Читать книгу Struisvoël - Johan Fourie - Страница 10

HOOFSTUK 7

Оглавление

Ma. Ek wil na jou toe hardloop, Ma, maar iets hou my vas.

Pa?

Die ompaaie in my kop na Ma toe maak my bang, Pa.

Weet Ma Pa is al halfbegrawe?

Pa weet seker nou als. Kyk. Dis jou wit sakdoek, Pa. Ma vee haar skoene daarmee af. Nou die dag het jy gesê jy blaas nie jou neus nie, jy poets dit. Al waarvoor jy ’n sakdoek dra, is om Ma se skoene blink te hou, en kyk nou.

Ma sal vandag mooi moet trap, die wêreld is die ene modder.

Sy waai mooi, selfs met die vuil sakdoek. Dominee Vos waai terug. Kyk hoe rooi is sy gesig. Wat dink hy? As my gesig so warm word, is dit oor wat ek dink, en Dominee bloos elke keer as hy Ma sien. Ma het self so gesê. Net op die preekstoel bloos hy nie.

Hoekom nie op die preekstoel nie? het ek gevra.

Seker oor hy God daar soos ’n masker oor sy gesig kan trek. Want as die een kant van jou kop se gedagtes alewig met die ander kant s’n baklei en jy jou kopgeveg verloor, slaan die bloed van die verloorgedagte op jou gesig uit, het Pa gesê.

Word Het boek van het leven met rooi geskryf? Ek wens ek het dit ook vir jou gevra, Pa. Pa het geweet hoe graag ek skryf. Maar nooit met rooi ink nie. Niemand, nie eers die Here self, sal eendag my lewensboek lees nie. Ek sal als betyds uitvee. Witter as wit, al die blaaie sal leeg wees. Tot dan skryf ek al my gedagtes neer en bêre ek my boekies diep weg sodat my gesig nooit hoef te lyk soos Dominee s’n nou nie. Al net so rooi soos Ma se lippe. Lyk of sy boordjie hom wurg. Hoe’t Ma gesê? Dominees dra stywe boordjies om te keer dat wat onder hulle broeksband is, opstoot en kop toe gaan. Anders kom hulle nooit in die hemel nie.

“Antie Ralie, ruik jy? Ma ruik altyd lekker, selfs van ver af.”

Hoekom sê ek dit? Ek weet nie, maar ek’s bly ek het. Nou is my gedagtes terug. Netnou sê die oom ek is ’n hus met lang ore. Gelukkig is net antie Ralie naby genoeg om my te hoor. Sy’s heeltyd by my. Sy gaan nog my wind uitdruk! Maar dis lekker as sy my vashou.

“Ja, my kind. Jou ma is voorwaar ’n mooie vrou.”

Antie Ralie vat lank voor sy mens antwoord. Gister het die oom gevra of sy my troos oor Pa, of oor Ma. Sy het nie geantwoord nie, maar elke keer as sy vir Ma sien, praat sy eenasemsinne. Kyk hoe rem sy al klaar aan haar blommetjiesrok. Sy stryk elke kreukeltjie plat, tot oor haar bene. Kyk hoe trek sy haar driekwartmoutruitjie styf om haar lyf. Dis mos nie koud nie. En sy vee haar skoene aan haar kouse af. Al is sy hoe skelmpies-skelmpies. Ek sien haar. En Ma is nog nie eers by die hekkie nie! Ma is nog ver en die antie lyk klaar soos Klein-Sarel wanneer hy die dag régtig vloek. En waarheen mik sy dan nou? Een tree vorentoe. Vier treë terug. Nóg een. Tot agter die sifdeur. Een vorentoe en vyf terug is vier of ses. Dankie, Here. Al lig die antie hoeveel keer op ’n dag haar hande na haar hare, altyd hang haar hande maar weer langs haar sye. Hoeveel ogies het die gaas van die sifdeur? Hier kom die antie weer uit. Een, twee, drie, vier.

Ma is by die hekkie.

Ek moet tel. Dis al wat vir Ma-en-Pa-gedagtes help. En ek moet onthou om bly te lyk. Ma sal dit verwag. Ma bly en bly my wys. Só. Só lyk mens blý. Maar ek kry dit nie reg nie. Dan trek Ma Ma se hartseer gesig, maar ek aap nie “hartseer” na nie. Regte hartseer is soos God. Mens spot nie daarmee nie. Ma sê Ma verstaan nie waarom moedertrane my nie raak nie. Dan lyk Ma teleurgesteld. Met teleurgesteld sukkel ek nie. Ma se teleurgestelde gesig kan ek nes dominee Vos soos ’n masker oor my kop trek. Die laaste keer het Ma gesê Ma kan nie anders as trots op my wees nie. “Ek en jy darem! Ons tweetjies beleef ook ál die seisoene in ’n enkele ou daggie!” het Ma gesê. Hoekom sukkel ek altyd om saam met Ma te lag?

Vandag moet ek op my beste tel.

Ek moet tel. Ma se treë. Ek tel Ma se treë. Een, twee, drie . . .

