Читать книгу Gister is verby - Juanita Aggenbach - Страница 10

Hoofstuk 6

Оглавление

“Liam, luister na my.” Althea is spyt dat sy nie die kantoordeur ordentlik op knip getrek het nadat sy haar laaste pasiënt gaan afsien het nie. Maar sy het haar selfoon hoor lui en gehardloop om dit betyds op te tel. “Wag net tot ek by die huis kom dat ons kan praat.”

’n Dierlike geluid kreun in haar oor. “Ek moet gaan. Sê vir Ouma sy moet die hek oopmaak of ek klim oor.”

“Ek kom. Wag net daar tot ek kom.”

Sy druk die foon dood, gryp haar handsak en drafstap die gang af.

Die ontvangspersoneel kyk haar verbaas aan.

Sy beitel ’n glimlag op. “Sien julle môre.” Haar lyf prik van die adrenalien.

Terwyl sy huis toe snel, kyk sy op haar horlosie. Sy het net vyf-en-veertig minute voor sy die CPD-seminaar moet aanbied. Dis vir haar ’n eer dat die Raad vir Gesondheidsberoepe haar gebruik om dokters op hoogte te bring van verwikkelinge in die veld. Die verkeer is haar net tot op ’n punt genadig en sy neem die langer maar vinniger roete huis toe. Toe sy deur die gietysterhekke is, die motorhuisdeur laat oopgaan en haar moe­der uitstap, weet sy sy is te laat.

Sy probeer nie eens haar teleurstelling wegsteek nie. “Hoekom het Moeder nie die hek gesluit gehou nie?”

“Hy was onmoontlik om mee huis te hou, Althea. Toe hy opgestaan het, was hy oukei. Hy het die plaatkoekies verslind wat ek vir hom gebak het, maar toe begin hy rusteloos raak, en geïrriteerd met alles. Hy het die afstandbeheerder van die televisie teen die muur gegooi toe dit nie werk nie. En toe wil hy loop en ek sê hy moet bly en hy besef al die deure is gesluit. Ek dog hy word mal. Toe bel ek jou en toe word hy maller. Toe sluit ek maar oop.”

“Ai, my Moeks.”

“Ek het hom probeer ompraat om te bly, maar hy wou nie luister nie.” ’n Traan druppel by haar moeder se wang af.

“Ek is so jammer.” Althea klim uit die motor en hou haar vas. “Ek het nie besef wat ek van Moeks vra nie.”

“Ek dink hy het weer drugs gaan soek.”

“Ek vermoed ook so . . . Ek moet gaan. Ek sien Moeder bietjie later.”

“Althea.”

Sy skrik vir die hand wat skielik op haar arm rus.

“My selfoon is weg.”

Skaamte stamp die skok wat haar verlam uit die pad en skiet haar oë vol trane. Vir die eerste keer in haar lewe weet sy nie wat om te sê nie.

Haar moeder gee haar arm ’n drukkie. “Jy moet gaan. Ons hanteer dit wanneer jy terugkom.”

Althea skuif die rathefboom in trurat. “Bel vir Roelof. Hy sal weet wat om te doen.”

So ver soos sy ry, kyk sy of sy Liam sien.

Roelof sal die polisie bel. Dis die regte ding om te doen. So skaamkwaad soos sy nou is, sien sy nie nog daarvoor ook kans nie, maar iewers moet dit stop.

Wie is hierdie mens wat sy ouma se selfoon steel? Dis mos nie haar Liam wat “Hansie Slim” met die dierbaarste lispel ge­sing het by die kleuterskoolkonsert nie?

Waar het dinge so verskriklik verkeerd gegaan? Waar het sý so verskriklik verkeerd gegaan? Het sy hom nie genoeg pakke slae gegee nie? Moes sy hom ooit pakke slae gegee het? Was dit omdat haar moeder hom feitlik alleen grootgemaak het? Waar­om het Amara dan so goed uitgedraai?

Sy skrik toe ’n toeter agter haar blaas en besef die verkeerslig is lankal groen. Haar hand vlieg op om jammer te sê voor sy met ’n vaart wegtrek.

Dalk was dit daardie kind wat Liam in graad twee geboelie het. Sy en Roelof het eers maande later uitgevind dat hy nooit meer pouses buite gaan speel het nie. Die volgende jaar het hulle hom by ’n privaatskool ingeskryf.

