Читать книгу Matriks - Joan Hambidge - Страница 12

Chora

Оглавление

As kind gedigte uit my hoof geken,

kon Elisabeth Eybers en Sylvia Plath

beter bemeester as logaritmes

of die kleurvolle chemie-tabel

in die wetenskaplaboratorium.

Onder my rekenkunde-huiswerk

stiekem van kleinsaf

oor iets anders begin boekhou.

My klein bestaan geliniaal.

Die ontwikkeling van die den

presies aangestip ’n gedig

se groeiproses.

Voetjie-vir-voetjie word jy ’n digter,

jy leer dit in die dubbelspraak

van woorde, jy sien

dit in die vuige inskrywings

en sketse op ’n skoolbank

met ’n passer uitgekerf.

Jy ruik dit in die skool-lewwies.

Dit mors oor growwe kladpapier.

Blou vlek die vingers

om ’n lekkende vulpen.

Die hortende ritmes

van dié vers verraai

hoe naak en weerloos

hierdie indertydse skriba was.

Dit wat buite woorde lê

− my ma wat ’n dagboek konfiskeer

waarin ek ’n ánder bestaan karteer −

kry ek nou vir goed ontsê.

Matriks

Подняться наверх