Читать книгу Struisvoël - Johan Fourie - Страница 7

HOOFSTUK 4

Оглавление

Waarom wil mens tog so graag nog weet watse aardse goed jy als oorhet as die lewe van jou begin padgee, as die dood nader staan?

Ek het dié saak vir my só uitgemaak: Alle goed is leengoed. Mens wil jou leengoed aangee sodat dit namens jou nog ’n entjie kan aanhol. Sodat jy die dood met net jou stof op sy hande los.

Kyk, mierkoningin wat ek was, het ek van aandra nes toe gekén. Maar miere word op die ou end ook maar alles ontneem. Die ou paar goedjies wat ek vandag nog oorhet, hulle kan ek op my tien vingers tel.

1. Jesus Christus

Hoog en droog hang U hier bo my koppenent. Katrien het U hier kom hang. Was seker bang ek spook eendag.

Ek het dié dag, toe sy U hier kom hang het, wakker geword van die vreeslike gekap hier bokant my kop. Vir ’n oomblik het ek gedink ek is weer in die grot, dat dit Sarel was wat vir my ’n stalagmiet afkap. Maar toe begin Katrien so tussen die hamerslae deur te praat. U weet mos hoe party mense met U praat? Asof hulle raas. Dat die spoeg so spat. Aan haar stem het ek sommer dadelik geweet dit kan maar net U wees met wie sy doenig was.

Ek het gewag vir die nag. Toe het ek in die donkerte opgesukkel om U vir myself te voel. Dit was die kruis wat U dadelik verklap het. Toe ek verder voel-voel, kon ek maklik die prentjie agter dié blinde oë maak: u kop gekantel, doringkroon, bloedtraan in die sy, doek, knoppies vir spykers, knoppies vir oë, voete oormekaar gekruis, twee ore, tien vingers, tien tone. Wie dan anders?

Nou het ek u dorings al glad gevoel. Dis nie asof ek glo nie. Om die waarheid te sê, eers wou ek U nie hier in my kamer hê nie. Ek wou nie ’n ander man se seun hê nie; ek wou my eie een weer hê. Ek het vreeslike goed in my kop gepraat, U menige nag kruis en al van hierdie muur probeer afruk. Toe het ek nog gehoop.

Dit was Ralie wat hier, in my kop, vir U kom intree het. Die dubbelgeit van u naam het mooi geklink in haar mond. Ek hoor haar nog: Jesus Kristus (sy het mos altyd Kristus gesê, soos Kristoffel). Ter wille van haar sal ek selfs ’n god verdra. Sy het my mos laat warm bad. En haar kerk was ’n boom; dit het nie deure gehad wat op ander kon toeklap nie. So, nou hang U maar nog altyd hier bokant my kop. Bokant hierdie bed, waarin ek gedagtes stook.

2. Bedkassie, bo-op

Koerantmatjie, patrone uitgeknip. Ek voel die sirkels, blokkies, diamantjies; randjies van golfies en tandjies. Dis seker Die Oudtshoorn Courant. Ek wonder wat daarin staan. Wonder wat is uitgeknip.

Kers en blaker, sonder vuurhoutjies. Netnou steek die ou vrou haarself nog aan die brand. Kyk wat het sy met die pop gemaak.

Ralie se Bybel: swart leeromslag, die bladsyrande rooi gekleur, met lint toegebind.

Ma-Ria se ou begrafnisalbum vir Fourie; goue blaaie, lyk meer soos die Bybel as die Bybel self. Tussen hierdie blaaie lê daar niks nie. Tussen hierdie blaaie lê my als. Wat in hierdie album is, hoort nie op ’n lysie besittings nie.

3. Bedkassielaai

Pille in botteltjies.

Bottel kasterolie, met miere gepak.

Koekie seep, nog in papier.

Skêrtjie vir my naels.

Poeier vir oraloor.

Bekertjie vir tande.

4. Bedkassie, onder-in

Twee skoene – velskoene, breed genoeg vir bunions.

5. Wastafel met gebarste marmerblad

Geblomde enemmelkom en -beker; blikgoed, armmans-erfgoed.

Behekelde handdoek oor die beker, word gereeld uitgeskud.

Mooi koekie seep in bakkie, kurkdroog.

Spesiaal behekelde waslap, opgevou langs mooi koekie seep.

Waslap aan sykantreling, nat.

Handdoek aan anderkantste reling, klam.

