Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot - John Miles - Страница 12

5 Hammanskraal, 19 Augustus 1983

Оглавление

Met sy troue vroeg in 1977. Dis waar ons hom laas gelos het.

In Soweto sou hy en Busi skaars ’n jaar by sy tant Mapheko bly. Januarie 1978 kry hy die verplasing na Hammanskraal waarvoor hy gevra het. Dit was nou wel verder weg van albei se familie, maar die kans was hier groter om huis te kry.

Sy tant Mapheko het hom nogal aan sy oupa laat dink, ewe arm, en met dieselfde oog vir die wêreld. Omdat hy soveel tot die huishouding bygedra het, is die dubbelbed in die slaap­kamer aan hom en Busi toegeken. Op die driekwartbed het vier kinders geslaap, sy tante op die enkelbed. ’n Kamer met beddens was dit en jy moes maar jou loop ken. In die woonvertrek was twee banke wat saans teen mekaar geskuif is. Daarop het sy neef en dié se vrou geslaap.

Maar een nag in die winter het al nege van hulle in die kamer met beddens deurgebring toe die neef en vrou soontoe vlug, die deur van binne sluit en toestapel met koffers en dose wat normaalweg onder die beddens gehou word. ’n Bende het toegeslaan, daar was ’n gerammel aan die agterdeur, uitgerekte gille by die huis langsaan, skote en ’n ruk later het iemand honend in die straat uitgeroep: “Kom uit as julle wil baklei, on­nosele donkies!” So is sy neef sy radiostel kwyt, maar hulle kon van meer geluk spreek as die bure.

Van Busi se studie het daardie jaar nie veel gekom nie. Hulle het dikwels by haar mense gekuier, maar om hier aan te klop vir verblyf, daarvan wou Tumelo John nie hoor nie. Hy het kop­pig volgehou dat hy self vir hulle ’n huis sou kry.

Die week voor sy verplasing na Hammanskraal word ’n vriendin van Busi, een wat saam met haar in Newcastle op skool was, se man voor hulle huis in Kwa Mashu by Durban doodgeskiet terwyl hy ’n battery uit sy motor haal. Tumelo John het Stephen Mtshali nie geken nie. Hy sou wel later sy vrou ontmoet. Mtshali was glo eers lid van die ANC se militêre vleuel, maar hy’t gedraai en ten tye van sy dood het hy vir die veiligheidspolisie gewerk. Hy was staatsgetuie in ’n politieke verhoor. ’n Uur na sy dood word ’n tweede persoon op soortge­lyke wyse in Durban vermoor. Dr. Richard Turner, die ses en dertigjarige gebrandmerkte dosent, sterf voor sy twee jong dog­ters. Die koeël kom deur die stoepvenster en die polisie moet later bevestig dat verskillende vuurwapens tydens die twee aan­slae gebruik is.

Sersant T.J. Moleko sit by sy tafel in die dienskamer van die opleidingskollege. Dis ’n Vrydag, middel Augustus en vyf jaar later, 1983.

Aan die einde van sy skof word dit van hom as dienssersant verwag om alle inskrywings in die voorvalleboek te kontroleer en te vergelyk met die uitstaande verwysingsnommers op die swartbord teen die oorkantste muur. Sedert sy bevordering tot sersant drie jaar gelede is dit die werk wat hy die graagste doen: administratiewe pligte soos dié van die dienskamer.

Die dienskamer staan los van die kollegegebou, ’n platdak­geboutjie (verdwerg deur twee jakarandas) met ’n smal sement­stoep vlak langs die hoë toegangshek. Hier word die kom en gaan van alle personeel, studente en besoekers opgeteken.

Skuins voor hom op die tafel lê die 9 mm-dienspistool wat konstabel Phadu ’n rukkie gelede ingelewer het. Tumelo John lees sy voorlaaste inskrywing in die voorvalleboek: 13h15. Staats­eiendom: Konstabel Phadu oorhandig 9 mm-pistool met agt rondtes ammunisie aan sers. Moleko.

Hy is bly sy naweek begin hierdie week so vroeg. Eers gou die gasbottel by die handelshuis gaan vul, ’n draai ry by die apteek net ingeval die laaste klomp foto’s al ontwikkel is, daar­na by sy ou oompie langs in Majaneng en dan huis toe, na sy vrou en kind by die huis.

Sy eie huis. As hy daaraan dink, kan hy kwalik sy trots ver­berg. Dis nou al langer as twee jaar dat hy vergunning gekry het om ’n nuwe huis hier langsaan in Temba te koop. Sonder moeite het dit wel nie geskied nie. Hy en Busi moes aansoek doen om burgerskap in Bophuthatswana, wat hulle nou nog nie gekry het nie. Reg om vaste eiendom te besit het hulle wel omdat hy hier op die grens werk en natuurlik omdat hy in die polisie is. En dan het sy vriendskap met Nkosi verdere rompslomp uit­geskakel. Dis net asof dinge begin vlot sedert Nkosi van Johan­nesburg hierheen verplaas is. Is Nkosi jou bondgenoot, dan word daar nie met jou gesukkel nie. As luitenant weet hy ook hoe om die ou adjudant-offisier Mabe in sy spoor te laat trap.

