Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot - John Miles - Страница 5

Voorwoord

Оглавление

Toe Kroniek uit die doofpot in 1991 verskyn het, het dit groot indruk gemaak vanweë sy uitgesproke kritiek teenoor die apart­heidstelsel en die gepaardgaande misbruik van mag.

En inderdaad kan ons vandag, ná die onthullings voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie, vasstel in watter mate hier­die “polisieroman” ’n kroniek van die laaste jare van apartheid is. John Miles, dit besef ’n mens nou duideliker, het die verhaal van Tumelo John Moleko fyn beplan om die apartheidsera, ver­al dan sy krisis en ondergang, in sy biografie te weerspieël. Tumelo John is in die eerste jare van die Nasionale Party se bewind gebore en sy eintlike storie begin in 1973, die jaar van die eerste onrus op die arbeidsfront. Die aanranding op hom en die begin van sy stryd met die owerhede val saam met die aanvang van die “struggle” teen apartheid met die grootskaalse onluste in September 1984. Tumelo John se verhaal speel hom dus teen die agtergrond van die verset teen apartheid af en is ten nouste daarmee verweef.

Die polisie in die roman word ’n mikrokosmos van die des­tydse samelewing, waar saamleef en saamwerk van wit en swart gekenmerk word deur óf paternalisme óf hardvogtigheid en ras­sisme aan blanke kant en, aan die kant van swartmense, deur ’n gedienstige maar onwillige aanvaarding van harde en basies onregverdige behandeling.

Terwyl Kroniek uit die doofpot dan as ’n dokumentêre en ken­nelik as ’n politieke, of “betrokke”, roman beskou kan word, gaan dit op ’n dieper vlak egter oor ’n meer algemene, selfs uni­versele, tema: die wedervaringe van ’n gewone mens “voortdurend uitgelewer aan ander wat namens hom besluit”. Dit is die storie van een mens se stryd om geregtigheid teen ’n mag­tige stelsel, ’n kroniek van die geleidelike uitmergeling en onder­dompeling van ’n enkeling wie se regte verguis is. Sy voor­gangers heet Michael Kohlhaas, Josef K. of Bart Nel. By John Miles is hy ’n swart polisieman onder apartheid, ’n gewone mens wat net na beskeie geluk vir homself en sy gesin streef en nie eens in politiek belang stel nie.

Maar terwyl die aktualiteit én die tydloosheid van hierdie roman vandag nog boei, maak ’n herlees ’n mens ook sterker bewus van sy literêre aanbieding. Só word elke hoofstuk wat ’n verdere stap in die kroniek van onreg weergee, aangevul deur die optrede van die skrywer wat daardeur self deel word van die teks, oor die skryfproses nadink en direk tot die leser spreek: “Jy moet jouself oral en in alles raaksien.” Dit is bewustelik ’n Afrikaanse teks vir die Afrikaanse leser wat egter geensins deur ’n parogiale benadering beperk word nie. Hierdie metafiksio­nele kommentaar verleen verdere diepte aan Miles se roman.

Tumelo se besering en die gestadige proses van doof word – waarop die titel vernuftig sinspeel – verteenwoordig die mis­kenning en skending van die individu, tot hy ironies kan ver­klaar: “Dat ek doof moes word om [na die onreg rondom hom] te kan luister.”

Kroniek uit die doofpot gee die leser ’n onthutsende blik op ’n verlede wat steeds by ons bly spook, maar het tewens met die ontplooiing van nuwe magstrukture sedert 1994 geensins sy aktualiteit ingeboet nie, en is, al is dit op ’n ander manier, steeds relevant.

GUNTHER PAKENDORF

Kaapstad, 2005

Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot

Подняться наверх