Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot - John Miles - Страница 11
4 Pretoria, Augustus 1988
ОглавлениеDie prokureur by wie die skrywer se vriend die lêers gekry het, is ’n besige man. Sy ontvangskantoor sit vol mense. Die tikster dra vir die skrywer en sy vriend stoele in. Twee wagtende vroue voer ’n intense onderlinge gesprek waarby geeneen van die ander kliënte die geringste teken van belangstelling toon nie, so oorgehaal sit elkeen in ’n eie web wat sy besondere saak vir hom gespin het.
Hier het my nuwe hoofkarakter ook gesit, dink die skrywer en hier sit ek; by die huis lê ’n byna voltooide roman en wag op afronding, maar ek is verlei deur die lêers van ’n prokureur in Pretoria, vreemd hoe die lewe van ’n tot die dood opgeskrewe mens jou kan rig.
Die tikster tik, praat kort-kort in die gehoorbuis van ’n telefoon.
Die prokureur is verheug dat daar iets verder aan die saak gedoen word, het die skrywer se vriend hom vertel. “Ek dink hy voel nogal skuldig oor die ding, hy was oorsee toe alles tot ’n punt gekom het.”
Hy lyk soos ’n Engelse digter, met sy haakneus en blou oë (& pullover), vat die skrywer kort hierna sy eerste indrukke van die prokureur saam; iemand met ’n deeglike klassieke skoling, wat sy Homeros in Grieks gelees het.
“Ek verstaan jy wil oor Moleko skryf. Wat dink jy van dit alles?”
“Ek kan nie begryp hoekom die koerante niks hiervan gerapporteer het nie; dit maak alles soveel meer ontstellend,” sê die skrywer.
“Net ’n beriggie in die Sowetan, sover ek weet.”
“Dalk te riskant om daaroor te skryf,” betig die skrywer se vriend hom. “Onthou ons leef onder ’n noodtoestand.”
“Sê nou Moleko was iemand uit wie se lotgevalle niemand voordeel kan trek nie, ’n gebeurtenis sonder propagandawaarde vir wie ook al; ek wil hom al sien as iemand wie se lewe deur almal se siwwe val. Vir die aktiviste nie radikaal genoeg nie en vir die polisie gewoon nie op sy swart plek nie. Maar jy? Wat dink jý van hom?”
“Die vriendelikheid self,” antwoord die prokureur. “Dis waarom elkeen wat met die saak gemoeid was skoon uitgeboul is. ’n Doodgewone mens wat met almal, ook die swart skoonmaker, skerts en grappe maak.”
Asof norsheid of astrantheid sy lot billiker sou gemaak het, dink die skrywer en vra: “Wat het daardie aand in sy huis gebeur, daar is niks hiervan in die lêers nie?”
“Ek gee jou die telefoonnommers van sy swaer in Soweto en van Brian Huma, my vroeëre kollega, wat eintlik die saak in die begin hanteer het. Praat eers met hulle.”
“Daar is soveel gapings in die hele geskiedenis, meer gapings as geskiedenis, byvoorbeeld hierdie verslag van ’n departementele ondersoek, dit begin op bladsy 11, waar is die eerste tien? Lyk my selfs die dokumente is onvolledig.”
Die prokureur sit sy leesbril op.
“Dis vreemd. Hmm. Die belangrikste bladsye ontbreek, ja.”
“Ek het fotokopieë van alles in die lêers gemaak om elke stuk chronologies te kan plaas,” vertel die skrywer. “Dié generaal Stoker lyk na ’n interessante geval. Hy’s minstens een wat bereid was om te luister. Jy’t hom ontmoet, merk ek.”
“Stoker was die eerste poliesman wat kon insien dat Moleko onbillik behandel is. Hy wou hom nog ’n kans gee om van voor af te begin, heeltemal op ’n ander plek. Maar ek vrees, dit was toe al te laat … jy gaan dus iets skryf?”
“Op my manier ja.”
“Nou hoe is dit?”
“Ek sal dit moet aanbied as fiksie.”
“Fiksie!”
“Om mee te begin, is die gevaar van laster te groot, nie waar nie?”
“En die dossier is nog nie gesluit nie, die saak is nie afgehandel nie, ja.”
“Ek sal al die name moet verander.”
“Ja, maar fiksie! Dink jy dit sal die saak enigsins help?”
“Hoe erg dit ook mag klink, gaan dit vir my om ’n geval, dat so iets met jou gebeur en niemand eens daarvan weet nie. Ek sal Moleko nie daardeur ’n nuwe lewe kan gee nie, ek sal die onreg nie kan goed maak nie, nie die skuldiges aan die man bring nie, maar … miskien wel.”
“Wat hulle faksie noem,” sê die vriend, “dis wat hy bedoel, iets tussen feit en fiksie.”
“Nou goed, as julle so dink.” Hy gee aan die skrywer ’n papiertjie met twee telefoonnommers.
Na die afspraak met die prokureur (later sal hy Craig Byron genoem word) maak die skrywer en sy vriend ’n draai by die uitgewer. Hy begelei hulle na sy studeerkamer aan die agterkant van sy huis waar hy besig is om pynlik presies die skerwe van ’n kleipot (“opgetel op ’n vriend se plaas, laas naweek”) aanmekaar te las.
“Tom Huffman meen dit dateer uit die Laat Steentydperk,” sê hy en grinnik. Hy sit aan hulle bier en biltong voor.
Wie sou kon dink hierdie kleipot is so oud? wonder die skrywer, of miskien is die Steentydperk nog nie heeltemal verby nie!
Buite spook die lente om gesien en gehoor te word.
“Jy moet sommer van die dokumente uit die lêers net so afdruk in jou manuskrip,” meen die vriend, “dat dit eg lyk.”
Ek sal noodgedwonge moet verander, dink die skrywer. Die besonderhede wat ek nie kan uitvind nie, sal ek uitdink; ander se menings sal ek met my eie aanvul en my onkunde moet ek verberg agter die seepgladheid van ’n storie. Ek sal by die name begin en die aardrykskunde van die land verder vervorm sodat diegene wat kolonel Van Niekerk en adjudant-offisier Mabe ken nooit sal droom dis hulle nie, terwyl die mense van die arm buurt sal weet dis niks anders as die Suid-Afrikaanse Polisie nie. Staatkundige grense sal ek dalk hier met enkele meters verskuif en die verspreidingsgebied van ’n plantkundige spesie daar met ’n honderd kilometer.
Ek gaan oral inmeng dat my brousel so deurmekaar sal lyk soos die werklikheid self.
Daarom sal ek Tumelo John, Tumelo John noem om die verwardes te verwar en die verbeeldingrykes te laat sien.
“Ek sal hom Tumelo John noem,” sê die skrywer. “En sy van: Moleko. Tumelo John Moleko.”
Die ander twee staar hom verdwaasd aan.