Читать книгу Struisvoël - Johan Fourie - Страница 9
HOOFSTUK 6
ОглавлениеVanoggend lê ek hier en wonder oor die paaie wat mens so deur jou lewe stap. Toe ek klein was, was die bult voor my ma se huisie ’n berg. Toe word ek groot, en ek sien dis net ’n koppie. En toe ek op ’n dag dink: nou is ek ’n vrou, toe is daardie ou koppietjie skielik weer die steilste bult, maar meer so vir my hart as vir my voete. Elke keer as ek met my oë en ore moes dophou wanneer Sarel dalk na my toe aan’t komme was.
Toe vat ek die pad deur die poort waardeur Ma na Vrede toe afgedraai het. Vir wie van ons twee sou dit die nouste gewees het? wonder ek. Vir Ma, swanger en alleen te voet? Of vir my in die perdekar, die nag van Wieskris se geboorte?
Ek het nog verder gedwaal. Deur die poort en in die Langkloof af, op die pad waarlangs my ma se mense, die verhongerde Xhosas, gevlug het, Kaap se kant toe. Was die kloof vir Ma, met my in haar maag, langer as wat dit vir my was, in Klein-Sarel se lorrie? Die dag toe hy my op haar spore wou terugneem, my halfpad wou gaan wys waar ek vandaan gekom het.
As ek nou so dink, wou ek eintlik iets anders geweet het. Watter gelowige het eerste die pad na Nongqawuse gekry? Dis wat. En ná alles: Watter oorlewende het eerste van háár pad afgedraai? Ek sou graag wou geglo het dit was Ma. Maar daai paaie was maar altyd vir my te ver om behoorlik na te loop; in die donkerste donker van Vrede se grot kon ek hulle maar net versin. Ek hoop ek het dié geskiedenis nou vir goed uit my kop. Ek het nie meer tyd oor om aan verbeel af te staan nie.
Eendag, nie te ver terug van nou se oudag nie, het ek in die kombuis gekla oor ek so swaar beginne loop. Marja sê toe ek moet ophou om oor voete te kla, die swaarste pad is die pad van die kop. Hoe het sy nou weer gesê?
Sy het iets gepraat van háár langste pad, wat op die oog af kort was. Sy kon dit inderwaarheid presies vir my sê: vier-en-sestig treë. Nee, sy het hulle nie self geloop nie. Dit was haar ma se treë, het sy gesê, Ma-Ria se treë wat sy daardie dag tussen Vrede se tuinhekkie en die stoep getel het; die dag toe haar pa halfbegrawe is, toe sy oor haar pa en haar ma moes dink. Dít was die langste pad wat sy moes stap, het sy gesê, want dit was ’n pad wat voete nie kon loop nie.
Noudat ek ook meer op koppaaie as op voetpaaie loop, verstaan ek dit goed. Ook vir mý was die dag ná haar pa se dood ’n groot dag. Dit was my eerste in Vrede se kombuis. Daarom kon ek vir Marja sê: Ek het jou ma miskien nie, soos jy, daardie dag oor die werf sien aankom nie, daarvoor was ek te doenig voor die opwasbak, maar deur die kombuisvenster kon ek haar baie goed hoor.
Dié Ma-Ria was vir jou ’n anderster een. Nooit het ek weer iemand só gehoor treur nie. Die geluide wat uit haar mond gekom het! Dit was soos ’n bitter lied op die soetste wysie. As daar nou één is wat kon sing-sê . . . Ek moet bely: Ek hét later deur die venster gaan loer.
Die hond blaf vir die mies erger as vir ons? Dalk is dit die swart rok?
Haai! My ore kan soet próé! Of is dit net die bekertjie koffie van mies Ralie wat so lekker is? Nou weet ek hoekom Ma altyd gelag het oor wit mense dink ons drink almal dubbelsuiker. Kry ons seker jammer oor ons swart is. Maar hoor net daar . . .
“. . . een Roosje van Saron . . .
“. . . een lelie der dalen . . .
“. . . nardus sijnen reuk . . .
“. . . mijn Liefste is my een bundelken myrrhe, tusschen mijne borsten vernacht . . .
“. . . my énigste Fourie, Fourietjie, Vúúrhoutjie . . .”
Ek sien hoe vat-vat die oubaas aan mies Ma-Ria.