Tien, tien, tien . . . Wat sukkel Ma so met Ma se kousnaat! As Ma nie loop nie, kan ek nie tel nie. Wat as Ma op ’n onewe getal op die stoep aankom? Of net ’n halwe tree gee? Dan sal ek nie bly lyk nie! Sê iets, Ma. Ek is beter met woorde as met treë.

Spog ek? Maar dis waar. Partykeer probeer ek ’n afgeskeepte woord uitlok. Ek kry dit reg. Net met “jammer” sukkel ek wanneer dit Ma is wat praat. Pa was altyd die een wat jammer gesê het. Hoekom, Pa? Ek het gevra want ek het gehoop Pa sou dan nog ’n “jammer” sê, oor sus of so, om dit ewe te maak. Maar dan was Pa van voor af kwaad. Ek het geweet hoekom. Ek het geweet Pa hoef oor niks jammer te gewees het nie, maar ek het Pa uitgelok totdat Pa sê: “Jammer oor als wat ek van jou ma moet opvreet.” Dan het die bakleiery weer voor begin.

Ek is skuldig, Here Jesus. Vergewe my. Ek wou nie, maar ek het die vuur tussen Ma en Pa gestook. Ter wille van ewe getalle. God, en nou is Pa dood, en Ma se kousnaat is reg. Dankie. Amen. Nou kan ek weer tel.

Nege-en-twintig . . . Wat is dit tog met Ma en die oom se hond? Ma hoef nie te stop nie. Die ketting is te kort. Die teef kan Ma nie bykom nie. Vir wat blaf die hond so vir Ma? Ma ís mos wit.

“My rók! My rók!”

Ma lyk op Ma se mooiste so een-alleen daar. Hoekom raas almal so? Dis onnodig. Die hond hol maar net om haar paal. Nege-en-twintig, nege-en-twintig . . . Hoekom staan Ma juis op nege-en-twintig stil? Net om oor Ma se rok te gil?

Oor nege-en-twintig was Ma vir my verskriklik kwaad. In die poskantoor. Die ry was lank. Onthou Ma?

“Volgende,” het die klerk gesê.

Hy was ’n Engelsman. Ek kon sy woorde nie mooi uitmaak nie. Hoe moet hy geweet het mans kyk op as Ma voor hulle staan, dat Ma nie praat met ’n man wat Ma nie raaksien nie? Ma het keelskoongemaak, maar hy het na sy vorm bly kyk.

“Naam?”

“Ma-Ria.”

Ma het verduidelik van die twee hoofletters, van die koppelteken –

“Van?” het die klerk gevra, asof hy nie hoor nie.

“Fourie.”

“Spel.”

Ek weet hoekom Ma so ontsteld was. Dit was die eerste keer dat Ma “Fourie” soos “Ma-Ria” moes verduidelik. Dit was asof Ma Ma se eie van nie geken het nie. Toe hy opkyk, het Ma Ma se kop skuins gedraai, mooi kant na hom gekantel.

“Ouderdom?” Hy het kliphard gepraat, asof hy Ma steeds nie raaksien nie.

Ma het omgekyk, gefluister: “Vier-en-twintig.”

Ek kón nie anders nie. Ek het daar gestaan en Ma tot by nege-en-twintig afgetel.

Ma het gesis ek moet ophou.

Ek kon nie. Ek wou.

Dankie, Liewe Jesus. Die hond het haar tot teen die paal opgewen. Hier kom Ma nou. Dertig, een-en-dertig . . . Ma loop só stadig.

Twee-en-dertig.