Mabe: ’n ou brulpadda van Tembadam, noem die spotvoël Lekalakala hom (as die geselskap reg is, natuurlik). Omdat hy so jaloers waak oor die kliek wat hy om hom versamel en op die voorregte wat hy meen hom toekom, ’n man vir witbrood­jies. In sy beginjare op Hammanskraal was Tumelo John ge­lukkig om baie gou verblyf te kry in die getroude kwartiere op die kampus. Hy het hard gewerk aan ’n paar matriekvakke en nog tyd gekry vir sy fotografie ook en al hoe gereelder foto’s geneem van die kollege se studente om as aandenkings huis toe te stuur; ook van personeellede soos kaptein Sithebe toe hy be­vorder is. Tumelo John kon ’n goeie motor koop, ’n bloedrooi Mazda.

Net jammer dat Sithebe moes meen hy het – vanweë sy senioriteit – nie nodig om ’n jong konstabel vir sy werk en moeite met die foto’s te betaal nie, nie eens as jy so in jou skik is met die gehalte daarvan dat jy een – een wat jy oral en aan bykans elkeen gewys het – stuur om in die polisiejaarboek afge­druk te word nie. (Hy sit militêr maar kyk ver by die kamera verby die toekoms in en langs sy skouer, die nuutbevorderde skouer met sy vleklose, gedekoreerde epoulet, ’n vol bloeiende trossie van ’n bosveld-koraalboom; feitlik skemer, lensopening op sy grootste, definisie onbesproke.)

Tumelo John het daarop die pas bevorderde Sithebe by die hoof van die kollege, brigadier Botha, verkla en die uiteinde was dat kaptein Sithebe hom vir sy dienste moes vergoed. Daar­mee sou alles dalk afgehandel gewees het, vergete. As Mabe nie gedink het daar is voordeel vir hom om sy neus hier in te steek nie. Hy sou die kaptein wys hoe jy met ’n parmantige snuiter werk en waar hy maar kon, het hy die lewe vir die jong kon­stabel begin moeilik maak. Ook met Busisiwe het hy skoorge­soek: as jy wil leer, gaan skool toe en bly by jou mense wat vir jou moet sorg, hier’s g’n plek vir ’n gelêery bedags met boeke nie. Maar almal het geweet Mabe wil ’n nefie van hom op die kampus inskuif en Tumelo John was taktloos genoeg om weer ’n klag teen een van sy seniors te lê oor die onbillike wyse waarop daar van hom en sy vrou slagoffers gemaak word.

Mabe is ook tot orde geroep en alles is oënskynlik in der minne geskik (die jongklomp het gelag en gesê ou Mabe is seker skytbang vir brigadier Botha se honde) alhoewel die ou man se oë vandag nog ’n ander storie vertel (astrante klein hel, jou sal ek nog regsien! wag maar) wanneer hy die slag na Tu­melo John kyk.

Tog was alles die moeite werd. Sy kans het gekom om ’n nuwe huis te koop, sy pa en ma het al twee maal kom kuier en elke keer sê sy pa as hy voor die deur uitklim: tja, julle bly soos witmense op die dorp.

Hy’s gelukkig hier, hier wil hy bly. Hy staan op, kyk af na sy uniform, klop die dienspistool op sy heup in posisie. Saam met sy foto-inkomste verdien hy genoeg om af en toe iets huis toe te stuur. Aan die begin van die jaar kon hy sy jongste broer, Kopiki, in die Vrystaat gaan haal om sy matriek hier in Temba te maak – hy bly nou by hulle, hulle sorg vir hom – en hy kan ’n ogie hou oor sy ma se oom wat, oud en verdwaald, ’n huisie het in Majaneng. En na die motorongeluk in Desember kon hy – die versekering het hom goed uitbetaal – maklik ’n nuwer model aanskaf. En as Busi ook vanjaar klaarmaak met haar ma­triek (sy kort net twee vakke) sal sy met verpleging kan begin hier oorkant in Jubilee-hospitaal. Dan sal hy sy garage agter die huis kan aanbou … Nee, dit gaan voor die wind met hulle.

Hy kyk op sy horlosie, kaptein Welgemoed behoort enige oomblik te kom om hierdie skof af te teken. Deur die venster sien hy vir Mgabi met die pad aankom.

“Wanneer kom die reën, ouman? Wat sê die ekspert?” vra Tumelo John toe die ou man die dienskamer inloop.

“Reën, wat praat jy van reën? Jy weet mos die wind moet eers kom.”

Mgabi is al baie jare lank opsiener oor die tuine op die kam­pus. “En as hy eers gekom het, daardie wind, gaan hy waai dat ons party dae voel ons word mal.” Tumelo John gaan sit agter sy tafel om die gebruiklike aantekening te maak: Staatseiendom: Arbeider Mgabi bring sleutels van hoenderhokke.

“Maar as die wind klaar gespook het, is dit nie so lank voor die reën val nie,” mymer die ou man voort, “dis net dat almal so ongedurig is totdat dit kom. Mense is soos plante, soos hoenders, ene onrustigheid dié tyd van die jaar. Alles ontspan eers as die water loop. My kleinkinders by die huis, hulle neem die plek op horings, hulle soek met almal skoor. Hier by die werk ook is almal so moeilik: hoekom is dít nie klaar nie, waar is dié ding, waarom? Ek sê niks, ek weet, ek wag maar vir die reën. As hy eers kom, dan gaan dit beter. Dis net soos met hoenders.”

Tumelo John moet lag, hy wonder wat die kaptein sal sê as hy hom so iets sou vertel? Dan sien hy hoe Mgabi ’n R10-noot langs die dienspistool op die kant van die tafel neersit.

“En dit, oompie?”

