Читать книгу Struisvoël - Johan Fourie - Страница 6
HOOFSTUK 3
ОглавлениеDit het gereën soos dit net op ’n sinkdak kan reën. In die kombuis het Ralie die een koekpan ná die ander in die oond gedruk en saam met die druppels geneurie. “Zachtkens en teder roept Jezus de Zijnen, dringend weerklinkt Zijne stem . . .”
Toe sy hoor Marja verjaar, het Ralie begin bak. Ná haar ag-genade-tog het sy haar stoof gestook en haar panne uitgehaal. “In my huis verjaar niemand sonner ’n koek nie,” het sy gesê.Nou bak sy asof vir ’n basaar. Wanneer Ralie groot bak, skud sy ’n volstruiseier uit. Sy weet die deeg is hopeloos te veel, maar sy wil besig bly, die kind besig hou. Eers wys sy vir Marja hoe om ’n gaatjie te maak sonder dat die dop kraak. Dan laat sy haar die eier uitskud.
Marja skud en skud. Dit voel vir haar sy wil nooit weer iets anders doen nie. Sy skud harder as wat nodig is. Haar kop ruk en ruk, maar haar oë bly oorvol. Sy skud totdat dit voel asof die pyn in haar bors by haar mond gaan uitglip. Toe val daar so goed as twee dosyn hoendereiers op die vloer.
“Dis niks, dis niks, Kindjie,” sê Ralie en gee haar ’n drukkie. “Regtige trane kom maar so swaar, kom, Kindjie-kind, kom ons maak skoon voor die oom dit sien,” sê sy.
Saam skep hulle die eier met hulle bakhande van die vloer af op. “Dink Antie, as ’n wolk breek . . . Is dit die Here se hande wat glip terwyl hy die reën uitskud?” vra Marja
Ralie weet nie. Sy trek vir haar ’n geel snor met die eiergeel en laat toe dat Marja haar mond met die vadoek skoonvee. Toe gee sy haar weer ’n drukkie.
Dié keer druk Marja sommer self haar gesig in die antie se nek. Sy wil nie asem hê nie. Sy moet asem kry. Skielik voel sy nie meer veertien nie. “Ek dink Antie druk soos Liewe Jesus,” sê sy toe sy Ralie laat gaan.
Ralie antwoord nie. By haarself wonder sy wie vir die Here ’n drukkie gee, die dag wanneer sy hand glip en Hy meer as net die wolke laat val.
Toe die eerste koek uit die oond kom, hou die wolke op om die aarde te probeer wegwas. Net die sinkdak kla nog soos dit die laaste druppels probeer afskud.
“Mens weet nie hoeveel dit anderkant die berg gereën het nie,” sê Ralie. Sy kyk deur die venster, Hel se kant toe. “Hier op Vrede, sê die oom altyd, is die Groot-Karoo-afloop die grootste gevaar. Jy sal Antie vandag regtig moet help. Gaan kry gou vir ons daar nog ’n eier.”
Marja bring nog ’n volstruiseier uit die spens. Terug in die kombuis bly sy onseker daarmee in haar hande staan. “Hoekom bak Antie so baie? Dis tog net ek wat verjaar.”
“Mens weet nooit wie en wat die dood almal bring nie, my kind. Wanneer die riviere afgeloop het, sal die mense kom. Dan kom jou ma.”
Ralie steek haar meelhand uit om Marja se kop te streel, maar Marja staan klaar aan die ander kant van die tafel. Daarom lig sy maar haar hand na haar eie kop. Sy frommel aan haar ore, probeer om nie te hoor hoe haar seun daar buite vloek nie. Kort-kort kry sy koers na die deur of na ’n venster. Met die meel wat van haar hande stuif, merk sy haar pad. En Marja vee alles agter haar op.
