Читать книгу Matriks - Joan Hambidge - Страница 14
Sara
ОглавлениеOns bediende was deel van ons huis se roetine.
Al eet Sara uit ’n blikbord met ’n gebuigde lepel,
moes ons haar met respek behandel. In haar kamertjie
staan op hoë bakstene haar wankelrige enkelbed
(“Om die tokkelossie weg te hou, Nonnatjie”);
teen die muur ’n foto van ’n swart man uit Bona.
Smiddae wanneer sy klaar gewerk het vir byna niks,
kyk ek verwonderd toe hoe sy haar hare uitklos:
vir vanaand se jive in die lokasie naby Silverton.
Sy was haarself met Lifebuoy uit ’n klein skotteltjie
en gebruik skeursels koerantpapier by haar oop toilet.
Oor die klein radio’tjie hoor ek die penniefluit óprank
en saans wanneer Ma-hulle uitgaan, haar groot-groot lag.
Op daardie keer toe Ma-hulle weg was om huis te soek
en ek en AnderSus sien hoe ’n kind in ’n ongeluk sterf,
hou Sara, ons Mama, my die hele nag teen haar bors
(“thula, bhabha, thula thula bhabha,
thula bhabha, thula thula bhabha”)
in my eerste kennismaking met die dood se reuk én klank.