Toe sy by die plek aankom waar die seminaar plaasvind, staan die parkeerarea reeds driekwart vol. Sy kyk op haar horlosie. Sy het tien minute om haar skootrekenaar op te stel voor die lesing moet begin.

Soos sy die vertrek instap, voel sy almal se oë op haar. Sy trek haar skouers terug en lig haar ken. Dis tog wat hulle van dokter Althea Laubscher verwag. Professionaliteit.

“Goeienaand, dokter,” groet die raad se verteenwoordiger. “Gee sommer u laptop dat ek dit kan instel. Neem gerus ’n koppie koffie daar agter.”

Sy oorhandig die rekenaar. Koffie is die laaste ding wat haar adrenaliendeurdrenkte liggaam nou nodig het. Sy skink vir haar ’n glas water. Vermy oogkontak en daarmee saam enige vorm van gesprek met enigiemand.

Die verteenwoordiger kom nader. “U laptop is reg.”

“Dankie.”

Sy stap na haar rekenaar, kies die regte skyfievoorlegging vir die aand en gaan wag in die voorste ry stoele.

Die verteenwoordiger heet almal welkom. “Ons spreker vanaand het geen bekendstelling nodig nie – dokter Althea Laubscher is seker die mees gesogte onkoloog in die land. Sy is internasionaal bekend vir haar navorsing oor borskanker en spreek gereeld internasionale gehore daaroor toe. Dokter Laubscher het haar mediese graad cum laude verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch. Daarna het sy gespesialiseer in onkologie, met die fokus op borskanker sowel as radiologie. Sy publiseer gereeld mediese artikels oor borskanker. Dokter Laubscher, dis ’n voorreg om u hier te hê.”

Die applous dawer in Althea se ore toe sy opstaan.

Sy bedank die verteenwoordiger met ’n kopknik en draai na die gesigte voor haar. Almal kyk blinkoog van afwagting na haar. Sou hulle nog só na haar kyk as hulle weet sy het ’n kind wat aan heroïen verslaaf is?

“Goeienaand, dames en here,” groet sy.

Sy doen haar lesing met geoefende selfvertroue en laat die gehoor lag met ’n paar kwinkslae op die regte tyd. Gedurigdeur voel sy soos ’n bedrieër.

Ná die tyd ry sy afgemat huis toe.

Haar drie huismense sit in die sitkamer op hulle skote en eet.

“Julle eet laat?” probeer sy met ’n ligte stemtoon sê, maar dit misluk.

Roelof kyk met koue oë op na haar. “Ons was by die polisie­stasie.”

Van Roelof af kyk sy na haar moeder na Amara. Sy het geweet dit kom. Sy het dit verwag soos ’n mens op die matriekuitslae wag. Daar is ’n dag en datum wanneer dit ge­beur, maar jy weet nie hoe die uitslae lyk nie.

“En?”

Af bord toe sak Roelof se oë. “Jou ma het ’n saak van diefstal gemaak en ’n verklaring afgelê. Hulle soek hom nou.”

Haar moeder staan op sonder om haar in die oë te kyk. “Jy is seker honger. Ek sal jou kos gaan warm maak.”

“Nee, Moeks, sit. Ek sal self gaan kry.” Sy moet haarself eers bymekaarmaak.

Sy skink vir haar ’n glas ystee en neem die eerste sluk terwyl sy teen die kombuistoonbank staan en wag vir haar kos om warm te word.

’n Dief moet gevang word, dit moet sy toegee. Sy verstaan dit op ’n kognitiewe vlak. Dis net so anders as dit by haar eie bloed kom. Sy wíl hom straf. Sy wou hom nog nooit so graag straf soos wat sy hom vir hierdie ding wil straf nie. Maar is dit reg om die kind soos ’n krimineel te behandel?

Ná ete gaan haal sy die pasiëntlêers uit haar motor en dra dit kamer toe om deur te kyk.

“Wat gaan ons maak as hulle hom kry?” vra sy vir Roelof toe sy die lêers op die tafel neersit.

“Hulle sal hom arresteer en in die selle aanhou.”

“Tot wanneer?”

“Seker tot hy borg kry.”

“Gaan jy sy borg betaal?”

“Nee, maar ek is seker ek gaan jou nie gekeer kry om dit te doen nie.”

Sy skud haar kop in ongeloof. “Is dit vir jou lekker? Kry jy so ’n I told you so-gevoel?”

