Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot - John Miles - Страница 10

3 Johannesburg, 1973 …

Оглавление

Die Vrydag in 1973 toe Tumelo John by die Clevelandse polisie­stasie opdaag, was daar onder sy bagasie ’n bruin-en-swart klei­pot wat sy ma hom saamgegee het.

“Vat dit saam,” het sy gesê. “Ons het niks anders om jou te gee nie, vat dit saam. Ek het ’n broer gehad – jou oom, jy sal hom nie ken nie – hy was so jonk soos jy toe hy weg is Johannesburg toe en ons het nooit, ooit weer iets van hom gehoor nie.”

Dit was ’n ongemaklike afskeid, hy was nooit baie na aan haar nie, maar hy het begryp wat sy wil sê: moenie jou mense vergeet nie, vat dit saam en dink aan ons, jou oupa is lief vir jou en jou ouma het dit gemaak, dis van hierdie grond, die kleigat op Buurmansfontein.

Maar sy kan nie en hy – eintlik bly daaroor – sê sommer: “Dit lyk my julle dink julle gaan my nooit weer sien nie.”

Hy moes maar erg bedremmeld gelyk het, daar in die bedry­wige binnehof van die polisiestasie, ’n groentjie van die plaas.

Op die bank teen die muur het ’n man in netjiese uniform en met ’n selfversekerde glimlag sy koerant laat sak.

“Jy moet Moleko wees,” het hy in Zulu gesê. “Jy’s die een wat by my intrek.”

So, stel ek my voor, het Tumelo John vir Nkosi ontmoet, die groot man wat toe al as konstabel vier jaar diens agter die rug het, met ’n yl snorretjie wat oor die hele lengte van sy bolip span tot verder af om die mondhoeke, iemand met opvallend klein ore, en oë ewe opsigtelik diep onder sy voorkop: die bedaardheid self.

“Kom laat ek jou die barakke gaan wys.” Hy prop die opge­voude koerant onder sy arm.

Die barakke huisves meer as honderd ongetroude polisie­manne. Hier het Tumelo John eers ongeveer vyf weke tuisge­gaan tot tyd en wyl sy opleiding van ses maande by die polisie­kollege ’n aanvang sou neem. Daarna volg ’n verdere verblyf van drie jaar tot hy vroeg in 1977 saam met Busi in Soweto gaan bly het.

Hier het hy ook Sithole ontmoet. En vir Kriek.

’n Kamer soos dié wat hy met Nkosi moes deel, het hy tóé nog nie geken nie, so luuks was dit vir hom. Sy skamel klere in die ingeboude kas sou die volgende dag aangevul word met stelle kakie-uniforms.

Die kleipot het hy met water volgetap en plek daarvoor in­geruim op die ingeboude houtblad reg onder die spieël.

Hy het ’n ruk stil op sy bed gaan sit om weer na alles te kyk. ’n Bed vir hom alleen, ’n kas net vir sy klere. Nkosi se radio het ’n prominente plek op die tafel by die venster ingeneem en op die oorkantste bed het die koerant gelê waar Nkosi dit so effe neergegooi het.

Voor Tumelo John uit is, het hy vlugtig na die voorblad ge­kyk, na ’n berig van ’n man wat die vorige dag in die Johannes­burgse landdroshof verskyn het op ’n klag van crimen injuria omdat hy ’n swart advokaat ’n kaffer genoem het; die man is telkens deur die landdros gewaarsku oor sy beledigende hou­ding in die hof; die saak is uitgestel.

Hy moes wag vir die volgende inname van kadette by die nuwe opleidingskollege vir swart polisiemanne in Noord-Transvaal. Intussen het hy allerlei peuselwerkies verrig om solank een en ander van die roetine by ’n polisiestasie te leer. Nie sonder opwinding nie, want op ’n dag vroeg in Junie is ook hy – so ’n te­kort was daar aan polisie – aangesê om gereed te staan by ’n staaltoufabriek in hulle buurt waar 1 279 swart werkers begin staak het.

“Maak jou reg vir moeilikheid,” sê Nkosi toe die konvooi deur die fabriek se hek ry. “Dis trekarbeiders, jy kan maar sê almal uit Mosambiek.”

Voor ’n gebou met varkdraaddiefwering teen die rye, rye vensters staan drie polisiemanne – een met ’n kort stokkie onder sy arm, ’n kaptein, sou Tumelo John later weet – tussen ander witmanne met blikhoede op. Een wys na die ou mynhoop langs die hostel.

Hulle kry opdrag om te ontplooi en Tumelo John sorg dat hy op Nkosi se hakke bly.

“Staan soontoe, jy staan te naby,” sê Nkosi. “Ek ken hierdie plek. Hierdie ouens vat g’n kak en van niemand nie, maar van­dag gaan hulle hul gatte sien!”

Oral op die mynhoop sit stakers, ook onder die bloekom­bome aan die voet.

Tumelo John vryf oor die punt van sy knuppel, skuif sy pet die honderdste keer reg en kyk uit die kante van sy oë na die dun stokkie van hul bevelvoerder.

Daar word heen en weer geroep.

Die groepie stakers reg voor hom sit op die oog af rustig onder die enorme bloekom. Hulle stuur ’n bierkarton onder mekaar aan. Een kyk half oor sy skouer en roep na Tumelo John in ’n taal waarvan hy geen woord kan onderskei nie. Die staker se houding was egter duidelik en verstaanbaar. Daar was woede in sy oë en uit die ruk van sy lyf kon jy ’n hele rits woorde lees met intense frustrasie voorop.

Hy kyk na Nkosi maar dié staan en raps met sy knuppel – asof hy vlieë verwilder – en praat met ’n ander konstabel. Een van die stakers staan op, drentel ’n ent weg en gaan slaan water af teen ’n ander boomstam.

’n Wind begin pluk aan die bloekoms. Tumelo John kan by tye nie meer hoor of daar gepraat word nie; hy sien net hou­dings van ergernis en gegriefdheid.

“Dit alles net oor R3,00,” kom Nkosi later vir hom sê. “Die ander ouens in die fabriek wat nie in die kampong bly nie, kry nou ’n R3,00-toelaag per maand en dié bliksems wil dit ook hê. Hulle weet natuurlik nie watter gat vreet busgeld in ’n mens se sak nie.”

Daar was dié dag geen konfrontasie nie. Die werkers het die hele tyd in hulle groepies bly rondsit. Bierkartonne is aanhou­dend gelig. Teen die middag het die droë wind al sterker ge­waai. Die stemme was nou heeltemal onhoorbaar. Die geruis van die bloekoms het Tumelo John skoon doof gemaak en die vlae dun mynsand het hom sy oë op skrefies laat trek.

Maar Tumelo John was bly oor sy werk in die polisie. Die beste ding wat nog ooit met my gebeur het, het hy gedink. Elk­een kan nie maak en breek soos hy wil nie, daar moet vrede heers en dis die kant waaraan ’n mens wil wees.