“Dis wat jy my laas week geleen het, jy’s ’n goeie seun, ser­sant. Jy’t my baie gehelp.”

Tumelo John tel die pistool op om dit in die kas toe te sluit. “Dis dan nog nie end van die maand nie …” Die deur spring oop. Mgabi wip van skrik.

Dis kaptein Welgemoed. “Klaar met jou inskrywings, Mole­ko? En is alles reg? Dit moet wragtig reg wees, vandag is ek haastig.”

“Alles reg ja, kaptein. Kaptein is ook altyd haastig.” Welge­moed kyk vinnig op, ontspan (hy sien my verleë glimlag, dink Tumelo John). “Ek gaan Pretoria toe, dis my pa se verjaarsdag. En jy, wat maak jy vanmiddag?”

“Nee, vanmiddag bly ek by die huis. Ek gaan tamaties plant vir die somertyd. Kaptein moet my uie sien, is al mooi groot.”

“Shit, ek wens ek was so gelukkig.”

Tumelo John bêre die pistool. Hy kyk by die venster uit. Van Mgabi is daar geen spoor nie.

Net na twee-uur vertrek hy van die kampus. By die hek skerts hy eers met die hekkonstabels en Motasi wat as dienssersant by hom oorgeneem het, kom ook uit op die stoepie om saam te lag. Motasi vertel hulle van die poets wat een van die jong­klomp in die enkelkwartiere vir kaptein Sithebe gebak het. Die hoof van die kollege het alle personeel verbied om hulle privaat voertuie op die kampus te was (of te laat was); toe gaan iemand en stoot stilletjies die tuinslang met sproeier onder die kaptein se motor en draai die kraan net effe oop sodat dit spoedig lyk of die motor waarop Sithebe so presies is en wat altyd blink, pas ewe oordadig afgespuit is.

“Kan julle dink hoe verontwaardig die brigadier of die kolo­nel gaan wees as hy daarop afkom?”

“Dis sweerlik Lekalakala se werk,” sê die een konstabel en die ander een beaam, ja, dit kan net hý wees.

Die gedrang is groot by die Algemene Handelaar. Sonder ophou trek die taxi’s weg, mense klim af. Naby die groot raasblaar waar ou Sekhu (sy oompie in Majaneng se een buurman) stoer­toere maak en verkoop, hou Tumelo John stil. Die ou man roep en beduie ’n groet bokant Brenda Fassie se stem uit iemand verder aan se transistor. Hier kan jy hom elke dag van die week buiten Sondae kry, afgeslyte blikskêr pal in die hand.

Tumelo John haal die leë gassilinder uit sy kattebak. “Hierso, baba!” roep iemand na hom uit die oop mark se rigting. Dis ’n vrou by wie hy dikwels vrugte koop; dié week het sy lekker appels, en daai bielie van ’n seun van hom kan een verniet kry.

“Netnou!” roep hy terug. Die laaste een is bewus van die kloppende loomheid van ’n nuwe seisoen, jy hoor dit aan die stemme.

By die ysterwaretoonbank gesels hy met die skoolhoof. (Hoe vorder daardie jongboet van my, meneer?) Tot iemand hom teen die skouer klap en hand uitsteek. Tsepo Makoko.

Hy het Tsepo lanklaas gesien, nie sedert sy verplasing twee jaar gelede na Groblersdal nie. Hy was eers konstabel hier by die Hammanskraalse polisiestasie.

“Ons het die naweek kom kuier by my vrou se mense.”

Dis hier agter in Winterveld, onthou Tumelo John. Dis waar Tsepo self ook grootgeword het. Hy is die jongste seun en het saam met sy pa-hulle hier padgegee so ’n jaar nadat Bophu­thatswana onafhanklik geword het. Sy pa het nie daarvoor kans gesien om die heeltyd lastig geval te word deur die nuwe rege­ring se amptenare net omdat hulle nie Tswanas is nie. Sommer baie mense het in dié tyd weggetrek. Tsepo-hulle het by ander Sotho-families gaan woon in Moutse.

“Hulle gaan ons ingooi by Skosana se mense.” Dit gaan nie goed nie, dit kan jy sommer aan sy houding sien.

“Maar jy weet mos hulle sal dit nooit doen nie.” Tumelo John betaal vir sy gas. “Daardie plek is dan al die jare onder Sotho­kapteins, daar bly mos nie eintlik van sy mense nie. Skosana droom, al die mense sê so. Wat steur jy jou aan sy praatjies?”

“Ek dink Makoko is reg,” kom die skoolhoof tussenbeide. “Daardie Skosana is so slim soos die galghoutjie. Luister, Tu­melo, jy’s reg as jy sê hy droom, maar hy gaan daardie droom verkoop kry aan die mense in Pretoria.”

“Dit sal ’n groot fout wees. Die mense in Moutse gaan nie daaraan byt om deel van KwaNdebele te word nie.”

“Dis die ding, Tumelo. Ons poliesmanne weet wat om te doen as die jongmense moeilikheid maak, want ons weet die oumense is aan ons kant. Wat maak jy as almal teen jou is? Jy moet my pa sien.”

“Ek moet loop,” groet die onderwyser. “Gesels julle maar en onthou ek sê Skosana weet wat hy kan kry as hy vir die Boere vertel wat hulle so graag wil hoor: Independence!”

