Читать книгу Vir mans - Johan Ferreira - Страница 11

Ek was ontrou en het berou

Оглавление

Ek het geweet dit gaan uitkom

Frans het die afgelope drie jaar ’n buite-egtelike verhouding met ’n vrou wat hy by die werk ontmoet het. Hy was nie ongelukkig getroud nie, hy en sy vrou werk net albei baie hard en hulle tyd saam is meestal gefokus op die kinders. Die gesinslewe is goed, maar hy het die romantiese deel van hulle verhouding gemis.

Aan die begin het hy baie skuldig gevoel en was baie bekommerd dat die waarheid sou uitkom. Soos die tyd aangestap het en die verhouding ’n geheim gebly het, het hy minder angs beleef en uiteindelik net daarmee saamgeleef. Die vrou met wie hy die verhouding gehad het, was tevrede met die reëling dat hulle nie in die openbaar as ’n paartjie sou kon verskyn nie. Dit het haar skynbaar so gepas.

Op daardie aaklige Vrydagmiddag soek sy vrou na ’n foto van hulle kind se eerste skooldag. Dis deel van ’n skoolprojek, maar sy was besig by die werk en het nie die foto laat druk soos sy belowe het nie. Sy is haastig en moeilik. Frans bied aan om op sy hardeskyf na die foto te soek. Hulle is saam op die familiegroep se foto-albums wat deur die gedeelde internettoepassing geskep is.

Sonder dat sy vrou opsetlik na die inhoud op sy rekenaar kyk, klik sy op ’n lêer wat op die gedeelde skerm opkom. Sy word doodsbleek en sit hom en aanstaar waar hy oorkant haar sit en foto’s soek. Hy kyk uiteindelik op. Hy het nog nooit daardie uitdrukking op haar gesig gesien nie. Die mengsel van skok, pyn en woede is duidelik en hy wéét net dat sy weet.

Sy neem die kind na haar ma wat nie ver van hulle woon nie. Hy wag benoud tuis. Met haar terugkeer stap sy reguit na hom toe en vra of hulle asseblief eerlik hieroor kan praat. Frans onderneem om die waarheid te vertel.

Hoe lank al?

Dis die pyn in haar oë wat hom laat jok. Hy bieg dat dit al ’n jaar aangaan. Hy dag sy gaan flou word oor dit al so lank aangaan en sy niks agtergekom het nie. Sy vra oor alles. Waar het dit begin? Wie weet almal? Hoe ernstig is dit? Wil hy van haar skei? Het hy die ander vrou lief? Die vrae borrel by haar mond uit. Sy luister nie mooi na die antwoorde nie, en Frans moet bontstaan om die tydlyn van die leuens te onthou.

Kort voor lank vang sy hom uit oor die detail wat hy haar vertel het. Hy is benoud, want hy kan nie die detail van die leuens onthou nie. Hy moes so vinnig jok dat dit nie mooi deurdag was nie. Die volgende paar dae verloop in ’n waas. Sy vind net al hoe meer uit en hy jok hom daagliks dieper vas.

Uiteindelik beland hulle by ’n terapeut wat deur ’n vriendin aanbeveel word. Hulle eerste sessie is geweldig uitdagend. Die sielkundige verduidelik dat die inhoud van hierdie gesprek die res van die proses sal bepaal. Die waarheid, of leuens, sal die uitkoms van die gesprekke bepaal. Hy daag hulle albei uit om die volle waarheid te praat om sodoende die uitkoms van volkome vergifnis te kan verseker.

Die volle waarheid

Frans besef dat indien hy nou weer gaan jok en sy hom weer gaan uitvang sal hy haar verloor. Hy is opreg spyt en het in die afgelope paar dae besef hy is werklik lief vir sy vrou en wil haar nie verloor nie.

Hy vertel die storie vir die eerste keer volledig en duidelik. Sy vrou sit stomgeslaan langs hom. Elke keer dat sy hom in die rede wil val, hou die sielkundige sy hand op en dan vertel Frans verder. Hy is naar en bleek toe hy aan die einde kom. Die sielkundige vra dat hulle die gesprek sal voortsit binne die veilige ruimte van terapie en dat hulle nie by die huis verder daaroor moet praat nie. Hulle bespreek ’n sessie vir die volgende dag.

Natuurlik kon hulle dit nie regkry om nie verder daaroor te praat nie, maar hulle daag darem vir die volgende sessie op. Sy vrou is siedend. Sy het op sosiale media na die ander vrou gaan soek en haar maklik gevind. Daar het sy bewyse van hulle verhouding raakgeloop, baie subtiele verwysings na naweke weg en sakereise saam. Nooit ’n foto van hulle saam nie, maar altyd die verwysings na romanse en bederftye. Nou maak alles vir haar sin. Haar brein werk oortyd om al die dele bymekaar te bring. Frans is verslae oor sy vrou se vermoëns tot speurwerk. Hy is innig dankbaar dat hy die vorige dag die volle waarheid gepraat het.

Daar is geen waarborg dat ’n huwelik ontrouheid sal oorleef nie. Soms is die skade en die verlies aan vertroue te groot om herstel te bewerkstellig. In sommige gevalle is vergifnis en vryspraak die uiteindelike sleutels tot die herstel van ’n gebroke huweliksband.

Vergifnis en vryspraak kan slegs plaasvind as opregte berou deel van die proses is. Opregte berou vind plaas wanneer die oortreder met insig en opregtheid die daad kan evalueer, erken dat dit plaasgevind het, daarmee ophou en dan wegstap daarvan. Indien die daad dan nie weer plaasvind nie, kan die ander party begin met die proses van vergifnis. Dit is nie ’n gebeurtenis nie, maar vind oor tyd heen plaas en sodoende kan daar uiteindelik weer vertroue in die verhouding groei. Uiteindelik kan ons met ons verstand onthou dat die daad plaasgevind het, maar ons hart voel nie meer die pyn nie. Dis hoe vergifnis voel.

Jy kan jou gerus ’n paar vrae afvra oor vergifnis in jou verhouding:

1.Is daar enige pyn in jou hart oor iets wat jou maat aan jou gedoen het wat nie weggaan nie?

2.Is jy bitter teenoor jou maat vir iets wat tussen julle gebeur het?

3.Vertrou jy nie jou maat oor getrouheid binne die verhouding nie?

Ontrouheid diskwalifiseer vertroue. Die intensiteit van die pyn is hoog omdat dit juis iemand is wat jy vertrou het wat jou nou so seergemaak het. Indien jy die oortreder is, sal jy die diepte van die verraad moet begryp sodat jy nie die graad van die pyn onderskat nie. Jy sal volledig moet luister na hoe jou maat die verraad beleef en dan saam die pad na herstel stap indien jy wil hê die verhouding moet herstel. Nie alle verhoudings herstel ná ontrouheid nie.

Dit is nooit ’n vinnige of maklike herstelproses nie en albei moet weet dat daar tye sal wees wat hulle vorentoe beweeg, maar dan sal daar weer tye wees wat die proses terugbeweeg na die eerste dag van die ontdekking. Geduld, liefde, vergifnis en nuwe gedrag is die bestanddele van ’n herstellende verhouding.

Vir mans

Подняться наверх