Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot - John Miles - Страница 13

6 Temba, Augustus 1988

Оглавление

So te sê teenaan Hammanskraal en vyftig kilometer noord van Pretoria, in die oostelike blok van Bophuthatswana. Dis waar Temba in die gemengde Bosveld aan die Apiesrivier lê, ’n stede­like gebied met inwonertal van oor die 100 000.

Daar’s ’n vierrigtingstop waar jy links afdraai na Temba, maar dis nou ’n ander naam wat op ’n nuwe bord geverf is: KUDUBE, staan daar geskryf. Nog nooit die naam gehoor nie? Vra dan ’n voetganger uit en dié sal stellig lag en sê: Kudube is net ’n naam, dis die einste Temba wat hier anderkant lê; die regerings­mense, dis hulle wat deesdae van Kudube praat, maar ons wat hier bly, ons weet almal ons bly in Temba.

Die vrou langs die pad verkoop nie meer plante nie – niks bly ook dieselfde nie – dis nou prente wat sy uitstal, geraamde foto’s en afdrukke in soet kleure, ’n stuk of dertig, skuins staan­gemaak.

Jy draai in by Kentucky se Amerikaanse plaasstoorpadkafee, loop op die grint tussen die rooi-en-wit sonsambrele deur, be­stel ’n hoendervlerk en vra die vrou waar Bophuthatswana dan begin.

“Bop?” sê sy en wys na die vierrigtingstop. “Net hier.” Dit moet die eerste keer wees dat iemand haar so iets vra, die res van haar gesig wil duidelik weet wat mens met sulke inligting kan uitvoer, is jy dalk ’n landmeter?

Weer buitetoe met jou pakkie, na die stopstraat, draai daar om en kyk reg wes. En oorkant jou teen die skuinste anderkant die spruit, vlak voor jou oë, sien jy polisierekrute op ’n oop veld dril, so te sê aan weerskante van jou as jy pylreguit kyk: heen en weer marsjeer hulle oor die grens tussen Bophutha­tswana en die gebied van die sentrale regering, maar op presies dieselfde terrein. Blou kruis en dwars bewegings teen die loom grys van die Bosveld hier naby die rivier met die Tembadam regs waar die nog blaarlose koraalbome onverbiddelik en knal­rooi staan om uitgeken te word.

Sonder verposing hou die voertuie om jou stil, trek weer weg: busse – Bop Transport, A Friend to Depend on – taxi’s, bakkies. Omdat jy honger is, begin jy van die hoender eet en vat ’n sluk Coke, houtgerus, asof jy weet jou bus kom eers veel later.

Op soek na die Moleko’s se huis in Eenheid D klim jy in jou eie motor.

Verby hek nommer 1 van die hoogomheinde polisiekollege met daarnaas die klein kantoortjie – ’n lang ry strak beestonge onder die jakarandas van die oprit waar alles dalk begin het.

By die polisiestasie – onmoontlik om dit ook mis te ry – ver­neem jy hoe om by die nabygeleë hospitaal te kom.

“Die Jubilee?” Die konstabel is van oor tot oor die ene vrien­delikheid. Hy’s ’n middeljarige man en beduie oor die diens­kantoor – platdak, siersteen – deur die dor jakarandaboom na waar die hospitaal moet wees. (Hy ken tog sekerlik ook die naam sersant Moleko, en sy vrou ook? Maar moet liewer nie vra nie, dis nog maar Augustus 1988. Die dossier nog nie gesluit nie.)

Klim liewer in jou kar en ry, vra eerder op ’n ander plek uit, voor jy onverwags hier agter jou “Haai, jy!” hoor en die skry­wer verskrik laat wonder wie sy aandag wil trek.

“Jou laaste hoofstuk het na my smaak te veel nuwe karak­ters, ek kan nie glo wat jy alles kry uit Craig Byron se lêers nie,” het die uitgewer die vorige aand gesê toe hy hoofstuk 5 aan die skrywer teruggee. “Nogal daarmee gesukkel, lyk my jy wil ou Russiese romans naboots.”

Zondi, Tsepo en Temba, dís natuurlik waarna hy verwys. Want Nkosi behoort hy te onthou van die Johannesburg-dae, dis net sy mooi vrou, Nuni, wat bygekom het.