“Dis my pa,” sê Tsepo. Dis duidelik hy wil Tumelo John nie nou al laat gaan nie. “Die oumense raak onkeerbaar. My pa sou nooit hier weggetrek het as hy geweet het wat daar vir hom wag nie.” En hy vertel ook van ’n vergadering van meer as 5 000 wat die oumense van Moutse gereël het om beswaar te maak teen al die stories. Minister Viljoen was ook daar, dit het nogal gelyk of hy luister. “Jy sien, Skosana wil ons hospitaal hê, daar is mos nie een by hom nie.”

Hulle loop na die uitgang. Tsepo vertel ook van sy suster en swaer in Ekangala by Bronkhorstspruit (Tumelo John kyk op sy horlosie, die tyd stap aan) wat ook soos soveel ander mense van die Oos-Rand getrek het omdat hulle daar huise kon kry, nogal nuwe huise in ’n behoorlike dorp.

“Jy weet, my swaer sê hy staan liewer elke dag drie-uur op om die bus te haal werk toe. Want nou leef hulle darem ordent­lik.” Maar eensklaps sien hulle, vertel Tsepo verder, ook hulle is om die bos gelei. Skosana wil die dorp inlyf. Waar het jy in elk geval gehoor van soveel liefdadigheid. Huise pasella! Nee, sulke liefdadigheid is te duur. “Hoe kan jy papiere uitneem by Sko­sana en sy kliek? Dan is jy eers ’n tweedeklas burger en dan sal sy ma se pensioen net die helfte wees van wat sy nou kry. Die helfte … Hei, Tumelo, ek loop nou, kyk wie kom hier aan!”

Saam stap die twee weer die winkel in om ’n ander uitgang te kry, want adjudant-offisier Mabe het, groot en gewigtig, sy opwagting op die winkelstoep gemaak.

Daar is ’n vrou wat plante langs die pad verkoop waar mens by die vierrigtingstop na Temba afdraai. Sy lag as die polisieman met haar skerts, lyk bietjie verbaas as hy uitvra na die ploeg­brekerplantjies wat eenkant op ’n plastieksak lê. Hy koop dit. Ry daarna na Temba.

“Raai wie sien ek hier anderkant by die klipkerk?” sê hy ’n rukkie later vir Temba Kefasi in die apteek. “Maphanga, die prokureur van Pretoria. Ek wonder wie hy nou weer kom leeg­suig. En ry die bliksem nie onverskillig nie, jaag al die stof voor die kerk op, jy moes sien hoe skuif die kar toe hy op die teer­pad inswaai.”

“Hy gaan ’n kantoor hier oopmaak, het jy nie gehoor nie? By daardie ooptetjie met die bome anderkant die kerk.”

“Wat? Ek dink sy soort moet maar liewer in Pretoria bly, prokureurs ken geen genade nie.”

Temba het die foto’s reeds in ’n stuk of twintig koeverte ver­pak, die kêrel wérk vir sy kommissie! Tumelo John maak een koevert oop. Die stralende gesig van ’n polisiekadet kom uit.

“Dankie swaer, ek sien jy het die prys ook opgeskryf. Luister, wanneer gaan ons Zimbabwe toe?”

Dis waar Temba gebore is, die wêreld wat hy sedert sy negen­de jaar toe hy Suid-Afrika toe gekom het, nie weer gesien het nie. Dis Tumelo John wat hom so treiter met die versoeking om weer sy familie te gaan opsoek. Maar so ’n kuier sal moet wag, Temba is onlangs getroud en het ’n standplaas in die nuwe uit­breiding gekoop.

“Jy sien mos ek kan nie nou al nie, ek moet eers geld vir my huis bymekaar kry en dan bou.”

Ek sal nie weer aan jou karring nie, dink Tumelo John, kyk hoe selfvoldaan lyk jy, nie verniet jou naam beteken “hoop” nie en dan kom woon jy nog op ’n plek met dieselfde naam, dis twee hope hoop bymekaar.

Hulle het buitetoe geloop, staan en gesels onder die afdak voor die apteek, kyk af op die mense wat in en uit by Checkers beweeg. Tumelo John het geweet wat sy vriend se antwoord sal wees, maar hy kan die vraag nie verhelp nie, nie sedert hy nou ’n jaar gelede saam met sy skoonpa in die geel Valiant op is na Mutare nie. Dis waar die ouer man ook grootgeword het. Daar­die besoek bly hom by, maklik sal hy dit nie vergeet nie. Dis ’n wonderlike wêreld, berge en bosse en so vrugbaar. Kos genoeg. En die mense ontspanne, selfs die witmense. Hy het hom voor­geneem om weer te gaan en sommer gou ook. Net Busi moet hy nog oortuig, sy kan nie begryp wat hy daar wil maak nie.

“Hoe gaan dit nou met jou been?” vra Temba.

“Ek dink hy kom nou reg. Net party dae pla dit nog … Hei Temba, ek moet spore maak. Gou gaan vleis koop en dan na my oompie in Majaneng.”

Sy oompie sit buite in die son. Hy kerf aan ’n stok, maak glo die hek reg (die derde slag vanjaar), is ergerlik oor die agter­kleinkinders wat net verrinneweer, hulle kom geduld kort en niemand wil dit weet nie. Sy dogter (Tumelo John se tante) bring vir hulle tee. (Hulle weet ek hou nie van die ewige bier­drinkery nie.)

“Ons gaan lank wag vir reën hierdie jaar,” sê die ou man, “ek kan dit voel aan my lyf. Dit voel kompleet of die rumatiek my gelos het. Man, ek is springlewendig. Net bietjie strammerig.”