En tog het die dag by hom bly spook. Daar was iets in die stakers se houding wat hom aan die plaas in die Vrystaat laat dink het. Die rustelose manier van sit, waarop bier gedrink word; die uitdrukking in die oë, die gebare. Arme drommels, wat kan jy op dié manier bereik!

Die aand teen slapenstyd staan Tumelo John en water drink voor die spieël. Nkosi het al ingekruip, maar peuter nog aan sy radio.

“Ek hoor daardie stakers kry maar R20,00 in die maand.”

“Wat verwag jy, hulle het nie skoolgegaan nie. Wat kan hulle anders doen?”

“Ek weet wat dit is om arm te wees,” sê Tumelo John. “R3,00 se verhoging is nie so kwaai nie en kyk, hulle wou nie sommer daaroor baklei nie.” Hy skep ’n halfbeker water uit die kleipot en dink aan sy oupa, hy’t ook nie skoolgegaan nie.

“Die fout met daardie manne vandag,” antwoord Nkosi agter sy rug, “is hulle weet nie hoe om die ding aan te pak nie. Dis alles hulle eie skuld. Weet jy, iemand het vir hulle ’n briefie teen die baas se kantoordeur vasgesteek. Dis hoe hulle eise stel: waar­sku die base. Shit! Wat kan jy só uitrig? Daardie soort fabriek het werkerkomitees waar almal oor griewe kan kom praat. Hulle sal nog leer.”

Tumelo John sien in die spieël hoe hy sy kleipot met ’n piering toemaak. Sy oupa het gesien toe hy die kleipot by sy ma vat. “Ek is bly jy gaan weg,” het die ou man gesê. “Die wêreld bly nie dieselfde nie en mense kan nie vir altyd op plase bly nie. Maar, Tumelo, jy moenie vergeet nie, jy is soos daardie kleipot. Kyk hoe bruikbaar is hy, maar hy bly altyd van die aarde, van dit waarvan hy gemaak is. Jy moet dit onthou: al word jy hoe slim, jy bly maar soos ’n kleipot.”

“Simpel Mosambiekers,” sê Nkosi. “Dis nou een ding van ’n witman: jy moet die regte kanale gebruik, my boetie!”

In 1973 was Frelimo aan die baklei in Mosambiek. En Smith in Rhodesië. En vakbonde vir swartes het in Suid-Afrika nie be­staan nie.

Een nag in Augustus, in die holte van sy kamer by die polisie­kollege in Hammanskraal, vlie daar ’n vlermuis bokant sy kop. Hy druk sy kop so diep as moontlik in die kussing, maar dit neem ’n hele ruk voor die verdwaalde soogdier ophou om kruis en dwars wind in sy oor af te klap.

Die volgende oggend dink hy nog na oor die dreigende sen­sasie van die vorige nag, maar met die vreemde gevoel van ’n sensitiewe doofheid asof die vlerkbewegings van binne uit sy kop gekom het en klop om uitgelaat te word.

Tumelo John was onder die eerste swart kadette wat hulle opleiding by Hammanskraal, 40 km noord van Pretoria, gekry het. Die Hamman na wie die nedersetting aan die Apiesrivier vernoem is, het ’n eeu gelede glo hier in die gemengde bosveld van Transvaal ’n staning en veepos gehad.

Die opleidingskollege lê óór die grens tussen die sentrale regering en Bophuthatswana. Voor die lang stoep van die ou ge­bou strek ’n groot oop terrein waar die studente daagliks heen en weer beweeg in ’n verskeidenheid drilpasse, asof hulle daar­mee alle politieke verskille meteens en kragdadig in die grond wegtrap.

Binnelandse rus is hoog op die lys van prioriteite. Die studente maak ’n uitgebreide kursus in infanterie met intensiewe krygs­oefeninge mee. Die opleiding in selfverdediging, geklee in name soos karate en joejitsoe, is ’n aanduiding dat ook die grense na Japan daagliks met die nasionale worstelkuns oorgesteek word.

Dan is daar lesings. In goed toegeruste klaskamers – en Tumelo John moes dikwels teruggedink het aan die armsalige plaas­skooltjie in Senekal se distrik – word kursusse aangebied in Strafreg, Strafproses- en Bewysreg; die Polisiewet word intensief bestudeer en deur sommige van die vensters kon Tumelo John sien hoe dit buite onstuitbaar lente word: tussen die rooibos en raasblare daag die eerste rooi klonte van die koraalboom en kort daarna die vlae wit van drolpere.

Nog nooit het ’n halfjaar vir Tumelo John verbygevlieg soos die laaste 6 maande van 1973 nie. Jou peloton ontplooi, jy dril en word onderrig in noodhulp. Die een dag leer jy hoe om ver­skillende vuurwapens veilig te hanteer, die volgende môre hoe om dit doeltreffend te gebruik. Vir die een toets moet jy leer hoe jy jou medemens in ’n heterogene bevolking moet dien, hoe belangrik dit is om goeie menseverhoudinge tussen alle rasse in te skerp. En buite op die stoep hoor jy hoe die een se­nior instrukteur – sy van was Van Zyl – ’n jongman van ’n ander ras smalend toevoeg: “Jóú mense dink hulle is royal game, nes die kwêvoël: ’n mens mag niks met julle aanvang nie; intussen is daar fokkol tussen die ore!”

Sulke teenstrydighede het Tumelo John opgeval maar geen­sins afgeskrik nie. Hy het wel die aand alleen in sy kamer weer aan die instrukteur se opmerking gedink en toe skiet ’n segging van sy oupa hom te binne. “Die bobbejaan sien wonderlik goed, jy sal sweer hy kyk net mooi niks mis nie, maar die holte van sy eie oog, dit sien hy nie.” En toe Tumelo John daardie dag be­gin lag, het sy oupa bygevoeg: “Dis nie ek wat so sê nie. Dis die oumense, vanmelewe het ek hulle dit baie hoor sê.” En jare na sy opleiding by Hammanskraal sou Tumelo John ook aan dié woorde dink. Hy sou toe ’n ou idioomboekie gaan naslaan en jou werklikwaar, daar staan dit toe opgeteken!

Met die uitpasseer op 14 Desember het ’n generaal Stevens van hoofkantoor hulle toegespreek. Hy het die jong konstabels vermaan om altyd die regte van die individu te respekteer. “Julle moet onthou,” het die generaal gesê, “die allerlaaste stap tot julle beskikking is om iemand toe te sluit.”

Hierna het die kollege se gimnastiekspan sy (later gebruik­like) puik vertoning gelewer en ’n demonstrasiegroep het lig­gaamsoefeningvertonings aangebied op die maat van tradisio­nele liedere.

Tumelo John was nie deel van die demonstrasiegroep nie; ook nie van die gimnastiekspan nie, hoewel hy dwarsdeur sy kursus die beste in sy peloton gevaar het met oefeninge op die houtperd.