Vroegaand kom die tweede baksel uit die oond; dit moet net afkoel om versier te word. Terwyl hulle wag, staan en kyk hulle deur die kombuisvenster na die voorpunt van die Groot-Karoo-afloop. Ralie slaan haar arms van agter af om Marja. Sy ruik aan haar hare, hou haar styf vas. Van hier af kan hulle alles mooi sien. Hulle kyk hoe Klein-Sarel op en af hardloop langs die stygende vloedwater. Kort-kort gaan hy die systroom binne om ’n volstruis uit die moeilikheid te probeer haak. Selfs die vloedwaters se dreuning doof nie sy gevloek nie.
“Nou toe. Donner af poort toe! Daar sal jy groener as groen kak, jou kleinkoppie-gemors!”
“Genade toggie,” sê Ralie. Sy wil haar ore weer toefrommel, maar sy wil Marja nie laat los nie.
“Vrek in jou moer in!”
“Ag genade toggie.”
Die hele volstruiskamp is nou onder water. Oral dryf volstruise soos bootjies, hulle lang nekke soos maste sonder seil. Rustig en onbesorg dryf hulle, pik net af en toe na stukkies skuim en stokke in die water.
“Toe maar, Kindjie,” sê Ralie, asof sy Marja oor haar seun se voorspelling moet gerusstel. “’n Volstruis swem beter as ’n eend. Moet jou nie bekommer nie. Die poort is ver. Die meeste van die struise sal betyds uit die water stap.”
Maar Marja se gedagtes is nie by die volstruise nie. “Hoe noem Antie-hulle haar?” vra sy wat sy die middag op die stoep al wou vra.
Ralie antwoord haar nie. Sy vra hardop wat sy self wonder. “Ai, hoe oorleef ’n kind so, sonder ’n ma?” ’n Rukkie lank is hulle al twee stil. Dan praat Ralie asof sy haastig is. “Die oom het haar gister nog maar werf toe laat kom. Sy is nou groot genoeg, sy kan innie kombuis help. Die bruin mense kan tog mos ook nie vir altyd na haar kyk nie, sy kan innie waenhuis slaap. Haar oorle’ ma se huis, die een daar agter die bult, dié het die oom mos lankal vir die draadmaker gegee.”
“En haar pa dan?” vra Marja.
Maar nou is Ralie weer stil. Haar kop is by haar seun, daar waar hy halflyf in die vloedwater die volstruise nou sommer kaalhand aan die nek vang. Die bamboeshaak het hy vir Victoria gegee.
By tye maak Ralie haar oë toe en bid hardop. Elke keer wanneer sy hulle oopmaak, kyk sy hoopvol na die berg, of God al die wolke afgevee het, soos sy haar kombuistafel skoonvee.
Tog betrap dit haar onkant toe die opgehewe some van die bergskeur skielik tussen die wolke deur om Vrede oopvou. ’n Gebed verhoor; ’n gebed onbeantwoord, want haar kop maak sy eie skeure oop. Dit neem haar terug na ’n dag toe haar klein seuntjie vir haar sê: “Kyk, Mamma, die berg het lippe.”
“Jou pa sê dissie plek waar die Skepper sy byl ingekap het toe Hy met hierie stukkie wêreld klaar was.” Sy was trots op haar slim kind. Met sy lippies wat hy probeer omkrul het soos dié van die berg, het hy haar ’n nat soen gegee.
Ma-Ria was by, sy het kom koffie drink. “Watse lippe? Waar sien jy tog die lippe, Kind?” het sy gevra. Vir Ralie het sy byna benoud geklink.
“Da. Daa. Daaa,” het almal vergeefs beduie.
En haar man, Ralie onthou, het opgestaan en hom styf teen hulle buurvrou aangedruk. Langs sy wysende arm af het hy vir Ma-Ria laat aanlê, reguit na die gleuf en . . . “Kaboem!” het hy berg se kant toe geroep en uit sy onderlyf teen Ma-Ria se boude vasgeskiet. ’n Oomblik het hy so bly staan, toe lekker gelag. “Ek sê vir julle! Vir een bok is daar net te veel koeëls in hierdie voorvadergeweer.”