“Van Mxenge weet ek uit koerante, natuurlik. Jy wil my tog nie wysmaak jou man, wat’s sy naam nou weer? het ook daar­mee iets te doen nie. Tolstoi, aan die ander kant …”

Hy het die uitgewer nie kans gegee om verder te praat nie. “Zondi is ’n jong, gepolitiseerde swartman in die Congress-tradisie. Hou hom maar gerus dop, hy wil ’n soort politieke ge­wete vir die hoofkarakter wees, hy sal die polisieman nog baie irriteer, hy moet dinge sê wat ’n polisieman dadelik op sy ver­dediging stel.

“Dan is daar Tsepo Makoko,” en die skrywer dink, hel dis goed dat ek hieroor gepraat het, want nou sien ek self baie hel­der die karakters se eintlike funksie. “Tsepo is in sekere sin ’n herhaling van Tumelo John. Jy sal nog sien, hy gaan in ’n soortgelyke dilem­ma as die hoofkarakter beland, ’n radikale keuse sal hom geensins afskrik nie, soos ou Bart Nel is hy be­reid om die pad tot by sy einde te loop, al is dit alleen.

“En dan het ons Temba, die oud-Zimbabwiër, vol sorgvrye selfversekering. Jy kan hom seker ook lees as ’n soort ontvlug­ting. Daardie besoek van Tumelo John aan Zimbabwe in Julie ’82 was nie iets om te vergeet nie. Dis hoekom hy die houtbeeld gekoop het, daardie middag met die beeste wat stadig terugkom oor die vloedvlakte, ongestoord fyn-fyn stof in wolkies om hulle lostrap en ver aan die oorkant in Mosambiek ’n dynserigheid van langdurige veldbrande. Temba is self ’n heel bedrewe fotograaf, hy is die een wat Moleko geleer het van collage-foto’s: hy neem jou af en as jy jou portret kry, sien jy jou gesig is in die wolke of op ’n R10-noot. Die meeste klante het natuurlik nie veel sin daarin gehad nie, dit was meer grappies wat hulle op ’n weeks­aand bedink het as Tumelo John nie lus was vir studeer nie.”

Die skrywer ry deur ’n tipies voorstedelike buurt, die nuut­ste (tweeslaapkamer-) huise met teëldakke, die oueres het IBR-plate. En hoekerwe moet gesog wees, hulle is veel groter met soms swierige wonings. I ♥ Unit D teen die muur van ’n beskeie plekkie (kinders voor die deur).

Die skrywer maak ’n U-draai om weer by Tumelo John se huis verby te ry. Dis dan hoe dit lyk: boom voor huis, ’n den, ’n be­wys dat hier vantevore ander mense gewoon het, lank voor dié nuwe buurt uitgelê is, die boom is te oud vir sy omgewing, hoe het dáárdie huis gelyk en hoe het hulle gelewe, beter as ons? My God, kyk, teen die draadheining blom die ploegbrekers!

Op die hoek hou hy stil en voor hy weer ’n U-draai maak, teken hy in sy notaboekie aan: ploegbrekers blom.

HUIS (skuins op reghoekige erf)

sement-

paadjie

droë gras

boom

hek

ry ploegbrekers

straatlig

Ek sal moet opskud, besluit die skrywer, anders is ek laat vir my afspraak met Temba by die apteek oorkant Checkers. Hy probeer hom voorstel hoe die huis van binne moet lyk (agter daardie voordeur met sy loergaatjie op skouerhoogte om te weet vir wie jy die deur oopmaak) en dit val hom by van ’n foto wat oorgebly het van daardie eerste dae in Temba.

Dis feestyd:

Laggende

Tumelo John

linkerelmboog

teen haar bors: Nuni vrolik

maar by hom ingehaak,

hand (met trou- bord met eetgoed

ring) in ander hand

op skouer van:

Nkosi, sittend, geruite

Kind, oopnekhemp en baadjie,

ongeveer uiters agterdogtige Vrou se bene

8 maande, blik op kamera en hand

op die skoot op stuk van

(dogtertjie) rusbank

voor groen

gordyn

met kind se voet

op halwe skoot

Alles is daar: twee keer … dis aand, die kameraflits gooi iedereen teen ’n swart silhoeët.

Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot

Подняться наверх