Mies Ralie, ek sién Mies sien waar die baas vat.
Marja kyk ook. Vir wat tel sy so?
Eerwaarde Baas se gesig is so rooi soos ’n brons volstruismannetjie se skeen. Lyk my hy loer skelmpies vir mies Ma-Ria. Hoor hoe diep brom hy . . .
“Ek vermoed ’n Hoër Hand het u dit op die hart gelê om oor die jare Hooglied so mooi te memoriséér.”
Die eerwaarde baas se “seer” was harder as sy ander woorde. Sou “memori-seer” baie seer wees? Seerder as ’n rooimier se byt?
Mies Ralie dink seker Marja se ore pyn. Sy vat kort-kort aan hulle. Warm klapperolie help vir seer ore. Ma het altyd ’n botteltjie in die huis gehad.
Sarel lyk so alleen daar onder in die land.
Die ander is nou almal op die stoep. Wie sal laaste gaan sit? Almal sit vandag langs mekaar. Ek sien hoe mies Ralie ook land toe kyk.
Hierdie mense praat sonder om hulle koppe te draai. Die eerwaarde baas draai ook nie sy kop nie; sy oë rol darem diékant toe, daai kant toe. Wanneer hy met een praat, praat hy met almal.
Lyk my hulle almal kyk net vir Klein-Sarel en die volstruise. Sou hy my mis? wonder ek. Hy kyk mos heeltyd net vir die voëls.
Daar kyk hy tog nou op, stoep se kant toe. Laat ek nader aan die venster staan.
“Nou hoor nou net ’n bietjie daar. Hoor net hoe vloek –”
“Kinners praat ma’ net wat hulle by grootmense hoor, gehoor, ou man.”
“Broer. Suster. Hóé moet die seun dan nou ook rein bly as hy hééldag met onreine diere werk?”
“Oom . . . Dominee, volstruise is nié onreine diere nié.”
Dit lyk of die grootmense Marja nie hoor nie.
“Dominee, so tussen ons twee Ou Testament-manne, dink dominee Fourietjie sal darem die hemelpoorte in dese omstandighede mog ingaan? Ek meen nou maar, hy’t mos darem nie van ’n onreine dier geëet nie, al het hy dan ook nou gekies om deur een die ewigheid ingeskop te word.”
“Nee, broer Sarel, jy het gelyk. Solank Fourie van sodanige dier nie geëet het nie, voorsien ek nie te groot probleme nie.”
Mies Ralie bly Marja se ore vryf. Dit hou hulle seker warm. Koue is nie goed vir ’n seer oor nie. As my oor die dag geloop het, het Ma my binne gehou.
“Kom, die kos is klaar, als is klaar, alles reg. Kom in, kom tog nou maar in.”
Mies Ralie wys so skeef-skeef hulle moet kom aansit, nes ’n dikkop wat vlerksleep en raas om die honde van haar kuiken weg te keer. Dan draai sy in haar spore om.
“Of nee, nee-nee, wag, ek bring stoep toe, sommer als. Glattie moeite nie; buite eet is ok mos lekker. Nou kan ons mos nie daar binne nie. Waar’s my gedagtes tog?”
Almal het nou klaar geëet. Hulle vat hande. Hoekom sit die eerwaarde baas ’n servet op Marja se kop?
Mies Ralie maak nie haar oë toe nie.
Eerwaarde Baas klink nog snaakser as hy bid.
Mies Ralie vat-vat aan haar kop, asof sy ’n hoed regtrek.
Mies Ma-Ria se hoed sit skuins. Dit lyk nogals mooi so.
“Amen. Amen.”
Hoekom sê die eerwaarde baas twee keer amen?
Daar haal mies Ralie nou die servet van Marja se kop af. Sy vee saggies daarmee oor Marja se mond. Ek dink nie Marja se mond was vuil nie. Dit het nie vir my so gelyk nie.
Die mies pak die leë skottels een vir een opmekaar. Sy gee hulle vir Marja aan. Skottelgoed kom kombuis toe. Na my toe.
“Raai Dominee, net Ralie se koppies is swarter as daardie nuwe kombuismeidjie van ons. Net haar ou ma was swarter as hierdie stel.”
Die baas lag hard, maar dit lyk dan nie of hy lag nie.