Middel Desember van daardie jaar is hy weer terug in Johannes­burg, nou ’n behoorlike konstabel.

In sy afwesigheid is Nkosi bevorder tot sersant en Tumelo John sou voortaan ’n kamer deel met Sithole, ’n gebore Johan­nesburger en iemand wie se familie hom skynbaar nie kon ver­gewe dat hy by die polisie aangesluit het nie (sy broer was mediese dokter in Kanada); ’n besonder stil mens.

Daar het twee briewe van die huis op hom gewag. Hy het die een gulsig oopgeskeur en sy jonger broer se aarselende handskrif herken. Hy word bedank vir die geld wat hy aangestuur het huis toe en dan – koue water oor sy lyf – die mededeling dat sy oupa dood is. “Jy moet huis toe kom! Ons oupa het ons verlaat en getrek in die rigting van die sonsondergang. Waar Modimo is.”

Die brief is nie gedateer nie. Tumelo John het die koevert op­getel: die datumstempel was van 5 maande gelede.

Sy oupa is lankal begrawe. Toe hy loop en voete stamp, toe hy oor ’n houtperd bollemakiesie geslaan het. Kon hulle nie die brief aanstuur na Hammanskraal nie? Hy’t Nkosi gaan vra.

“’n Brief? Jou oupa? Sorry man, ek weet daar niks van nie. Jy moes gesien het hoe dit hier gaan. Jy’t niks om te kla nie. By die kollege word daar gespeel, hier wérk ’n man!”

Hy’t aansoek gedoen vir ’n week se verlof en dit gekry. “Shit, jy’s gelukkig, dis Krismis en jy kry dit wragtig reg! Ek sien jy kan jou saak goed stel,” was Nkosi se kommentaar.

Voor hy weg is, het hy die helfte van sy spaargeld getrek en daarmee by Dion sy eerste kamera gekoop. Hy’t ’n geleentheid per motor tot op Welkom gekry en van daar is hy met taxi’s oor Hennenman tot op die plaas waar die eerste dag hom laat voel het hy moet terugvlug na Johannesburg. Só het die armoede van sy mense hom nou ontstel. Maar sy pa was tevrede: hy self die regterhand op die plaas en nou hierdie geleerde seun van hom met die blink toekoms.

En dan sy irritasie met die uitgerekte drinksessies van die Saterdag af tot Dinsdag rondom Kersfees. En die onsinnige struwelinge tussen sy oom en neefs wat voorspelbaar sou volg. Hier loop die trekkers op diesel en die mense op mieliemeel en bier, het hy in een stadium gedink en die sluiter van sy kamera onder groot rinkink gedruk.

Nie dat hy hom eenkant gehou het nie, dis net dat die buiten­sporige verkwisting van arm mense se swaar verdiende geld hom nou so opval.

Hy het vertel van Hammanskraal en die foto’s wat daar (deur luitenant Sithebe) geneem is, onder almal rondgestuur. Sy pa het goedig geglimlag tydens die volkse gespot van die ander oor die deftige uniform met die bekende seunsgesig wat onder die waardige pet uitglimlag (plus die knewel van ’n vuurwapen). Hy is strikvrae gevra oor voetboeie, sy oom het orent gevlieg en tot groot vermaak van almal hom lomp gesalueer, wat sy pa aangespoor het om familiegrappe van jare gelede oor te vertel.

“Ek sien jy’t darem nog jou kleipot,” kom dit van sy ma toe sy stip na ’n foto kyk wat iemand vroeër die jaar van hom en Nkosi in hulle kamer geneem het.

“En wie is die man hier saam met jou?”

Hy vertel haar en met kenmerkende vooroordeel sê sy: “Ek hou nie van hom nie. Jy moet hom nie vertrou nie.”

“Hy’s ’n goeie ou. Hy’t nou sersant geword.”

“Iemand wat sy vrou sal slaan,” het sy volgehou.

Sy oupa was tussen ander grafte onder ’n olienhoutboom, ’n groter hopie grond as die nog oueres, aan die basis verstewig met enkele plat klippe en bo-op ’n blikbord en kleipotjie, die een waaruit hy by voorkeur gedrink het. Daar is maar min tas­baars waaraan jy jou ’n arm mens kan herinner, het Tumelo John gedink. Hy het geweet die mense sou alles moontlik doen om ook vir hom hier plek te maak wanneer sy beurt eendag kom, hom terugbring.

Hoe troosteloos! En ’n skielike weerbarstigheid het hom laat besluit: dit sal andersom wees, ek gaan nie wag om ook hier toegegooi te word nie, ek sal die oue se gees terugvat Johannes­burg toe, my oupa se houding, sy vreesloosheid en sin vir reg. Sy trots!

Dis tog hoe die voorgeslagte in jou bly voortlewe.

Tumelo John sit op sy bed en kyk na die foto’s wat hy tydens sy verlof geneem het: sy ma en pa by die huis waar hy grootge­word het, sy broers en suster, sy suster se kinders, sy neefs en swaer elk met ’n donkerbruin bottel in saluut gelig.

“Hier’s ’n paar wat ek laas maand van my mense geneem het,” sê hy en buk oor na waar Sithole op sy bed deur ’n tydskrif lê en blaai. Hy’t nog nooit iemand so stil soos sy nuwe kamermaat teëgekom nie, maar dit moet wees omdat hy ’n ongemaklike mens is, soos nou: verleë kom hy regop en neem die pakkie foto’s van Tumelo John en kyk lank en beamend na elkeen, sê na ’n ruk: “Net soos my eie oorlede oupa se mense. In Rhodesië.”

Hy lê sweerlik die polisietydskrif en deurlees, dink Tumelo John, die enigste polisieman, swart of wit, wat soveel aandag daaraan gee. Dit het hom al opgeval hoe die ervare manne dit elke maand vinnig deurblaai en daarna eenkant laat lê. En twee dae later is die snippermandjies vol.

“Wat vir ’n plek is dié Rhodesië? Ek hoor so baie mense praat daarvan.”

Dit lyk of Sithole vir die vraag skrik. Tumelo John staan op en tap vars water in sy kleipot.

“Ek was nog nie self daar nie. Toe ek klein was, het my pa dikwels van die plek vertel.”

Lank en skraal, hare baie kort geknip, spiere wat meer lyf wys van al die oefening op Hammanskraal. En ’n uitdagende glimlag. Tumelo John bekyk homself in die spieël wanneer hy die waterkruik op sy gebruiklike plek staanmaak.

“En jou oupa,” vra hy, “het jy hom dan nooit geken nie?”

“Nee.”

In die spieël sien hy hoe sy kamermaat die stapeltjie kiekies nog ’n keer deurkyk, asof hy môre daaroor toets moet skryf. Dit lyk nie of Sithole iemand maklik sal vertrou nie.