Is dit die middelpunt tussen die stoep en die hekkie? Middelpunte is belangrik. Daar begin die afloop. Ek hoop ek wen rustig af. Vir wat pluk Ma antie Ralie se malva? ’n Rooie. He loves me. Agt-en-dertig treë; een blaar. Liewe Jesus, dubbel tel werk nie! He loves me not. Agt-en-dertig treë; twee blare. He loves me. Nege-en-dertig treë, halwe tree; bossie blare. Is dit ’n nuwe rok? Ek ken nie Ma se skoene nie. Nes . . . ek . . . nie . . . my . . . reg-te . . . Pa . . . ken . . . nie. Woorde is wolkies. Hulle maak bankies-bankies. As ek my weer kom kry, is daar ’n wolkbreuk. Dit voel of my kop oopbars. Here, was een vloed nie genoeg nie? My ore dreun. Donder. Bliksem. Donner. Ek hou vas, my kop gaan val. Wie sal my gedagtes optel? As my kop kraak? Almal kyk vir Ma. En Pa was nie my pa nie. Pa is nie dood nié. Tog is hy. Hoeveel blare? Hoeveel treë? Wat sê Pa? Jok Pa weer? Ons moet vorentoe, Pa. Nie agtertoe nie. As ek my kop vasdruk, sal dit nie kraak nie. Watter dag was dit, Pa? Toe Pa gesê het Ma is té lief vir my? Onthou Pa? Ek dit geglo, Pa. Lank, Pa. Lieg betaal nie, Pa. Al is die leuentjie klein. Klein lieg raak groot lieg. Pa het self so gesê. En Ma: “Ou Vuurhoutjie, nee kyk, dat die Here jou koppie nog nie morsaf gebreek het oor jy so lieg vir die kind nie. My dogter is groot genoeg om te weet kalbassies is al wat jý ooit kon of sal oes. Dié saailand kon jy nie ploeg nie.” Ek weet wat kalbassies is, Pa. Ek weet ploeg is nie altyd ploeg nie. Onthou Pa hoe Ma my arm gegryp het? Sy het my hand langs Pa s’n op die tafel vasgedruk. “Vuurhoutjie, kyk. Lyk dít soos jóú kind?” Ek het gehoor, gekyk. Pa se hand was te wit. “Jy’s wreder as wreed, Vrou,” het Pa gesê. Toe’t jy gehuil, Pa, maar anders as dronkverdriet. Soos gister. Ma het aan haar sigaret getrek. Stilgebly. Haar rook skuins na my toe geblaas. Rookkringe gemaak. Ek het geweet. Ek het gesien Pa sien ek weet. “Jy’s nie alleen nie, my kind,” het Pa gesê. “Dis maar jou ma se manier. Hou van hondjies, maar as hulle groot is, is hulle ou nuus. Dan moet hulle buitentoe.” Pa het my vasgedruk, gesoen. “Jammer. Ek is jammer, my kind.” Pa het dit oor en oor gesê, Pa se oë heen en weer tussen ons hande soos Pa Pa se kop skud. Dit het gevoel asof Pa vir my nee sê, Pa. Nee, nee.

Daar gooi Ma die kaal malvastingel weg. She loves me? She loves me not? Tel die stingel ook? Of net die blare? Dan ís ek Ma se baster, Ma. Hoe’t die kinders gespot? Maleierbloed. Mal eierbloed. Ek weet eier is nie altyd eier nie. Ek’s veertien, Ma. Die Maleiers het van plaas tot plaas getrek, bouwerk gedoen, sê die mense. Ek weet van mans se eiers, Ma. My pa was glo amper wit, Ma.

Daar lê die stingel nou op die grond. Moer. Moerse moer. Makmoer, malmoer, doodmoer, opmoer, moerskont, moerskont se moerskontjie. Ons verskil te veel, Ma. Daarom is ons altyd verbaas eerder as bly om mekaar te sien. Dit is dit. Kyk hoe mooi, die “ditte” weerskante van “is”.

Vier-en-sestig.

Die treë is op. Hoekom hou die pad dan aan? Eindes is nooit end nie. Ek is jammer die suurlemoensop help nie, Ma. Ek was my hare, elke dag, dit bleik nie. Ek rol my moue af in die son. Kyk, ek trek my hande in my moue in, soos ’n skilpad. Skilpaaie groei stadig, bly lank klein. Ek wil nie buite gesit word nie, Ma. Ek wil by Ma wees Ma. Ek wil in.

“Hallo! Ag, hallo, julle mense, mensies. Gelúkkig het die Jood darem nog so ’n ou ietsietjie gehad. Dinge kom tog altyd so skiélik op mens af. Soos ’n dief in die nag. Twéé swart rokkies, dis al wat ek kon kry.”

Die oom druk-druk Ma se skouer. Ma is mooi. Ma huil mooi. Elke keer as die oom vat, rol ’n nuwe traan onder Ma se kuif uit. Ek wens ek kon my gedagtes aan- en afdraai, Ma, soos Ma Ma se trane laat loop en ophou. Hoe kry Ma dit reg om die traan so lank op die rand van Ma se ken te laat hang? Pa s’n het sommer net afgeval.

Dominee Vos is nou rooier as rooi. Dalk is hy jaloers omdat Ma mooier oor die dood praat as wat hy daaroor preek. Hef Ma al weer Hooglied aan? Hoeveel keer nóg? Ma jok, Ma. Pa was nie Ma se lelie nie. Pa was mos ma se vuurhoutjie. Ek dink en dink te veel. Ek dink ek dink te ver. Liewerster weer tel. Een vers, twee verse, drie . . .

Ek gaan netnou die skottelgoed kombuis toe neem. Dan sal dit stop.

Daar was netnou ’n servet op my kop. Was ek bedek voor God?

Die antie frommel my ore op, soos mens maak met ’n brief met slegte nuus. Dit lyk asof sy wens sy kan hulle weggooi.

Die skinkbord is swaar. Daar is baie skottelgoed. Dit sal makliker wees as ek die onderdeur met my boude oopdruk.

“Dè. Die antie sê ek moet dit vir jou gee. Wat is jou naam nou weer? Jy lyk glo soos jou ma.”

“Victoria. Victoria Regina.”

Swart is swarter van ver af.

Nou moet ek nog net by Klein-Sarel verby. Vir wat tik-tik-tik hy so op die tafel? As hy maar geweet het hoe moeg ek is vir tel.

Struisvoël

Подняться наверх