Читать книгу Struisvoël - Johan Fourie - Страница 4

HOOFSTUK 1

Оглавление

Dit was in die kombuis waar hulle die eerste keer saamgekom het. Saamgevoeg, sou mens kon sê – drie kinders, drie bestanddele van ’n resep vir ’n goddelike poets. En Vrede, die plaas daar in die kom van die Gamkarivier, was die maat wat hulle lewens sou afmeet.

Deur die venster het die rye langpopuliere vinger na bo gewys, ongeag die seisoen. Verder weg die Swartberg, waar die wolke sulke bankies-bankies maak. Miskien sou dit reën, miskien sou die Here hulle seën. Oor die agterdeur die rooi van die voetheuwels na Oudtshoorn se kant toe, ’n kleur wat herinner het aan vuur, dat alles nog mag vergaan.

Aan die einde van als kon Marja nog die presiese datum van hulle ontmoeting onthou: 16 Desember 1880. Dit was die dag nadat haar pa sy plaas afgeteken het. Nadat hy dood is. Dit was die dag ná haar veertiende verjaarsdag. Die dag van die afloop van ’n vloed.

Die oggend voor al hierdie dinge was sy nog van die ander twee geskei soos die wit van die geel van ’n eier – van Victoria, omrede sy swart was, en Klein-Sarel was ’n seun. Maar toe sê haar pa sy moet saam met hom oorloop Vrede toe, na die Blanckenbergs toe. En sy het geweet wat daar wag. Sy het geweet van die koevert in sy baadjie se binnesak. Toe sy kla dat die warm sand haar voete brand, of hulle nie maar kon omdraai nie, het haar pa haar ’n rukkie op sy voete laat staan.

Op Vrede het niemand hulle binnegenooi nie. Ou-Sarel Blanckenberg het net met sy kierie na die stoep beduie, en Ralie Blanckenberg het op haar oorspanne manier gesê: “Kom, kom sit tog, Fourietjie, sit, Kind. ’Skuus net, ma’ onthou dissie oom se stoel daai, nè Kindjie-kind?”

Marja het haar verwonder aan hoe die antie haar hande so vinnig soos haar woorde teen mekaar vryf, asof sy taai deeg wou afvee. Sy onthou hoe haar pa met sy rug teen die muur gaan sit het, toe sy stoel effens vorentoe geskuif het sodat sy agter hom kon staan. Sy onthou die antie se stoel wat huis-in kyk. Die oom se stoel van waar hy alles kon sien – sý berg, sý rivier, sý landerye.

Onder in die volstruiskamp, ’n ent van die stoep af, het Klein-Sarel sy sê vir die volstruise gesê soos net hý kon. En sy pa het oor sy seun begin praat, soos net hý kon.

“Nou hoor nou net ’n bietjie daar. Hoor hoe vloek so ’n donnerse klein bliksempie weer vandag. Nee kyk, ek sê vir jou, Fourietjie, mý God het daai klong nie geskape nie.”

Heeltyd wat haar man so oor hulle seun praat, sit Ralie met haar rug na die lande gekeer. Sy kyk stip na die muur, asof haar huis sal verdwyn as sy haar blik ’n oomblik daarvan weghaal. Tog weet sy goed wat agter haar gebeur, dat daar tussen haar seun en die kwaai volstruismannetjie net ’n doringtak is. Nes sy ook weet van Victoria, die swart dogter wat maar altyd net so skuins agter Klein-Sarel bly. Kort-kort, wanneer sy dit waag om in haar blink ruite agter toe te loer, koes sy saam met die kinders vir die lang toonnael.

Ou-Sarel bly praat. “Die donnertjie se gemors van ’n klong het mos nie ore aan sy kop nie. Hoor mos g’n stuk as ’n mens met hom mooipraat nie. En daai kli’meid suig soos ’n bosluis aan hom vas. Nee wat, ek sê vir jou, Buurman, ek weet nie meer van vandag se kinders nie. Jy kan ook maar bly wees jy’t net dié meisiekind.”

Ou-Sarel draai skielik reguit na Marja. Waar sy agter haar pa se stoel staan, voel sy hoe haar wange warm word. Sy kyk weg, eers op na die berg, dan af op haar pa se kaalkop. Sy wag dat hy sy gewone sê sê oor die oom se vloekery: dat mens vloekwoorde nie kan verklein nie, al sit jy hoeveel tjie-tjies by, God hoor fyn. Dan sal die oom sê: ja, maar hy is ook maar net ’n mens, en God het die mens tog mos maar méns gemaak. En haar pa sal sug: ou swaer, ou swaer . . . En die antie sal sê: elke sonde het sy eie taal; die Here God verstaan ’n ieder en ’n elk, klein of groot, mens moet jou woorde tel, goed én kwaad, en wil hulle koffie hê? Dan sal die oom dalk wegkyk van haar.

Maar al wat vandag van dié verwagte gesprek kom, is haar pa wat sê: “Ai-ai, Swaer. Ai-ai.”

Marja wonder of die ander ook hoor hoe haar pa deesdae praat, asof daar weerskante van elk van sy woorde kommas rus. Asof hy heeltyd die woorde in sy mond afmeet, hulle weeg, te lig bevind en hulle dan eerder insluk as uitspoeg. Hy stem nooit meer met hulle saam oor iets nie, verskil van niemand nie. Sy voel skielik lus om met haar hand oor haar pa se kop te vryf, om die woorde by sy mond uit te vryf, soos ’n mens ’n baba se winde uitvryf. Sy wil hê hy moet vir Klein-Sarel opkom, soos hy nog altyd gedoen het. Of ten minste dan vir God. Sy mis haar ma, haar ma wat nooit stilbly nie, vir g’n niks en niemand nie. Dit voel of sy gaan huil. En sy wil nie. Dis dan haar verjaarsdag.