“Hierdie swaer van jou, is hy nie van Rhodesië nie?”

“Nee, in Swaziland grootgeword.”

Twee aande gelede was Tumelo John op aandskof en hy moes so teen agtuur saam met Kriek uit in die vangwa om ’n twaalf­jarige seun na sy ma te neem waar sy in die kombuis van ’n manshostel daar naby werk. Die kind het die middag laat op die binnegoed van drie geslagte beeste langs ’n mynhoop vlak teen die hoofpad afgekom. (Hy’t hom koud geskrik, gedink dis vermoorde mense en het reguit na die polisiestasie gehol.)

“Die beeste sal gesteel wees,” het Kriek met stelligheid gesê.

Kriek, bietjie ouer as Tumelo John, is ’n gawe ou, vertel al­mal, mits julle oor die weg kom, natuurlik. In die polisiehostel het Tumelo John gehoor Kriek is onlangs met R20,00 of 20 dae beboet; hy het in die hof toegegee dat hy ’n swartman gearres­teer het bloot omdat die man “nors en bombasties” was. Kriek moes glo ’n klag van diefstal by ’n firma ondersoek. Met die intrapslag het hy die swart voorman uit die fabriek laat roep om te ondervra en toe dié onvriendelik was, hom sonder versuim as verdagte gearresteer. In die hof het die swarte gekla oor die boeie so styf om sy gewrigte vasgeklamp was. Toe Nkosi die storie aan Tumelo John en ’n ander groentjie vertel, het hy so hard begin lag dat Tumelo John hom moes vra waarom hy lag.

“Shit, stel jou voor,” het Nkosi gesê, “stel jou voor dat Kriek jou sagkens boei!” en die trane uit sy oë gevee.

Op pad terug naby die staaltoufabriek waar daar die vorige jaar die staking was, kom hulle af op ’n dronke verder heen as wat sy voete hom kan dra. Kriek blaas toeter en die vent lyk of hy wil omdraai, maar as hy sy voet wil gebruik, is dié om die een of ander rede nie tot sy beskikking nie en hy slaan voor hulle in die pad neer.

“Daai zool word opgelaai!” beveel Kriek en Tumelo John klim uit. Hy’t dit al by die polisiestasie hoor sê dat om ’n inkapabele dronke behoorlik te behandel, jy hom eers met die skoen toets om seker te maak hy kan jou nie te lyf gaan nie; dan draai jy flink jou rug, pak hom stewig aan die voete en sleep. En jy “dop hom om” in die vangwa.

Tumelo John keer die man om op sy rug, sy klere is in repe, sy gesig middeljarig en met ’n kwota vorige letsels. Hy buk af (hy kon my oom gewees het) en pak die vent onder die arm­holtes en sleep hom agteruit na die vangwa waar Kriek reeds die deur oop het en met sy flitslig straataf speel.

“Moleko, jy sukkel ook maar, nè?”

Skaars het Kriek dit gesê of die dronke gooi op skuins oor sy eie bors en bo-op Tumelo John se skoot dat Kriek dit uit­dawer van die lag. Hy pluk die dronke self orent en saam stoot hulle hom oor die vloer van die vangwa.

Tumelo John kyk af na sy uniform en Kriek laat sy lig op die gemors val.

“Dit sal jou fokken leer om hulle nie aan die kopkant te sleep nie! Nou kan jy ook agterin. Ek laat nie so ’n suur bliksem saam met my ry nie.”

By die polisiestasie word die dronke eers in sy sel geboen­der, dan staan Tumelo John ongemaklik met sy besmeerde klere rond asof hy pas in die openbaar op ’n daad van selfbevlekking betrap is. Op Kriek se “Nou kan jy die vangwa loop was”, het Sithole tot sy redding gekom. Hy het sonder om iets te sê die vangwa skuins gaan parkeer en met ’n straal water uitgespuit sodat Tumelo John hom skoon kon gaan aantrek.

Sithole het die foto’s eenkant gesit, tel weer sy polisietydskrif op.

“Jy weet,” sê Tumelo John, “ek weet nou wat beteken dit as hulle sê die linkerhand weet nie wat doen die regterhand nie.”

Sithole kyk hom vraend aan.

“Daardie dronk ou nou die aand, hy het gouer oor sy baba­laas gekom as oor hoe rof ons hom behandel het. Maar op Hammanskraal het hulle ons geleer elke mens het sy regte, ont­hou jy?”

“Jy klink nou nes my pa,” sê Sithole ergerlik en tot Tumelo John se verbasing. “Die man kan op niks aanspraak maak nie. Hy’t te veel gedrink. As hy nie so behandel wil word nie, moet hy leer om hom nie te besuip nie.”

“Ja man, ek weet, ek weet. Ek hou self nie van ’n gesuipery nie. Maar maak nie saak nie: hoe daar op Hammanskraal ge­praat word, is nie hoe ons elke dag die werk doen nie.”

“Nou ja? Dis mos hoe dit is, hoe anders?” en Sithole lees verder.

“Ek sê maar net. Hoe jy leer om ’n ding te doen en hoe jy dit eintlik uitrig, is nie dieselfde nie.” En Tumelo John dink: mis­kien moet ek maar my bek hou … Sithole is nie heeltemal so stil soos wat hy voorkom nie, kyk net hoe heftig het hy terug­gekap op wat ek sê.

Bekyk hom hier! Tumelo John met sy uitdagende glimlag en lewendige oë. En aan sy sy die op en wakker meisie, kop effens skeef – dis hoe sy maak as sy onverhoeds betrap is en skaam-verleë voel, jy sien dié houding op talle foto’s. Sy dra ’n pels­manteltjie, twee snoere krale om die hals – om die rye wit tande te herhaal – en blink oorhangertjies, hare strak na agter uitge­kam. Hulle staan teenaan mekaar, haar skouer teen die bors van sy windmaker wit pak (met kontrasterende donker hemp, breed gestreepte das); die liggame spreek ’n taal wat nêrens ter wêreld misverstaan kan word nie. Agter hulle loer ’n seun onder die flap van ’n bokseil deur wat inderhaas laat span is toe dit die middag van hulle verlowing dreigend na onweer begin lyk het en ook maar goed, ’n harde bui het so teen agtuur uitgesak, maar teen dié tyd was alle gaste (ook dié van die Vrystaatse platte­land) tuis en die partytjie op dreef.

Penelope Busisiwe ontmoet hy in die winter van 1975 toe hy Nkosi een Saterdagmiddag na ’n bruilof in Jabulani vergesel om foto’s te neem. Hy het nou gereeld naweke foto’s op funksies geneem en alreeds genoeg verdien vir ’n stewige deposito op ’n tweedehandse motor.

Dit was ’n groot troue (met selfs meer as een fotograaf, maar dit was sekerlik die gevolg van Nkosi se lukraak reëlings); die gemeenskapsaal is gehuur.