Daar waar sy staan, voel Ralie weer die seerkry, hoe die vae vermoede sekerheid word. Sy wou haar buurvrou van haar stoep afvloek, daardie dag, maar sy het stilgebly. Waarom weet sy nie. Sy het na haar kind toe gedraai, asof hý haar sou kon help. En Klein-Sarel, so klein soos hy was, het na haar gekyk en iets probeer vra: “Ag, donner tog, Ma?”
Sy pa het uitgebars van die lag. Ma-Ria het saamgelag. Skielik was die woord “donner” snaaks. Elke keer dat haar kind dit gesê het, het hulle harder gelag. Totdat Klein-Sarel begin huil het, en sy wat Ralie is, het haar hart soos ’n ou lap voel skeur.
Hoe anders kon dinge vandag dalk vir haar seun gewees het? As sy destyds haar eie vloekwerk gedoen het, of as sy dit maar net kon regkry om saam met hulle te lag. Só kon sy dalk nog die angel uit “donner” gehaal het. Maar al die jare bly sy luister hoe haar seun namens haar vloek, selfs nou, daar waar hy in die vloedstroom teen die hemele staan en roep.
Toe hy ouer was, het sy hom eenkeer oor daardie dag uitgevra, of hy kan onthou wat hy vir haar wou gesê het.
“Ma weet mos,” het hy gesê. “Ek’s nie lief vir Pa nie, Ma.”
Ná daardie eerste “donner” het Klein-Sarel nooit weer weggesteek hoe hy oor Ou-Sarel voel nie. Ralie het dit gesien, maar niks daaraan probeer doen nie. In die stilligheid was sy bly dat haar kind háár bo sy pa verkies. Maar sy het ook geweet: Haar man sou sulke uitdagendheid nie ongestraf laat bly nie. En daaroor voel sy skuldig.
Gou het dit ál erger geraak. Dit was soos onweer wat opsteek. Eers het Ou-Sarel net gemor en gebrom. “Ek sal met sy gal werk soos wat mý pa met mýne gewerk het. In hierdie wêreld kan dit nie anders nie. Ek soek nog die wildeperd wat ek nie kan inbreek nie.”
“Ag, my man, jou kind is mossie ’n perd nie, met ’n kind moet mens sagkens werk,” het Ralie probeer keer.
Maar oor dae heen het die pa se toorn oor sy seun net ál verder ontsteek. “Ek sal die mannetjie mak maak,” het Ou-Sarel gedreig. “Ek sal doen wat ’n vader se plig is. As die klong hom soos ’n wilde dier wil gedra, moet hy soos ’n wilde dier ingebreek word. Hoe anders dink jy gaan ek hom laat luister as hy nie wil hoor nie? Die temmer moet doen wat die temmer moet doen. As hy hom dan so groot wil hou, moet hy uit my huis uit. Sorg jý dat die rondawel reggemaak word, hy’s mos nou jóú kind.”
Met ’n digbye bliksemslag het Ou-Sarel sy kind en vrou tesame getref. Ralie het haar man se inbrekery van hul seun probeer versag, maar sy het gefaal. Die skuldgevoel het aan haar geknaag, dat sy haar seun in die steek laat, en so was dit, want in daardie eerste donker nagte was Klein-Sarel buite homself van angs. In die pikdonkerte van die rondawel het hy na sy ma geroep, maar al antwoord wat na hom toe teruggekom het, was die stilte. Soms het hy homself geknyp om te voel of hy nog daar was.
Hy vra ’n kers, maar Ralie sê hy sal die plek afbrand, dat sy te bang is hy vergeet om dit dood te blaas. Een nag kruip die kat by hom in, en toe is dit beter, maar sy ma ontneem hom onwetend ook dié troos. “’n Kat suig jou kop leeg,” sê Ralie. “Dit het my ma my geleer.”
Kort voor lank begin Klein-Sarel bednatmaak, sy ma kan skaars voorbly met die lakens.
Ná die eerste paar dae kom vra Ou-Sarel by die wasgoeddraad: “Wil jy ’n man grootmaak, Vrou?”
Sy het na hom gekyk, niks gesê nie, net geknik.
