Читать книгу Vir mans - Johan Ferreira - Страница 7
Ek is steeds afhanklik van my ouers
ОглавлениеEk sê dit nie meer vir mense nie
Emile woon gerieflik in die woonstel op sy ouers se erf. Die hele opset werk goed. Dit het aanvanklik begin toe sy pa siek geword het en hy moes inspring met die versorging van die huis en die tuin, maar dis nou 12 jaar later, sy pa is gesond en hy woon steeds daar. Hy eet elke aand saam met sy ouers en kuier dan ’n bietjie voor hy na sy eie plek oorstap.
Hy geniet sy werk, maar voel verveeld met die gebrek aan uitdagings. Hy is al agt jaar by dieselfde maatskappy en sy werk is voorspelbaar en doenbaar. Hy is meestal reeds teen vroegmiddag klaar met sy take en sit dan rond en bring sy tyd op die internet deur. Sy salaris het nie veel aangewas in die tyd daar nie en hy kan nie finansieel vir homself sorg nie. Hy betaal ook geen huur of ander rekening by sy ouers nie. Wanneer vriende vra oor die opset tuis, vermy hy nou die onderwerp en praat oor iets anders. Hy voel op 33 sal hy dalk moet aanbeweeg met sy lewe. Hy kan sien sy ouers is soms geïrriteerd met hom en sy ma het al per geleentheid vir hom betrekkings wat in sy loopbaanrigting geadverteer word, uitgewys.
Nog ’n jaar gaan verby
Dis nog ’n jaar later en Emile se lewe is presies dieselfde. Hy werk steeds by sy maatskappy en woon steeds by sy ouers. Die meisie met wie hy verlede jaar in ’n verhouding betrokke was, het uiteindelik die pad gevat, want sy kon nie langer toekyk hoe ’n volwasse man elke aand by sy ouers eet en elke maand misbruik van hulle finansies maak nie. Hulle het verskeie kere daaroor probeer praat. Emile vermy die onderwerp en bly vasgeval in die patroon van onderprestering en gemaksugtigheid. Hy betaal eerder die prys om sy verhouding te verloor as om as volwassene aan te beweeg na onafhanklikheid.
Dit kom van ver
Emile se ouers het van kleins af die gevolge van sy besluite van hom weggeneem. Hy hoef nooit enige negatiewe uitkomste die hoof te gebied het nie, want hulle sou hom uit situasies red wat vir hom sleg was. Op skool was sy ouers altyd baie betrokke en het hom voortdurend laat wegkom met gedrag wat negatief was. Indien hy in die moeilikheid by die skool was, sou sy ma of pa ingryp en vir die gevolge instaan. Emile het emosioneel afhanklik van sy ouers gebly. In sy tienerjare het hy ’n paar keer die wet oortree en elke keer het sy ouers hom gered deur leuens te vertel en hom die gevolge te laat vryspring. Die verskonings wat hulle vir sy gedrag aangebied het, het vir niemand anders as hulself sin gemaak nie.
Hy het altyd goed presteer op akademiese gebied, maar namate die werk toegeneem het, het hy geleidelik swakker presteer. Deursettingsvermoë is nie aangeleer nie, want sy ouers het voortdurend die oplossing buite hom gesoek. Hulle wou nie konflik met hom hê nie en het daarom altyd sy lewe so maklik moontlik probeer maak.
Albei sy ouers het uit ’n moeilike agtergrond gekom en hulle doelwit was om vir hulle kind die beste lewe te gee wat hulle kon. Wat hulle toe in die proses reggekry het, was om ’n volwasse man groot te maak wat niks vir homself kan of wil doen nie. Hy is van kleins af geleer dat minimum insette genoeg is om mee weg te kom. Nooit het hy die vreugde beleef van voortgesette pogings wat uiteindelik op sukses uitloop nie. Hy weet nie hoe dit voel om te sukkel met iets totdat jy dit regkry nie.