Voor ek verder gaan, laat ek net eers sê: Die wit vrou wat af en toe nog haar lyf hier kom sendeling hou, is tog só opgemaak met my kom en beker; mens sou sweer sy het in haar huis nie ’n kraan wat sy maar net kan oopdraai wanneer sy wil nie. Sy sê sy sal haar siel verruil vir so ’n stel soos myne. Sy het glo ’n outydse spaarkamer. Ga! Ek dink ek moet haar dit laat erf. Twee mossies vir ’n stuiwer, een siel vir my waskom en beker.

6. Hangkas, bo-in

My sakkie. My kosbaarste. Toe ek snags nog skelm kon op en uit, my arms nog hoër as my kop kon lig, het ek dit elke nag gaan afhaal, dit hier onder die kombers warm teen my bors gehou. Maar dit is nou ook al weer tóé.

Ekstra kombers.

Koekblik met takbok op die deksel. Soms haal Sêrie, dis nou Katrien se dommetjie, die blik nog af, asof sy nie wil aanvaar niemand wil my meer koek voer nie. In die begin het Marja mos al die soet oorskiet van basaartafels gekollekteer en dit vir hierdie hondjie onder die tafel gestuur. Nou prop die jong boervroue alles sommerso deurmekaar in die blik. Destyds het Marja besluit koek is nie gesond vir my nie. In plaas van koek het sy vir my Sarel se bedmatjie gestuur, glo bang ek kry ’n kou. Dié ou bietjie wraak gun ek haar. Niks daarvan maak tog nou meer saak nie. Ek weet goed, dit het eintlik oor haarself gegaan, oor sy self nie kon eet as verskillende kosse op haar bord aan mekaar raak nie. En die ou matjie . . . Ag, selfs al kon ek vra, sou ek dit nie eers laat was het nie.

7. Hangkas, hanggedeelte

Twaalf oorgetrekte hangers.

Twee nagrokkies.

Klink vir my soos iets uit Marja se Bybel, iets wat wag op vermeerdering.

8. Hangkas, twee laaie

Doeke links. Doeke regs.

9. Nagstoel van stinkhout

Mens sou sweer stinkhout is witmensgoud. Bo-op sit my pop. Ek gesels nogal baie met haar. Ek kan haar enigiets vertel. Is mos so, nè, Pop?

Pop, ek kan jou miskien nie meer sien nie, maar ek weet jy staan nog maar net daar waar jy altyd gestaan het. Daar op ons twee se troon. Waarheen sou jy tog ook nou kon gegaan het met jou af voetjies?

Onthou jy nog daai vrou van die NG Kerk? Die een wat so sendeling-sendeling wou speel, wat ons twee so eenders aangetrek het; my kappie en sokkies, jou hoedjie en rokkie, alles so eenders gehekel, selfde wol, een patroon. Sý het jou daar in die toiletrol kom plant.

Ek onthou nog goed hoe sy jou voetjies afgesny het. Oor jou bene te lank was vir die gat. Sy het nie daarvan gehou dat die papier onder jou rok uitsteek nie. Dat dít nou die laaste ding moet wees wat ek so deur die vaalte kon sien! Blindheid laat mos nie die oë hulle laaste maal kies nie.

Nee wat, moet jy nou nie met my wil stry nie, Pop. Jou bene was darem regtigwaar te lank. Só gebreklik mooi kan g’n regte mens wees nie. Waar het jy nou al so iets gesien? Middeltjie dunner as bobeen! As daai vrou jou nie korter geknip het nie, was einste bene langer as jou lyf. Ek wonder as ek soos jy gelyk het, Pop. En jy soos ek. Ek dink nie een van ons sou hier gewees het, waar ons nou is nie.

Het ek al vir jou gesê ek’s jammer oor ek gedog het jy’s die kers? Jou hare het mos darem nie te erg geskroei nie, het dit, Pop? Jy’t dan nie eens eina gesê nie. Jy vra waarom ’n blinde lig wou maak? Ek wou nie sien nie, Pop. Maar mens vóél lig. Mens voel dit. En dan kan jy jou dit verbeel. Regtig, Pop. Jy moet my glo. Ek sal jou mos nooit aspris aan die brand wou steek nie!

