Читать книгу Struisvoël - Johan Fourie - Страница 8

HOOFSTUK 5

Оглавление

Die dag ná Fourie se dood kyk Ou-Sarel, Ralie en Marja toe hoe ’n jong plaaswerker dominee Vos deur die afgeloopte, stil rivier dra.

“Dominee eet gesond,” sê Ralie, “ek gaan sit solank die melktert in die louoond.” Terwyl sy binne werskaf, neurie sy. “Als een hert dat verlangt naar water.”

Dan is dominee Vos seker die vetste hert in hierdie halfwoestyn,” dink Ou-Sarel by homself. Dat daar deur een mond nou soveel kos kan ingaan. Dat soveel water so skielik kan verdwyn. “Al wat nog oorbly, is die skuim,” sê hy hardop, meer vir homself as vir die meisie wat so stip na die anderkantste oewer bly kyk.

“Wanneer kóm Ma dan?” Marja skrik toe sy met die oom praat.

“Definitief eers ná Dominee. G’n ooi waag dit om voor daardie herder uit te loop nie!”

Ou-Sarel lag eers lekker vir homself. Dan probeer hy haar tog op sy manier troos: “Toemaar, Kind, jou ma sal kom wanneer sy kom. Daar is maar altyd iets wat sy net gou-gou eers moet doen, jy weet dit tog.”

Onder by die rivier weier dominee Vos dat sy draer hom in die vlak water neersit, maar die man is nie sterk genoeg om sy vrag teen die rivierwal ook nog uit te abba nie. Hy kan dit nie langer hou nie. Hy begin wankel, en met elke kanteling, skree dominee Vos ál harder. “Pasop, jongie! Nee jong, pasop!”

Dis later ’n hele konsternasie. Klein-Sarel en Victoria hol nader om die draer te help. Dominee Vos wil nog sê hy is nie ’n aflosstok nie, maar Klein-Sarel vat hom aan, en een-twee-drie staan hy hoog en droog op die wal. Daar spreek hy sy seën uit oor die “sterk jongetjie”. Hy bedank vir Klein-Sarel, ignoreer vir Victoria en laat hulle al drie met leë hande gaan. Toe sweet hy teen die bult uit. Sy hemp is papsopnat, maar sy baadjie uittrek is min. Hy reken dit sal onwaardig wees, so by die dood.

“Waar dood is, daar is Hy.” So groet dominee Vos die stoepsitters al van ver af.

“Ja, waar dood is en al die melktert wat daarmee saamgaan, daar ís hy voorwaar,” brom Ou-Sarel.

“Genade toggie, ou man,” sê Ralie, wat nou weer langs hom sit.

Dominee Vos mors nie tyd nie. Hy hou reguit by die voordeur in om sy respek aan die oorledene te gaan betoon.

Fourie lê onder ’n spierwit laken op ’n matras op die voorhuistafel. Ou-Sarel wou sy buurman eers na die kleiner spaarkamer toe verskuif het, maar Ralie sê toe sy dink baie lykkykers sal vir Ma-Ria volg. Sy het self haar buurman op haar tafel uitgelê: hom afgeskrop, proppe ingesit waar proppe nodig was, en toe Ou-Sarel se ou diakenspak gaan uithaal. Nie een van die knope kon vas nie, maar Ralie is handig met ’n naald. Sy het die nate aan die agterkant losgetorring en stukke van ’n ou laken ingelas. Nou kom die voorpante van die baadjie mooi bymekaar, pas die broek en lê Fourietjie voorkant in ’n kispak.

Ralie hou vir Marja styf vas toe dominee Vos die laken wegtrek. Sy is bly die kind sien haar pa is mooi aangetrek.

Dominee Vos sug die nodige sugte, trek die reuk van die suiker wat op die koerantpapier brand diep deur sy neus in, laat sy hand versigtig op die ontslapene se bors rus en maak sy oë toe. Amper soos Pa, partykeer, wanneer hy vir my kom nagsê het, dink Marja. Ná die gepaste verloop van tyd maak die dominee sy oë weer oop, en dan lei hy hulle reguit na die kombuis, waar Ralie se melkterte al uit die oond kan kom. Daar vind hy sy tong terug.

“Nee kyk, niks kom darem vir jou naby jou selfgebrande koffie en melktert nie, Ralie,” sê dominee Vos. Marja sien hoe hy heen en weer kyk, eers na die koffiekan, dan na die oond. Eers toe die koppie en bordjie voor hom staan, praat hy weer met sy domineestem. “Ordelike reëlings is tog só belangrik in ’n tyd soos dié. Ordelike reëlings vir die teraardebestelling van ’n man, ’n man wat onder móéilike omstandighede steeds tevrede en plesierig was.”