Marja sug. Op dieselfde oomblik haal Ou-Sarel diep asem, en dit voel vir haar asof hy net vir haar gewag het, dat hy haar uitgeblase asem opsuig, dit vir hom vat om daarmee verder oor sy seun te spoeg.

“Nee kyk, Buurman, ek sê vir jou, ou Vuurhoutjie, as ek vandag daai klong van my se tong in die hande kry, ruk ek sy harslag deur sy vuil bek uit.”

Marja wil die oom waarsku dat hy sy woorde behoort te tel. Hy kan mos nie vir haar pa so staan en Vuurhoutjie hier en Vuurhoutjie daar nie, haar ma sal dit nie toelaat nie. Haar ma sê altyd net sý, Fourietjie se wettige binne-gemeenskap-van-goedere-vrou, mag hom so noem. Net sý mag hom aansteek, en net sý mag hom met een asemstoot uitblaas.

Marja wens haar ma het saamgekom. Ma weet altyd wat om vir mense te sê, dink sy. Ma sou nie so bedees soos antie Ralie hier gesit het nie. Sy sou die oom stilgemaak het oor sy seun. Ma sê altyd: Kinders is die mensdom se hoop. Mens kyk nie na kinders deur ’n vergrootglas nie, vergroot nie klein foutjies nie. Ma sê ’n mens pas jou kinders op soos ’n suikersieke, anners val hulle later soos gangreentoontjies van jou af.

“Mens se kind bly mos maar jou kind, nè? En die duiwel issie duiwel. Kinners kry ook maar partykeers pos uit die hel,” sê Ralie uit die bloute, en Marja wonder of sy gedagtes kan lees. Sy koes half toe die antie opstaan en dit lyk of sy mik om haar oor die kop te vryf. “Daar’s goeters wat kinners nie behoort te verstaan nie; ek ga’ maak nog koffie,” sê Ralie en loop kombuis toe, koponderstebo. Vir Marja klink dit kompleet of sy vir iets om verskoning vra.

Met die antie nie daar nie kan Marja na niks anders kyk as die natgeswete koevert, wat haar pa nou in sy hand vashou nie. Toe sy dit nie meer kan hou nie, vat sy dit by hom en sit dit met ’n vinnige beweging voor Ou-Sarel op die koffietafeltjie neer, asof sy dit weggooi.

Sy staan nou langs en effens vóór haar pa, leun styf teen hom aan. Maar al sê Fourie oor en oor dankie – dankie, my kind, dankie – voel dit nie vir haar asof sy vir hom iets gedoen het nie. Dit voel nie asof sy hom troos nie, ook nie of hy haar troos nie. Niks voel vandag asof dit regtig gebeur nie.

Daar op die tafeltjie, voor die oom, lê hulle plaas op ’n stukkie papier. Hier trek haar kop en haar voete tou met haar lyf. Haar kop is hoog teen die veranda se dak. Haar voete voel swaar, asof hulle diep in die stoep insink. Miskien word ’n mens te groot vir jou skoene as jy veertien is, dink Marja. Maar dan vloek Klein-Sarel weer iets allervreesliks onder in die kamp en sy krimp ineen. Binne-in haar skiet iets soos ’n rekkie. Dit voel asof haar lyf haar kop gaan insluk, haar voete haar wind gaan uitskop. Sy hoor hoe Klein-Sarel op die dogter skree.

“Pasop! Pasop daar! Jy’s bliksemswil net in die pad.”

Almal praat altyd net van die kli’meid. Marja kan nie onthou of sy al ooit haar naam gehoor het nie. Sy wonder wat sal gebeur as Klein-Sarel die doringtak laat val. Is volstruise soos honde? Honde storm mos altyd eerste op die werksmense af. Sy het die oom al hoor sê honde ruik kleur.

Toe Ralie agter hulle praat, is dit asof sy nooit weg was nie. “As my kind maar net kon vergeet wat by sy mond uitkom en kon onthou wat daar moet in.” Ralie sug swaar en gaan sit weer op haar stoel. “Eet mos net kale-kale brood, die kind, nie eens ’n ertappel, en dis mos niks.”

Niks nié, Antie, wil Marja sê. Nie eens ’n ertappel nié! Sy moet op haar onderlip byt om Ralie nie reg te help nie. Sy weet die grootmense sal dink sy het nie respek nie. Sy verstaan nie hoekom party goed haar so vreeslik kwaad maak nie. Wat maak ’n “nie” en nog ’n “nie” tog nou saak? “Nie” is niks nie, “nie” is niks nié, probeer sy haarself oortuig.

Dit lyk of Ralie wil opspring, op die daad vir haar seun wil kos wegbring. “Kyk dan tog net daar, onse kind, die ene senings.” Sy kyk na haar man. Vir Marja klink dit amper asof sy pleit.

Ou-Sarel brom net. “Ag, Vrou, sit tog nou stil. Jy bekommer jou verniet. Daai klong van jou is ’n taai klein naai.”

Marja kyk af na haar skoenpunte. Sy voel hoe haar gesig weer warm word. Sy wens sy kon agter haar pa se stoel wegkruip. Sy weet wat “naai” is. Sy onthou hoe sy eers gedink het dis Engels, toe haar ma eenkeer in ’n konsert ’n gedig moes opsê: “The end is nigh.”

“Nee kyk, ou meisiekind, met daardie klong van ons sal jy jou storie moet ken. Oom sweer vandag vir jou op die antie se lewe: ’n Kraai het die klein bliksempie gebring en hom langs die pad kant en klaar geleer. Toe hy ’n baba was, het hy al gehuil soos een wat vloek.”

Ou-Sarel lag so gie-gie-gie en maak ’n vuis voor sy neus, asof hy wil nies. Met sy ander hand tel hy eindelik die koevert op.

