Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot - John Miles - Страница 9

2 Johannesburg, Augustus 1988

Оглавление

Hierdie verhaal het eintlik geen begin nie.

Die skrywer het die naam Moleko die eerste keer gehoor in ’n gesprek met sy vriend. Moleko was ’n geval, sy naam niks­seggend, ’n naam sonder politieke bybetekenis. As jy dié naam voor ’n vergadering mense uitroep, sal jy met stompsin­nige stilswye begroet word; voor jou ’n versameling verdwaas­de gesigte vol onbegrip. Dit is ’n naam wat wegraak in ’n see van ander name, ’n naam nie van naamloosheid te onderskei nie.

T.J. Moleko was die spreekwoordelike gewone mens wat ge­dink het die lewe is ’n vuurtjie om jou by warm te maak en met vuur kan jy maar speel.

Die skrywer se belangstelling was geprikkel en die vriend het onderneem om die lêers van die geval – “dit gaar tog net stof op by die prokureurs,” het hy gesê – vir hom in die hande te kry. Want veertien en ’n half jaar nadat hy uit die Vrystaat weg is, het iets afsigteliks hom daar op die aand van 30 Novem­ber 1987 in die nabyheid van Tumelo John afgespeel.

’n Paar dae na die gesprek met sy vriend kom die skrywer tuis en daar lê dit. ’n Spul lêers in ’n groterige geel plastiek­inkopiesak ingedruk. Hoewel hy min of meer geweet het wat om te verwag, was die eerste dokumente in die boonste lêer – die mees onlangse – vir die skrywer nie sonder skokke nie en ineens het hy die eienaardige gevoel gekry dat hy liewer nie dieper moet grawe nie, dat iets verskrikliks ook met hom sal gebeur as hy verder lees. Dit het hom ’n ruk geneem om die gevoel van hom af te skud.

Hy het die warboel verklarings, briewe, ’n oneindige aantal vorms – wat ’n armsalige beeld van ’n lewe! – in ’n lyn van oor­saak en gevolg probeer plaas.

Wat die lewe sogenaamd met ons aanvang, is nie die ergste nie, het hy laat daardie aand gedink. Daardie “lewe” is net nog ’n woord, ’n doekie wat taal ons om die oë draai, want wat kan ons meer verbyster as dit wat die een mens in staat is om die ander aan te doen?

As ek ’n boek hiervan moet maak, dan is ek en hy saam daarin: die polisieman en die skrywer, die swarte en die witte, elk afgekamp in sy eie hougebied, maar saam tussen die kake van ’n opvreetmasjien waar net die blindes uitsig het en vryheid van beweging. Sy geskiedenis is my storie, sy verhaal: my be­heptheid.

Die lêeromslae was nie van dieselfde tipe nie. Jy kon hulle nie sommer in enige volgorde op ’n hopie pak sonder om gevaar te loop dat die hele spul begin gly en van die tafel aftuimel nie. Die stywe, skuinslopende swart omslag was onvanpas tussen die pap groenes. Dit was dan ook van die kliënt self, die brok­kies getuienis wat jy as leek oor jou eie saak sal versamel: per­soonsbewys, salaris en troudatum, die kind se geboorte, ampte­like briewe in ’n uitblafstyl om van doof te word, dowwe foto­kopieë …

Hoe sou hierdie versameling aan sy geel Checkerssakkie ge­kom het? het die skrywer gewonder. Al die moeite om ’n saak, ja meer as een, op te bou lyk skielik so tevergeefs. Om die een of ander rede kon die stapel voorbereidings nooit daarin slaag om ’n advokaat op pad na die hof se leertas te haal nie. En die kans lyk skraal dat daar aan hierdie feite plek afgestaan sal word in leergebonde regsuitsprake.

Die geel plastieksak was daarom nie onvanpas nie, ’n nuttige houer om van ’n nuttelose sameraapsel saam met jou tuinafval by ’n munisipale stortingsterrein ontslae te raak.

En, het dit by die skrywer gespook, vir jou is daar sekerlik meer as dit? Jy sien tog hoe dit skakel met die geel van die Vry­staat self. Jy moet gaan plek maak vir Tumelo John in die trotse grond van sy Senekalse oupa.

Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot

Подняться наверх