Aan die ander fotograaf het hy hom nie gesteur nie, net ge­sorg dat hy telkens in die nabyheid opduik van Busi – soos hy almal haar hoor noem het – en foto’s gesteel: die vrolik glimlag­gende meisie met wie almal praat of wil praat, wat self maar min sê, haar oë die praatwerk laat doen. Tot hy haar voluit met sy kamera konfronteer: dit sou ’n pragstuk wees, maar hy het ge­noeg ander laat ontwikkel wat hy weekliks gereeld aan haar ge­stuur het soos paaiemente op iets wat jy nie sommer kontant kan betaal nie.

Sy was skaars sewentien, in Natal op skool en sou die einde van daardie jaar haar Junior Sertifikaat behaal. Binne enkele dae moes sy terug na Newcastle en Tumelo John het gesorg dat hy haar die volgende dag ook sien en moenie dink iets van hierdie jongman se attensies het haar ma se wakende oog ontglip nie.

Sy was haar ouers se enigste dogter en is soos haar drie ouer broers in Soweto gebore. Vir Tumelo John was die Hlongwanes welaf mense; hulle huis het – deur die toedoen van die bou­aannemerpa – nie gelyk soos duisende ander wat met die kil in­gryp van ’n monsteragtige steenmasjien ry op ry gedeponeer is om in die son droog te bak en snags berook te word nie. In 1973, aan die einde van haar standerd 6, het die ouers besluit om haar liewer na familie in Natal te stuur sodat sy daar onder gunstiger omstandighede kon skoolgaan. Want wild was nie ’n sterk genoeg woord vir Soweto nie.

“Ek sien jy aai vir Busi,” het Nkosi gesê. “Good luck, my boetie, jy sal sukkel, onthou jy’s maar ’n poliesman met ’n po­liesman se salaris. Hulle is upstairs-mense, maar die pa is orraait. En luister, jy’t nie ’n kar nie, onthou dit. Na donker loop jy nie daar op straat nie, dis nie die Vrystaat nie. Behalwe as jy jou gesig opgekerf wil hê en jou meisie … hulle sal haar naai dat sy nie weer kan loop nie. En as hulle eers weet jy’s ’n poliesman …”

Iets het hom gemaan om goed hierna te luister hoewel hy lank genoeg in Johannesburg was om te weet jy loop nêrens blindelings in nie. Maar hy’t ook agtergekom dat alles wat Nkosi sê ’n knippie sout moet kry. Maar hy weet, hy was al dikwels in Soweto en waar die Hlongwanes bly, is dit anders.

Sithole het ook in Jabulani grootgeword; hy’t hom oor die buurt uitgevra, want al waaraan hy in dié dae kon dink, was die meisiekind. En tot sy verbasing het sy kamermaat heelwat te sê gehad.

“Naweke is dit die ergste. Elke Vrydagaand dobbel jy met jou lewe, maak nie saak wie jy is nie. Dis geen plek vir mense nie. Vrydag kom die manne huis toe met hulle loonkoeverte en drank. My ma het my en ook my broer – al was hy heel paar jaar ouer – naweke saam met haar en my pa in die huis toege­sluit, ek praat nie eens van my suster nie. My broer en pa het gelees, ek en my sussie het radio geluister en vroeg gaan slaap. Die probleem is, daar is nie genoeg polisie nie en hulle kom te laat as hulle geroep word.”

Tumelo John het aan haar geskryf. Hoe lyk dit daar, ek was nog nie in Natal nie? Hy’t haar vertel hoekom hy polisieman is, as kind al was dit al vir hom ’n eerbare beroep, om in diens van die Reg te wees, om goeie mense by te staan, dit beteken ook sekuriteit, jou inkomste is gereeld en seker! Hy was jaloers en het by Engels gebly, bang dat sy isiZulu sou afsteek by dié van ander moontlike minnaars in Newcastle.

Sy het hom bedank vir die foto’s, en stuur tog ook een van jouself; ek wil ’n bietjie spog!

Hy wou haar alles vertel, hoe arm sy mense is, soos kerk­muise ja. Hulle ry met karretjies, loop ver met die voet in veld­paadjies soos muise na muiskerke toe waar ’n stowwerige pre­diker – dit het hy nou die naweek weer gesien – met sy dik vingers sukkel om die bladsye van sy Bybel van mekaar los te kry; die man is self so arm, as iemand hom op die skouer klop, dan styg die stof van die distrikspaaie in ’n wolk om hom op. Maar hulle is goeie mense. Hy verag nie die armes nie, hy haat alleen maar armoede. My oupa was die slimste mens van wie ek weet, ek wens ek kan soos hy wees, maar gebrekkig doodgaan, nooit!

En hy was veeleisend. Sy kan nie volgende jaar weer so ver bly nie, ons sal ’n plan moet maak, so kan ’n mens nie lewe nie. Haar matriek sal bietjie moet wag.

Haar briewe was rustiger en meer alledaags: ’n nuwe haar­mode, ’n rok wat sy ontwerp het en gaan maak sodra sy in Johannesburg kom, dis tog maar die enigste plek waar jy kan uitsoek as daar materiaal gekoop word. Hier kan ’n mens darem Saterdagaand partytjie hou, dis nou nie gumbagumba nie, hoor! Jammer dis so ver, anders kan jy kom kuier het, dankie vir die foto’s.

Die volgende dag het hy so amper ’n motor gaan koop, het hy geantwoord. Hy wil vorentoe in die lewe. As hulle eers getroud is, kan hulle saam studeer, die kinders kan wag, móét wag. Hy wil nie met haar trou oor haar vermoënde familie nie, hy gaan self bydra tot hulle eie welgesteldheid, kyk hoe goed is hy met die kamera.

Hy was vol aandrang en begeerte, hy wou hom aan haar vas­klamp, dis al waaraan hy kon dink.

Sy ma se ouer suster het intussen ’n huis in Soweto gekry. ’n Besoek aan haar en haar kinders en dié se kinders kon dien as verskoning om Busi se familie op te soek.

“Die probleem is,” het hy teenoor haar jongste broer opge­merk, “hier is nie genoeg polisie nie; hulle kom te laat as daar op hulle nommer gedruk word.”

Die broer het Tumelo John stilweg bekyk en byna vaderlik gesê: “Die probleem met die polisie is, as jy hulle roep dan ar­resteer hulle jou ook sommer saam met die skobbejakke. Voor die voet, so doen hulle hul werk. Ek weet, my pa moes my een­slag gaan losverduidelik. As hulle hom nie geken het nie …”

Dit was ’n Sondag. Op pad terug na sy hostel in Johannes­burg die middag moes hy by ses begrafnisstoete verby.

Die dag waarop hy geweet het sy tuis sou wees, kom hy by haar ouerhuis aan met ’n hond onder die arm. Hy is vreemd aange­kyk (sy lag het haar opnuut verower), die uitgevatte klein staats­amptenaar met sy kamera.