“Dan moet jy onthou: ’n Man móét meester van sy peester wees,” het Ou-Sarel gesê.
Hier waar sy voor die kombuisvenster staan, kom Ralie agter dat sy wrang glimlag. Oor sy selfs dokter toe was met haar kind, asof medisyne sou help. Oor die dokter wat gesê het: “Dis die gevolg van selfbevlekking.” Sy kry ook lag vir haarself, toe sy onthou hoe sy halsoorkop uitgeblaker het: “Die kind was noggie uit die kot nie, toe speel hy al met sy tottie, Dokter. En sy pa bly sê hy issie van God nie.”
Ralie draai terug na die tafel om die versiersuiker aan te maak. Terwyl sy die suiker en botter meng, wonder sy wat dokter Rens oor Ou-Sarel se uiteindelike plan sou gesê het, want kort daarna het sy haar man een nag hoor opstaan. Hy het vir Klein-Sarel gaan wakker maak, en sy het gelê en luister hoe pa en seun buite voor die venster water afslaan.
“Pa is ’n man. Pa is ’n meester. Pa sal jou help,” het sy Ou-Sarel in kort sinne hoor belowe. Toe kom loer sy deur hierdie einste kombuisvenster. Op die maanverligte werf het hulle daardie nag langs mekaar gestaan. Vandag dink sy dit was seker die naaste wat Ou-Sarel ooit aan pa wees gekom het, en dat haar seun daardie nag verder as ooit van sy pa was.
Toe hulle klaar afgeskud het, het sy gesien hoe haar man vir Klein-Sarel ’n toutjie gee om vir die res van die nag sy voorvelletjie mee toe te bind.
“Onthou, Pa hou jou dop, my kind.”
Nag vir nag het Ralie skelm die opgeblaasde ballonnetjie gaan afblaas. Net om weer soggens, voor haar man opstaan, die strikkie te gaan maak. Sy het geleer hoe om lakens skelm te was en sonder son droog te maak. Totdat Ou-Sarel trots verklaar het: “My seun is meester van sy peester.” Toe het sy gedink die inbrekery is eindelik klaar. Maar sy was verkeerd.
Vandag weet sy dit was toe nog net die flits van weerlig. Die dag van die mossies moes nog kom. Maar sy wil nie nou daaraan dink nie. Sy gáán nie daaraan dink nie. Dit was tog haar kind se eerste skooldag ook. Daar was ook mooier dinge. Dae is nooit net sleg nie. Elke dag is die Here se maaksel.
Ralie begin vir Marja van Klein-Sarel se eerste skooldag vertel. Sy wil hê Marja moet hom as ’n klein seuntjie kan sien, tassie in die hand, hoe selfversekerd hy daar by die hek uit is, hoe opgewonde hy was toe hy van die skool af terugkom. Dalk maak dit haar eendag ’n sagter vrou teenoor hom.
Sy onthou hy was nog ver, toe begin hy al praat. “Ma! Ma, ons het kringe en kringe en kringe getrek.” Met elke kring het hy sy armpies wyer oopgeswaai. Met hulle op hul wydste oop was hy by haar. Hy het haar ’n drukkie gegee.
“As ’n mens met hom reg werk, gee niemand lekkerder drukkies as my Sarel-kind nie,” sê Ralie vir Marja. “Mens moet net nie bes gee nie.”
Wat sy nie vir Marja vertel nie, is hoe haar seun sy armpies laat sak het toe hy sy pa hoor roep. Daar was geute wat skoongemaak moes word, want dit was ’n jaar met ’n een in. In jare met ’n een in reën dit groot, en mossiemis in drinkwater maak siek.
Ralie onthou dit asof dit gister was: Die arbeider wat die mossiekuikens afgooi, een vir een. En haar man wat op die stoep die spulletjie staan en dophou. Hoe haar kind rondspring, die een ná die ander kuikentjie doodtrap; huil; stop; opkyk na waar geen hulp vandaan kom nie, want sy wat Ralie is, het net daar gestaan, asof versteen. Lot se vrou. Al wat oor haar lippe kom, ’n gestamel oor “twee mossies vir ’n stuiwer” en “die Here alleen weet”.