“Nee, Althea.” Hy buk vooroor om sy skoene uit te trek. “Ek put geen genot daaruit om my seun te laat opsluit nie. Maar ek kan nie toelaat dat hy ons swaarverdiende besittings uit die huis dra nie. En siende dat hy reeds twintig is, sal ek dit vir hom leer as niemand anders wil nie.”

“Ek wil ook nie hê hy moet steel nie, Roelof, maar om hom toe te sluit gaan nie help nie. Hy moet hulp kry. Gerehabiliteer word. Om aan heroïen verslaaf te wees is so goed soos ’n mediese toestand.”

“Hy was in ’n rehab centre. Dit het nie gehelp nie.”

“Dan probeer ons ’n ander een. Daar is baie in die Kaap. Ons kan hom nie net so aan sy eie genade oorlaat nie. As ons hom nie help nie, gaan hy iewers dood opeindig en dan is dit deur ons eie toedoen.”

“Nee, Althea. Dis deur sý eie toedoen. Niemand het hom ge­dwing om met dwelms deurmekaar te raak nie.”

Daarteen kan sy nie stry nie. “Ons moet hom help.”

“Hy moet homself wil help.”

Woensdagoggend twaalf minute oor agt, pas nadat Althea haar eerste pasiënt uit die wagkamer gaan haal het, vibreer haar foon in haar laai. ’n Koue rilling gly by haar ruggraat af toe sy Roelof se naam op die skerm sien flits. Sy is nog nie reg om te hoor dat hulle Liam gearresteer het nie.

Sy skuif die laai toe en kyk op na die vrou oorkant haar. “Jy sê jou maag het aanhoudend gewerk ná die vorige chemo?”

“Ja, dokter.”

“Hoe lank ná die chemo het dit aangehou?” Sy moes geantwoord het. Sê nou iets het met Liam gebeur?

“Die hele dag, dokter. Eers nadat ek ’n Imodium gedrink het, het dit beter geraak.”

“En die res van die drie weke was jou maag reg?”

“Ja, dokter.”

“Dit was jou eerste chemo. Het jy enigiets vreemds geëet die dag voor die tyd?”

Die pasiënt staar haar aan. “Ons was die vorige aand by ’n Mexikaanse restaurant.”

“Die kos was waarskynlik te ryk, of af. Ons kan nie alles aan chemo toeskryf nie.”

“Maar ek het gelees chemo gee diarree.”

Sy was dom, sy moes die oproep geantwoord het. “Sekere chemo veroorsaak diarree, maar nie sommer die Adriamycin wat vir jou voorgeskryf is nie. Gaan vir jou tweede chemo, dan kyk ons.”

Sy staan op. Sy moet Roelof dadelik terugbel. “Bel my as jy weer diarree het, dan skryf ek iets vir jou voor.”

“Dankie, dokter.”

Die vrou tel haar handsak op, maar lyk ontevrede toe sy uitstap. Althea maak die deur agter haar toe en haal haar selfoon uit.

Roelof tel ná die eerste lui op. “Die polisie het my gebel. Hulle het Liam gearresteer.”

Hy leef, juig dit in haar. Dan eers dring die implikasie van Roelof se woorde tot haar deur. “Waar is hy nou?”

“In Bellville-polisiestasie se selle.”

Haar hart.

Die luitoon in haar oor beteken haar volgende pasiënt wag. “Ek kan nie nou hiermee deal nie, Roelof. Ek het back-to-back pasiënte tot middagete toe.”

“Myns insiens is hy presies waar hy hoort.”

“Hoe kan jy so gevoelloos wees?”

“Diewe moet leer hulle mag nie steel nie.”

“Hy is veel meer as ’n dief en jy weet dit.”

Sy druk die foon dood voor sy nog iets onsinnigs uit Roelof se mond moet hoor. Dis asof Roelof ’n haat vir die kind ont­wik­kel het, en sy kan om die dood nie verstaan waar dit vandaan kom nie.

Haar hand soek na die bottel op haar lessenaar. Sy draai dit oop en spoel haar droë mond met ’n sluk water uit. Hoe gaan sy deur hierdie oggend kom?

Konsentrasie, dis die enigste manier. Elke pasiënt kry haar volle aandag. Sy let op na elke bloeddruklesing, tel elke polsslag noukeurig. Dis net wanneer ’n pasiënt paranoïes raak oor haar simptome dat sy sukkel om haar irritasie weg te steek.