’n Basterfoksterriër het ’n week vantevore knaend in die buurt van die Clevelandse polisiestasie rondgedrentel, hom gaandeweg by Tumelo John gevoeg en waar dié ook al gaan, probeer agter­nadraf. Eers het almal aan die rondloper aandag gegee, later is allerlei pogings aangewend om hom af te skud en ten slotte het Tumelo John hom oor die dier ontferm, hom gewas, in die dip­water na Bontmuis verdoop en oorskietkos gevoer. Die vergun­ning om die hond te hou was tydelik en daarom moes hy daardie dag saam. (As die Hlongwanes hom nie wou hê nie, sou sy tante se kleinkinders – oorvol huis of nie – vir hom plek maak.)

Maar Bontmuis het Busi se ma gewen, dalk was dit omdat haar kinders nou groot was, miskien sommer omdat selfs ’n brak geselskap kan wees as jy agterkom jy en jou man is besig om van mekaar vervreem te raak.

Tumelo John en sy Busisiwe was jonk en onregeerbaar ener­giek. Hy’t haar vir ’n paar dae Vrystaat toe geneem om sy ouers te ontmoet en waar sy Sotho moes praat en waar die veldlug hulle na mekaar getrek het sodat hulle mekaar snags onbedaar­lik, so asof hulle lewens daarvan afhang, verken het.

Die Opstand van die Kinders op 16 Junie 1976 het hulle so te sê onverhoeds betrap.

’n Paar dae voor daardie versengende Woensdag het dinge voorgeval wat Tumelo John weliswaar effe uit sy daaglikse groef en die kompenserende roes van sy en Busi se lugkastele geskud het.

Die voorafgaande naweek is Vukani Kheswa, ’n speurder ver­bonde aan die Brixtonse moord-en-roofeenheid, doodgeskiet gevind in sy kamer by die Jabulani-manskoshuis. Hy was ’n tyd­genoot van Tumelo John by die Hammanskraalse opleidings­kollege, een van die goeie studente. Tumelo John het probeer uitvra oor die omstandighede van sy dood, sonder veel sukses.

Toe lees hy die Dinsdag in ’n koerant die klein beriggie oor Vukani met die veelseggende slotsin: “Die polisie vermoed geen gemene spel nie.” Vukani Kheswa moet dan selfmoord gepleeg het.

In dieselfde koerant was daar ’n berig van die hofsaak waar­oor hulle later in die aanklagkantoor bespiegel het: ’n vermeen­de rower wat in die hof die polisie daarvan beskuldig dat hulle hom in Brixton se sogenaamde werkwinkel in ’n sak gestop het, en hoe hy daarna, sak en al teen die plafon opgehys, van alle kante gemoker is, vandaar die doofheid in sy een oor. ’n Kap­tein Engelbrecht het die aantygings ten sterkste ontken.

“Dis nou ’n rower wat kaartmannetjie is,” het Sithole tot groot vermaak van Kriek opgemerk. “Hy loop met sy oorgehaal­de pistool rond en ons moet nou staan en ‘Asseblief, meneer … Hoe lyk dit met ’n koppie tee, meneer?’ ”

En Nkosi: “Die ou probeer net sy bas in die hof red; hy’t mos die skilpad uit sy dop laat kom en al sy tjommies weggegee.”

Tumelo John het die koerant tydsaam toegeblaai en opgevou sonder om te weet wat hy van alles moet dink. Die kêrels by Brixton weet hoe om met skuim te werk, dit weet iedereen. Jy word nie verniet vir ’n moord-en-roofeenheid aanbeveel nie. Maar Vukani, wat sou hom gedryf het om homself te skiet? Moet persoonlike probleme wees, wat anders, ’n ongeluk? Sal wel later uitkom. En dit val hom by waarna hy eintlik in die koerant op soek was. Hy blaai vinnig tot by die ritse kolomme met kleinadvertensies om pryse van tweedehandse motors te vergelyk.

En dan was daar ook die kuier by Busi se oudste broer die vorige naweek in Pimville. Die broer het pas sy eie sakeonder­neming begin. Dié Sondagmiddag kom daar ook ander mense op besoek. “Hier kom groot moeilikheid, ek sweer,” sê Busi se broer aan sy buurman en toe hy sien Tumelo John luister na hulle gesprek, lig hy hom in. Hulle skool se raad het bedank. Oor die onderwysdepartement hulle nie tegemoet wil kom nie. Hoe lank sukkel hulle nie om wiskunde-onderwysers te kry nie! Toe hulle eindelik iemand kry, wil die departement hom nie aanstel nie; die man ken geen Afrikaans nie en wiskunde en geskiedenis móét in Afrikaans gegee word.

“En dis nie net by ons dat daar soveel probleme is nie. Sewe skole boikot nou reeds ’n maand lank hieroor. My buurman vertel nou laas Vrydag is die polisie ingeroep na ’n skool in Orlando-Wes …”

Hy bly stil en kyk na die buurman wat verder vertel: “Toe die skoolklok lui en die kinders in die klasse instap, toe breek hulle al wat venster is.” Uiteinde van die saak is dat die polisie kom, maar terwyl hulle probeer om die voorbokke uit te kry, is al vier wiele van die vangwa afgeblaas. “Ek kan julle sê dit het keer gekos of daar was groot moeilikheid. So hittete. Woensdag is ’n protesvergadering …”

“Gesien wat sê die minister van onderwys in die parlement?” val iemand anders hom in die rede. “Is hy nie vir jou ’n ou suurbek nie?” En hy vertel hoe die vent in die parlement gesê het dat as swartmense die lughawe besoek spesiaal om in die internasionale restaurant te gaan eet, geriewe misbruik word. Hy wil hê besoekers moet eers hulle kaartjies en paspoorte wys voor hulle kan sitplek kry. En dié man is minister van swart onderwys! “Dit staan in vandag se koerant. Hoe kan jy keer dat die kinders dit sien? Die koerant sê die man is onnosel, maar al wat aanbly as minister is hy.”

Gelukkig was Tumelo John dié week op nagskof. Gelukkig, om­dat hy minstens die hele Woensdagmiddag kon slaap, want laat die middag kom die bevel: almal moet onmiddellik vir diens rapporteer. En die volgende paar dae is al wat Randse polisie­man is geen ruskans gegun nie.

Op pad na die Orlando-polisiestasie kon Tumelo John reeds (onder die geraas van helikopters) iets van die verwoesting sien. Uitgebrande voertuie, afgebrande geboue, mense wat haastig wegskarrel, min mense, maar oral oë, oë wat dit uitroep: skok, woede, angs, onsekerheid; of gewoon dik gehuil van die traan­rook.