“Kan Dominee vandag vir Dominee indink wat van ons sou geword het, as al daai honger skepsels uit die Oos-Kaap destyds hiernatoe afgedraai het? Erger as sprinkane, sê ek vir Dominee. Hulle sou ons hier uitgevreet het. En dit van luister na ’n kli’meid wat haar lyf profetes probeer hou het. Nee kyk, dankie vader Vrede se poort is so nou.”
Dit help nogal as mens mens se hande oor jou ore bakhou, soos mies Ralie met Marja maak. Mens kan lekker speel so: Ek hoor, ek hoor nie . . .
“. . . swart golf . . .”
“. . . oor ons land spoel . . .”
“. . . indring . . .”
“. . . verdring . . .”
“. . . soort by soort . . .”
“. . . grond . . . grond . . . grond . . .”
“. . . Wat van onse kinders? . . .”
“. . . Dankie vader Vrede het ’n poort . . .”
“. . . een swarte . . . een te veel . . .”
“. . . Ek is dalk ’n Vos, maar my ma was ’n nooi Wittemaekers . . .”
Waarom druk mies Ralie nou die kombuisvenster sommerso van buite af toe? Die hortjies ook? Nou gaan ek niks kan hoor nie. Niks sien nie.
Wat het Ma nou weer vertel? Van toe sy die eerste dag hier, onder hierdie selfde stoep gestaan het? Wat het die baas nou weer eerste gevra? Ma het dit mos soos ’n gedig kon opsê.
Ken jy Jesus?
Ek mors nie met kinders nie.
Sal jy kan werk as jy die kind aflaai?
Ek kom vra nie genadebrood nie.
Wie’t jou geleer praat?
Die landdros wat my op sy wa gelaai het.
Is dit waar dat julle ’n paar Engelse soldate gespitbraai het?
Oor stadige kole.
Jy kan die huis agter die bult kry. Ralie, gee vir die vrou kos.
Hier kom Sarel nou by die agterdeur in. Hy’s vroeg om te kom middag hou.
Daar druk Marja nou die deur met haar boude oop. Sy bring die skottelgoed.
Dit was dan die paaie wat my ou kop vanoggend hier in hierdie laaste kooi van my wou naloop. Ek het dit nie so gekies nie. Dit het sommer maar net so gekom.
Hoeveel jare later was dit, toe Sarel my die dag vertel het hoe hý daardie dag gevoel het? Hy het gesê dit was die één dag dat dit nié die volstruise was wat hom so laat vloek het nie. Daardie dag het hy gevloek, het hy gesê, oor hy geweet het wat wag. Hy’t gevloek oor hy geweet het Marja moet seker oor haar ma gevoel het soos hy oor sy pa. Hulle was net mooi omgekeerd, hy en Marja. Toe het hy al geweet: Saam sou hulle nooit deug nie. As sy ma en háár pa eerder saam kinders kon gehad het . . . Hy het gedink dit sou beter gewees het. Veral het hy gewens dat ek nog daar onder by hom in die land was, het hy gesê, dat hy kwaad was oor die dood my kombuis toe kom haal het. Ek dínk dis wat hy gesê het hy gewens het. Maar hy het ook geweet as ek eers voor die opwasbak my staan gekry het . . . Ek sou nooit weer daar wegkom nie.
Al hierdie dinge het hy vir my gesê toe ons al te ver op ons pad was vir omdraai, toe dit te laat was.
Watter pad my kop ook al vat, êrens kom kry ek my altyd maar weer langs Ma, deur die Langkloof op pad. Het die landdros regtig vir Ma op sy wa gelaai? Het die landdros Ma op sy wa genaai? Hy was mos Engels. Wie’s Pa, Ma?
Hier wens ek nou ek kon praat. Ek wil dat Katrien se kli’meid, die een wat nooit vrae vra nie, die dom een, Sêrie, my ore kom toedruk. Dalk sal ek dan my gedagtes nie meer so helder hoor nie. Dan sal ek dalk minder jaloers wees, op Marja, oor sy daai dag darem nog vir Ralie gehad het.
Voel hoe kriewel my kop. Die miere loop die wêreld vol, in een stringetjie loop hulle deur die hele aarde geryg, hier in, daar uit. Net die uitkeersloot is langer as hulle pad. In my drome het dit geen einde nie. Snags, bedags, jaag Sarel my steeds daarin af.