As ’n Afrikaner plesierig is, is hy dronk. Dis wat haar ma sê. Marja wonder of die dominee ook dink soos haar ma, dat haar pa ’n suiplap was. Dit lyk vir haar so. Sy onthou haar pa se oë oor die piering se rand. Hy het toe ook besope gelyk, al was hy vir ’n verandering nugter. Sy wonder hoekom.

“Ja,” sê dominee Vos. Hy sug swaar. “Die dood laat ’n mens diep oor die lewe drink, nè?”

Ou-Sarel kug-kug en Ralie lyk verleë, maar die dominee kom nie agter hy het hom verspreek nie. Hy gaan onverstoord voort.

“Broer, maar ek bring darem ook goeie tyding. Op pad hierheen,” happie tert, “sien ek die meeste van jou volstruise,” slukkie koffie, “het sowaar net daar voor die poort betyds op die water gestap.”

“Ag, my genade toggie, Dominee, dit kan tog mossie we’sie!” Die woorde glip uit voor Ralie kan keer en Marja sien hoe die dominee bloedrooi bloos.

Waar kóm hy tog aan die Godslástering? dink die dominee by homself. Van kleintyd af al, en steeds bly dit sy grootste vrees. Op die preekstoel gebeur dit nooit nie. “Úit die water. Úit die water. Die volstruise het úit die water gestap,” korrigeer hy hom by herhaling. “Net onse Here Jesus kon óp water stap. Net Hý. Hy alléén.”

Dominee Vos se kop knik op en af saam met die woorde, asof hy so sy geloof wil versterk. In die stilte wat volg, laat hy die ander met hul eie gedagtes.

Van die oorkant van die tafel af hou Marja die dominee stip dop. Iets aan hom laat haar aan haar ma dink. Vir hulle al twee is woorde belangriker as die geheel, dink sy. Dalk is hulle reg. Dalk draai alles maar net om enkele klanke en letters. As dit waar is, moet sy weer aan haar M begin oefen. Hoe sê haar ma altyd? “As jou naam met M begin, beter jy sorg al twee bene staan op die lyn. M trap nooit oor die tou nie.” Wanneer haar ma so oor “M” praat, knipoog sy altyd vir wie ook al daar kuier. Dink sy sy wat Marja is, verstaan nie?

Vir ’n oomblik voel Ou-Sarel hoe die ongeduld in hom styg oor die dominee daar op sý stoel aan die kop van die tafel sit, maar dan raak hy ingedagte. Sy kop is by sy buurman. Tja, ou Vuurhoutjie se omstandighede was moeilik. Gister, daar op die damwal . . . Hy het homself gekasty oor hy nie maar vir Fourietjie gesê het hy kan aanbly nie. As hy sy sin voltooi het, dan was sy buurman dalk nog hier. G’n boer wat volstruise ken en wat die lewe liefhet, klim tog mos sonder ’n doringtak deur ’n broeikamp se draad nie.

Gister het dit vir hom gevoel dit was hý wat sy buurman na sy dood toe laat loop het. Hoekom het hy hom nie gekeer nie? Vandag . . . Voel hy skuldig omrede hy dalk eintlik verlig is Fourie is dood? Die bywonershuisie . . . Ja, hy sal dit vir Ma-Ria laat regmaak.

In háár stilte dink Ralie: Dié dominee Vos darem. Asof mens nou die Here hoef te vlei! Maar Ralie hou nie daarvan om lelik van mense te dink nie, dus skep sy dadelik vir hom die grootste stuk van die tweede melktert in. Van haar eie stukkie sny sy net die korsie af en bederf vir Marja met die vulsel. Dan roep sy oor die onderdeur na die man wat die werf vee. Sy wil hom met van die tert af kamp toe stuur, vir Klein-Sarel. Sy sal Victoria se stuk sommer in ’n blikbordjie saamstuur. Victoria kry ’n groter porsie as die ander, en ook die afgesnyde korsie. Die kind lyk gans en al te maer, dink Ralie.

Die veër kom staan in die agterdeur. Hy groet. “Middag, Baas. Middag, Mies, Kleinnooi. Middag, Eerwaarde Baas.”

“Ja-ja, toe. Dis genoeg gegroet vir een dag,” sê dominee Vos. Hy draai hom na Ou-Sarel, vervolg met sy rug na die deur, die man nog binne hoorafstand. “Nee, kyk! Ook hanser by die dag. Maar so van hans gepraat, broer Sarel. Een van jou mense is mos gister alte-alte vinnig daar by die pastorie verby. Twee koeie by hom. Hy moes die diere behoorlik agter hom aan sléép soos hy koers hou daar na Oudtshoorn se kant toe en hulle terugrem diékant toe. Kompleet asof die skepsel vlúg. En verbeel jou, die vermetelheid! Om so in die verbygaan net vir my te skrou: ‘Eerwaarde Baas, baas Fourie is dood!’ Sulke voorbarigheid. En jy wéét hoe vervuil is die Fouries hier rond. Het my gekos om die mens ’n hele ent agterna te sit om te gaan hoor watter een.”