Die ou trek al ’n hele ent in die sewentig. Met alles op hier­die lappie grond het sy hande iets te make, die huis self (vier kamers, ongepleisterde sementstene, sinkdak en tenk) en buite­kombuis, die hand vol vrugtebome, die stewige heining en, natuurlik, die rosyntjiebospenne op die hoeke van sy erf om die eiendom teen boosdoeners te beveilig.

Die nuwe Temba-uitbreiding waar Tumelo John woon is nie eens ’n kilometer hiervandaan nie, maar toe Oompie kom nesskrop het so ’n vyftien jaar gelede was alles aan die oorkant net kale veld.

“Maar ek weet, dit kan nie hou nie. Jy kry net bietjie skiet en kort voor lank sit die halter weer styf-styf om jou nek.”

’n Paar jaar gelede is hy ook op ’n keer met uitskop gedreig omdat hy soos die meeste ander ou inwoners van hierdie distrik geen Tswana is nie. Maar vandag weet die Temba-polisie hy is Moleko van die kollege se oompie. Tumelo John het vir hom gesê: sorg altyd dat jy jou belasting kan bybring; betaal hondebelasting, wielbelasting, donkiebelasting, betaal elke belasting wat die regering kan uitdink. En bêre jou kwitansies, want kwitansies is goed om vir ewig te hou. Dan maak jy dit omtrent onmoontlik dat hulle jou uitsmyt, ’n mens wat belasting betaal kan nie som­mer as plakker gereken word nie. Moet net nie begin boikot nie.

Tumelo John blaas die stoom oor die rand van sy enemmel­beker in die rigting van die vyeboom wat mens duidelik by die litte kan sien swel. Ouman Mgabi het ook gesê daar gaan lank gewag word op reën, maar die boom steur hom nie aan praat­jies nie, hy gaan voort.

Langs Oompie lê sy graafyster (waarmee hy wortels en bolle in die veld uitgrawe) en ’n hopie bossies wat hy die oggend ie­wers moes geoes het. Hy loop altyd oor van allerhande kruie­rate, hy is – soos sy bure sê – ’n goeie poenskopdokter.

“Waarvoor gebruik oom dit?” Tumelo John tel ’n takkie op, stryk oor die harige blare.

“Mokatelo. Dis die plant wat mense terug laat steier, ja, hy druk swáár op jou vyande. Die oumense het dit gebruik wan­neer hulle op pad is, dit keer ongeluk af. Soos polisie of rond­lopers. As jy gevaar sien, dan wys jy daarmee, dan kan jy maar verbygaan. Of jy byt ’n stukkie af en spoeg dit voor jou uit en sê: Ek gaan verby met hierdie wildewinde … Vat een vir jou.”

Lag. “Nee wat, ek is dan self ’n poliesman. Wat sal ek daar­mee maak? Vir die ander poliesmanne wys?” Lag.

“Ook weer waar, ook weer waar,” skud die ou man sy kop. En asof hy geroep is, gee ’n jong loslopende werfhoender lang­poottreë tot by die ou kêrel se voete, kyk dan lank en aandagtig na iets om reg voor hom op die grond te gebeur. Tot hy met ’n veebeweging verwilder word.

Dis Vrydag en, dink Tumelo John toe hy wegry, sy ou oom­pie gaan nou-nou weer begin dopsteek. Sy drinkebroers sal een-een uitslaan soos groengoed na ’n reën, almal sal reeds weet daar is vleiskos by oompie vanaand. En ek? By die teerpad draai hy haastig regsaf en onder in die duik neem hy nie die pad na sy buurt nie. Hy het amper vergeet, hy wou nog by die Tatter­sall’s langs. As hulle hom moet vra, soos die mense in die tyd­skrifte altyd gevra word, wat is jou stokperdjie, sal hy nie eint­lik kan sê dis fotografie nie, nee, dis ook vir hom werk, maar as hy eerlik wil wees, moet hy erken: Vyf rand Vrydag op die perde en – darem net as hy die vorige week gewen het – tien rand.

Tattersall’s is ’n blinknuwe sinkgebou (die sweet tap jou in die somer af as jy jou kruisies trek) by die aansluiting waar die teer­straat van Temba af (by die dam verby en oor die brug) in die nywerheidsdorp uitmond. Uitstekend geleë, onthou Tumelo John, het iemand op ’n keer gesê: “Betaaldag vroeg uit die fa­brieke van Babelegi, jou plat koevertjie in die gatsak en, darem so gerieflik, daar’s tog net een pad huis toe met eerste stilhou­punt die woekerplek, groot wonder daar’s nog nie ’n drank­winkel langsaan nie, maar hulle sal nog, hulle sal nog.”

Wil jy glo, tref dit hom toe hy van die teer afdraai oor ’n hard­getrapte stuk veld om naby ’n wag-’n-bietjie stil te hou: dáár loop hy, Zondi, die man wat die siniese opmerking oor die lig­ging van Temba se wedplek gemaak het.

Met ’n plastieksak onder die arm (wat hy met albei hande vashou) gee Zondi lang treë in die rigting van die fabrieke. Hy’s nog bloedjonk, seker nie twee en twintig nie, Unisa-student in die regte – Tumelo John weet, hy het juis vroeër die jaar by hom advies gevra toe hy self by ’n korrespondensiekollege ingeskryf het vir ’n diplomakursus in polisie-administrasie.