Marja weet wat nou gebeur. Sy weet wat in die brief staan. Sy weet dat hier nou meer gebeur as wat op daardie klam stukkie papier geskryf is. Haar ma en pa stry al dae aaneen daaroor. Haar pa sê haar ma is verniet so bly Sarel Blanckenberg wil koop; besef sy dan nie haar dogter gaan saam met die grond nie? Haar ma sê dit kon erger gewees het: Die Blanckenbergs is dalk streng met hulle vroue, maar kaalgat is hulle nie, en Klein-Sarel is ’n mooi seun; wil hy dan eendag lelike kleinkinders hê?

Al kyk Marja steeds stip na haar voete, verbeel sy haar sy voel Ou-Sarel se oë op haar. Sy dink aan die dag van die veiling, aan hoe hy na die beeste gekyk en vir hom die mooiste vers uitgesoek het. Sy druk haar kniekoppe styf teen mekaar en draai haar heupe skuins, weg van hom, waag dit eers om op te kyk wanneer sy hom in ’n ander rigting hoor praat.

Marja volg Ou-Sarel se blik oor die werf, af tot by die volstruiskamp en verder, verby sy seun, tot doer by die rivier, daar waar hulle plaas aan die ander kant lê, die plaas wat saam met die brief in die koevert nou syne gaan word, en sy probeer die bewe in haar pa se hand stil druk.

Onder in die land vloek Klein-Sarel nog eenstryk deur: “Kak! Jou slap kák van ’n donnerse voël!”

En Ou-Sarel begin van voor af: “Nou hoor nou net ’n bietjie daar.”

En haar pa sug: “Ja, Swaer.”

En Ralie sê: “Swaar, ja.”

Marja weet haar pa sug oor sy plaas nie meer sy plaas is nie, oor Vrede se nuwe dam, wat sy water weggekeer het. Sy wonder of haar pa weet dat die mense hom Swaar Fourietjie noem, nie Swaer, soos hy seker dink nie. Swáár, soos antie Ralie sê.

Marja skrik. Sê nou sy sê al hierdie dinge wat sommerso by haar opkom, hardop? Om haar gedagtes te keer, begin sy Ou-Sarel se volstruise tel. As daar iets is om te tel, voel sy altyd rustiger.

Op veertig wonder Marja of die oom weet dat die mense oor hom ook skinder. By die veiling het sy iemand hoor sê hy is mal om met hierdie voëls te wil boer. ’n Antie het vir haar ma gesê volstruisvleis het ’n wildheid wat ’n hele hand vol naeltjies nie eens kan afkook nie. In daardie klein koppie is daar niks plek vir verstand nie, nie eens ’n afval om van te praat nie. Haar ma het gegril. Die ou velletjies is ook so klein en vol knoppe, lyk asof die bosluise hulle voos gebyt het. En ag, die ou veertjies. Hoeveel stoffers het ’n mens dan nou nodig? Die goed vrek ook sommer vir niks, het ’n oom gesê. Skop mekaar vrek. Ou-Sarel moet oppas, hulle skop hom ook nog vrek.

Op negentig onthou sy hoe Mister Katz eendag, toe sy weer so oor die volstruise se onbruikbaarheid aangaan, vir haar ma sê: “Og, miesies Fourie, ek dink, ja, ek dink ek weet, dit was mos Moses wat gesê het die volstruis is dalk boonop ’n onreine dier.”

Haar ma het die Jood betig, omrede hy van alles altyd so oortuig is, maar wanneer dit kom by wat in sy Bybel staan, altyd so onseker. “Mister Katz, skáám jy vir jou. ’n Mens moet jou God van binne én buite ken, Mister. Die Bybel is nie ’n volstruiseier wat jy net af en toe uitskud nie.” Toe sy hom klaar vermaan het, het haar ma Mister Katz se baadjie liggies op die skouers afgestof, asof sy hom daardeur sy onkunde wou verskoon.

Marja onthou hoe lank dit haar geneem het om daarna die Bybel deur te werk. Nêrens het Moses gesê die volstruis is ’n onreine dier nie. Job het wel gedink volstruise is dom.

By honderd, klaar getel, sug sy saam met haar pa. “Hel, my kind,” sê hy vir haar, “vandag is dit warmer as in Die Hel én die hel.”

Anders as toe sy klein was, wonder Marja nie meer oor dié dubbele hel waarvan haar pa so graag praat nie. In die hoofletter-Hel, daardie diep kloof aan Prins Albert se kant van die berg, was sy al. Sy luister hoe die grootmense oor die droogte praat, die swaarkry, die afgesonderdheid, die introuery, die gebreklikheid, en sy verstaan. Op veertien is sy oud genoeg om ook van die ander hel te weet: dié hel wat enige tyd, enige plek, enigiets kan wees, selfs ’n stukkie papier in ’n klam koevert, of ’n “nie” wat nie kom nie.

Marja onthou steeds die eerste “nie” waarvoor sy gewag het. Sy dink haar beheptheid met woorde het daardie nag begin. Sy was nog klein, klein genoeg om by haar ma-hulle in die kamer te slaap. Sy onthou haar pa se stem. Hy het vir haar ma gevra of hy maar mag. Mag hy wat? het sy gewonder. Toe hoor sy hom blaas en blaas, sjoe, maar dis warm. En haar ma sê dis warmer as die hel, kry tog nou klaar, en sssjt, moenie die kind wákker maak! Daar. Net daar het die weggelate “nie” die eerste keer op haar gespring. Nie, nie, nie, nie . . . Moenie die kind wakker maak nié. Daar, weet sy, het haar stryd met woorde begin. Met baie woorde. Nie net met “nie” nie.