Marja hoor hoe die dominee asemskep, soos op die preekstoel, wanneer sy preek ’n hoogtepunt nader. “Raai bietjie, en toe sê die man ék moet vir jóú kom sê jy kan die kalwers maar hou. Asof ek ’n boodskapper is!” Dominee Vos bly ’n oomblik stil. Sê dan, oorhaastig: “Nou, dit is ek natuurlik, ja. ’n Boodskapper. ’n Bóódskapper. Maar nie ’n boodskapper nie, Broer.”

Ou-Sarel voel hoe hy warm om die kiewe word. Filstyn was sy regterhand, maar dit hoef Vos nie te weet nie. “Ja-nee kragtie, vandag se mense darem, Dominee,” sê hy gemaak gedweë agterna. “Asof daardie kli’meid nie al hanskind genoeg is nie. My waenhuis is al klaar ’n weeshuis. Nou sit ek boonop met twee hanskalwers op hok. Ten minste is Fourie nou sulke moeilikhede gespaar. Mag hy rus in vrede.”

Haar pa, in vrede in Vrede se grond. Marja verwonder haar aan hoe dit klink. Voor sy kan keer, gaan haar gedagtes aan die hardloop; die woorde maak hulle eie patrone. Sy wens sy het haar boekie en pen saamgebring. As sy die woorde nie dadelik neerskryf nie, weet sy, glip hulle weg, vir altyd, of klink hulle later anders. Pa, wil sy skryf, wanneer ek eendag groot is, kom plant ek ’n populier by Pa se kop. Dan gooi Pappa vir my van die blare af, wanneer Pa in die boom begin opgaan, Pappa, moenie bang wees vir mors nie. As dit koud word en alles bibber, sal ek water aandra sodat die wortels kan bly suig en suig. Ek sal water aandra totdat Pappa se graf leeg is, Pa. Wanneer daardie boom vol is van Pappa, wanneer die haarvaatjies in die stamme en die lote in die winter soos gevriesde waterpype bars, weet ek, sal dit bloei, lewe bloei. Tot die lente toe. En dan sal ek weer vir Pappa aan die nuwe blare ruik, inasem. Pa.

Ou-Sarel het opgestaan om die werkers aan te roer. Hulle is in die voorhuis besig om Fourie te probeer inpas in ’n kis van ou sluisplanke. “Julle moet klaar maak daar!” roep hy met sy baasstem deur die oop venster, harder as wat nodig is. “’n Liggaam hou ook net só lank in hierdie hitte. Die deksel hoef nie dig te pas nie. ’n Lyk is nie ’n leibeurt wat kan weglek in hierdie dorre aarde nie. Julle moet nog vir Baas Baas se voëls onder in die poort gaan haal.”

Maar Ou-Sarel jaag hulle ook aan omrede hy elke oomblik vir Ma-Ria verwag. Hy sien nie kans vir haar én haar man se lyk so saam-saam in een huis nie. Daarom dat hy Fourie solank wil laat halfbêre, daar in die graf wat hy jare gelede laat grawe het toe Ralie amper dood is, met Klein-Sarel se geboorte.

Dominee Vos wil nog beswaar maak oor dié beplande halfbegrafnis: “In die ou dae was daar nog respek –” Toe kom die kis kopkant eerste deur die venster.

Die werksmense stoot van binne af. Klein-Sarel, wat vir sy ma die leë bordjies teruggebring het, anker buite op die stoep. Met haar oë meet Marja dadelik die middelpunt van die kis, dié plek waar dit veilig oor die vensterbank sal kan wipplankwieg sodat Klein-Sarel buitekant allenig die gewig sal kan hou. Oral waar die sluisplanke nie dig pas nie, probeer sy die laken deur die skrefies terugdruk.

“Kom, Manne! Vandag moet julle vat. Baas Fourie is swaar.” Klein-Sarel lei die stoet. Dié een keer sluk hy tog sy vloeke weg.

En dié een keer staan Ou-Sarel op sy eie stoep terug. Hy waarsku nie toe die prosessie by die trap afgaan nie, ook nie toe hulle by die toe hekkie kom nie. Hy kyk hulle sonder ’n woord agterna, kyk hoe hulle oor sy werf loop, by die groot hek uit, verby die volstruiskamp, die rantjie uit.

Marja volg elke tree wat die draers gee en voel saam met die wegkwyn van Klein-Sarel se stem hoe haar pa haar verlaat. “Vat, Manne, vat!” “Vat, Manne, vat!” “Vat, Manne, vat!” Maar al laat die afstand hulle stemme versag, hoor sy wat antie Ralie gesê het, is waar: Die sagste geluide klink soms die hardste. Waar sy staan, hoor Marja duidelik die sakkende kis teen die grafrande kap. “Hou, Manne, hou! Dis dooiegewig!”