’n Motor trek langs syne in. Twee vroue. Wat hy onmiddel­lik herken: kolonel Van Niekerk se vrou en dogter. Maar hulle let nie op hom nie. Die ouer vrou agter die stuurwiel vroetel in haar handsak, haal ’n pakkie geldnote uit. Kolonel Van Niekerk is die kollege se senior stafoffisier. Soos Mabe oor die swart helfte sou wou regeer, so speel die kolonel baas oor die wit deel en dan natuurlik ook oor Mabe.

Toe Tumelo John uitklim, sien Zondi hom, want hy lig sy arm hoog en kom haastig na hom toe. Hy soek seker rygeleent­heid, hy bly hier oorkant in Ramotse by sy ouma vir wie hy sorg. Hoe hy dit sonder werk regkry, moet jy nie vra nie; ek het mos ouer broers en neefs ook, sal hy seker sê, want ook Busi is aangetroude familie van die ou vrou. Tumelo John het Zondi juis deur sy skoonpa ontmoet toe hulle vorige jaar se winter opgery het Zimbabwe toe.

“Hei, man!” roep Zondi, vra uit na die familie en dan val hy weg en vertel opgewonde van die vergadering wat daar hierdie naweek in die Kaap gehou word, ’n byeenkoms wat nog lank onthou gaan word, waarop die mense gaan besluit hóé om al die veronregtes van hierdie land saam te bind, saam in eendrag­tige optrede, hoe mens moet sorg dat die gegriefdes nie teen mekaar en los van mekaar werk nie, maar saam omdat ons al­mal een gemeenskaplike doel het en dit is om apartheid weg te werk, in sy moer in weg, om ’n sê te hê.

“Luister, mannetjie,” onderbreek Tumelo John hom, want hy sien ouvrou Van Niekerk het in haar motor bly sit, die dogter is alleen by die wedplek in. Hy lei Zondi weg van die motors af, sê nou net sy snap hier en daar van die isiZulu, wat besiel die vent om so hard aan die babbel te gaan?

Maar Zondi steur hom nie aan Tumelo John nie. “Ons sal deel wees soos net trotse mense deel kan wees en met koppe opgelig vorentoe loop.”

“Maar sal jy stilbly. Dínk dan tog maar die dinge, moet in hemelsnaam nie daarvan práát nie. Kan jy nie verstaan nie? Ek weet wat word van mense wat praat soos jy daar praat.”

En Zondi vertel (darem nou effe sagter, maar glad nie tot ge­ringer ontsteltenis van die polisiesersant nie) van die een groot beweging wat daar gaan kom waar almal saamwerk, ook die ANC.

Tumelo John pluk hom tot teenaan die lawaaierige teerstraat: “Zondi, luister, weet jy wat gaan van jou oumatjie word as jy so begin praat? Dink bietjie ook aan haar.”

Eintlik moet Zondi nie eens aan die dinge dink nie, sê nou maar hy laat val iets in sy slaap. Hier het alles ore, die mure, die bome, die bossies, ook die klippe, ja selfs die klippe het ore.

Maar hy sê Tumelo kan maar Maandag in die koerant kyk. Dit wat hy hier sê, sal daar staan. Of nog beter, Tumelo kan vol­gende Vrydag saamkom wanneer sy vriend wat Kaap toe af­gevaardig is, verslag kom gee van alles wat hierdie naweek bespreek is.

So direk en openlik het Zondi nog nooit met hom gepraat nie, dis tog nie hoe jy met ’n sersant in die polisie praat nie. “Sien jy hierdie uniform, kyk bietjie mooi. As jy aanhou praat soos jy nou praat, gaan ek jou verbied om by my huis te kom. Moenie dink ek het dit maklik nie. Net ’n paar huise van my af woon die grootkop Mabe. Ja, ek het ook my vyande wat my met die grootste graagte sal lem.”

“Die geskiedenis sal van hulle vergeet. Maar hierdie naweek in die Kaap, dít is dinge wat belangrik is.” En hy vertel nog veel meer. Hy vertel van al die mense wat daar sal wees … Gumede, Tutu … dan die mense van die Transvaal en die twee wat hy die meeste bewonder … Lekota en Molefe. “Maar Tumelo, bly jy dan blind, sien jy en hoor jy nie die mense se woede nie? Luister, Tumelo, jy’s die een wat laas jaar toe ons op is na Mutare, gesê het ons moet nie skaam wees om swart te wees nie, ’n swartmens kan met sy kop hoog loop, al is hy ook hoe arm.” En hy vra hoe kan die swartmense dan uitgelaat word as daar vir die land ’n nuwe grondwet opgestel word, het Tumelo gesien?

“Maar, Tumelo, jy maak ’n fout. Die tyd is nie meer ver nie dat niemand jóú sal toelaat om by hulle te kom nie.”

En hy vertel van hoe hulle … dat Tumelo John se kop draai terwyl hy huis toe ry. Wat het in die klein Zondi gevaar, wie is sy vriende en waar loop hy orals rond, wat wou hy vandag gaan maak in Babelegi? In die polisie is daar net een woord vir mense wat so praat, moeilikheidmakers, siyayonova, soos Zondi se Zulubroers sal sê.

Tot hy in sy straat afdraai en Nkosi se pasgekoopte kombi voor Mabe se huis sien.

Vyf huise verder ry hy stadig by sy eie hek in. Die voordeur staan oop, Nkosi se vyfjarige dogtertjie speel op die stoep, die klein Tshidiso moet in die huis wees, hy is maar ’n jaar en te klein om met haar te speel.

Soos sy gewoonte is, ry hy langs die huis verby om agter te parkeer.

