Читать книгу Struisvoël - Johan Fourie - Страница 5

HOOFSTUK 2

Оглавление

Ai, Sarel. Wat weet ek wat Victoria is, nog in hierdie dae? Wat sou ’n ou swart vrou met ’n nat doek buitendien nog wóú weet? Hier waar ek tussen die koel lakens in doodsweet lê. Sekerlik tog nie dat ek my lewe lank maar net die meidjie in jou volstruiskamp was nie, hè, Sarel? Foei tog! Kamstig veilig teen die voël daar agter haar kleinbaas se doringtak. Dalk was dit al die tyd ek wat aan die verkeerde kant van die tak was. Want geskop, is ek geskop. Of wat sê ek?

Hoor ek jou lag, Sarel? Jy was mos nooit een vir lag nie.

Jy moenie dink ek kla nie. Dit voel vir my ek leef maar altyd in ’n ander tyd. Seker maar van al die dinkery. Ek het agtergekom as ’n mens so dink, so sonder stem met jouself geselskap hou, dan klink jy anders. Amper soos dominee Vos altyd wanneer hy gebid het. Onthou jy? Jy’t altoos gesê jy vertrou nie mense wat met jou in hulle bidstem praat nie.

Met myself praat ek deesdae met so ’n bidstem, Sarel. Ek dink ek bid tot myself. Daarom vertrou ek myself nie meer nie. Daarom behoort jy my ook nie te vertrou nie, Sarel. Hotnotsgot wat ek is.

Ek weet jy hou nie van sulke praatjies nie, maar bly nog ’n rukkie. Moet nou nie weer so gou loop soos altyd nie. Dis vir my lekker as jy hier is, al luister jy dan ook net. Toe ek nog kón praat, was meeste van my gesels met jou in elk geval ook maar net in my kop.

Maar vandag moet jy my hoor, Sarel. Hier waar ek lê, in hierdie bed, is ek in die nood. Wee’ jy hoe voel ek? Soos toe ons kleintyd vir jou pa se volstruise koekepanblomme van die garingbome afgekap het. Die voëls het mos heeltemal jags geword van snoep agter daai blomme aan! Brom-brom, al bronstig in die rondte. Nes mens word van malpitte. Onthou jy?

Ek weet nie of ek banger was met jou daar bo op die leer en ek wat vashou, of andersom nie. Wanneer ék die slag bo was, hoog in die lug bo die spiesblare van die garingboom, het jy mos alte graag die leer gewikkel. Andersom het ek weer nooit geweet waar jy van daar bo af die volgende blom gaan afgooi nie. As die koekepan hier onder digby my bene land, sou die volstruise daarop afstorm, op mý afstorm. Was jy nooit bang ek laat los die leer nie, Sarel? Of het jy maar altyd geweet ek sou my lewe lank so aan jou bly vasklou?

Só rof het dit party dae gegaan, daar by die garingbos, dat ek gedink het ons speel Watter-dood-kies-jy? – ’n volstruis se skop, of ’n garingboomblaar deur jou krop? Vandag, hier in my bed, is ek weer doer in die lug, hoog bo die garingboomblare, Sarel. En ek weet jy het klaar die leer laat los. Want my kop val. Vandaar my nood.

Maar genoeg eers van dié swarigheid. Ek wonder wat Katrien en kroos sal sê, hulle wat Marja so duur betaal om hier by my te waak, as hulle hoor hierdie antietjie dink nog aan naai!

Ai, Marja, ’skuus. Ek sien nou eers jy’s ook hier. Ek weet jy hou nie van growwighede nie, maar voor jy nou weer vir my begin preek, onthou: ’n Stom tong is glad; hy gly sonder swarigheid oor sulke ou woordjies. En kyk, het jy vir my en Sarel darem lekker laat lag! Ai. Daardie dag toe ons hoor jy dog eers naai is Engels!

Ag, hoor hoe roggel die ou bors – is mos nie meer lag gewoond nie. Klink dit nie vir jou ook kompleet soos Sarel se long nie, Marja? Asof ek saam met hom in die nat streepsak was daai dag. En dit oor naai.