Marja verstaan dis nie net die hitte wat haar pa so baie sweet met sy sakdoek laat afvee nie. Sy is op die punt om te vra of sy vir hom die sakdoek onder die tenk se kraan kan gaan natmaak, toe Ou-Sarel direk met haar praat.

“Nee kyk, ou kinta, as jou pa dink Die Hel is erg, het hy nog niks gesien nie. Ek sê vir jou, ánderkant Die Hel, daar lyk dit nog tien maal erger.”

Ou-Sarel is die enigste een van hulle wat al verder as Die Hel was, en hy weet dit goed. Verder as die Klein-Karoo se koppies en berge, tot diep in die Groot-Karoo, tot by Drie Susters was hy al.

“In die Groot-Karoo,” vertel hy, “is daar minder as niks. Net kale vlaktes.”

Toe hy stilbly, wonder Marja of die oom verwag sy moet iets sê oor dié niks, wat tog sekerlik ook iets is. Sy maak haar mond oop – amper sê sy iets verkeerds vir ’n grootmens! Maar genadiglik spring die antie haar voor.

“Jy vergeet, ou man, Prins Albert het tog darem mos olywe.”

Ou-Sarel spoeg tot in antie Ralie se malvabos.

’n Lang ruk sê nie een van hulle iets nie. Hulle sit net só en kyk oor die werf. Kyk vir die berg. Marja dink daaraan dat sy nog nooit iemand iets goeds oor olywe hoor sê het nie. Self het sy nog nooit eens aan een geproe nie. Haar ma sê ’n olyf is slegter as die slegste sleg. Sy probeer onthou wat die slegste ding was wat sy al geproe het, maar vandag dink haar kop net aan soetgoed. As Ma onthou . . . Dalk bak sy nou ’n verjaarsdagkoek.

In omtrent elke gesprek in dié halfwoestyn is daar ’n mikstokwoord wat die stilte breek, sê Marja se ma altyd. Dié keer kom dit eerste uit haar pa se mond. “Droogte soos vanjaar s’n behoort g’n mens of dier te aanskou nie. Wie sou nou kon dink mens kan verlang na ou meide met knopkieries?”

Marja sien die trekkie om haar pa se mond. ’n Oomblik dink sy hy gaan glimlag, maar dan is dit weg. Sy weet nie hoe sy hom vandag kan help nie.

Dis asof Ralie die nood op haar stoep aanvoel. “Kyk, doer, sien julle? Die wolkies maak klaar sulke bankies-bankies oor die berg, sekerlik kom dit nog reën vandag, maar laat ek eers nog koffie gaan haal, dalk is daar nog ’n stukkie melktert oor. Ko’ ons gaan kyk, kom, Kindjie-kind, kom jy saam?” Dis asof Ralie hulle met haar langasemsinne probeer troos.

In die kombuis vra Ralie of sy ’n snytjie brood wil eet, maar Marja kry geen dooie woord uit nie. Sy onthou die oggend, sy en haar pa en ma aan die kombuistafel. Toe haar pa bid en dankie sê vir hulle daaglikse brood . . . Sy sien in haar gedagtes hoe haar ma sy koffiebeker van die tafel klap.

“Bróód! Watse brood? Pleks jy lig jou gát en loop soek wérk!”

Haar pa het afgekyk, sag gepraat. “Ma-Ria. Ma-Ria, jou kind. Dink aan die kind. Dié kind.”

Marja het gewag dat hy “kind” nog ’n keer moet sê. Nog ’n “kind” sou die getal ewe maak. Dalk selfs . . . “die kind verjaar”. Maar haar ma was klaar weer besig om haar in die sideboard te spieël.

Al doen Ma-Ria dit ook tien keer op ’n dag, Marja bly haar verwonder aan dié ritueel van haar ma. Vanoggend het sy langer as gewoonlik bly kyk: hoe haar ma haar kop na die spieël toe draai en haar hare skud tot haar kuif oor die helfte van haar gesig val, nes ’n windwolk oor die berg. Sy het na haar ma gekyk, daar voor haar, en toe na haar ma in die spieël. Ma het twee gesigte – en al twee is half, het sy gedink, en toe om vergifnis gebid. Tien keer.

Ralie het klaar elkeen se melk en suiker in die koppies afgemeet. Marja moet net roer en die koffie aangee. Sy gee haar pa s’n laaste, wag dat hy sy gewone dankie – dankie, my kind, dankie – moet sê. Dat hy moet sê: Kind, jy is darem maar jou pá se kind.

Toe hulle ander klaar gedrink het, sit haar pa nog net so met die koppie op sy skoot. En toe dit eindelik vir Marja lyk of hy gaan proe, blaas hy net, asof dit nog warm is. Hy vee oor sy oë en sê die koffie maak vandag baie damp, dalk omdat dit so droog is. Hy gooi ’n bietjie in sy piering uit en blaas. Blaas weer. Marja kyk hoe die bruin vloeistof in haar pa se piering golfies maak, soos die water in die oom se dam as die wind waai. Dan hou hy die piering na haar uit. Sy drink, soos toe sy klein was. Sy drink die kabbelings weg. Tot alles op is. Totdat net hulle oë oor die rand van die piering oor is.

“Kry pa se kind nie ook warm nie?”

Marja skud haar kop. Sy gaan staan weer styf teen hom. “Pa. Kyk. Die wolke. Hulle pak saam,” fluister sy. “Hulle lyk te swaar vir die berg.”

“Dis te laat vir reën,” sê Fourie, maar dit klink asof hy meer met homself as met Marja praat. Hy sug swaar. Dan tel hy die pen op wat Ou-Sarel langs die stuk papier en potjie ink op die tafeltjie neergesit het. Stadig maak hy sy kruisie. “Nou is ek ’n wit kaffer,” sê hy en sit die pen neer.