Vir ’n oomblik lyk dit vir Marja of die ses draers versteen. Daar waar hulle agteroor beur aan die rieme om haar pa so saggies moontlik neer te sit, lyk hulle vir haar soos standbeelde wat terugdeins van ’n angswekkende middelpunt.

Sy wil die laaste neersit nie hoor nie. Daar is ook nog ander grafte in die verte. Sy begin hulle tel. Haar pa gaan agtste aan die wit kant lê. Sy’s verlig. Die bruin kant se getal is onewe. En dan is daar die een alleengraf.

“Wie lê daar, Antie?” vra Marja vir Ralie en wys na die eenkantgraf.

“Dis Victoria se ma, my kind. Sy was mos swart.”

Marja is bly. Nou weet sy eindelik haar naam. Sy besluit om swart by bruin te tel; dinge ewe te maak. Dan hoor sy dominee Vos en Ou-Sarel praat. Hulle stem nie saam oor die rigting waarin haar pa se kop moet wys nie.

“Die man het tog mos duidelik die hand aan eie lewe geslaan,” hoor Marja vir dominee Vos sê. Dit klink of hy van vooraf geskok is. “Diesulkes se voete móét wes. Sy kop moet oos. Hulle sal vir hom móét omdraai daar, Broer. Selfmoordenaars hoort ewig van die opkomende son wég te kyk; die gesig van die Wederkoms op die wolke, dit mag hulle nie aanskou nie.”

Al beklemtoon dominee Vos sekere woorde, praat hy deurentyd met sy sagste stem. Tog klap sy woorde soos ’n sweep in Marja se ore. Sy dink: Ma kan ook so sag praat; mens hoor haar net so duidelik.

Ralie kom agter Marja staan. Sy vou haar hande liggies oor die kind se ore. “Ag my genade, genade toggie, sag praat is erger as vloek,” hoor Marja die antie prewel.

Dan praat Ou-Sarel skielik hard, op sy klaargepraat-manier. “Fourie is nou genoeg rondgeskuif.”

Asof gelyk kyk almal op. En daar, op die rivier se anderkantste oewer, staan Ma-Ria.

Die mans kom soos een man orent. Ralie druk haar lyf terug in haar stoel. Marja wil rivier toe hardloop, maar net soos met haar pa, wil haar voete weer nie doen wat haar kop vir haar sê nie. Sy bly sit waar sy sit.

Dieselfde man wat dominee Vos deur die rivier gedra het, gaan bied sy dienste vir Ma-Ria aan. Marja sien hoe haar ma doer ver met haar hande nee beduie en eenkant toe loop. Dalk dink sy daar kom ’n wit oom verby wat haar kan dra. Maar sy sal nie lank wag nie. Marja weet. Haar ma kon nog nooit wag nie.

Die jong man stap op en af langs die rivier en roep. “Tiekie vir ’n dra! Tiekie vir ’n dra!”

“Nou toe, kom dan tog maar,” roep Ma-Ria hom terug. “Kom dra jy dan tog nou maar vir jou mies.”

“Wil Mies net een dra hê?” vra die draer toe hy langs haar staan.

Van ver af sien Marja hoe Ma-Ria se kop kantel sodat haar hare oor een kant van haar gesig val. Vererg haar ma haar? Of is sy verleë?

“Toe, toe, jong!” jaag Ma-Ria die draer aan. “Jou Mies het gróót sake wat wag. Jy kry jou geldjie anderkant.”

Die kinders op die wal lag en jil elke keer as die jong man maak asof hy met Ma-Ria gaan val, amper soos wat hy regtig onder die gewig van dominee Vos gewankel het. Marja hoor hom runnik, hy maak selfs poepgeluide soos ’n perd, en sy sien hoe haar ma rondkyk. Is sy benoud? Of kyk sy wie haar daar in die jong man se arms sien?

“Mies moet eet. Mies is lig,” sê die draer toe hy met Ma-Ria aan die Blanckenberg-kant van die rivier kom. Daar is niemand om haar by hom aan te vat nie, dus draf hy maar die wal uit met sy vrag. Laat die nuuskierige plaaskinders nóú sien hoe sterk hy is.

“Ek hou sommer jou betaling terug,” dreig Ma-Ria toe hy haar neersit. Maar dis net kamtig, want sy hou reeds die muntstukkie na hom uit. Dan krap sy weer in haar handsak. Sy haal twee humbugs uit, een vir hom; die ander een sit sy in haar mond. “Mens se asem gaan jou vooruit,” sê sy.

Sonder spieëltjie maak sy haar lippe rooi, en kry koers stoep toe.

Struisvoël

Подняться наверх