“Hi Tumi!” Busi en haar vriendin sit by die eetkamertafel. Die klein Tshidiso gly af van Nuni se skoot sodra hy sy pa sien.

“Kyk wat het jou pa vir jou gebring!” Hy hou vir die kind ’n rooilyfappel en Busi staan op om vir die kind op die stoep ook een te gee.

Haar man kom hulle nou-nou oplaai, sê Nuni, maar nee, hulle sal nie kuier nie, hy wil vanmiddag nog Mabopane toe en sy’t die hele oggend aanmekaar met Busi gesels, dankie, lag sy haar mooi wit tande oop en draai haar kop dat hy ’n netwerk van die in patroontjies gevlegte hare goed kan sien.

Terwyl hy hom in die kamer verklee, hoor hy hoe sy seun nog in die gang afsukkel, agter hom aan. Hy kyk oudergewoon­te na die kop wat feitlik teenaan die oopgetrekte gordyne op die vloer staan. Dis een van die beelde wat hy uit Zimbabwe ge­bring het, ’n vier keer gewone grootte menskop uit die een of ander swarthout: dik opgeswelde bolip, groot neusvleuels en ’n lang leë holte by die oë wat dwarsdeur die neusbrug loop. “Blinde kop”, het die man gesê by wie hy dit daardie loom middag naby Mutare gekoop het. Dis nou al ’n jaar dat dit hier in die slaap­kamer staan en steeds sien hy dit raak as hy inkom. Hy sal vir Busi moet ompraat dat hulle saam soontoe gaan: dis tog haar eie pa se mense. Maar Busi is haar ma se kind, sy kan haar pa nie vergewe dat hy sy vrou vir ’n jonger een gelos het nie. Sy hou darem van die klipvoël wat hy ook uit Zimbabwe saamge­bring het. Uit seepsteen. Dit staan in die sitkamer: half soos ’n vreemde eend en op stewige klippote kyk dit waaksaam oor die skouer terug na die voordeur.

“Ap-pel,” sê Tshidiso die Sothowoord en hou die nat vrug uit na sy pa.

Met die kind op sy arm gaan hy die woonvertrek binne. Daar is ’n vreemde stem op die voorstoep. Dis ’n man van Bos­plaas. Hy sê die ou man van die kollege se tuin, ou Mgabi, het hom na Tumelo John gestuur: “Hy sê Sajeni help die mense.”

“Hulle wil jou uitskop?” Hy’t gehoor dit gaan woes in Bos­plaas. Daar’s gereeld klopjagte en uitsettingsbevele op nie­Tswanas.

Ja, dis net so. Hy het 15 jaar gelede saam met sy ma van Pretoria af hierheen gekom. Vandag is hy ál broodwinner, sy ma kan nie pensioen kry nie, hy werk by die meule op Pienaars­rivier. Hy gee nie om dat sy kinders na ’n Tswanaskool gaan nie, solank hulle maar skoolgaan. Hulle huur word gereeld betaal en belasting, ja. En in Augustus het hy ook lid geword van die Bophuthatswana Democratic Party, waarvoor hy R5 moes be­taal.

“Vyf rand? Ek dag dis R1?”

Nee, hulle betaal R5 en is belowe: mense wat by die Party aansluit, sal nie uitgegooi word nie. As hy moet trek, sal dit te ver van sy werk wees, dis ’n goeie werk.

“Ek sal ’n brief skryf,” sê Tumelo John, hy weet nie seker wat dit sal help nie. “Maar bring eers al jou papiere, bewysboek, kwitansies … hoe meer papiere, hoe beter. Wanneer kan jy weer kom?”

Die man is nie baie ouer as ek nie, dink hy. Hy het werk, hoe­kom moet hy ’n vreemdeling wees en waarom moet hy bedel?

Dis hieraan wat hy dink toe Nkosi se kombi by die voordeur stilhou. Sy dogtertjie gil opgewonde (“Pappa!”) en almal kom uit om na die kar te kyk.

Natuurlik het Nkosi ouer geword sedert jy laas van hom ge­lees het, ’n groot man wanneer hy uitklim en langs Tumelo John staan, breed. Hempsmoue wat styf om die boarms span. Hare baie kort geskeer, hartlik, hoewel die oë jou waarsku: moenie my verkeerd opvryf nie.

“Daardie Mabe is ’n regte ou drol,” sê hy minagtend, maar Tumelo John is so beïndruk met die bussie dat hy nie uitvra nie, die ding is dan splinternuut!

“Volgende keer as ek moet afsit Durban toe, ry jy saam met my, hierdie wa vlieg behoorlik. Shit, ek weet nie hoe ek so kon sukkel met daardie ou krok nie.” En al die deure word oopge­maak, die enjinkap – tweeliter en waterverkoel – die sitplekke oopgeklap … Durban toe, sê hy.

Dis juis toe hy Nkosi laas Desember Natal toe geneem het dat Tumelo John die ongeluk met sy vorige motor gehad het. Nkosi moes dringend Durban toe, hy het aangebied om buiten die brandstof ook te betaal vir twee nuwe bande. Hulle is die Maandag na die Kersnaweek hier weg, Busi en die kind is na haar ma in Soweto; hulle sou weer die Vrydag met Oujaar terug wees. Van Nkosi het hy die paar dae min gesien. Tumelo John het by die Mtshali’s oorgebly. Die Donderdagmiddag met hulle vertrek uit Durban – sy motor vol avokado’s en piesangs en madoempies – sê Nkosi ewe terloops toe hulle by die Umlazi-fietsstadion verbyry: “Sien jy daar?” Hy wys sonder om sy kop in daardie rigting te draai. “Dis waar ou Mxenge sy doodsteek gekry het, net dáár het hulle hom die volgende dag opgetel, keel af, wat praat ek, byna sonder sy kop en geen ore nie.”