Eenuur spoed sy na die polisiestasie in Bellville om Liam daar te gaan uithaal.

“Nee, dit werk nie so nie,” lig konstabel Plaatjies haar in. “Hy verskyn eers môre in die hof. Dan kan hy vra vir borg.”

“En as ons die saak terugtrek? Sal julle hom dan laat gaan?”

“Dis nie meer in onse hande nie. Mevrou sal die staatsaan­klaer moet sê dat julle die saak terugtrek. Dan bring hy dit voor die hof. Môre.”

“Ek wil hom sien.”

“U is welkom om hom te visit. Tienuur in die môre en twee­uur in die middag.”

“Maar ek moet tweeuur terug wees op kantoor. Ek het pasiënte wat wag. Kan ek nie net vinnig met hom praat nie?”

“Jammer, mevrou, it is not allowed. Dit sal die ander in die selle net in oproer bring as hy special treatment kry.”

Sy vries vas. “Ander mense binne-in die sel waar hy is?”

“Ja, mevrou. Daar is vier ander saam met hom.”

Sy maak haar oë toe om haar ewewig te herwin. “Waarvoor is hulle in?”

“Dit mag ek nie vir mevrou sê nie, dis confidential.”

“Kan ek darem vir hom kos bring, later?”

“Ek sal dit vir hom gee, ja, maar dit cause partykeer problems. Met dié dat die ander ook daarvan wil hê.”

“Dan los ons dit maar.”

Gedwee stap sy in die skerp sonlig uit, terug na haar motor toe. Sy laat sak haar kop teen die stuurwiel. Hoe het hulle tot op hierdie punt gekom? Hóé?

Sy lig haar kop. Om so te bly sit gaan haar nêrens bring nie.

Doelgerig stap sy terug polisiestasie toe. “Konstabel Plaatjies. Wat is die naam en nommer van die staatsaanklaer?”

Hy lees dit af en sy tik dit op haar selfoon in.

Met behulp van die handvrye toestel in haar motor skakel sy die staatsaanklaer op pad werk toe. Hy is nie beskikbaar nie. Sy los ’n boodskap waarin sy hom inlig dat hulle die saak teen haar seun wil terugtrek en dat hy haar asseblief moet skakel.

Daarna bel sy vir Roelof.

“Liam se borgaansoek is môreoggend. Ek het die staatsaan­klaer laat weet dat ons die saak wil terugtrek. Dit gaan ons onnodig geld kos om borg te moet betaal. Hy gaan steeds ’n nag in die selle saam met vier ander mense moet deurbring. Dis straf genoeg.”

Geen antwoord nie.

“Ek gaan ook kyk om hom by ’n rehabilitasiekliniek in te kry wanneer hy môre uitkom. Dis in die eerste plek waarheen hy vanoggend moes gegaan het, nie die tronk nie.”

Sy druk die foon dood. Roelof moenie eens probéér met haar stry nie.

Tussen pasiënte deur google Althea rehabilitasieklinieke. Sy bel vyf om uit te vind oor prosedure, plek en prys. Snak na haar asem elke keer wanneer hulle die bedrag vir vier weke se rehabilitasie gee.

Net een kan dadelik help – die tweede duurste van die vyf. Die ander het elkeen ’n wagperiode van een tot twee weke.

Halfvyf bel die staatsaanklaer. Sy verduidelik hulle situasie.

“Ek verstaan,” sê hy. “Die borgaansoeke is eerste ding in die oggend. Jy en jou ma moet maar albei daar wees. My kantoor is by die hof, kom sien my voor die sitting, so halfnege. Die hof begin negeuur.”

“Ons sal daar wees.”

Sy skakel ontvangs. “Probeer my oggendafsprake skuif na Martinette toe. Ek het dringende sake wat my aandag verg.”

Sy onderdruk die skuldgevoel wat in haar opstoot. In haar hele onkologieloopbaan het sy nog nooit so iets aangevang nie.

Teen vyfuur is Liam se bed by die kliniek bespreek en die duisende rande oorgeplaas om sy plek te verseker. Sy ontvang ’n e-pos met ’n lang lys items wat gepak moet word vir sy ver­blyf daar.

Die druk verkeer huis toe skeel haar nie. Die tyd alleen doen haar goed. Sy kan steeds nie glo die polisie wou haar nie toe­laat om Liam te sien nie. So asof sy as ma ook gestraf moet word omdat haar kind gearresteer is.

