Читать книгу Vir mans - Johan Ferreira - Страница 12

My eksvrou kaap my lewe

Оглавление

’n Pa kan ’n enkelouer wees

Rickus is agt jaar gelede geskei van sy vrou. Die huwelik het gaandeweg verbrokkel en hulle het albei besef dit sou beter wees indien hulle paaie sou skei. Hy het lank baklei vir die huwelik, maar uiteindelik het sy net soveel verhoudings gehad dat hy nie langer met haar kon saamleef nie. Die gevoel van minderwaardigheid het sy lewe oorgeneem en hy wou net nie meer voel dat hy nie goed genoeg is nie. Hulle drie kinders was nog klein en kon sekerlik op ’n beter lewe hoop as om met twee ongelukkige ouers in een huis groot te word.

Rickus het hom in sy loopbaan en sy kinders se opvoeding verdiep. Hy het hard gewerk en na die welstand van sy kinders omgesien in die weke wat hulle by hom gebly het. Hulle het nuwe roetines ontwikkel as Pa en kinders saam was. Die weke by sy huis was altyd die hoogtepunt van sy lewe. Dan het hulle saam-saam gekook, geswem, gelag en die lewe was goed. Die reëls was duidelik, soms gebuig, maar uiteindelik meestal voorspelbaar teenwoordig.

By Ma se huis was dinge minder voorspelbaar. Soms was daar ’n man, soms nie. Soms was sy ook nie daar nie en dan het hulle ander ma, getrou en liefdevol, hulle neuse afgevee en nagmerrie-aande beter gemaak met Milo en Sotho-liedjies. Hulle het oorleef tot Pa se week weer aangebreek het.

Rickus se vriende en familie soek al jare lank na ’n maat vir hom. Die man met die bos hare en die glimlag leef al so lank grootmens-alleen dat almal dink aan moed opgee. Sy kinders is tieners en hulle kaap graag hulle pa se lewe volledig. Hy mis niks en gee graag alles prys om die drie se paaie gelyk te maak.

Sy het blou oë

Op ’n gewone Sondag gaan Rickus en die jongste twee kinders kerk toe. Ouboet studeer in ’n ander stad. Hulle drink tee ná die diens en Rickus se vriendekring kloek om die tafel waar hy en sy kinders foto’s op sy selfoon kyk. Die vrou met die blou oë sien die groepie en wonder oor die samestelling. Wie pas nou by wie? wonder sy.

Haar eksman is uiteindelik weg na ’n ander land met vrou nommer vier of vyf en haar gemoed is lig en vrolik. Haar vriendinne neul oor aanlyn kuier en dreig dringend met ’n aanlyn profiel. Sy skop teë en wil iemand in die oë kan kyk, reken sy.

Rickus kyk op en sien die blou skynsel onder die wimpers verdwyn terwyl sy afkyk. Hy glimlag oor sy gedagtes en gesels verder met sy mense. Teen die tyd dat hulle loop, is die blouoog ook weg. Hy sal maar moet wag vir volgende week.

In die volgende paar weke begin Rickus en die blouoog-vrou saam koffie drink, kuier en uiteindelik gaan eet hulle iets saam een aand. Dis gemaklik en goed. Hulle is goeie pasmaats.

Ná ’n paar kuiers, kom maak sy een Saterdag ’n draai by die huis toe al die kinders vir die naweek daar is. Hulle kuier tot laat en gee Pa die groenlig aan die einde van die naweek.

Sy klop weer aan my deur

Maande van mekaar leer ken, lei tot ’n verhouding. Maar skielik verskyn daar ’n skim uit die verlede op Rickus se voorstoep. Sy eksvrou wil met hom praat. Hy val amper agteroor toe hy die boodskap lees. So gaaf en vriendelik was sy laas toe hulle verlief was. Hy nooi haar sonder nadenke om in te loer wanneer sy die jongste aflaai ná tennis. Sy daag op in ’n allermooiste rokkie en tekkies. Dalk is die rokkie ’n bietjie kort vir haar jare, maar hy onthou haar waagmoed goed. Hulle klets en kuier asof die afgelope tien jaar nie plaasgevind het nie. Teen die einde van die kuiertjie soen sy hom by die deur asof hy die ridder op die wit perd is.

Rickus is verward. Hy voel dan nou skielik weer ou emosies en dit ontstel hom. Hoe kan hy nou ná al die jare nog iets vir die vrou voel terwyl hy so gelukkig is in sy huidige verhouding? Hy bel sy ouboet en maak ’n noodafspraak. Sy broer is sewe jaar ouer as hy en woon in dieselfde stad. Rickus ry sommer ’n week later deur en gaan kuier by sy broer en sy gesin. Sy broer brul van die lag toe Rickus die storie vertel.

“Sy wil jou nie regtig hê nie, maar niemand anders mag jou hê nie, Boeta!” kom die insig.

“Sy gaan jou kaap, en die geweer teen jou kop gaan die herinnering aan jou liefde vir haar wees,” maan hy.

“Onthou net, daar is nie liefde vir jou van haar af nie.”

Rickus gaan stap die middag teen die rivier af wat deur die stad vloei. Hier kan hy dink. Hy sien die verlede soos ’n fliek voor hom afspeel. Hy sien die kere wat sy ontrou was, haar sogenaamde opregte berou, gevolg deur die herhaling van die pyn. En elke keer laat sy hom onthou hoe lief hy háár het.

Hy gee sy ouboet ’n lang druk voor hy ry. “Dankie, met jóú weet ek hoe voel liefde wat kry én gee.”

’n Paar vrae oor die liefde in jou lewe wat jy kan beantwoord:

1.Gee en ontvang jy liefde in jou verhouding?

2.Is jou maat bly wanneer dit met jou goed gaan?

3.Is daar kompetisie vir liefde in julle verhouding?

’n Mens moet maar onthou, indien jy eens lief geword het vir iemand, sal daardie emosies redelik natuurlik terugkeer indien jy weer romanties met daardie persoon verkeer. Dit beteken glad nie die aard van julle verhouding sal anders wees as wat die verhouding vantevore was nie! Sommige mense het net ’n gebrek aan insig as dit by hulle emosies kom en hulle sal optree sonder om oor die gevolge te dink.

Indien daar iemand in jou lewe is vir wie jy werklik lief is, maar hierdie persoon maak jou by herhaling seer, sal jy in die een of ander stadium beter grense met hierdie persoon moet vasstel. Indien jy verdere pyn wil vermy, sal jy die een moet wees om die toegang wat hierdie mens tot jou lewe het te bestuur sodat die kontak veilig kan bly.

Vir mans

Подняться наверх