Fourie lag verleë. Niemand lag saam nie, tog bly die trek om sy mond. Net Marja weet dat haar pa aan haar ma dink. Dis goed hy is nou een, het haar ma die oggend gesê. Laat hy ’n slag voel hoe sý nog al die jare in sy huis voel.

Marja wens sy kon vir haar pa sy naam geskryf het. Sy kyk van die een gesig na die ander. Sy wonder hoeveel soorte stiltes ’n mens kry. Die oom lyk vir haar soos altyd. Die antie lyk vir haar soos altyd, asof sy blymoedig op slegte tyding wag. Maar haar pa lyk anders. Sy kyk vinnig weg. Sy wil nie na hom kyk nie. Sy wil nie sien wat sy hier styf langs hom voel nie. Sy hele lyf bewe.

Ou-Sarel vou die brief stadig op en sit dit in sy hempsak. “Miskien . . . Tja, ons sal maar sien,” sê hy.

“Ek is verby miskién, verby sién, Buurman. Ek kán nie meer nie. Plant ek mielies, dan oes ek stinkolie. Plant ek koring, oes ek salvation-erte. Tot die tarentale roep al ‘bankrot, bankrot’!”

“Jy’t net God se seën gekort, Fourie, dis al. En dan praat ek van die Oubaas s’n. Boer is nie vir kinders nie. Maar dalk . . . Laat ons kyk.”

Wat wil die oom tog sê? Marja wonder, maar sy kan dit nie vra nie. Sy gee ’n tree vorentoe sodat sy half tussen hom en haar pa staan. Maar sy voel aan die ruk in haar pa se lyf dit help nie.

Ou-Sarel begin weer spog en beduie. “Kyk daar. Sien jy, Niggie? Hier by oom is selfs die kiesieblare so geil die koeie bars amper van –”

“Heretjie tog, Sarel!” val Ralie hom in die rede. “Sil jy nou die Here se Seun se seën ter wil’ van kiesieblare gaan staan en verbybid. Genadetjie tog, ou man.”

Marja wil vir Ralie ondersteun. Sy dink daaraan om te sê: Toemaar, Antie, laat die oom maar praat. Van te geil eet, gooi ’n mens op, soos Pa altyd sê. Maar daar kom geen woord by haar mond uit nie. Haar ore sing. Kan woorde ’n mens se ore só vol maak dat jou kop daarvan bars? wonder sy. Dit voel asof die woorde wat nie uitkom nie, klonte in haar keel maak. Dit voel asof sy wurg. Ma se woorde is soos koeëls. Pa koes vir haar woorde. Ek behoort woorde te haat. Tog hou ek van woorde, dink sy verbaas.

“Genadetjie tog wát, Vrou? Ek vra g’n stuk niemand om genade nie. Dit weet jy.”

“Die genade van onse Here Jesus Christus.”

“Nee wat, ou Ralie. Tussen leeu en lam hou ek my eerder maar op met die leeu; dit sê ek nog altyd. My Bybel sê duidelik vir my God is ’n verterende vuur. Die genade wat julle Jesus-mense verwag, is skone kasaterwater. ’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand; dit sê ek julle vandag. Dis hoe dit nog altyd was, hier op Vrede, en dis hoe dit altyd sal wees. Ek het van niemand al ooit genade ontvang nie. Wil dit ook nie hê nie. Nie verniet nie. Iemand wat genade gee, wil altyd iets terughê. Hou jy jou maar liewers by die pampoenskil wat jy alewig daar in die kombuis tot groenboonbredie probeer omkook, Ralie. Mý Bybel maak ek toe by Maleagi.”

Ou-Sarel bly ’n oomblik stil, asof hy wil hoor of sy vrou gaan teëpraat. Dan draai hy weer na sy buurman. “Fourietjie, jy sal met my saamstem vandag . . . Ek sê altyd vir die vrou, ek stuur niemand na g’n niemand toe nie. Nuwe Testament-sendelinge bring meer onheilighede terug as wat hulle heiligheid uitdra. Ek hoor hulle wil nou glad sendingwerk onder die Jode gaan doen! Waar’t jy nou al só iets gehoor? Dis mos nou soos om ’n boer te wil bekeer tot sy plaas! Die Jode is tog mos maar God se ou volk en klaar. En ons is God se nuwe volk.”

Marja sien hoe Ralie se mond oop- en toegaan, soos wanneer haar ma rookkringe blaas. “Maar God het tog sy Seun –”

Van onder uit die land vloek Klein-Sarel haar tjoepstil.

Marja sien hoe Ralie by die aanhoor van elke vloek haar kop ’n entjie verder laat sak. Miskien kry ’n mens se lyf ook droogte, dink sy. Dan verlep jou nek en verwelk jou kop. Sy is skielik dors. Dalk moet sy ’n bekertjie water vra.

Selfs Ou-Sarel kug-kug eers. “So van volkere gepraat,” sê hy dan. “Ek het al baiekeer gedink . . . Daar is my volk hier op die land . . . Maar my volk is nie my volk nie. Hulle is my mense, maar nie mý mense nie. Tog moet ek die land deel.”

Gewoonlik lag hy self die lekkerste vir sy sêgoed, maar nou klink Ou-Sarel se laggie vir Marja effens verleë. Wanneer die antie sag aan sy arm vat, sien Marja hoe die oom se gesig ook verander. Sy is nie seker wat hier gebeur nie, maar Marja hoor die andersheid in sy stem toe hy sê: “Ou vrou, ek sal dat Klein-Sarel vir jou die mooiste pampoen gaan uitsoek. Niemand kook hom soos jy nie. Skil en al. Jy moet net sê . . .”

Ewe min verstaan Marja die skielike andersheid in die antie. Sy kyk haar man ’n oomblik vas in die oë, en nou is haar stem klokhelder en rustig. “Dis reg so, my man. As jy wil, sal ek dit môre spesiaal-spesiaal vir jou kook.”