Versterkings van honderde het by die polisiestasie opgedaag, vuurwapens is nagegaan, onlusknuppels uitgedeel en gevlegte skilde. Tussen hulle en die reuse-spreiligte wat die terrein belig, was die rookmis van Soweto met ’n ekstra traangasbyt (soos oorsterk kerrie wat in die buurt ingeroer word), verder gevoed deur die swaar dieselenjins wat dwarsdeur die nag al om die uur in Buffel-patrollies die buurte ingestuur is. (In die donker was helikopters van geen nut nie.)

Asof om iets by te dra, het Tumelo John se groepie so teen twaalfuur hulle eie vuurtjie aangesteek om warm te bly. In af­wagting op wat voorlê, bespreek hulle die noue ontkomings van die dag (’n jong konstabel wat uit sy vangwa gepluk word en, geboei met sy eie handboeie, suf geslaan is – pikstele, yster­stawe, ’n tennisraket – voor hy kan losbreek om onder ’n klip­pereën terug te hardloop) en ander se teenstrydige indrukke: ’n haastige skietbevel by die Orlando-Wesskool, teenoor die be­sluitlose toekyk as geboue elders voor polisie-oë afbrand.

Tot iemand praat van die onskuldige begin. Montoedi se vriend was een van die konstabels wat uitgestuur is om plak­kate af te neem by ’n groep Asingeni’s op pad na die Orlando Sekondêre Skool. Hulle was hopeloos te min, die jongmense het hulle min gesteur aan die polisie, hulle was by die 8 000 sterk, dit het ’n hele driekwartier geneem vir al die skoliere om verby die vangwa te beweeg. Inderhaas is hulle terug na die polisiestasie om te hoor 30 000 kinders is uit verskillende rig­tings op pad na Orlando-Wes om te protesteer teen die onder­wysvoertaal.

Eers los groepies kinders, dan ’n ganse kinderkoor wat “Mo­rena Boloka Sechaba” sing, dan die bevel om uiteen te gaan … die tande wat wys onder traanrook. Die klippe.

“Toe hulle storm, sê hy, het hy vier sien val. Toe word die honde losgelaat. Hy self het ’n klip teen die kop gekry en al wat hy verder onthou, is hoe hulle sy hond met messe bydam, hoe die hond val en met klippe en bakstene doodgemaak is.”

“Hulle het ’n witman ook vermoor, hom een-twee-drie uit sy kar gepluk en doodgeslaan, daarna in ’n vullisblik gegooi.”

“Sommerso! Ek sê julle, Kriek is reg, dis tsotsi’s.”

Tumelo John se gedagtes was by Busi. Die telefone was buite werking, hoe kon hy haar laat weet hy is naby?

Die volgende oggend eers sou hy hom behoorlik oor haar veiligheid bekommer, die Donderdag toe sy eenheid vroeg uit­gestuur is en hy die omvang van die verwoesting, die woede van die vorige nag, sien. Hulle moes gaan wag staan by ’n biersaal en het net betyds daar aangeland, want ’n gedeelte van die voorraad was alreeds uitgesleep en in die straat – of wat van die straat oorgebly het – omgekeer.

’n Jongman het van die oorkant tussen die huise na hulle uitgeroep: “Dis goud werd, daardie plek. Kyk hoe pas julle dit op! Dis waarvoor julle omgee: drank!” (En iemand wat terug­skreeu – dit kon Kriek gewees het.)

’n Buffel-patrollie het nader geskuif en die jongman het tus­sen die huise verdwyn waar iemand vroeër ’n plakkaat teen ’n omgekeerde konka staangemaak het. If we must do Afrikaans, Vorster must do Zulu.

Die Buffels is bo-oor die drankkartonne en -bottels sodat die straat nou gelyk het soos ná ’n groteske gefuif waarby geen geld en morele kode ontsien is nie.

“Hoekom,” het die jongman weer na hulle geskree, “is daar soveel drankwinkels in Soweto? Wat van klinieke? Elke spoor­wegstasie het ’n drankwinkel. Waarom vát julle ons geld só, geld wat nooit by ons huise uitkom nie?”

’n Helikopter het laag oorgevlieg, so laag dat dit wou lyk of hy moeite doen om die drankwalm met sy kappende skroef verder te sprei, dat die hele buurt aan die bedwelmende voor­uitsig herinner kan word wanneer wet en orde eenmaal herstel is.

Twaalfuur is hulle afgelos. Hulle is terug om twee uur lank te rus. Tumelo John het met niemand gepraat nie. Kort-kort het hy aan Busi gedink, aan haar ma … met net Bontmuis om hulle te beskerm.

Toe hoor hy ’n hoë polisie-offisier, wat inderhaas ingevlieg is om strategie te monitor, in die verbygaan teenoor iemand an­ders opmerk: “Hulle moet vir Treurnicht en M.C. Botha hier­heen bring om te sien wat hulle veroorsaak het!”

Dit het hom beter laat voel.

Donderdagaand het hy gesien die opstand is nie meer vir of van skoolkinders nie. Frustrasie en woede het oral vlak gelê en hy het bewondering gevoel vir Nkosi wat die erns ingesien het van ’n insident wat lelike gevolge kon hê.

Dit was toe hulle span diens gedoen het by Baragwanath. Al­mal was moeg en die hospitaal het nog meer as gewoonlik gegons, tot by die nate vol, en samedromming was een ding wat hulle moes voorkom. Die anti-onluseenheid was by die hek in beheer toe ’n taxi sy pad soontoe ooptoet. Agterin was ’n beseerde kind.

Toe hy hoor dis ’n veertienjarige skoolkind met drie koeël­wonde weier die offisier deurgang.

“Jammer, die plek is vol. Kyk hoe lyk dit. Ander mense moet eers behandel word.”

Hoe die nuus so vinnig kon versprei, is nie maklik om te weet nie, maar ’n stroom verpleegsters kom skielik uit die on­gevalle-ingang en eis skreeuend dat die kind onmiddellik deur­gelaat word.

“Laat hom in. Dis ’n hospitaal dié.”

Wat Nkosi presies aan die offisier gaan sê het, het Tumelo John nie gevra nie, maar die hekke het oopgeswaai, die kind is opgeneem.

Laataand met die patrollie op pad na ’n paar uur se uit­span, dink hy aanhoudend: “Wonderlike slaap, die arm man se vet!” … woorde van sy oupa.

Teen Vrydag was dit nie meer die opstand wat baie begeer nie. In die nag het klein gewapende bendes toegeslaan en mense aangeval en beroof. Die werkers in die stede wat smôrens en smiddae soms ver ente moes stap omdat busse slegs aan die rand van Soweto kon ry, is nie meer met rus gelaat as hulle die vuis lig en “Amandla!” uitroep nie.

Nou word die drankwinkels nie meer aangeval om drank te vernietig nie, die plunderaars het oorgeneem, die meeste van hulle smoordronk.

En die mense was vriendeliker jeens die polisie.