Amara staan in ’n kortbroek en kaalvoet ’n sny brood en smeer toe sy by die huis instap. Dit laat Althea skielik wens sy het haar eie sorgvrye skoolkinddae meer waardeer.

“Hallo,” groet sy opgewek.

Amara kyk vlugtig oor haar skouer. “Hi.”

“Hoe gaan dit?”

“Goed.”

Goed . . . As dit goed gaan, gaan dit seker goed?

“Het jy ’n lekker dag by die skool gehad?”

“Ja.” Steeds die rug en die koue stem.

As sy haar sonde nie ontsien nie . . . “Waar is Ouma?”

“Kamer toe.”

Laat sy haarself verwyder voor sy die bot kind met ’n pan oor die kop slaan. Haar moeder lyk darem bly om haar te sien.

“Ek dog ek hoor jou stem,” sê sy en maak die tydskrif toe waarin sy geblaai het.

“Hallo, Moeks.”

“Roelof het gebel en gesê ons moenie vir hom wag vir ete nie. Hy werk laat.”

“Dis goed so.” Hy wil haar natuurlik vermy. “Wat eet ons van­aand? Ek is rasend honger.”

“Ek gaan vir ons tongvis bak, met baba-aartappeltjies en patats.”

“Dit klink verruklik.”

“As jy honger is, kan ek sommer dadelik begin. Die aartappels en patats is reeds klaar.”

Sy loop agter haar moeder aan kombuis toe.

“Moeks, ek wil hê ons moet die saak teen Liam terugtrek môreoggend. Dan vat ek hom na ’n rehabilitasiesentrum toe. Ek het reeds met die aanklaer gepraat. Hy wil ons halfnege daar hê.”

“Dis goed so, my kind.”

Amara kom verby met ’n toebroodjie op ’n bordjie.

“Jy moenie nou te veel eet nie,” sê Althea. “Ouma maak sole.”

“Ek weet.” Amara stap aan.

Althea kyk die kind agterna toe sy die trappe op loop. Moet sy haar aanpraat? Sy is tog nie lus vir ’n bakleiery nie. Nie vandag nie.

“Wat is dit met Amara?” vra sy eerder haar ma.

“Een van die kinders by die skool se ma het blykbaar vir Liam sien dwelms koop. Sy het haar kind daarvan vertel en toe vertel dié vir die ander kinders Amara se broer is ’n wasted drug addict.”

Althea knyp die vel tussen haar oë. “Good grief.”

Haar moeder vryf oor haar arms asof sy koud kry. “Amara het voorgegee dit pla haar nie.”

“Ek gaan gou boontoe.”

Sy klim die trappe twee-twee op en klop aan Amara se deur wat op ’n skreef oopstaan. “Kan ek inkom?”

“Ek moet leer.”

Soos water van ’n eend se rug, besluit Althea toe sy op die bed langs haar dogter gaan sit. Sy kan haar nie nou laat afsit deur ’n koue skouer nie.

“Ouma het my vertel wat by die skool gebeur het.”

Amara kyk woordeloos na haar. Net haar gewonde oë verklap haar gevoelens.

“Ek is jammer jy word ook by hierdie ding ingesleep.”

“Ja, wel. Hy’s my broer.”

“Dit beteken nie jy moet vir sy nonsens boet nie.”

“Partykeer dink ek ek haat hom.”

Dit maak Althea seer om dit te hoor. “Ek kan verstaan dat jy so voel. Maar ek het reeds vir hom plek gekry by ’n baie goeie rehabilitasiesentrum. Hy sal gesond word. Jy sal weer jou broer terugkry.”

Amara knik, duidelik onoortuig.

“Jy is duxleerling. Wat jou broer doen, kan nie wegvat van wie jy is nie.”

“Tog doen dit.”

Die trane in Amara se oë laat iets in Althea opstaan. “Dan moet jy beheer daaroor neem. Jy kan nie vir Liam die mag oor jou lewe gee nie. Jy is jou eie mens.”

Sy kom hard oor, sy weet. Sy wíl nie hard wees nie, maar wat anders moet sy doen? Sy kan nie toelaat dat die kind op ’n hoop gaan lê en haarself jammer kry nie. Dit het niemand nog ooit êrens gebring nie.

“Vergeet van jou broer, ek sal met hom deal.” Althea staan op. “Leer jy maar net.”

Gister is verby

Подняться наверх