’n Oomblik is dit of alles rustig word.

Dalk is die volstruise nou eindelik waar Klein-Sarel hulle wil hê, dink Marja. Die rook uit die mans se pype ruik vir haar lekker. Dit laat haar wonder hoe die rook ruik wat nou daar agter die laning langpopuliere uit die skoorstene van die werksmense se huise trek, wat hulle daar vir middagete kook. Haar oë draai ook na die bult hier vlak by hulle, waar agter sy weet die alleenhuisie staan.

Die huis agter die bult was die swart vrou s’n. Marja weet dit, want almal sê sy spook daar. ’n Oomblik lank verbeel sy haar sy sien daar ook ’n dun vliesie rook opstyg. Sy wil vir haar pa vra of hy dit ook sien, maar die oom praat al weer, en toe sy weer kyk, is dit weg.

“Vrede is voorwaar net ’n groot canfruit-bottel,” sê Ou-Sarel.

Marja voel hoe sy haar vererg. Het Oom al gesien hoe ’n canfruit-bottel breek? wil sy vir hom vra. Al weer canfruit en vla, het haar pa een Sondag gesê. En toe hulle weer sien, gooi haar ma die canfruit-bottel fyn en flenters op die vloer. Nou is dit nie meer vir haar lekker om na die boorde te kyk nie. Al die appelkose, okkerneute, amandels, pruime, perskes, pere. Die bome is vir haar mooi, maar sy wil nie hê hulle moet mooi wees nie. Dis hulle wat haar pa se water vat. Julle staan net daar, verwyt sy die bome, lekker koel natgelei om julle voete. Hier sweet my pa.

Marja besluit om van nou af net nog na die moerbeiboom te kyk, die een daar allenig op die sloot se wal. Sy trek haar oë op skrefies, verbeel haar die blink sonstrale skyn deur ’n vergrootglas op hom. Die rooi moerbeie is druppels bloed. Sy onthou hoe dominee Vos eendag oor die ou boom gepreek het. Dis seker die grootse moerbei in die Suidelike Halfrond, het hy gesê.

Die dag ná die diens het haar pa nog vir die dominee gaan vra of hy nie eendag oor populiere ook wil preek nie. Hy dink langpopuliere is God se eie kerktorings, het haar pa vir die dominee gesê, maar sy kon sien dominee Vos het nie daarvan gehou nie. En toe hulle vanoggend, op pad hierheen, al langs die laning op die slootwal stap, sê haar pa die nuwe baas van die plaas gaan die populiere seker almal laat afkap. Hoekom dan? het sy gevra. Want die oom glo ’n boom is net ’n boom as hy vrugte dra, het haar pa geantwoord. Nou is die moerbei ook nie meer vir Marja mooi nie.

Voor sy haar kom kry, praat sy kliphard, heeltemal te hard vir ’n kind in grootmensgeselskap. “Populiere vat nie leiwater nie. Hulle staan maar net daar op die walle rond.”

Sy kyk na haar pa, probeer agterkom of hy sien sy probeer hom help. Maar Fourie het klaar sy populiere prysgegee. Hy, wat altyd gesê het populiere groei in trappe van vergelyking – mooi, mooier, mooiste – kla vandag dat bankrotskap alle vergelykings oortref.

Toe Ou-Sarel weer praat, hoor Marja die baklei is terug in sy stem. “Nee wat, Fourietjie, jy moet maar net jouself blameer,” sê hy. “Die Bybel waarsku tog duidelik teen prosedeer. Hoe op aarde jy kon gedink het jy kan ’n saak teen mý maak, en dit oor mý water . . . Dit gaan tot vandag toe nog my verstand te bowe! Ek sê weer: Jy’t self jou geld in die water loop smyt, ou Vuurhoutjie. Geld wat jy nie gehad het nie. Net jy selwers, Buurman. Jy self.”

Marja was nog klein, maar sy onthou die hofsaak goed, destyds, oor Vrede se nuwe dam. Hoe kan sy dit vergeet? Haar ma en pa baklei nog amper elke dag daaroor. Voor die dam gebou is, kon haar pa Sondae Vrede se verbyloopwater lei. Wanneer Ou-Sarelgodvresend, soos haar pa partykeer sê, op die sewende dag gerus het. Maar toe slurp die nuwe dam dié Sondagleksel rus-rus op. Hulle plaas het verdor.

Op die dag van die landdros se uitspraak was daar boonop die gedoente in hulle huis. Die koerantman het vooraf kom vra of hy van hulle, as gesin, ’n foto kon neem. Sommer daar op die hof se trap. En haar ma besluit toe om hulle twee daarvoor eenders aan te trek.

“Hoe lyk ons?” het haar ma vir haar pa gevra.

“Soos ’n tweeling waarvan die grote voor geboorte die kleintjie se bloed steel,” het haar pa geantwoord, onthou sy. Sy kon sien hy was dronk.

Haar ma was so omgekrap dat haar pa op die ou end nie eens in die foto was nie, al was dit sý hofsaak. Op die knipsel in die sideboard staan sy en haar ma alleen op die voorblad van Die Oudtshoorn Courant. Onder die foto staan geskryf: Mev. Ma-Ria Fourie en haar dogter, Marja, op die trap van die landdroshof. Mevrou Fourie het gesê hulle aanvaar die uitspraak en dat die reg sy loop moet neem.

Marja kon dit daardie tyd nog nie self lees nie. Haar ma het vir haar hulle name onder die foto gewys: hier en daar eenders, hier en daar anders. “Kyk, Marja, ons name begin met dieselfde letter. M.” Toe het ’n les gevolg oor die koppelteken tussen Ma en Ria, oor hoe die koppelteken die uitspraak verander. “Die koppelteken beklemtoon Ma is ’n má,” het Ma-Ria gesê.

