok verklap jou somber toon;
’n bos vars kappertjies van ons in jou hand.
Soveel verydeling, soveel verdriet.
Nou gaan jy lang bome toe, soos dit hoort,
ek staan voor jou kis, sluit die deksel dig,
voel vir oulaas jou skerp blik,
plaas hierdie gedig vir jou ongelees.
Soveel verydeling, soveel verdriet.