Nee wat, ek sê weer: Deesdae is ek elke woord gewoond. Of amper elkeen. Dis net my eie naam wat nog ongemaklik lê, op my tong én in my kop. Verbeel jou! Victoria Regina. Mierkoningin. Ga!

Sien jy, Marja? Hier, in hierdie wit kooi, waar jy jou bediendes my lewend laat uitlê het, hierso lê ek nog altyd – die lakens gevlek met als wat uit ’n oumenslyf kan lek. Alles behalwe woorde. Ek sóú seker nog iets kon gesê het, as ek wou. Ek is die eerste om dit te erken. Maar ek bly liewerster stil. Ek is stil omdat ek stil wíl wees. Ek het lankal ophou praat net om te wys ek haal nog asem. Jy sal dit verstaan, Marja, dalk die beste van almal. Het jy dan nie self so geskryf nie, in een van daardie boekies van jou? Niks sê, issie niks weet nie; niks sê, issie als weet nie – maar niks sê laat ’n mens allerhande anderste gedagtes uitsweet.

En hier sweet ek nou – op jóú matras en jóú kombers. En dáár lê die ding, Marja. Dáár lê die ding. Maar ek moet seker dankbaar wees.

Verstaan jy wat ek probeer sê, Marja? Ek hoef tog mos nie meer al dié dinge vir jou uit te spel nie? Jy was mos die slim ene van ons. Nee wat, ek gaan nie meer baklei om gesê te kry wat niemand in elk geval wil hoor nie. Voor die dood word alles onsêbaar, en dis nog swaarder as praat. Ek wens ek het jou boekies gehad om in te skryf. Ek wens ek kon skryf totdat daar niks meer oorbly om te sê nie, behalwe Ka! Ka! Ka! lag outa Tom.

Onthou jy dit, Marja? Die eerste sinnetjie in jou ou skoolboekie, die een waaruit jy my geleer lees het, wat ek nooit self mag vasgehou het nie, die blaaie wit, ek swart. Ek het later self geglo ek sou die blaaie vlek. Ai-ai. Wens jy nie ook partymaal jy kon kies wat om te onthou en wat om te vergeet nie? Dat mens met so ’n lekker laggie – ka! ka! ka! – jou kop kon skoonmaak, nes jy altyd alles wou skoonmaak. Mies wou mos alewig net alles bleik.

Wee’ jy, ek ruik nog daai skoonmaakgoed van jou, so goed soos gister. Soos die dag toe jy kom kyk het of Katrien-hulle my darem goed versôre, die botteltjie ontsmetgoed, soos altyd, reg in jou handsak. Ek het jou daai dag so jammer gekry, Marja. Jy sal my nou seker nie glo nie, maar ek wou jou glad troos. Ek weet dit kon nie vir jou maklik gewees het nie. Om hier, in hierdie huisie te kom sit, al het jy my kamer destyds so mooi laat regmaak, blokkiesvloer en al.

Maar al wou ek ook, ek kon jou nie help nie. My kop was te oorvol van wat was, my lyf verstop van al die basaartafels se oorskiet wat jy so getrou gekollekteer en vir my gestuur het. Niks kon meer uit nie. Net woorde kon nog in. En ek het gedink: my ore, ja, my ore. Dis hulle wat ek tot op die laaste gaan behou.

Ek het daardie dag, toe jy deur my kamer gaan, jou woorde gevolg soos broodkrummels langs ’n verdwaalpad. So blind soos ek toe al was, ek kon weer al my ou goedjies sien, want jy het oor elke ding iets te sê gehad. Later het ek jou selfs die vloer se houtblokkies hoor tel, gehoor hoe jy op honderd twee-en-dertig dankbaar sug oor die ewe getal.