“Jy sal nog leer: Als beklem jou ma, my kind. Al waaraan sy haar koppel, is haarself.” Marja hoor haar pa dit duidelik sê, al sit hy tjoepstil hier langs haar op Vrede se stoep.

Sy skrik toe Ou-Sarel se plathand op sy bobeen klap.

“Nee kyk, Fourietjie, daai landdros het geweet waarvan hy praat. Voorwaar, in die Klein-Karoo het water meer regte as mense. En waarlikwaar, Buurman, ek lag vandag nog net so lekker vir jou kostelikhede soos toe.”

Marja verstaan nie wat so kostelik is nie, maar Ou-Sarel druk ’n vuis voor sy mond en lag eers gie-gie klaar. “Onthou jy, Fourietjie? Hoe jy vir die edelagbare gesê het die afkeersluis op Vrede is nes ’n oumansklier? Dat die ou watertjies wat ek laat verbykom, niks meer is as ’n ou na-pissie nie!”

“Droogte. Droogte, tot in die murg van die siel. Niks is erger as wanneer reën te laat is.”

Sonder ’n verdere woord staan haar pa op. Marja sien hoe hy sy broek hoër oor sy groot maag trek; dadelik vou die borand terug, krul om soos ’n hartseer onderlip. Sy wil opspring. Sy dink hard aan haar pa se eie sêgoed; sy wil vir hom een sê: Son onder rood, môre water in die sloot. Sy wil vir hom sê: Dalk bring die skemer hoop. Maar sy bly sit. Toe hy afbuk en haar op die kop soen, bid hulle al twee stil-stil die Here se naam – eenders, maar tog anders.

Marja kyk hoe haar pa, Fourietjie, die een wat net sy vrou Vuurhoutjie mag noem, met die trap af wegloop van Vrede se stoep. Sy kyk hom agterna. Sy broek hang klaar weer laag. Hy het nie gegroet nie. Hy mik ook nie huis toe nie; daarom loop sy nie saam nie. Sy bly op die stoep sit; dink: Pa gaan seker eers kleinhuisie toe. Pa, met sy blaas.

“’n Boer mag arm wees, maar hy hoef darem waaragtig waar nie só armoedig te lyk nie,” sê Ou-Sarel. “Die Engelse raak maerder van swaarkry; die arm Boere raak vet. Ek wonder hoekom vet Boere altyd sulke niks-stêre het.” Hy gie-gie weer agter sy vuis.

Marja hoor nie wat hy sê nie. Iets is nie reg nie. Sy voel die rekkie weer hard binne-in haar skiet, voel hoe sy ineenkrimp. Sy wil agter haar pa aanhardloop. Sy wil agter hom aan roep. Sy wil vir hom sê dat sy al amper halfpad klaar verjaar het. Sy wil hom ’n drukkie gee. Maar sy bly sit op die stoep, hus met lang ore, en kyk hoe hy met die wegstap al hoe kleiner word.

Haar pa gaan nie kleinhuisie toe nie. Sy broek sak laer met elke tree. Sy gleufie wys al. Marja wag dat die oom moet sê, soos hy altyd sê: Fourie se hele halwe hol wys al weer. Sy wens sy kan sy broek vir hom optrek. Of sy hemp af. Op of af. Op of af. Sy kan nie wegkyk nie. Haar oë bly vasgenael op haar pa se verdeelde boude. Dan is hy by die kampdraad. Hy raak nog kleiner. Hy krimp weg, onderdeur die draad. Die volstruis is kwaai.

Pa. Waar’s Pa se doringtak, Pa? Pa!

Marja spring op. Sy voel nie hoe die antie haar vasgryp, haar half oplig sodat haar voete nie meer aan die grond raak nie. Sy snak na asem in die voue van Ralie se nek.

“My kind, my kind, ag Here tog, Liewe Jesus tog, ag tog, ag toggie, my kind, Kindjie-kind! Moet toggie kyk –”

Marja ruk los. Sy hardloop. Sy hardloop na waar sy haar pa laas onderdeur die draad sien klim het. Al waaraan sy dink, is of sy onderdeur of bo-oor moet klim. Onderdeur? Bo-oor? Sy sien nie hoe Klein-Sarel sukkel om die volstruis te verwilder nie. Sy soek haar pa.

Sy kry hom tussen die groen lusern. Hy lê met sy kop op ’n klip. Sy dink aan Jakob van die Bybel, hý het met sy kop op ’n klip geslaap. Vir ’n oomblik soek haar oë na ’n leer uit die hemel, ’n engel wat daarteen af- of opklim. Maar dis net sy en haar pa. Sy wil die klip sagter maak. Sy druk haar hand onder sy kop in, hoor hom vir oulaas sug: “Sssswaaa . . .”

Sy kyk eers op toe Klein-Sarel haar op die kop tik. Sy gesig is reg bokant hare. Hy is mooi, dink sy. Hy lyk mooi hier oor my pa se lyk. Ons kinders sal mooi lyk. Lyk. “Lyk” en “lyk” kan tog nie dieselfde wees nie, kan hulle? dink sy deurmekaar. Sy spring op. Dan vlieg sy om en hardloop. Heelpad dam toe hou sy haar kop vas, asof sy bang is sy verloor dit.

My ore kan net nog binne-toe hoor, dink sy by haarself. Klop-klop, klop-klop. Ek glo nie wat ek sien nie. Klop-klop, klop-klop. Ek glo nie wat ek dink nie. Klop-klop, klop-klop. Gelukkig pomp my hart ’n ewe getal, twee-twee op ’n slag. Doef-doef, doef-doef.

Dit het nog nie begin reën nie.

Later kom staan Klein-Sarel langs haar op die damwal. “Dè,” sê hy. Hy sit een van sy mooiste klippe in haar hand.