So van brand gepraat. Wee’ jy hoe warm die werf op Vrede kan bak? Ek het die heel warmste dag van my lewe daar beleef. Die dag toe Sarel se pa hom die mossies so laat vertrap het en ek, kaalvoet, ’n ieder en ’n elk van daai kuikens agter hom opgetel het. My voorskoot was later oorvol en sopnat van als wat uit ’n mossie kan lek, maar ek kon hulle nie halfdood daar laat lê om verder dood te brand nie. Niks behoort twee dode te sterf nie, Pop.

Eintlik sê jy ook maar niks nie, nè, weet jy? Laat my praat en praat, soos ’n malle praat. Dink net hoe moeg ek nou al sou gewees het as ek nog asem gehad het om my sê te sê. Genadiglik praat gedagtes in die lewe al met spookasem. Luglose winde. Kop-poepe.

Jy lag verniet so lekker, Pop. Bly staan jy maar so selftevrede daar op jou stinkhouttroon. Ek weet maar alte goed wat jy onder daai gehekelde sisrok van jou wegsteek. Onthou jy wat daai sendingvrou vir ons uit die Bybel gelees het? Van Jakob en sy geliefde, Ragel? Ragel, wat haar pa se huisgode gesteel en onder haar rok weggesteek het.

“Dit het Ragel haar lewe gekos,” het die vrou in haar dun ou stemmetjie gesê. Asof dit ’n voorspelling was. Asof sy wou waarsku.

Nou’t ek so gedink, Pop. Dalk sit jy ook op so ’n huisgod. Dalk is alle gode soos die een waarop jy sit. Rol af as die nood druk. En die arme gelowiges, hulle wat nog dink hulle kan op hulle god steun, hulle val net daar om. Ek hou my nie stuurs nie, Pop. Ek probeer maar net sê: Ek dink gode kos lewens, gode kos álle lewens, en dan’s hulle weg; dan val ons stoksielalleen om en vergaan net daar waar ons nog dog ons staan. Ons word net ’n rukkie nog in wurmlyfies rondgedra. Dis wurms wat ons die ewigheid indra, Pop. Stof tot stof word ons uitgemis.

Ek hét jou tog mos al vertel waar my ma vandaan gekom het, het ek nie? Van die Xhosas se groot selfmoord, daar in die Oos-Kaap, langs die Gxarha-rivier? Wee’ jy hoeveel ons vandag kon gewees het, Pop? Maar toe stel my volk hulle vertroue in ’n blote kind, toe maak hulle van Nongqawuse ’n profetes.

’n Kind sou tog mos nooit so ’n ramp alleen kon uitdink nie, Pop. Dit weet ek vandag net so seker soos Ralie, wat altyd so versekerd gesing het: “Ik weet het zeker”. Nee, dit was grootmense wat agter als gesit het. Grootmense, wat soos kinders wou glo. Waar was die oudstes? Dit vra ek jou. Was daar dan niemand wat kon dink nie? Of is ons maar almal poppe as dit by gode kom, hè, Pop?

Puur verniet het my ma-hulle die vee geslag, tot die laaste een; die krale en die graan verbrand. Toe als klaar en op was, was hulle stoksielalleen in hulle ellende, geen god of voorvader in sig nie. Net die Engelse oral. Duisende honger mense wat soos sprinkane moes trek. En my arme ma moes vir my ook nog in haar saamsleep, heelpad deur die Langkloof, tot hier deur die nou poort van Vrede.

Verstaan jy nou, Pop, hoekom ek my aan alle gode afvee soos ek my aan jou god afvee? Party dae kan ek nie help om te wonder of ’n god ons geskape het, en of ons skape ’n god gegod het nie. Dis net Ralie wat my nog anders wil laat glo.

Toe die water Sarel daardie dag vat, het ek hoeka gedink dis sy god wat hom daar oor sy liederlike vloekery kom straf. Dood, só swaar het hy aan my haak gevoel. Dit was of hy my hom glad nie kon help uitkry nie. Dit was asof ek met sy god om sy lewe moes toutrek. Ek het gewen. Ons het verloor. Dalk was ék Sarel se hel. Dalk was hy met mý gestraf. Maar die hemel weet: Hy was nie my hemel nie.

Dis ook maar goed jy kan nie praat nie, Pop. Jy laat al klaar my kop met jou niks sê dwaal. Sê nou jy kon aan die babbel gaan? Dit sou nog tien keer erger gewees het. En ek moet nog my lysie klaarmaak. Maar eers wil ek net sê: Blinde oë sien dinge die helderste.