Maar die opstand het uitgebrei. Vrydagoggend moes hulle in Alexandra gaan patrolleer.

Toe hulle by die biersaal verbyry waar hulle die vorige dag wag gestaan het, sien Tumelo John dat dié ook afgebrand is. Dik rookwolke het steeds oor die hele stad gehang. Kriek het sonder verposing uitgevaar teen die swartes wat doodeenvou­dig nie kan ophou met drink nie. “Suip hulle dik aan die ge­steelde bier! Nou’s hulle seker tevrede.”

Dis toe dat Tumelo John hom opruk: “Lyk my jy haat swart­mense, sersant.”

Kriek het omgekyk. “Tog nie jy nie, Moleko? Oppas dat jy nie gans en al te oorlams raak vir ’n poliesman nie!”

“Sersant, alle swartmense is nie suiplappe nie. Daar is baie mense wat bekommerd is oor dié dinge, want dis nie reg nie. Die jongmense hét probleme met biersale. Die biersale doen kwaad en wie se biersale is dit? Dit is wat hulle vra.”

“En so kry jy seker liksens om witmense dood te maak, of hoe?”

“Sersant, ek sê nie doodmaak is reg nie. Ek sê ook nie ons moet afbrand toelaat nie. Maar die jongmense is nie voor die voet sleg nie. Met hierdie drankstorie is hulle reg, dink ek.”

“Nkosi, luister jy watse kak praat hierdie konstabel van jou?”

Nkosi was in gesprek met iemand anders. Of miskien het hy gemaak of hy niks van die woordewisseling hoor nie.

“Wat’s dit nou weer? Wat sê jy, Moleko?”

“Ek …”

“Jy moet dié Moleko vasvat. Daar is dinge waaroor ’n poliesman nie twyfel nie. Kyk hoe lyk dit hier! ’n Poliesman moet weet wat reg is. En hy moet weet wat is verkeerd. En reg bly reg en verkeerd, verkeerd.”

Toe hulle uitklim, sê Nkosi onderlangs vir Tumelo John: “Steur jou tog nie aan die man nie, gaan jou gang, maar moenie met hom foeter nie, het jy gehoor?”

Saterdagmiddag, met die dodetal op 90 en die beseringslys op 1 000, kon hulle vir die eerste keer teruggaan na Cleveland om ’n bietjie langer uit te rus. En eers teen Dinsdag kon hy daarin slaag om met Busi oor die telefoon te praat.

Sy het aanhoudend gesê hoe trots sy op hom is, haar eie polisieman! Die week was hel, sy sal hom alles vertel, wanneer sien sy hom? Hulle is almal ongedeerd ja, net Bontmuis het weg­geraak, is nog steeds weg. Sy’s so bly haar Tumelo het niks oor­gekom nie, haar polisieman.

Hy kon nie langer praat nie, daar was baie wat wou bel.

Dié aand het Sithole skielik aan die praat geraak, asof spraak­saamheid nog altyd sy diepste begeerte was maar hom onver­klaarbaar jare lank belet is.

“Ek sal nou graag wil hoor wat my pa te sê het. Van groot dinge het daar toe maar min by die mense oorgebly. Wat ’n ge­mors, hè Tumelo? As almal eers begin inklim en hulleself help aan ander mense se goed …!”

“Voel jou pa sterk oor die politiek?”

“Ja en hoe! Alles is vir hom politiek, alles is geskiedenis. En dan sê hy dit ook alewig. En als wat ’n werker sê is belangrik. As ’n werker poep, is dit geskiedenis. En almal is werkers … Ek hoop jý kan dit verstaan? Hy sal nog aangekeer word, en dit sal sy eie onnoselheid wees. Net vir my ma voel ek. Sy dink ook sterk oor die politiek, maar sy is meer mens, sy’t darem ’n bietjie humor, sy lag wanneer sy vertel haar mense woon al so lank in Soweto, van voor 1925 af, dan lag sy as sy sê dis toe die behuising van Soweto nog gereël is deur die Afdeling Parke van Johannesburg.”

“Hulle klink vir my bitter.”

“Natuurlik is dit kwaai om te dink mense is soos wilde diere in ’n wildpark … Jy sien, ek was die dom een. My broer was wonderlik, my suster ’n engel en ek die dom ene. En ek haat politiek. En toe dink ek: nou goed, ek ís die domme, dan moet julle nie skrik as ek die werk van ’n domme doen nie. In die polisie word ek anders behandel, by Hammanskraal was ek in die gimnastiekspan.”

Dit was Dinsdagaand. Die roetine het reeds weer by Cleve­land begin oorneem. Kriek kon daardie aand vreedsaam na nog ’n aflewering van The World at War, sy gunstelingprogram, kyk. Maar Tumelo John kon die gevoel nie van hom afskud nie dat daardie polisiehond wat heel aan die begin deur die woedende kinders doodgemaak is, eintlik sy Bontmuis was.

Want die foksterriër het hulle nooit weer gesien nie. Sodat hy in later jare altyd sou dink: saam met Bontmuis het ek my onskuld verloor, het ek oornag grootgeword. Kriek sê reg is reg en verkeerd is verkeerd en daarmee is dit uit en gedaan. En wat het sy oupa gesê? “Pas op, die een lyk so baie soos die ander.”

En wat raak Kriek nie nog alles kwyt nie?

En sy oupa, wat het hý nie alles gesê nie!

Tumelo John en Penelope Busisiwe is vroeg in 1977 getroud. Hulle het ’n week lank gaan kuier by mevrou Hlongwane se ma in Newcastle en daarna hulle intrek geneem in die reeds oorvol huis van Tumelo John se tant Mapheko in Soweto. Die kans dat hulle ’n huis van hulle eie sou bekom, het feitlik nie bestaan nie.

Die laaste dag van sy verlof het hy sy swaer se motor geleen en sy hostelkamer by Cleveland, waar ’n jonger konstabel reeds ingetrek het, gaan ontruim.

Die meeste van sy goed was reeds eenkant geskuif en sy klei­pot weg.

Nkosi het dit gebruik, hoor hy toe by Sithole.

Hy het sy goed alles uitgedra en Nkosi, wat aan diens was, na sy kruik gevra.

“Sorry man, ek het dit geleen ja.” En na ’n rukkie se huiwe­ring: “Luister, ek sal vir jou ’n ander een kry, die ding het ge­kraak.”

Dit was nie gekraak nie, dit was in twee helftes met enkele los stukkies. En al wat hy van sy oupa oor het.

Tumelo John het die stukke saamgevat met die gedagte om dit later weer te las, maar in die oorvol huis het hy nooit sover gekom nie. Dit het in verdere stukkies gebreek waarvan som­mige weggegooi is of met die latere trek verloor is.

Uiteindelik het hy net een skerf oorgehou. Dié het hy toe altyd met hom saamgedra.

Soos ’n gelukbringer.

Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot

Подняться наверх