“Wie’s hy?”

“ANC-kontakman. Hier gaan dit nog kwaaier met die polisie as in Soweto. Hier skiet hulle elke dag op jou. En vang jy onder hulle, om ’n einde aan die kakspul te maak, dan kry jy slim kêrels soos Mxenge wat hulle onderduimsheid in die hof wil afwater. Maar slim vang sy baas, soos die Boere sê.”

Tumelo John onthou die woorde goed, asof Nkosi dit alles gister laat val het. ’n Kwartier later, die botsing.

Nkosi vra: “Lyk my daardie knie van jou is nou weer heel­temal reg, wat sê die dokter?”

“Nee, dis reg, waarvoor sal ek ’n dokter loop pla?”

Nog voor die kombi ry, waai klein Tshidiso al met sy hand vir die mense wat vertrek. Sodat almal lag.

Nkosi hou eers stil by die hek. En kop by die venster: “Ek het nuus vir jou. Hulle het ou Kriek hier na die poliesstasie ver­plaas. Haha, jou ou vriend, hè!”

“Wragtig! Wel, ek kry die manne daar jammer.”

Nou sal hulle ook weet wat is reg en wat verkeerd, dink hy wanneer hy saam met Busi by die huis instap.

Sy vrou maak vir hulle iets om te drink. Ingedagte sit hy met die spelende kind voor sy voete op die mat. Hier wil ek bly, ons is gelukkig hier. Lyk my die witmense besef nie altyd hoe be­langrik mens se huis vir jou is nie. Maar as ek Tsepo reg ver­staan, begryp hulle dit tog, daarom span hulle dit as lokaas in, hulle en mense soos Skosana.

“Ek het Tsepo Makoko by die winkel raakgeloop,” sê hy vir Busi.

“Dit sal lekker wees om hulle weer te sien. Ek het mos laas gehoor sy vrou wil by die hospitaal daar naby hulle verpleeg.”

Tumelo John sit sy koppie neer. “Ek gaan in die tuin werk.”

Buite kyk hy oor sy agterplaas. By die oorkantste buurman stoot ’n jongerige koraalboom bloedrooi by die punte uit. Die blomme steek skuins na agter teen die takke af asof die groei weet daar moet gerem word dat die oordaad nie verspil nie.

Hy haal die plante wat hy gekoop het uit sy kattebak.

“Slim vang sy baas,” het Nkosi daardie dag voor die ongeluk gesê. “Mxenge het gedink ons weet nie hy kry hope geld uit Swaziland – van die ANC! – om sy werk te doen nie. Splinter­nuwe Audi gekoop, hom glad nie aan al die waarskuwings ge­steur nie. Hy’t twee briewe uit Swaziland gekry, hy’s gewaarsku hy sal soos Richard Turner doodgemaak word, sy twee bulter­riërs is vergiftig, maar nee, al wat aanneuk, is hy. Hoe kan ’n mens so stupid wees?”

“Wie’t hom afgeskryf? Die ANC? Hoekom?”

“Shit, dis oorlog hierdie, man, waar’s jou verstand?”

Nkosi het diep afgeskuif op sy skuins sitplek. Dit het gelyk of hy deur die dak van die motor praat.

“En sy vrou wil ook niks luister nie. Sy’s prokureur, saam met hom. Die ANC bring hulle geld deur haar die land in. Mense wat nie wil luister nie, moet dan maar voel.”

Daarna die kruising net voor ’n mens op die snelweg kom. Hy’t nooit die bakkie aan sy linkerkant gesien nie. Sy rooi Mazda soos ’n hoefyster gebuig. Nkosi wat by ’n wawyd gat uitklim en almal wat sê hy wat Tumelo John is, kan van geluk praat. Net die linkerknie teen die stuurwiel vasgedruk. Nkosi en ’n vreemdeling moes hom steun toe hy uiteindelik uitsukkel. En Nkosi wat oor en oor sê: “Ek moet my inhou, daai ou is poepdronk.”

Oor Mxenge het hulle nie weer gepraat nie.

Tumelo John stap met die plante na die voorkant van die huis. Kort-kort moet hy gaan staan en omkyk, want sy seun wil oral saam. En Tshidiso teken luidkeels protes aan wanneer sy pa weggaan of sommer reeds as Tumelo John sy uniform aan­trek. Dan wil hy opgetel word, klou aan die blink knope en moet met mooipraatjies oorgehaal word. Busi is ook gelukkig met die nuwe huis, sy sal ook nie sommer hier padgee nie. Kom sy vanjaar deur … Kyk, die Boere moet jy aanvaar. Hulle is maar wat hulle is: streng op alles en hou nie van storietjies nie. Kyk na Welgemoed met sy skeel oog, ’n mens weet tog wat jy aan hom het: jou uniform altyd netjies, presies elke inskrywing in die voorvalleboek by sy regte plek en tyd invul, dan kan jy saamlag vir al sy grappies (verkieslik onderdanig-beleefd).

Tumelo John buk om die graaf op te tel en hy moet hom ver­beel het, dis of hy ’n knal hoor en toe weer die glas sien wat voor hom uit sy rooi Mazda in duisend stukkies breek.

Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot

Подняться наверх