Читать книгу Vir mans - Johan Ferreira - Страница 5

My liefdesverhouding eindig

Оглавление

Die sluise gaan oop

Die jong man se hart is gebreek. Ek sien dit, want hy huil soos ’n seuntjie. Hy het eers moedig probeer voorgee dat hy in beheer van sy emosies is, maar toe ek direk vra hoe hy voel, gaan die sluise oop.

Hy vra verskoning en probeer die stortvloed stuit, maar daar is geen keer nie. Hy kan gewoon nie ophou huil nie. So deur die trane vertel die 23-jarige sportster van sy verhouding met die mooie swartkop wat sy hart twee jaar gelede gesteel het. Sy is uiteraard in sy gedagtes die mooiste meisie wat nog ooit geleef het. Hy gaan ook nooit weer verlief raak nie en daar gaan beslis nooit weer ’n meisie wees wat na hom sal kyk soos sy dit gedoen het nie.

Dis verby, vir altyd

Ná twee jaar van maanskyn en rose daag sy meisie van die universiteitstad in Noordwes vir die Desembervakansie op. Hy sien so uit na hulle tyd saam. Hy het sy graad behaal, vind al ’n jaar lank sy voete in sy nuwe lewensfase en mis haar vreeslik wanneer hy alleen in die stad moet werk en leef. Toe hy haar sien, weet hy iets groots skort. Haar oë kyk nie in syne nie, en sy wil nie saam op die bank sit nie.

Sy het besluit sy wil nie voortgaan met die verhouding nie en voel al maande lank so. Hy spring op, geskok. Maar hoekom? Waarom? Is daar iemand anders? Dis daai ou in jou klas! Dis jou vriendin se broer … Hy gryp na strooihalms. Hulle praat ure lank – sý huil, hý huil. Sy ry.

Dis verby.

Ek is weer ses jaar oud

Kobus se pa het die gesin verlaat toe Kobus ses jaar oud was. Hy het een oggend skool toe gegaan en die middag toe hy by die huis kom, was sy pa se kas en motorhuis leeg. Sy ma het op die bed gesit en huil en verduidelik dat Pappa nie meer by hulle gaan bly nie. Hy het sy ma probeer vertroos, maar met min sukses. Sy het weke lank gehuil en kon later nie uit die bed uit kom om hom en sy sussie skool toe te neem nie. Kobus was woedend vir sy pa: Hoe kon hy net weggaan en hulle so los? Hy het stilletjies in sy kamer gaan huil waar niemand hom kon sien nie, want hy moes sterk wees vir sy ma en sussie.

Nou voel hy as volwasse man weer soos die sesjarige seuntjie wat agtergelaat is. Hy is weer die een wat nie kry wat hy wil hê nie. Hy voel magteloos en verwerp en sy pyn voel oorweldigend groot.

Hoe lank voel ek so?

Die einde van ’n verhouding is altyd traumaties. Die verlies wat ons voel, gaan lê diep in ons binneste en word al hoe groter. Ons kan aan niks anders dink as die persoon wat nou net ’n groot gat in ons hart gelaat het nie. Die verlies aan ’n verhouding bring vir die meeste mense ’n benoudheid. Ons voel asof ons ons net kan opkrul en nooit weer opstaan nie.

In hierdie aanvanklike skokfase dink die meeste mense nie rasioneel nie. Die emosies is diep en groot en laat die persoon voel asof die pyn vir ewig sal aanhou.

Veral as die persoon onverwerkte verliese in sy lewensgeskiedenis het, kan die huidige verlies baie intens en oorweldigend beleef word. Ons sien in Kobus se reaksie dat die verlies aan die verhouding met sy meisie die onopgeloste pyn van die verlies aan die verhouding met sy pa sneller. Sy emosionele reaksie word nog intenser weens sy kinderjare se verlies en daarom aktiveer dit nou dieselfde denkpatroon wat hy as sesjarige gehad het.

Hy dink en voel nou weer soos daardie seuntjie wat reddeloos op sy bed moet gaan wegkruip omdat hy nie sy ma en sussie wou ontstel nie. Nou wil hy weer met niemand praat en sy pyn deel nie.

Wat maak ’n man dan?

Vir die meeste mans is die emosie van verlies intens. Mans is ook maar net mense en die verlies aan ’n verhouding is seer. Die dilemma lê nie noodwendig in die belewenis van die pyn nie (dit gebeur maar vanself), maar in die hantering van die pyn. Indien jy nie daaroor gaan praat nie, dit nie kan herken en aan iemand kan erken nie, gaan die pyn jou uiteindelik kelder. Jy moet eers weet wát jy voel, en dan kan jy sê dát jy dit voel. Jou denke sal waarskynlik besoedel word deur irrasionele gedagtes. Dit sal vir jou voel asof jy dit nie gaan oorleef nie, of dat dit die einde van jou liefdespad is en jy net nooit weer dieselfde sal kan voel nie.

Kobus sal moet vrede maak met die verlies aan die verhouding met sy pa voordat hy aan enige ander verliese kan werk. Daar is soveel mans wat grootgeword het met die scenario van die afwesige pa dat die meeste voel hulle moet daaroor kan kom sonder om met die verlies vrede te maak. Natuurlik werk ontkenning van verlies net ’n ruk en dit sal dan êrens in jou lewe negatief manifesteer.

Ek sê tot siens vir my pa

In die proses van vrede maak met die verliese van ons belangrikste verhoudings kan ons die platform skep om doeltreffender met die huidige verliese om te gaan. Ons voel nie so diep blootgestel nie en kom agter dat die verlies aan ’n verhouding nie ons hele lewe hoef te kaap nie. Ons moet die wrede werklikheid van die verlies beleef, maar ons kan met ons lewe aangaan en weer suksesvolle verhoudings hê.

Ons het genoeg tyd nodig om deur ’n verhoudingsverlies te werk, maar ons hoef nie daar vas te haak en toe te laat dat die verlies nou die inhoud van ons lewe bepaal nie. Neem genoeg tyd om deur die emosies te werk, maar gaan aan met die res van jou lewe.

’n Paar vrae wat jy jou kan afvra om te bepaal of jy klaar gewerk het aan die verliese in jou lewe:

1.Is daar mense in my lewe vir wie ek steeds kwaad is, al het die verhouding reeds lank gelede geëindig?

2.Dra ek nog daagliks seer met my saam oor ’n gebroke verhouding?

3.Is daar verhoudings waaroor ek glad nie kan praat nie?

Soos met alle pyn en seerkry, speel vergifnis uiteindelik die deurslaggewende rol in gesondmaking. Deur die woede en hartseer saam te dra, saboteer jy slegs jou eie lewe en nie die lewe van die persoon oor wie jy so negatief voel nie. Wanneer die proses van vergifnis afgehandel is, sal jy kan onthou dat jy baie seergekry het, maar jy sal dit nie meer kan voel nie.

Vir mans

Подняться наверх