Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot - John Miles - Страница 8
1 Senekal in die Vrystaat, 1952 …
ОглавлениеTumelo John was maar nege toe hy ’n dag of so na die dood van sy oom wat skynbaar nooit sou kon rus voor hy nie geweet het wie sy spogooi gesteel het nie, op ’n toevallige vraag van sy oupa sê hy wil eendag polisieman word. Sy ma het gemeen dis goed. Hy sou moes deurbyt op skool, het sy gesê, want om skelms vas te vat, moet jy slim wees. En uitgeslape, het die oupa bygevoeg, want die Groot Geneuk het soveel houdings en hy lê jou altyd op die mees onverwagte plekke voor.
Was dit nie vir sy oom se dood nie wat in dié dae – dit was die einde van Mei 1961 – swaar op hulle gedruk het, sou Tumelo John – soos so dikwels in sy kleintyd – moes lag vir die ou man, ’n lag wat hy met sy ouer word al hoe gouer sou sluk, want die ou Tshidiso het nie verniet so stadig geloop nie. Vir elke tree wat hy gee, het hy met sy gedagtes ’n tree teruggeloop en om ’n dag saam met hom in die veld te wees, het jou laat voel jy was baie ver weg as jy die middag terugkom. Boonop was die huis nou ook anders as toe julle weg is.
Wat jy alles van die veld kan leer, dit het Tshidiso hom vertel. Soos wanneer jy van die gougoubossie se grysappeltjies kan eet, want oppas, eet jy hulle te groen dan slaan jou ore uit!
Tumelo John se pa was plaasarbeider. Sy ma ook. En sy ooms met vier van hulle seuns. Sy oupa veral het die plaas soos die holte van sy hand geken. Sommer lank gelede het hy – destyds as deelboer – daar ingetrek.
“Jou oupa is een van die gelukkiges,” het Tumelo John se ma menigmaal vertel. “Na al die jare sit hy darem nog op die grond waar hy begin het; die Van Niewenhuizens is goeie mense, dis daarom dat jou oupa so lank met hulle kan ooreenkom. Maar óns mense was nie so voorspoedig nie.”
Sy ma was ’n boorling uit die Hoopstadomgewing, ’n senuweeagtige mens. En darem net te nederig, te onderdanig, so anders as sy trotse ou oupa.
“Ons was nooit seker van ons blyplek nie.” Dan het sy ma vertel – met sy pa wat hom altyd doof hou, het Tumelo John nie geweet wie almal luister nie – van die man wat glo jare gelede met ’n fiets deur die land gery het om swartmense raad te gee en moed in te praat, mense wat soos haar familie destyds maande lank met hulle vee op pad was om bywonerplek te soek.
Aan die einde van sy standerd ses is Tumelo John dorp toe om werk te soek. Sy oupa het hom self met die donkiekar na die winkel by die kruispad geneem om hom die bus te laat haal.
Waar die teerpad begin, het ’n kombi by hulle verbygejaag, ’n ent verder naby ’n plaashek stilgehou en mense afgelaai.
“Daardie man het nie hier tussen ons mense grootgeword nie,” het die ou Tshidiso gesê en met sy seningrige swepie oor die lywe van sy spogdonkies gewys na ’n groot man met ’n kakiemus op.
“Hoe so?” vra Tumelo John en kyk na die man wat sy oupa uitgewys het, ’n grootgeboude kêrel met lang bakarms en hande so groot soos skopgrawe.
“Jy kan dit sien aan sy loop,” en van ergernis kap-kap die ou man met sy swepie teen die houtbankie waarop hulle sit.
“Sy loop?” Tumelo John let die groot paar stewels op wat kortpad deur die veld aanstryk om by ’n voetpad aan te sluit.
“Kyk,” en sy oupa leun teen hom aan om mooi te kan beduie, “kyk, die vent het dwarsoor daardie klein druifbossie geloop. Watter mens sal oor kos loop?”
En toe hulle by die winkel groet, was sy oupa se woorde: “Oppas vir die lelike ene. Onthou, hy hou sy lyf jakkals, hy ken al die maniere om jou gerus te maak. Want hy lyk tog so baie soos jy self.”
As jy eers in die grootwêreld woon, is sulke herinneringe baie ver, jy dink nie aldag daaraan nie.
In Senekal het Tumelo John allerhande los werkies gedoen en later kon hy by die dorpsapteek oorkant die kerkplein (met sy versteende bome) help met die uitwas van bottels om weer vir medisyne (aan swartmense) gebruik te word. Intussen het hy by die polisiemag aansoek gedoen.
Ek stel my voor dat Tumelo John later van tyd tot tyd aan sy oupa sou terugdink. Die fier een, die een wat reeds baie oud was toe Tumelo John die Vrydag terug is plaas toe om sy mense te groet, want hy is deur die Suid-Afrikaanse Polisie as rekruut aanvaar en moes hom in Johannesburg vir diens aanmeld.
“Hoe laat jy my skrik!” sê sy oupa met die opkyk, die dag was al wit.
“Kom nou, Oupa, jy word rêrig oud. Hoe sal ek jou laat skrik?”
Maar die ou man hou sy gesig strak: “Hoekom loop jy so stil?” sodat Tumelo John vir hom lag.
“As jy aankom, slaan my ore toe.”
En die jongman lag harder: “Dit lyk my Oupa het te veel groen grysappeltjies geëet!”
Die ou man het oor die weer begin praat. Dit was die middel van Mei en die herfsaande – gaan kyk maar na die weerverslae van 1973 – onverwags bitter koud.
Op Vrydag 25 Mei 1973 begin Tumelo John Moleko sy diens by die Suid-Afrikaanse Polisie in Cleveland, Johannesburg.