Читать книгу Vir mans - Johan Ferreira - Страница 9

Ek word afgepers ná ’n buite-egtelike kuberverhouding

Оглавление

Dirk kan sy geluk nie glo nie

Hy sit en werk laataand aan ’n projek wat hom hoofbrekens gee. Niks wil reg loop nie. Sy stresvlakke is hemelhoog en sy vrou slaap lankal. Die baba is genadiglik ook stil. Hy is so dankbaar vir die mooi vrou en die gesonde kind in die huis.

Sy gereelde besoek aan sy gunsteling-internettoepassing lei hom vanaand na ’n geselsie met ’n onbekende blonde vrou. Sy is openlik vriendelik en nooi hom om sommer oor sy werk te gesels. Hy sien op haar profiel dat sy ook van diere hou en dat sy gereeld fietsry. Hulle gesels sommer dadelik lekker. Aan die einde van die uur lange gesprek voel hy minder gestres en gaan stort. Hy klim in die bed en hoor hoe sy vrou diep slaap.

Die volgende paar weke gesels hy en die vreemdeling ongeveer elke dag, sommer oor die lewe en die min slaap van nuwe ouers. Maar hy kies om niks vir sy vrou te sê nie.

Vinnig verder

Die kubervrou stuur een middag ’n baie mooi foto van haarself in ’n swembroek.

“En hoe lyk jy in joune?” vra sy later in die gesprek.

Dirk soek vervaard na die foto van hom en sy seuntjie wat op die strand geneem is in Desember. Hy manipuleer die foto so effe met ’n filter. Hy kry die gewenste effek toe sy met ’n groot glimlag en ’n op-duimpie reageer.

Die gesprek vorder vinnig na die meer intieme. Sy wonder hoe sy stem klink en of hy dalk iets vir haar voel? Sy vra vir ’n stemboodskap oor hoe hy oor haar swembroekfoto voel. Hy voel hoe sy hart vinniger klop.

Wegholgedagtes

In die volgende paar weke vorder die inhoud van hulle gesprekke na die uitruil van liefdesverklarings en naakfoto’s. ’n Seksueel uitlokkende video-opname vanuit haar kombuis noop hom om te reageer met ’n opname van homself in sy slaapkamer. Hy reageer bloot op die opgewondenheid wat hy voel.

Êrens in die warboel van die weke wat volg, stuur sy ’n boodskap oor ’n onverwagse uitgawe wat sy moet aangaan en waarvoor sy tans nie geld het nie. Sy vra of Dirk sal kan instaan vir die bedrag. Dis nie buitensporig nie, maar Dirk en sy vrou se banksake is oop vir mekaar en albei het toegang tot hulle bankrekeninge. Hy verduidelik die situasie aan haar.

Hier kom sy eerste nare verrassing. Sy verduidelik dat sy reeds met sy vrou op die internettoepassing bevriend geraak het en indien hy nie aan haar eis toegee nie, sal sy van daardie foto’s van homself aan sy vrou openbaar maak.

Die skok van die wrede werklikheid

Dirk laat val die selfoon op die vloer van skok. Hy lees die boodskap oor en oor om seker te maak dat hy reg verstaan. Hy stuur ’n boodskap terug en maak seker of hy nou reg verstaan. Volgens haar verstaan hy baie mooi. Indien hy nie die geld aan haar betaal nie, gaan sy die naakfoto’s wat hy van homself gestuur het aan sy vrou via die toepassing stuur.

Hy worstel drie dae met die eis. Uiteindelik besluit hy dat hy sy vrou sal moet vertel van die foto’s, want hy vermoed die geldvraery sal nie by ’n enkele versoek bly nie. Dis ’n worstelgesprek en sy vrou is platgeslaan. Hy verseker haar egter dat daar niks anders gebeur het nie. Dit was nié ’n verhouding nie en hulle ken mekaar skaars.

Nog is het einde niet

Hy kontak die vrou en smeek haar om die hele storie te los. Hy sê sy vrou weet en gaan hom vergewe. In haar reaksie plaas sy twee van die beste foto’s van ’n naakte Dirk op sy vrou se tydlyn in die toepassing. Sy vrou se suster is die eerste een wat die foto’s sien en bel haar sus histeries.