Dis die lewe
En nou is dit die uitkoms van sy volwasse lewe. Hy doen die minimum by die werk en omdat hy slim is, kom hy daarmee weg. Die werkskonteks is ook nie baie uitdagend nie, so hulle is tevrede met sy pogings. Hulle betaal hom in elk geval ’n klein salaris. Emile het dus vasgeval in wat vir hom bekend is, maar beleef diep binne hom erge frustrasie en teleurstelling. Hy is afgunstig op ander mense. Sy mening is dat hulle baie beter geleenthede as hy ontvang het. Inderwaarheid het hulle beter geleenthede gaan soek en was daarop uit om hulle lewe te verbeter. Maar Emile hoef dit nog nooit vir homself te gedoen het nie. Hy ken nie die denkproses nie, dis vir hom vreemd en klink onmoontlik. Hy sukkel om onafhanklik te dink oor sy lewe. Hy voel sy ouers is verantwoordelik vir sy lewe en blameer hulle vir die onvervulde inhoud van sy lewe.
Sy meisie, en ook sy vriende, kan natuurlik sien dat hy self nie verantwoordelikheid vir sy keuses aanvaar nie. Wanneer hulle met hom hieroor probeer praat, vermy hy die gesprek of word kwaad.
Die pad vorentoe
Emile se lewenspaadjie is sy eie. Hy sal dit moet ontdek en verantwoordelikheid daarvoor dra. Hy sal tot die insig moet kom dat hy ’n onderpresteerder is. Hy het nog geen van sy ideale en drome verwesenlik nie en sal moet aanvaar dat hy alleen daarvoor pa staan. Dit sal nou ’n tyd in sy lewe moet wees waarin hy eerlik na sy keuses kyk en dan uiteindelik alleen die steil pad na onafhanklikheid aandurf.
Die meeste ouers wat hulle kinders so grootmaak, kom nooit tot die insig dat hulle béste bedoelings en planne toe nie goed uitgewerk het vir hulle kind nie. Die kind van sulke ouers moet dikwels die grense van die ouer-kind-verhouding self herdefinieer wanneer hulle tot volwasse insig kom.
Emile sal ongemaklik genoeg moet raak met sy lewe om uit daardie gemaksone te tree en dan baie ongemaklik sy eie potjie te begin krap. In hierdie keuse sal sy eie volwasse identiteit kan ontwikkel en sy persoonlike lewensdoelwitte uiteindelik bereik word.
’n Paar vrae wat jy jou kan afvra oor jou volwassenheid:
1.Sorg ek ouderdomstoepaslik vir myself?
2.Bereik ek my doelwitte deur aan te hou deur moeilike tye, of gee ek op?
3.Watter rol speel my ouers tans in my volwasse lewe?
Volwassenes moet ’n onafhanklike lewe lei waarin hulle vir hulself kan sorg en uiteindelik hulle eie doelwitte sonder hulp bereik. Indien jy die ouers van so ’n volwasse kind is, kan jy natuurlik nou dadelik begin om die verhaal in ’n ander rigting te stuur. Moenie oorboord gaan en alles in een slag probeer verander nie, maar begin van die grense skuif. Stel tydlyne vir onafhanklike keuses en moedig hierdie proses aan deur seker te maak jou kind weet dat hy die een of ander tyd alleen verantwoordelikheid vir sy lewe moet dra.
Indien jy die outjie by die huis is, betree die sone van eerlikheid met jouself. Hoe gemaklik is jy werklik? Jou lewe is nie op die pad van selfverwesenliking nie. Hoe ouer jy word, hoe meer onvergenoeg gaan jy wees. Maak ’n plan en neem tree vir tree die besluit om jou eie mens te word.
Sommige mans se selfontwikkeling en soeke na identiteit sloer effens en volwassenheid gebeur eers later in hulle lewe. Wat ons tot elke prys wil vermy, is dat jy nooit tot emosionele volwassenheid ontwikkel nie omdat jy afhanklik bly van ander.