Net gisternag was ek weer op Vrede, die aand van die vloed. Dit was my eerste nag alleen daar in die waenhuis, kind-alleen. Ek was nie bang vir die donkerte nie. Ek was van kleins af gewoond sonder lig. My ma het altyd gesê ek kon slaaploop nog voor ek kon kruip. Maar dit was slagdag. Wee’ jy hoe ruik ’n waenhuis op slagdag, Pop?

Dit het vir my gevoel of daai afkop bees, daar waar hy aan die haak in die hoek gehang het, net vir mý kyk. Asof hy my kon ruik, soos ek hom kon ruik.

Later die aand, toe Sarel so skielik met ’n kommetjie warm sop en ’n kers daar in die deur staan, was ek nog net so in my nat klere.

Hy het ’n kuggie gegee. “Jy sal ’n long kry,” het hy gesê.

Ek het met ’n hoesie geantwoord.

“Ma stuur vir jou die sop,” het hy gesê. “Die kers behoort ’n hele rukkie te hou.”

Ek kon nie ’n woord uitkry nie, Pop. Al het my tong daai tyd nog goed gewerk, kon ek net nie sover kom om hom ’n vuurhoutjie te vra nie.

“Dan loop ek maar eers weer,” het hy gesê. Ek het gehoor hoe hy die waenhuisdeur agter hom toedruk.

Êrens daardie nag het ek tóg aan die slaap geraak. Ek het gedroom van die vloed en vir Sarel hoor vloek. In die droom het ek saam met die volstruise vir sy modderklonte gekoes. Toe is die volstruise skielik mossies; hy ’n nat kuiken wat reeds een dood klaar gesterf het. Ek het hom in my voorskoot opgetel. En toe skrik ek wakker; verlam, tokkelos op die bors.

Daardie nag het ek geleer om myself vas te hou, Pop. Vandat my ma dood is, het niemand meer aan my gevat nie. Hoe stywer ek myself vasgedruk het, hoe makliker het my kop die banggeit laat los. Toe kon ek weer slaap.

Die son het my dié oggend half binne-in die beeskarkas gekry, daar waar dit gehang het. Nes jy daar in die toiletrol staan. Ek het nie weer geskrik nie. Jy sal dit verstaan, Pop, hoe ek my kon verbeel dat daai bees iemand anders as ek self was wat my vashou. Wonderlik, tog, ’n mens se verbeelding.

10. Honderd twee-en-dertig houtblokkies.

10. Sarel se bedmatjie

Hier is niks meer nie: tien vingers op. Dit is dan nou hoe Marja hierdie ou volstruiswyfie se kampdrade opgetrek het. Ga! Wou mos altyd algar, een en almal, in goed of sleg afkamp. Sý. Asof om al haar ou nietigheidjies so mooi agtermekaar te hou ooit háár groter sorge sou verlig. Hier lê ek nou: netjies vasgevat, reggevat. Huis in orde. Op my merke. Gereed.

Ek het al baie gedink, miskien is Marja se probleem dat sy so graag wil weet wat mens nooit vir seker kán weet nie. Om alles so oor en oor te moet doen, totdat dit reg en tog ook nooit reg is nie. Ek dink nie sy wil regtig tot die ewige dood lewe nie, al het sy in ons kinderdae ook hóé vir ons gepreek. Nes ek nie tot die ewige lewe wil sterwe nie. Nes ek vandag ook weet dat ’n mens eers op jou sterfbed die waarheid oor die lewe kan weet. Waar begin wat. Waar eindig dat.

Ek het gehoor wanneer ’n by sy korf verlaat om te gaan werk, hy net genoeg eet om terug by die nes te kan kom. Dwaal die by, is hy ’n dooie by. Ek dink ons kry by geboorte ook net genoeg krag om tot by ons grafte te kom.

Vandag vermoed ek my lewe lê eintlik buite myself. Eintlik lê my lewe nét buite myself, daar waar ek nie meer kan sien nie. Kyk hoe mooi is Vrede se tuin vanjaar! Ma, jy’s deesdae kompleet ’n kambro. En mies Ralie, jy’s die ene gipskruid, daar langs daai stinkafrikanertjie van jou. Wat sê jy tog nou, Ma-Ria To-Piary, lyk ek vir jou soos donkiedosies? En Sarel, my enigste ou varklelie, ek wil jou pluk vir my kis se deksel. Gun my net nog dít, Marja Roos. Sê my, blom die kanniedood?

Struisvoël

Подняться наверх