Ralie vertel ook nie hoe haar seun, skaars twee dae later, vir haar ’n dooie kwik-kwikkie gebring het nie. Hy het die voëltjie self geskiet. Tóé het sy dit nie verstaan nie, maar vandag weet sy: Haar kind het daardie dag sy gewete gaan doodskiet. Dit is wat hy vir haar met die dooie kwik-kwikkie wou kom sê het. Dat die tyd vir jammer voel vir kuikentjies vir goed verby was.
Waar sy nou na sy gevloek bo die vloedwater luister, huil Ralie in haar binneste. Haar kind hoop op niks meer nie, dink sy. Sy kon hom tóé nie help nie, en sy kan hom nóú nie help nie. Sy dink by haarself: Vir die seerplekke aan my seun se gees is daar nie genesing nie. Ek plak pleisters oor ’n nege-oog-pitsweer. Soms lyk dit beter, maar die sonde van die vaders lek soos sweersel by my pleisters verby, tot in die duisendste geslag. Ek weet dit. Vir my kind is my liefde net ’n nikswerd salf. Sy vel laat niks meer intrek nie, sweer alles uit.
Dít is wat Ralie besef: Die gee van liefde alleen is nie genoeg nie.
Daar in die kombuis laat sak sy haar kop en hoor weer hoe haar seun sê: “Ma, ek kan nie vir Ma lief wees sonder om vir Pa te haat nie, Ma.”
Sy voel lus om die vloed in te hardloop. Sy wil haar kind gaan haal, vir hom sê: Dis nie wat Ma wou gehad het nie, my seun. Maar haar voete staan asof sy geplant is, want sy weet dis te laat. Daardie eerste mossies het soos ’n klip in haar kind se dam geval. Wat sy vandag hier deur die venster sien en hoor, weet sy, is die nagevolge wat kring en kring en kring.
Die ergste is, dink Ralie, sy pa is reg. Sagtheid deug nie in hierdie wêreld nie. En liefde kan nie hard wees nie.
Sy sug. “Die hele Groot-Karoo loop vandag deur sy kleintjie af,” sê sy vir Marja. En dink: Nes my man deur my kind. Bly geen keerwalle op hierdie plaas dan ooit staan nie?
Ralie staan agter Marja. Sy hou die stygende water dop en voel die angs in haar styg. Sy begin saggies sing. “Stromen van zegen.” Elke keer as dit vir haar lyk of die stroom Klein-Sarel ’n entjie aanspoel, druk sy Marja nog ’n bietjie stywer vas. Saam wieg hulle vorentoe, agtertoe. Wanneer hulle nie mooi kan sien wat aangaan nie, lig hulle op hulle tone. Sien hulle wat aangaan, deins hulle terug op hulle hakke. Van hak tot toon, toon tot hak, wieg hulle saam met Klein-Sarel in die vaalbruin vloedwater. Hulle koes saam met hom vir elke boomtak wat verbykom. Saam met Victoria, bamboeshaak in die hand, strek hulle om hom te probeer help.
Eers toe haar man se benoude uitroepe deur die agterdeur inkom, draai Ralie ’n oomblik haar rug op haar kind. Aan die ander kant van die werf staan Ou-Sarel kniediep in die modderwal van sy nuwe dam. Maar Ralie kom nie tot by die agterdeur nie. Die kombuistafel keer haar voor. Sy gryp haar tafel met al twee hande vas, pleit fluisterend om genade by Jesus, vir haar kind, vir haar man, vir haarself, vir almal op Vrede. Sy bid God se redding af na links en na regs. Aan die een kant hang haar man se lewe van die pappery van ’n modderwal af. Aan die ander kant staan haar seun in die systroom van ’n vloed. Bý haar is ’n dogter in smart.
