Читать книгу Vir mans - Johan Ferreira - Страница 3

Inleiding

Оглавление

Ons leef in ’n verwikkelde wêreld. Die eise wat ’n gewone dag aan mans stel, kan soms selfs die mees ervare en bevoegde individu laat twyfel oor sy bevoegdhede. Ek gesels elke dag met mans oor hulle alledaagse en meer spesifieke uitdagings, en het besef dat talle mans gewoon nie weet waar om te gaan aanklop om hulp nie. Nie almal se probleme is van so ’n aard dat hulle professionele hulp benodig nie, en heelwat wat wél gespesialiseerde hulp benodig, besef dit nie. Dikwels, eers wanneer dit reeds baie laat in die gang van die probleem is, gaan soek mans in desperaatheid hulp.

Ek sou graag met hierdie boek ’n bewussyn by mense, en nie net mans nie, wou skep rakende die alledaagse en algemeenste lewensuitdagings wat mans tans beleef. Natuurlik beleef ons nie almal die volledige spektrum probleme nie, maar êrens gaan jy iemand raakloop wat moontlik jou insig in ’n situasie van groot waarde kan vind.

Die uitnodiging is dat jy die boek lees om jou as man beter te verstaan en sodoende ’n beter man vir jou vrou te wees, te streef om ’n beter pa vir jou kinders te wees, moontlik ’n beter vriend vir jou vriende te kan wees en hopelik ’n beter begrip te hê vir jou eie pa.

Êrens in die boek gaan jy jouself moontlik raaklees. Ek het in die boek vrae gestel wat jy jou kan afvra en jy kan dan selfondersoek doen om by ’n oplossing uit te kom. Gebruik die inligting tot jou voordeel en kyk of jy die situasie deur middel van die riglyne kan oplos, of ten minste verbeter. Die doel van die inligting is om jou by die punt te bring waar jy beter beheer kan uitoefen oor ’n probleem in jou lewe.

Die vertellings van fiktiewe gevalle in die boek word gebruik om jou toe te rus met kennis en moontlike idees oor hoe jy na bepaalde lewensuitdagings kan kyk. Wanneer jy die stories lees, sal jy jou moontlik met sekere dele daarvan kan identifiseer en hopelik besef dat jou situasie nie so uniek is nie en dat daar vir die meeste lewensuitdagings praktiese oplossings kan wees. Ek wil mans graag beter toerus met relevante inligting wat hulle sal help om ’n meer doeltreffende, emosioneel gelukkige en vervulde lewe te kan lei.

Lekker lees.

Johan

Vir mans

Подняться наверх