“Haal af daai foto’s!” Sy vrou verwyder die foto’s en fladder ontredderd rond om die vrou op haar tydlyn geblok te kry.

Daar daal ’n gespanne stilte op Dirk se huis neer. Sy vrou wil weet wat hier aangaan. Hy deel selektief inligting oor die foto’s in die hoop dat alles sal weggaan. Intussen teister die vrou hom vir geld.

Geduldig wag die afperser

Weke gaan verby en hulle hoor niks van die kuberafperser nie. Net toe dinge tussen Dirk en sy vrou begin terugkeer na normaal en hy hoop dat hy die laaste van die vrou gehoor het, ontvang hy ’n stemboodskap van haar. Dit is een van sy erotiese liefdesverklarings wat hy aangestuur het. Hy is naar, hy wil weghardloop. Hierdie keer betaal hy die geld na haar rekening oor.

’n Maand later kom dieselfde versoek vir geld, dubbel soveel soos laas. Dirk raap en skraap en betaal die geld in die rekening in. Hy is gestres en slaap sleg. Sy vrou vra wat aangaan en hy kla oor werk.

’n Paar weke later is daar nog ’n eis. Sy vrou hoor die selfoon biep terwyl hy stort. Sy sien die eerste gedeelte van die boodskap, maar hoef nie verder te lees nie.

Chaos tuis

Dirk maak ’n afspraak by ’n sielkundige vir hom en sy vrou. Hy hoop die konteks van bemiddeling sal hom tot voordeel strek. Die sielkundige luister na die vertelling en moedig Dirk aan om met die hele sak patats na vore te kom. Indien sy vrou alles weet waarmee die afperser nog vorendag kan kom, kan hulle die mag daarvan verbreek.

Dirk begin by die begin. Hy praat sy hart uit, vertel die moeilike waarheid en van die stemboodskappe en die video’s. Ná vele sessies op die sielkundige se bank voel Dirk en sy vrou of hulle mekaar kan vertrou.

Die afperser het inderdaad weer die voorspelbare strategie gevolg, maar hulle het hulle daarteen verset. Sy vrou se pad na herstel is inderdaad anders as Dirk s’n. Sy sal weer moet leer vertrou en hy sal opgevoed moet word in die gevare van internetgeselsies met vreemdelinge.

Die afperser beweeg aan

Ná maande het hulle nog niks weer van die afperser verneem nie. Sy het, soos hierdie kriminele maar maak, sekerlik aanbeweeg na haar volgende slagoffers. Dirk en sy vrou leef nog liggies met mekaar, die skade nog vars in hulle geheue.

Hoe bepaal jy of jy kwesbaar is vir kuberafpersing?

1.Gesels jy met vreemdelinge op toepassings op die internet?

2.Is jou toepassings beveilig met privaatheidverstellings?

3.Indien jy persoonlike inligting deel met vreemdelinge is jy gewis kwesbaar vir kuberafpersing.

Dirk se verhaal is veel meer algemeen as wat die meeste mense dink. Omdat mense skaam is oor die inhoud van so ’n gebeurtenis praat hulle nie hieroor met vriende en familie nie. Daar is selfs misdaadsindikate wat hierdie strategie genadeloos volg om geld uit naïewe internetgebruikers te maak.

Dirk en sy vrou se pad is natuurlik nie die enigste uitkoms wat wag vir ’n paartjie wat hierdie roete moet stap nie. Die meeste verhoudings oorleef nie ontrouheid nie en die gebrek aan vertroue kelder die meeste verbintenisse behoorlik. Die beste teenvoeter vir hierdie soort verleidings is om ingelig te wees oor die moontlike uitkoms van so ’n onsinnige en ondeurdagte daad. Bedink net eers die volledige uitwerking en moontlike gevolge van so ’n eerste gesprek met iemand voordat jy daaraan deelneem. En moenie naïef wees oor die verskuilde bedoelings van mense wat voorgee hulle neem deel aan die heerlike stukkie flirtasie met jou nie. Wees uiters bedag op die algemeenheid en kriminaliteit van hierdie gedrag.

Vir mans

Подняться наверх