Toe die stroom vir Klein-Sarel vat, is Marja alleen voor die venster. Net sý sien hoe Victoria hom net betyds met die volstruishaak aan die kraag uit die water sleep. In ’n oogwink, sodat sy agterna wonder of dit regtig gebeur het. ’n Oomblik lank het dit vir haar gelyk asof Klein-Sarel self sy lyf laat skietgee het, dat dit nie die water was wat hom gevat het nie. Dit was te gou verby om seker te weet, maar die beeld bly haar by.
Toe Klein-Sarel eindelik by die kombuis inkom, wikkel Ralie hom dadelik toe in die warm handdoeke wat sy vroeg al in die louoond gesit het. Sy sit haar arms om hom en probeer hom vashou, soos sy vir Marja vasgehou het, maar hy skram weg. Dus laat sy hom los en begin vir hulle van die kos opskep.
“Ma blaas solank jou sop vir jou koud, dan vat jy eers vir Victoria ook ’n bietjie.”
Ralie en Marja sien hoe hy hom vererg. “Ma hoef nie my sop koud te blaas nie. Ek is nie ’n kind nie,” sê hy. “En ek dra nie goed agter ’n meid aan nie.” Skielik klink hy soos sy pa.
“Ek sien hardegat wip oor klipgat,” kap Marja na hom. Sy skrik toe die woorde uit is. Dit gebeur al hoe meer dat woorde sommer by haar mond uitval.
Klein-Sarel vat tog die skotteltjie by sy ma aan. Dit lyk asof hy nog iets wil sê, maar dan neem hy gedweë vir Victoria haar sop.
Toe hy terugkom, laat hy toe dat sy ma hom nader trek. Sy lig haar hand en vryf oor sy kop.
“Marja het my vandag jou lewe van God help afbid,” sê Ralie saggies vir hom.
Ná ’n lang ruk sê Klein-Sarel: “As iemand jou red . . . en daardie mens vat later jou lewe. Dink Ma dit bly dan nog moord, Ma?” Toe Ralie nie dadelik antwoord nie, gaan hy voort: “Van die mense sê so. Ek wil nie hê my lewe moet aan iemand anders behoort nie, Ma.” Hy kyk na Marja. “Maar as dit dan moet, haak my eerder soos ’n volstruis uit vloedwater.”
“Genadetjie tog, my kind.” Ralie sukkel om die woorde uit te kry. “Waaraan dink jy nie als nie? Moet dit tog nou net nie vir jou pa loop staan vra nie.”
Hulle bly beteuterd om die tafel sit. Nie een praat meer nie. Toe Ou-Sarel, nat en vol modder, by die agterdeur inkom, sê ook hý niks nie, hou net reguit deur na waar sy buurman lê.
Die drie om die tafel weet nie wat in die voorhuis gebeur nie. Hulle ruik net die soet van laventel wat met die reuk van die brandende suiker vermeng.
Toe Ralie later vir haar man ’n beker waswater vat, mompel hy iets, maak die waslap nat en vee net die nodigste plekke af. “Ek het vandag genoeg water vir ’n leeftyd gehad,” sê hy.
Die waswater wat oor is, verdeel Ralie gelykop in twee bekers. Sy gee een van die bekers vir Klein-Sarel sodat hy hom in die buitekamer kan gaan was. Vir Marja bad sy self, voor die hitte van die koolstoof. Sy vryf Marja se lyf met ’n growwe waslap, saggies, soos oor ’n seerplek; druk haar dan versigtig met die handdoek droog. Dan stook sy die stoof en maak vir hulle ’n kermisbed op die vloer.
Toe Klein-Sarel terugkom, vou sy haarself styf tussen die twee kinders in en hou hulle teen haar vas totdat die laaste bewe uit hulle lywe verdwyn.
Marja draai eerste haar rug op Ralie en raak aan die slaap. Nie lank daarna nie woel Klein-Sarel hom ook los en staan op om in die buitekamer te gaan slaap.
Ralie bly met haar leë arms langs haar sye lê totdat haar man roep sy moet kamer toe kom.
“Ek het rus nodig, teëspoed kom in drieë,” sê Ou-Sarel toe Ralie langs hom gaan lê. “Ek sal vroeg die dakke nagaan. Hier kom wind.”