Marja kyk na die klip. Sy voel die gewig daarvan. Sy vryf daaroor. Sy vryf dit soos sy oor haar pa se kop gevryf het. Sy tel ses afgedrukte varingblaartjies daarop. Ses. Die enigste ewe getal wat nié vir haar ewe is nie. Sy gee vinnig die klip vir hom terug.

Klein-Sarel verstaan nie hoekom Marja die klip nie wil hê nie. Dis sy mooiste een; Victoria wou baie rosyne daarvoor hê. Nou weet hy nie wat om daarmee te maak nie. Hy kyk na die klip in sy hand. Dan skiet hy dit plat oor die water van sy pa se dam. Dit hop, hop, hop, hop. Een, twee, drie, vier. Klein-Sarel weet nie dat die getal iets in Marja ligter maak nie. Dus troos hy haar tog ’n bietjie.

“Ek moet gaan help,” sê hy toe die laaste rimpeling op die water verdwyn. “Kom. Kom ek vat jou na my ma toe. Dan moet ek ekstra drarieme gaan haal. Ek dink jou pa is donners swaar.”

Toe die plaasmense Fourie die huis indra, staan Ralie met haar arms styf om Marja. Marja hoor hoe die antie beduie hulle moet reguit deur voorhuis toe hou. By die voordeur probeer een van die jonges sy hoed afhaal. Marja sien hoe hy haar pa amper by die kopkant laat val. Sy laat sak haar kop in Ralie se nek.

Tóé begin dit reën.

Dit reën soos wat dit net ná ’n droogte kan reën. Dis asof die voorbeeld van die wolke Marja laat verstaan dat sy maar mág huil, saggies en versigtig, soos die eerste druppels. Dit voel vir haar asof sy nooit weer sal kan dink nie. Al wat sy sien, is Ralie se bleek hande om die swart koppie, Ralie wat heen en weer wieg, Ralie wat die koffie tot by haar lippe bring en sê: “Ook hierdie dag is die Here s’n, ook hierdie dag.”

Haar eie koffie kry Marja nie gesluk nie. Die reuk van die suiker wat Ou-Sarel op koerantpapier by haar pa se lyk brand, kom ál sterker deur die oop vensters. Dit maak haar naar. Voor vandag het sy nie die dood geken nie. Toe die oom die eerste vuurhoutjie trek, het sy ’n oomblik lank gedink hy wil haar pa aan die brand steek!

“Dis beter om te keer. Dood is ’n reuk wat intrek,” het Ou-Sarel gesê. “Nes pie in ’n oumenskamer, en laventel is duur.”

Later, toe dit giet soos dit reën, sê Ralie vir haar man: “Die kind het haar ma nodig. Vergeet nou eers jou volstruise, Klein-Sarel sal hulle versorg. Jy sal iemand moet stuur.”

Ou-Sarel roep sy regterhand – sy naam is Phillip Steyn, maar almal noem hom Filstyn. Dis gróót reën dié,” sê Ou-Sarel vir hom. “As dit só aanhou, sien ons vandag nog ’n vloed net van die waters uit die klowe diékant van die berg; dan moet die Groot-Karoo se afloop ook nog bykom. Jy sal die tyding tot annerkant die rivier, tot by mies Ma-Ria moet neem. Sorg net dat jy dadelik terugkom, gehoor? Vat jou koeie, die twee wat gekalf het, saam. En twee rieme. Maak die kalwers duskant aan ’n boom vas.”

Ou-Sarel praat hard en stadig, soos dit sy manier is wanneer hy ’n opdrag gee. Met elke woord wat hy beklemtoon, leun hy nader aan Filstyn.

“Het jy vir my gehoor, Filstyn?”

“Here, Baas.”

“Jy moet kan terug, al is die rivier ook hoe vol. Die koeie sal jou deur die water sleep. ’n Koei los nóóit haar kalf nie. Hier kom groot gemors, ek het al die hande hier nodig.”

“Heretjie tog, Baas.”

“Jy kan maar soveel heretjies as wat jy wil. Dit staan so in die Bybel: As jy om ’n koei met ’n kalf se horings ’n riem vasmaak, swem sy met jou deur enige vloed. Niks keer ’n koei wat haar kalf soek nie. As jy twee koeie vat, maak jy dubbeld seker – Ou en Nuwe Testament-seker. Al twee sal nie versuip nie. Ek het jou hier nodig.”

Filstyn se lippe vorm nog ’n “Heretjie tog”, maar Ou-Sarel gee hom nie kans om dit te sê nie.

“Vat my sweep saam. En sê vir mies Ma-Ria sy moet wag tot die water eers góéd afgeloop het. Ek wil nie nóg ’n begrafnis op my hê nie.”

Dis nie lank nie of Marja sien deur die kombuisvenster hoe Filstyn en sy koeie deur die rivier aansukkel. Die stroom vloei al sterk. Sy wens sy het saam met hom gegaan, maar dan flits ’n weerligstraal oor die water en sy knyp haar oë styf toe.

Ou-Sarel het reg voorspel. Filstyn is skaars anderkant uit, toe is Vrede ’n eiland in ’n see van vloedwater. Marja tel elke bliksemstraal en donderslag. Ook die tellings tussen straal en slag. Dan trek sy dit af van die vorige getal, maal, tel weer by, deel. Die onewe getalle laat haar banger voel as die ewe slae. Maar geen som of getal laat haar vandag beter voel nie. Kort-kort kyk sy af in die gang. En eindelik kom die woorde.

“Ek verjaar.”

“Ag, my kind, Kindjie-kind, genade tog, genade toggie.” Oor en oor sê Ralie die woorde terwyl sy Marja styf, styf vashou.

Struisvoël

Подняться наверх