Ek het geweet jy sou die witter blokkies, daar in die omte van die nagstoel, nie kon oorsien nie. Daar waar my ou blaas my hoeveel keer in die steek gelaat het. Toe ek die ammoniak ruik, wou ek jou paai. Rustig nou, Marja. Onthou: Jy’s ’n mies. Wat maak ’n paar pievlekke op die blokkies in ’n ou meid se kamer tog nou saak? Om ’n paar houtblokkies te ontsmet, reinig nog niks nie. Wil jy regtig voor ’n nagstoel op jou knieë gaan? Ontspan, wou ek sê. My vloer is maar nes ek: kol-kol gebleik. Kom, kyk liewerster na my. Tel eerder my asemteue.

Nee wat, Marja, al betaal jy ook hoeveel bediendes en al koop jy ook hoeveel bottels ontsmetgoed: Dié kamer is een groot piepot. Net die dood kan dit leegmaak. Nes my kop. Nes joune ook maar. Maar troos jou daaraan, nagstoel of dagstoel, in hierdie kleinhuisie maak dit nie meer saak nie. Die neus is genadig. Reuk se god is goed; dit maak gou-gou vrede met als. Toe ek my kom kry, toe ruik alles na niks en niks na alles; uitgang en ingang om’t ewe. Net my kop bly stink. In my kop vrot alles: huis, paleis, pondok, varkhok. Marja, hoe stywer jy my lewensjas se knope help aanwerk het, hoe losser het Sarel dit getorring.

En Sarel, laat ek jou nou iets vertel: Marja was skaars met die pie-blokkies klaar, toe kom ou Katrien in en maak verskoning namens my, oor ek self kwansuis soos perdestal sou ruik.

Maar Marja het vir my opgekom, hoor. “Nee, Katrien,” het sy gesê, “dit kan ek van Victoria getuig: Van julle almal was sy die skoonste wat ooit by my gewerk het.”

Net dit, en die ongeskikte meid was stil. Ek kon sweer ek hoor haar later onder haar kieliebakke snuif!

Ag, maar dit nou alles daar gelaat. Kom. Staan nader, julle twee. Weet julle waar kuier ek deesdae die meeste? Nee, nie in die grot nie. Ek kuier op die stoep. Ja, sowaar. En ek sit net waar ek wil, tot op jou pa se stoel, Sarel, sommerso tussen julle almal. Partykeers loop ek oor die werf, daar waar ek ’n kind was; ’n mens sonder hede, sonder verlede. Soms sing ek vir die berg. Soms verbeel ek my die populierlaning is ’n gordyn wat ek moet ooptrek om weer te kan sien.

Kyk, Marja! Daar staan jy weer. Op jou veertiende verjaarsdag, agter jou pa se stoel. Jy lyk so mooi hier van onder af. Hoekom kyk julle van daar bo af so snaaks na ons? Kleinbaas Klein-Sarel! Hou uit jou tak. Vloek sal nie help nie. Die volstruis gaan my skop, Kleinbaas!

Hoor julle die stemme doer buite? Dis die kinders van die dorp. Hulle kom kuier vir hulle ma’s en pa’s, dis mos Sondag. Luister . . . Is daar dalk bietjie mis vir ons tuin? Kry Ma-hulle nog verniet melk hier op die plaas? Vleis is duur op die dorp. Die lewe is . . .

Elke keer net meer en meer stemme. Maar ek luister net vir die mans. Ek wonder hoe my kind deesdae klink.

Ai, my seun. My Wieskris. Hoe lank is die verlange al wat jou ma voel? Lank al, sê jy? Maar lank is mos nie ’n tyd as dit by ’n mens se kind kom nie, my seun. Lank al is die verlang. Lank al is soos Sondag – ’n gevoelentheid. Lank al is die tyd vandat ek jou moes laat gaan. Maar netnou maar nog was jou geboorte. Als so verkeerdom soos ’n volstruis se knieë!

Sarel, dink jy hy’s al grys, die klong van ons?

Toemaar. Jy hoef nie te antwoord nie. Wag. Voor jy nou weer weghol . . . Jy het nie dalk nog vir my ’n paar rosyntjies nie? Daar in jou meelsakonderbroek. Ou vrou bly maar lus vir soet. Wil jou nog een keer proe voor die dood my kom haal, seker maar weer kombuis toe.

Struisvoël

Подняться наверх